gym2-766d083bbdd89284b4d8b35eaf42b466_hVers 8: “Om jou liggaam te oefen, het wel ’n bietjie waarde.”

MAAR

Vers 7: “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.”

Ons almal weet oefening is goed vir ’n mens.  Dit laat jou beter voel, dit is goed vir jou hart en jou metabolisme.  Daar is al honderde studies gedoen oor die positiewe effek wat oefening op ’n mens het.  Maar dan is dit ook so, nie almal hou van oefen nie.  Of so dink ek.  Want saam met oefen gaan natuurlik die dissipline om in die môre op te staan as dit donker is om te gaan oefen of na werk by die gym te gaan stop.  Dit is moeite om te oefen.  Behalwe vir die ouens wat gym advertensies maak.  Hulle smile net die hele tyd!  Daar is niemand wat vet en swaar en ongemaklik is nie!  En die advertensies werk.  Want dit is nie lank nie, dan kry jy mos so bevlieging.  Ek gaan nou elke dag gym, ek gaan nie meer koekies of beskuit eet nie.  En dan hou dit vir so drie dae!  Maar oefen is moeite, ten minste vir my.  Ek is so paar jaar terug uit die gym uit geskors omdat ek nie 20 keer ‘n jaar gaan gym het wat ek moes nie!  Maar ek het gedink 20 keer ’n jaar is baie!   

Daarom is dit vir die meeste van ons makliker om vet en onfiks te wees as fiks en gesond.

Nou Paulus gee vir die jong Timoteus ’n geestelike oefenprogram in 1 Timoteus 4.  Maar jy sien, dit is ’n baie spesifieke program.  Jy kry mos verskillende oefenprogramme met verskillende uitkomste.  As jy wil spiere bou doen jy lae reps met swaar gewigte, as jy spiere wil sny doen jy hoë reps met ligte gewigte.  As jy net fiks wil wees, doen jy kardio oefeninge.  So die program wat Paulus vir Timoteus gee is ’n baie spesifieke program wat jou oefen met die doel om in toewyding aan God te lewe.  Vers 7: “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.”

En ek wil vanaand drie opmerkings maak oor Paulus se oefenprogram.  En jy moet notas maak sodat jy die oefenprogram in jou geestelike lewe kan gaan implimenteer sodat jy geestelik fiks kan word en jou geestelike spiere kan bou.

  1. 1.      Geestelike oefening vra geestelike dissipline

Vers 7: “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.”

Oefen” kan ook vertaal word met dissiplineer.  En “toewyding aan God te lewe” kan vertaal word met Goddelik.  Maw, Paulus sê jy moet jouself dissiplineer om soos God te lewe.  Nou ouens, ek en jy weet dit is nie ’n maklike ding om soos Jesus te lewe nie.  Dit is nie iets wat outomaties kom nie!  Mense lewe nie outomaties soos Jesus nie, inteendeel, jy lewe outomaties sondig.  Dit is soos jy in die wêreld kom, met die geneigdheid om eerder die sondige te kies en die verkeerde te doen.  En daarom sê Paulus, om soos Jesus te lewe, vra dissipline!  Dit vra gereelde oefening.  Ons moet gereeld oefen om die goeie te kies en die verkeerde te laat staan.

SKYFIE – Biceps don’t grow on trees. Workout every day! Net soos jy dissipline en ’n roetine nodig het om fiks en gesond te wees, net so het jy geestelike dissipline en ’n geestelike roetine nodig om geestelik fiks te word.  Jy sal nie geestelike fiks en groot word, as jy nie ’n geestelike roetine het nie.  Wat is ’n geestelike roetine?  Dit is ’n tyd, selfs ’n vaste tyd waarin jy jou met God elke dag afsonder om in jou verhouding met Hom te groei.  ’n Geestelike roetine is om op ’n Sondag op te staan en kerk toe te kom, want ek wil geestelik groei!

Ouens ons het geestelike dissipline nodig om in toewyding aan God te bly lewe.  Daarom moet ek en jy gaan dink oor ons ritmes en ons roetines.  Hoeveel plek en hoeveel tyd kry die Here in ons daaglikse roetine?  SKYFIE: Discipline is doing what you know needs to be done even if you don’t want to do it!

