Haar werk was om mans gelukkig te hou.  En nie net die mans in haar dorpie nie, maar ook die mans wat verby getrek het en iewers ’n lê-plekkie nodig gehad het.  Haar huis was, om meer as een rede, ’n goeie herberg om te oornag.  En bemarking vir haar gastehuis was redelik maklik omdat haar huisie sommer op die stadsmuur was.  Almal het haar geken as Ragab, die Kanaanitiese prostituut. 

Miskien ’n bietjie anders as vandag, was ’n prostituut in daardie dae nie noodwendig straatvrouens wat onversorgd op die hoeke gestaan het sonder ’n permanente adres nie.  Trouens, ons kry die idee dat Ragab ’n trotse en bekende inwonder van Jerigo was.  Selfs die koning in sy gesprekke met haar in hierdie gedeelte, het haar nie sommer as ’n hier-jy behandel nie.  Uit haar karakter kan ons aflei dat sy ’n sterk persoonlikheid gehad het en uit die manier hoe sy met die verkenners gepraat en onderhandel het, was sy selfstandig en onafhanklik.    

Dit is by hierdie adres op die stadsmuur, waar die verkenners aanklop, met die opdrag van hul leier Josua om te gaan kyk hoe die vesting in Jerigo lyk wat volgende ingeval moes word.  Byna 38 jaar gelede was Josua self deel van ’n span verkenners wat dieselfde opdrag gehad het.  Hoekom hierdie twee by Ragab aanklop, bly seker ’n raaisel.  Maar die feit van die saak is, dit was ’n goeie plek om inligting te kry.  Want daar was seker min mense in Jerigo wat so op hoogte was van wat aangegaan het, as Ragab.  Sy was natuurlik daagliks in die geselskap van die mans van Jerigo, het geweet waaroor hulle praat en wat op hulle agendas is.  So, behalwe al haar ander dienste, was sy ’n baie goeie bron van inligting. 

En toe die twee by haar huisie aankom, het hulle natuurlik gasvryheid ontvang wat hulle nie noodwendig by ’n ander huis sou kry nie.  En soos dit in klein dorpies maar werk, het die nuus vinnig versprei dat daar twee Israelitiese gaste by Ragab kuier.  En dit is toe dat die koning mense stuur om te gaan kyk.  En hier ontvou een van die vele raaisels van hierdie gedeelte.  Vreemd genoeg was Ragab goedgesind teenoor die mans.  Ons lees dat sy hulle weggesteek het selfs nog voor die mense aan die deur geklop het en dat sy eintlik meineed pleeg om teen haar koning te draai en sy soekgeselskap op ’n dwaalspoor weg te stuur.    

Vriende, die vraag wat ek myself afvra is: Hoekom doen sy soveel moeite om hierdie twee vreemde mans te help?  Hoekom is sy bereid om haar lewe, die mense saam met haar se lewe, eintlik die mense van Jerigo se lewe en haar besigheid op die spel te plaas ter wille van twee vreemde mans? 

Die rede vind ons in vers 9,10.  Sy het van die Here geweet!  Sy bely haar geloof in vers 9:  “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle.  Ons het gehoor hoe die Here die water oopmaak…..  niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde.”  Ongelooflik!  Sy het gehoor van die wonderwerke wat hierdie volk gevolg het, en ook van die oorwinnings wat hulle telkemale in oorloë bereik het.  God se reputasie het Hom vooruit geloop en Ragab het dit gehoor! 

En op grond van dit wat sy van God gehoor het het hierdie prostituut ’n belydenis oor die lewende God!  Hebreërs 11:31 sê: “Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.”  Op ’n manier was daar in Ragab se hart geloof geplant.  Of haar primitiewe geloof op daardie stadium eg en ontkiem was, weet ek nie, maar die feit is, sy was ten minste bang vir God en het van Hom geweet. 

En dit was vir haar genoeg om vanuit haar vrees vir God ’n ooreenkoms te sluit met God se mense.  Sy laat hulle ’n eed voor die Here aflê dat hulle haar lewe sal spaar.  En met die rooi tou ontstnap die verkenners uit haar venster met waardevolle inligting wat die pad van God se volk na die beloofde land sou oopmaak.  Onwetend word sy deel van die wonderwerke van God waarvan sy op daardie stadium nog net van gehoor het.       

