imagesWat is die mens? Meyer van Wyk
Skriflesing – Psalm 8: 1-10
Wanneer ek hierdie psalm lees, kan ek in my geestesoog sien hoe Dawid êrens buite Bethlehem in die veld sit en skape oppas. Skielik kyk hy op na die maan en die sterre en word hy so gevul met verwondering oor God se skepping en Sy almag dat hy hierdie psalm skryf. Ek is seker dat baie van ons al só ‘n ervaring gehad het: waar ons eintlik stom geslaan was oor hoe ongelooflik die skepping is en hoe groot en magtig God is. Dalk het jy al êrens onder die sterre gelê, of voor ‘n groot berg gestaan of selfs net die handjie van ‘n pasgebore babatjie vasgehou en jouself verwonder oor hierdie almagtige lewende God wat ons aanbid. Ek het self gedurende die week wat verby is so ‘n ervaring gehad. Ek het die geleentheid en die voorreg gehad om weer betrokke te kon wees by Kovsiekerk se eerstejaarskamp, Kougom. Op Kougom kamp word daar jaarliks ‘n passiespel, wat hulle Kruistog noem, uitgevoer en dit is dan ook een van die hoogtepunte van die kamp. Gedurende Kruistog kry die senior studente die geleentheid om die evangelie op ‘n baie unieke en spesiale manier met die eerstejaars te deel – deur die kruisgebeure op te voer. Maar hierdie jaar wou die weer nie so mooi saamspeel nie. Die hele week wat ons daar was, was dit gedurende die dag ongelooflik warm en dan in die aand het die reën alles lekker kom afkoel. Nou die reën is wonderlik en dit ís ‘n genadegawe, veral as dit so warm is, maar omdat Kruistog in die buitelug opgevoer word, is reën nie regtig ideaal nie…Almal reën nat, die duur klank toerusting en beligting reën nat…So uit die aard van die saak was daar ‘n groot moontlikheid dat Kruistog kon uitreën. Só het die dag van Kruistog aangebreek en dit was weer lekker warm en oopgetrek deur die dag, maar laatmiddag toe ons die hele opvoering met die musiek en alles wou deur hardloop, begin dit reën en hou die reën die hele aand aan met die gevolg dat ons die kruistog moes uitstel na die volgende aand. En raai wat? Toe reën dit weer…Daar is toe besluit dat ons voortgaan en almal trek hulle kruistog klere aan en die hoofkarakters word gegrimeer. Die bestuur reël vir gazebo’s en goeters om die luidspreker en ligte uit die reën te hou. Ons was reg om kruistog in die reën te hou en net so…10 minute voor die kruistog moes begin, hou dit op reën…Ek was op daardie oomblik reeds stomgeslaan, maar die oomblik waar ek regtig bewus geword het van God se teenwoordigheid en sy beheer oor die natuur en sy skepping was toe die laaste stuk musiek van die kruistog begin speel en ek die reëndruppels weer op my vel voel val.
Dit is dan ook die gevoel wat ek dink Dawid het wanneer hy hierdie psalm skryf. Hy kyk op na die hemelruim en voel stomgeslaan deur God se grootheid en almag. Dit sien ons in die manier waarop hy hierdie psalm begin – “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!” (Al is dit dan ook reënwolke en weerlig). Dawid kan nie anders as om uit te bars in ‘n loflied nie.
Wanneer ‘n mens hierdie loflied van nader bestudeer kan daar vier dele uitgelig word:
• Eerstens gaan verse 2 en 3 oor God se majesteit en sy almag.
• Tweedens in verse 4 en 5 beweeg die psalm vanaf God se majesteit en mag na die mens se gevoel van nietigheid.
• Derdens, in verse 6-9, skryf Dawid oor God se doel vir die mensdom.
• En met die vierde deel, vers 10, sluit Dawid die psalm af deur weereens lof aan die Here te bring.
Ek wil hê dat ons vir ‘n oomblik stilstaan by elkeen van hierdie vier dele om die beelde wat Dawid so kunstig gebruik te probeer verstaan sodat ons ook so kan verstaan wat hierdie psalm vandag vir ons elkeen wil sê.
In vers 2 noem Dawid vir God “Ons Here”. Wanneer ‘n mens na die Hebreeus gaan kyk, is dit baie interessant om te sien dat hierdie benaming wat Dawid aan God gee dieselfde benaming en aanspreekvorm is wat daar in die Ou Testament aan die koning gegee word. Deur hierdie aanspreekvorm te gebruik, bely Dawid dat die Here die koning van die skepping en van die heelal is. Hierdie psalm handel dus duidelik oor die heerlikheid van God as die koning van die heelal. Vanuit hierdie belydenis in vers 2 gaan Dawid voort deur te skryf dat selfs kindertjies en suigelinge die Here se magtige werke besing. Dawid hoor as’t ware die stem van die lewende God in die skadelose geluidjies van babatjies en hoor Hy hoe God deur hulle sy teenstanders stilmaak.