  1. 2.      Jy moet reg eet

Mense wat regtig ernstig is oor oefen sal vir jou sê dat jou dieet amper meer belangrik is as die oefening.  Die een kan nie sonder die ander nie!  In vers 6 staan daar: “…voed jouself met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ’n aanhanger geword het.”

Vers 7: “…van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly.”  Sinlose verdigsels is eintlik maar goddeloosheid.  So bly weg van onheilige en goddelose goed.  Met ander woorde, as jy geestelik fiks en gesond wil word sodat jou lewe tot eer van God sal wees, moet jy kyk wat jy by jou mond en by jou gedagtes inprop!  Paulus sê, eet dit wat jou geloof versterk, maar bly weg van dit wat jou geestelik vet en lui gaan maak.  Ouens, ons moet baie mooi oplet na ons geestelike dieet.  Die hoofinhoud van ons geestelike dieet elke dag is brood.  Jesus sê ek is die brood van die lewe.  Die brood is die Woord van die Here waarvoor ons weer ’n honger moet kry.  Want dit is die Woord wat ons voed, niks anders nie!  En sonder die brood van die Woord van die Here gaan ons nie groei nie!  Jy moet Bybel lees.  Jy moet jou Bybelkennis verbeter, want hoe anders gaan jy in jou verhouding met die Here groei as jy Hom nooit hoor praat nie?  As jy nie tyd vat om te gaan hoor wat die Here vir jou wil sê en leer nie!  Kom ek vra jou: as jy net gaan kyk na die week wat verby is, hoeveel het jy van die Woord geëet?  Baie kinders van die Here is anoreksies omdat hulle nooit die vaste kos van die Woord gereeld eet nie, met die gevolg dat jy nooit sal groei nie!

Saam met dit wat jy moet eet, moet jy ook let op dit wat jy nie moet eet nie.  Ons word daagliks gebombardeer met gemorskos wat die wêreld in ons kele wil afdruk.  Die goed wat jy kyk, die goed wat jy lees.  Jy kan nie net inprop nie, ons moet met onderskeiding en met baie versigtigheid kyk wat ons eet.  En sekere goed moet jy eenvoudig uit jou dieet verban!

  1. 3.      Gebruik jou geestelike spiere

Vers 14: “Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie.”  Wat help spiere as jy dit nie kan gebruik nie?

Elkeen van julle het ’n genadegawe van die Here ontvang.  Dit is iets wat jy vir die Here kan doen.  Dit is ’n gawe of talent of passie of belangstelling wat jy in diens van God stel.  Dit kan wees om mense by die deur te groet, of om mense moed in te praat of om na mense te luister of om te help of om hier voor te sing.  Dit is die spiere wat jy gekry het!  En as jy dit nie gaan gebruik nie, gaan jou geestelike spiere pap raak.  Die teendeel is natuurlik, hoe meer jy hierdie spiere gebruik hoe groter raak jou geestelike spiere!

En op die ou einde oefen jy nie sodat jy vir jouself mooi kan wees nie.  Sodat jy in die spieel kan staan en kyk hoe groot en oulik is jy nie.  Nee, jy oefen sodat jy jou spiere en fiksheid in diens van God beter kan gebruik.  Vers 12 sê jy oefen sodat jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid kan wees.  Dit is hoekom jy oefen, sodat jy ’n beter voorbeeld, ’n beter getuie, ’n fikser kind van die Here kan wees en Hom deur jou lewe kan verheerlik.

Slot:

Dit is makliker om vet en onfiks te wees as fiks en gesond!  Baie mense is tevrede met hoe hulle geestelik lyk en het geen of weining motivering om te groei en te verander.  Die gevolg is dat hulle geestelik luier en vetter en onfikser raak en lewe sonder om ’n impak te maak.

Miskien het jy ook ’n bietjie motivering en geestelike dissipline en oefening nodig.  Jy is ten minste vanaand al met hierdie erediens in ’n gymsessie.  Maar jy gaan nie geestelik fiks raak met ’n eenkeer per week Sondag oefenprogram nie.  Die goeie nuus is dat dit nooit te laat is om te begin nie.  Hoor vanaand as die Here jou aanmoedig, jou motiveer om geestelik fikser te word.  Mag Hy jou seën met wilskrag, met toewyding, met dissipline.  Dan sal jy ’n voorbeeld wees in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.  Amen

André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za