Na die inval van Jerigo is Ragab en haar mense gespaar soos die ooreenkoms gesê het.  En sy het ’n plekkie tussen die volk van God gekry.  Vriende, hulle het nie haar ras of geslag of twyfelagtige werk of agtergrond teen haar gehou nie.  Die Israeliete het hierdie Kanaaniet en prostituut aanvaar as deel van hulle geloofsgemeenskap!  Die gevolg hiervan was dat Ragab later getroud is met Salmon, uit die stam van Juda en hulle het ’n seun gehad met die naam Boas wat later jare met Rut getrou het.  Wat sê ek vir jou?  Sy was op die ou einde een van die skakels in Jesus se geslagsregister!  Matteus 1:5 bevestig dit: “Salmon was die vader van Boas by Ragab”  ’n Prostituut iewers in ’n huisie op die mure van Jerigo word ’n skakel in God se heilsplan in Jesus Christus. 

Ragab, word die held van Israel.  Trouens, Heb 11:31 en Jak 2:25 gaan verder en noem Ragab ’n geloofsheld.  Want jy sien, God maak van gewone mense geloofshelde!  Dit maak nie saak wie jy is nie.  Dit maak nie saak van waar jy kom nie!  Dit maak nie saak in watter beroep jy staan nie.  Dit maak nie saak of jy ’n graad het nie.  Dit maak nie saak wie en hoe jou familie is of waar jy bly!  Hy gebruik gewone mense en doen deur hulle ongewone dinge! 

Ek wonder hoeveel sulke stories vandag in ons geloofsgemeenskappe gebeur?  Ek wonder vir hoeveel gewone mense maak ons die ruimte tussen ons, sodat God van hulle geloofshelde kan maak?  Ek wonder hoeveel prostitute word lidmate van kerke?  Ek wonder of ons nie ons neuse te vinnig vir mense optrek nie, te vinnig afskryf, te vinnig etiketeer, te vinnig op grond van status en beroepe eenkant skuif.  Hou ons eksklusiewe vriendekringe nie dalk geloofshelde uit ons geloofsgemeenskap nie?    

Slot:

’n Interessante ding is die pertinente verwysing na die rooi tou waarmee hulle ontsnap het.  Sommige beweer dat die tou eintlik ook die advertensie was vir haar twyfelagtige beroep.  Maar hierdie rooi tou was simbolies van haar redding en die redding van die verkenners.  Een van die verklarings vir hierdie rooi tou is dat een van die verkenners sy gordel afgehaal het, wat rooi kon wees, en dit om die tou gebind het soos ‘n strik.  As ’n bevestiging van die eed het dit dan gesê: met hierdie gordel om my heupe staan ek met my lewe in vir hierdie ooreenkoms.  So was die rooi tou die simbool van redding.     

Vriende, vir jou en my, duisende jare na Ragab het Jesus gekom en met sy lewe kom instaan.  Om te red, nie net uit die wegkruipplekke, tronke en gevare van hierdie lewe nie, maar  redding tot ’n ewige lewe!  En jy sien, Jesus gooi die reddingstou na mense soos ek en jy wat in dieselfde asem genoem moet word as ‘n Ragab die prostituut.  Rooilyn-mense, vol skuld, maar ook vol vergifnis, vol van wat verkeerd is, maar ook vol van sy liefde, vol van skaamte, maar ook vol van blydskap om God se kind te wees.  Jesus trek ons ook maar uit die dieptes van ons verlorenheid sodat die rooi tou van verlossing simbolies by my en jou lewensvensters kan uithang as ’n advertensie van God se liefde vir sondaar mense.      

Miskien verbreed hierdie verhaal so bietjie ons visie op God se liefde vir mense.  God reik soms spesiaal uit na hulle met ’n reputasie. Ragab, die vrou wat op owerspel betrap is, Levi die tollenaar, Saggeus die dief.  Want jy sien, Hy maak van ons wat ons is.  God maak van gewone mense geloofshelde.  En miskien konfronteer Ragab ons met die baie mense wat ons so maklik afskryf.  Salons nie dalk anders na mense kyk as ons in elke liewe mens ’n potensiële geloofsheld raaksien nie?  

Mag ons met ons bordjies en etikette, statusse en klasse, nooit in die pad staan van God se werk nie.  Dank die Here dat jou lewe deurweek kan wees van die bloed van Jesus Christus.  Maar mag ek en jy, wat in dieselfde asem as Ragab genoem moet word, besef dat ons ook skakels in die ketting van God se verlossing vir ander kan wees.  Amen