Prediker:  Ds Retief Botha.

KreukelsBy die gebedsaksie pak ons elke Woensdag al ons besorgdhede en ontsteltenisse so vir voorbidding uit voor die aangesig van die Here.

Dit is toe dat een dame bid oor die “afskuwelike verkreukeldheid” van die samelewing.

Dit was vir my so ’n mooi beeld.  Ons samelewing is alles behalwe uitgestryk.

En die verkreukeling neem blykbaar net elke dag toe!

En net soos in die ballingskapstyd kan gelowiges in ons tyd ook moedeloos raak met die toestand.

En gelowiges vra: Wat is die oorsaak/e daarvoor?

En gelowiges begin wonder:  Waar is God in hierdie situasie?

 

En net soos in die ballingskapstyd is daar verhale uit die verlede wat vir ons help om hierdie vrae te beantwoord.

Die verhale van die profete Elia en Elisa help vir ons om ons eie situasie helderder te bekyk en miskien om selfs vir ons ’n bietjie hoop te gee.

Soms in die verhale verdwyn die konings in die agtergrond en word daar bloot na “die koning”  verwys, tot so ’n mate dat ons nie altyd mooi kan bepaal watter koning in daardie tyd ter sprake was nie.  Die rede is: die kollig skyn in die verhale primê op God se profete.

Hier in die Nabot-verhaal is die koning as verteenwoordiger van die “verkreukeldheid” egter baie duidelik herkenbaar:  Agab.

Die getuigskrif oor hom is redelik verdoemend:

Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits.

 Agab is die voorbok van goddeloosheid.  Of miskien is dit sy vrou Isébel…?

 

As hulle teenpool staan die profeet van die Here: Elia.

Eintlik is hy die verpersoonliking van ’n totaal ander stel waardes.

Dit is die waardes waar God verreken word as die eintlike Regeerder van Israel.

So, Elia staan eintlik vir ‘n “teokrasie” wat sê:  God regeer!

Agab se buurman is die irritasie.

Sy naam is Nabot met die stukkie wingerd oor die grensdraad.

Agab wil graag die grond hê.  Hy bied heel billik vir Nabot ander grond of geld aan in ruil daarvoor.

 

Nabot dink egter heel anders oor grond, en veral erfgrond soos hierdie.

Dit is grond wat die Here vir sy familie gegee het as tuiste en gawe om van te leef.

En hy weet wat daar staan in Lev 25:23 ev:

“Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My. Verder moet die reg om grond terug te koop, oral en altyd geld.”

En daarom weier hy om die grond te verkwansel.

Agab reageer soos ’n stout kind, gaan lê dikbek op sy bed – totdat dit sy vrou se aandag trek.

Isébel kan hierdie situasie nie hanteer nie.  Haar man is immers die koning!

En uit die Fenisiese agtergrond waarvandaan sy kom, is die koning absoluut soewerein.

Hy doen wat hy wil en hy vat wat hy wil.

Sy neem die saak in haar hande.

Maar sy doen dit baie subtiel, want sy moet rekening hou met die heersende kultuur in Israel.  Baie gou reël sy ’n vasdag – amper asof sy eerlike godsdienstige bedoelings het.  Maar dit is maar net die rookskerm vir haar agterbaksheid en korrupsie.

Die plaaslike regeerders, wat moontlik maar hul posisies aan haar of die koning te danke het, doen presies soos hul voorgesê word – sonder gewetenswroeging.

Gewetenloses kla die arme Nabot aan van (LW) ’n “vloek” wat hy sou uitgespreek het teen God en die koning.   En hy word summier veroordeel en tereggestel.

 

Isébel stap triomfantelik by die dikbek koning in en oorhandig aan hom die kaart en transport van die grond van die buurman wat, ironies, juis in daardie tyd so tragies gesterf het agv sy “oortredings”.

 

Soos jy dié verhaal lees, wel die magteloosheid en die kwaadheid in jou op.

Is daar niks en niemand wat hierdie korrupsie en magsmisbruik kan stuit nie?

Was daar nie ’n hooggeregshof en ’n grondwethof (en ’n Thuli Madonsela) wat Nabot kon  beskerm nie?

 

Eintlik is die agtergrond ook nie baie vreemd aan die situasie wat ons vandag in SA het nie.

SA is ’n “moderne demokrasie”.   In feite is dit eintlik ’n sekulêre demokrasie waarin God nie juis seggenskap het nie.  Die stem van die volk is eintlik die hoogste gesag.  Dit is soewerein.  Dit is allermins ideaal.

