Die vertrekpunt van die Geloofsentrum is dat elkeen wat hom of haar by ons tuis voel, op die een of ander manier by een of meer van hierdie visieterreine betrokke sal raak. Aan hierdie terreine word deur die loop van die jaar deur verskeie projekte waarby jy kan inskakel, aandag geskenk. Ons het dus nie klein, geslote “kommissies” wat sake beplan en dit alleen probeer uitvoer nie. Daar is wel vir elk van hierdie vier terreine gestruktureerde werkgroepe, bestaande uit vrywillige geloofswerkers. Hierdie werkgroepe besin voortdurend oor behoeftes en beplan en organiseer al die tersaaklike aktiwiteite. Daarna word dit aan almal deurgegee, met die uitnodiging om daarby betrokke te raak. Die werkgroepe maak egter staat op die betrokkenheid van elkeen. Hou die afkondigings dop vir geleenthede om betrokke te raak en wees deel daarvan!
Ons is ‘n geloofsgemeenskap wat biddend daarna streef om die Woord van God volgens Skrifbeginsels eietyds en suiwer aan gelowiges met verskillende spiritualiteitsbehoeftes te bedien. So kom die Koninkryk deur Woord en Heilige Gees vir almal.