Die tweede deel van die psalm begin dan in vers 4. Dawid druk hier iets uit van die spontane reaksie van die mens om, nadat hy die heelal aanskou – die maan en die sterre in die nag – bewus te word van sy eie nietigheid. Ek wil graag nou ‘n kort video wys. Dit is ‘n uittreksel uit een van Louie Giglio se produksies genaamd “How Great is our God”. Louie Giglio doen in hierdie produksie iets baie interessants. Hy het navorsing gaan doen oor die hemelruim en die planete en sterre en sonnestelsels en allerhande goed waarvan ek niks weet nie. In hierdie video wys hy die grootte van die aarde en ons son in vergelyking met ander planete en sterre, alles om te demonstreer hoe groot en almagtig God is. Kom ons kyk daarna, dalk gee dit vir jou dieselfde gevoel as wat Dawid gehad het toe hy Psalm 8 geskryf het…(VIDEO) U sien, Dawid skryf dat hierdie heelal wat die mens so klein laat voel, wat ons sopas baie klein laat voel het, die werke van God se vingers is. Sien, in vergelyking met God is die heelal piepklein – Hy het dit met sy vingers gemaak. Maar…in vergelyking met die heelal is die mens piepklein.
Dit bring ons dan by die vraag wat Dawid in vers 5 vra…Wat is die mens dat U aan Hom dink? Die mensekind dat U na hom omsien? Nadat ek hierdie video gekyk het, kon ek nie anders om dit saam met Dawid te vra nie…As die Here so ongelooflik groot is dat Hy hierdie onmeetbare heelal gemaak met planete en sterre so groot dat dit ons eintlik bang maak…Wat is die mens dan dat ons vir God belangrik is? Dit gaan Dawid se verstand ook te bowe…
Hy noem in die volgende gedeelte vanuit hierdie vraag ‘n lys van dinge op wat vir hom en vir ons vandag dalk ook nie sin maak nie…(Kom ons lees verse 6-9 weer saam). Dawid noem al hierdie dinge op en hy is stomgeslaan…Die Koning van die heelal het die mens…ons as nietige stof mensies…met aansien en eer gekroon en aangestel oor sy skepping…U sien Dawid vra hierdie vraag: “Wat is die mens?”, maar hy het nie ‘n antwoord nie…Dit is vir hom ondenkbaar dat God aan ons as nietige mense kan dink…Hy het nie die antwoord nie…Al wat Dawid weet is dat dit wat hy in verse 6-9 opgenoem het waar is en al wat hy dan kan doen is om die Here te loof en te prys daarvoor en dit is presies wat hy in vers 10 doen.
Die vraag wat ons elkeen vanaand moet vra, is egter: “wie is ek?” Wie is ek dat die God van die heelal aan my dink, met my ‘n verhouding wil hê…Sien, die paradoks lê daarin dat God, die almagtige Koning van die heelal wat so groot is dat hy dit alles met sy vingers gemaak het, ‘n verhouding met ons wil hê. Dit demonstreer Hy wanneer Hy sy seun stuur om vir ons aan die kruis te sterf en die dood te oorwin. Toe ek in die hoërskool was het die groep Casting Crowns ‘n liedjie uitgebring waarin hulle juis hierdie vraag vra. Die liedjie se naam is “Who am I?”. Hulle sing: “I am a flower quickly fading, here today and gone tomorrow. A wave tossed in the ocean, a vapour in the wind. Still You hear me when I’m calling, You catch me when I’m falling and You’ve told me who I am…I am Yours”. Sien, vandag vra ons ook Dawid se vraag…Maar ons het ‘n antwoord…Wie is die mens dat U aan hom dink? Who am i? I am Yours!
Die ervaring wat ek op Kougomkamp gehad het, het vir my nog meer spesiaal geword toe ek die volgende weer besef het. Juis dit wat ons met die Kruistog uitgebeeld het, is die antwoord op Dawid se vraag. Die God wat planete en sterre skep, wat die reën laat val en ophou soos Hy wil, het ons só lief dat Hy ons kom verlos en vir ons ‘n nuwe identiteit kom gee. Hy hang ‘n bordjie om ons nekke wat sê: MYNE!
Só wanneer jy weer só na die sterre kyk of voor daardie berg staan en weer so klein voel, voel klein…Want God is só groot…Maar weet ook wie jy is. Hy het duur vir jou betaal en jy is Syne!
Amen.