Dit verreken allermins vir God as die een met die seggenskap.

Miskien is demokrasie maar net die euwel met die minste verkreukeling.

Maar dit verskil nie veel van die agtergrond waaruit koningin Isébel kom nie.

En dit staan lynreg teenoor die waardestelsel van die geloof waarin God en sy Wil verreken word as die hoogste gesag.

 

En so leef ook ons vandag in hierdie spannningsveld tussen God se Woord in ons harte en die suigkrag van die waardestelsel  van  die soewereiniteit van die EK en die MAG.

 

Niemand kan blykbaar van heersers en magsdraers rekenskap eis nie.

En as jy nie met my saamstem en saamspeel nie, dan word jy bloot geëlimineer.

En hierdie styl geld nie net van politici nie, ons kry dit ook in die werksplek en in die besigheidswêreld.

En ons voel al meer magteloos teenoor die vergrype wat rondom ons afspeel.

Ons voel later so magteloos dat ons in die versoeking kan kom om met presies dieselfde reëls as die wêreld te begin speel.

 

Terug na die verhaal:    Die skrywer vertel van die goue medalje-wenner:

“Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits.”

En dit is dan dat ons die rol van die profeet moet raaksien:

Die profeet kry opdrag om teenoor hierdie wêreldse waardestelsel te gaan staan met ’n profetetiese stem:

‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”

Selfs sy hele familie, wat Isébel insluit, sal uitgeroei en gedood word.

God is nie aan die slaap nie.  God sien die onreg raak.

En God sal die verkreukeldheid nie ongestraf laat bly nie.

 

Hoor vers 19:     “Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?”

Dit is ‘n mooi voorbeeld van waar die waardestelsel van die wêreld verskil van die waardestelsel van die Koninkryk van God.

Moor en gryp.   Of  dikwels: moor om te gryp.

Ons ken die refreine in SA.

Of, kom ons wees bietjie eerliker:  Dit sit sommer hier vlak onder ons eie klere.

En die verleiding is groot dat dit ook ons leefstyl sal word.

 

Moor-hande en gryp-hande lyk amper dieselfde.

Seën-hande en gee-hande lyk heeltemal anders.

Een maak seer, die ander seën.

Een gryp, ander gee – soos ons dit ook inoefen in die Tiendemaand.

 

Dit is die verskil in waardestelsels.

Dit is die twee leefstyle waartussen ons elke dag weer nuut moet kies.

 

Die aantal moor- en gryphande in SA het net te veel geword.

Dit is waar ons moedeloosheid en magteloos-gevoelend vandaan kom.

Dit bring ons by ’n punt waar ons nie vanoggend anders kan as om ons voor die Here te verootmoedig in stil gebed nie…

 

Sing:            “Hoor ons sug, O Heer.”

 

Maar die verhaal sluit tog verrassend en Evangelies af:

Agab verootmoedig hom voor die Here!

Kyk, dit is ’n wonderwerk!

Wat meer is:  Dit is eg en opreg!

En dan breek die hart van God verrassend genadig oop:

“Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig?

Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.”

God se genade is baie groter as wat ons verwag het!

Nooit is ons verkreukeldheid so groot dat dit nie kan inpas in God se strykmandjie nie.

 

Dit is waarvan die verhaal van Christus Jesus ons later duideliker sou vertel.

Hy is die Een met die seënende hande / die gee-ende hande – die gekruisigde hande.

 

Die feit dat ons dit vandag weet, beteken dat ons geroep word om in Elia se profete-spore te volg:

–      Moenie swyg oor die verkeerdheid en verkreukeldheid van die wêreld nie.

–      Maar moet ook nie swyg oor die groot ontdekking van die groot genade in God se hart nie.

 

 

Amen

 

Gebed:

 

Here, nou verstaan ons beter waarom die volk Israel in ballingskap geland het.

Nou verstaan ons beter waarom ons self ook in SA in die strykmandjie geland het.

Dankie vir U eerlike profete-vinger in ons rigting.

Maar bo alles:  Dankie vir U genade-hart wat groter is as ons onheiligheid.

Maak nou van ons mense wat profeties gaan leef.

–      Gee vir ons profete-vingers wat onreg uitwys.

–      Gee vir ons seënde hande.

–      Gee vir ons oop uitdeel-hande.

–      Gee vir ons strykysters in ons hande.

Amen

Dankoffers

Slotlied:  Lied 486:2 (Christus maak die verskil), 3 (Hy kyk na ons vol genade), 4 (Hy roep ons om profeet hiervan te wees.)

 

Seen en sing  “Amen”

 

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.