Prediker:  Ds Retief Botha

Die profeet Elia het sy mantel op sy opvolger gegooi.

God het Elia opgeneem in die hemel met ’n vurige wa.

Elisa wondersEn nou moet die nuwe profeet, Elisa, die voetspore van sy voorganger volstaan.

Hy het ten diepste nie ’n ander bediening as Elia gehad nie, maar daar was tog ’n unieke aksent of twee wat ons in die Elisa-verhale kry.

As jy moeite wil doen, kan jy gerus gaan kyk na die parallelle in die verhale van die Elia-sage en die Elisa-sage:

 

Ons gaan ’n toer vat deur ’n paar van die verhale.

Ek het ’n idee dat hierdie verhale met ons wil praat oor die wyse waarop ons God en sy sorg in hierdie wêreld verteenwoordig.

Ek droom daaroor dat iemend eendag, êrens na jou sal verwys as “Man van God” / ”Vrou van God”.

Trouens:  God droom daaroor…

Maar voordat dit kan gebeur, moet jy eers verder saam met my deur die verhale van Elisa stap om jou daarvoor te oriënteer….

Een van die opmerklike dinge in die Elisa-sage is dat die profeet die Here Jahwe se wonders “indra” in groot gebeurtenisse, maar ook in die klein noodsituasies van mense.

Noodsituasies van mense, sal jy dadelik sê, is nie klein nie.

Waar daar nood is, raak dit vir die mense betrokke iets groots en oorweldigend.

So sien ons dit ook in hierdie episode van Jerigo waar die water giftig is en mens en plant negatief raak.

Daar is te hoë voorkoms van misgeboortes en dit word terugherlei na die water en die oeste wat daardeur natgelei word.

Elisa voer ’n vreemde handeling uit:  Sout in ’n nuwe skottel en dit word in die fontein gegooi.                 En tot vandag is Jerigo ’n boomryke en vrugbare vallei.

Belangrik is dat ons dadelik sal raaksien dat dit nie Elisa is wat hierdie en latere wonders doen nie.

Hy sê baie duidelik:  “So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar…”

Hy is maar net die spreekbuis vir God.

Hy verteenwoordig God.

God is teenwoordig in hierdie wêreld.

Hy is sorgend teenwoordig.

Hy is as’t ware soekend na mense wat Hom vertrou om vir hulle wonders te doen in hul groot nood en in hul klein krisisse.

(Dan volg daar ’n gedeelte oor die seuns wat die bleskop profeet spot met “Kaalkop, gaan op!” en die bere kom verskeur hulle.  Kollega, André, wou so graag hê dat ek (van alle mense met my groot(!) haredos) juis daadie gedeelte moet preek.   Maar ek is te lief vir julle … al spot jul soms met my?!)

 

2 Kon 3 vertel hoe die gesamentlike leër van Israel, Juda en Edom optrek teen die bedreigende leër van Moab, maar hulle strand sonder water vir soldaat en dier.

Dan soek hulle die profeet Elisa se hulp.

Lees 2 Kon 3:14-20

Dit is weer ’n groot wonderwerk wat gebeur.

Maar itv :18 is dit vir die Here “maar iets gerings om te doen.”

In God se almag is ons noodsituasie nooit ’n krisis nie.

Dit is maar net die geleentheid vir God om ’n klein ou wonderwerkie te doen en ’n paar klein sluisies van Sy groot dam vol almag en genade op ons oop te trek.

Ek wonder hoeveel jy van God verwag?

Ek wonder hoe groot jy vir God sien?

Het jy ’n pikkie-God of ’n GROOT lewende God?

Het jou God ’n teelepel vir wonderwerke of het hy Kariba-sluite van genade en sorg?

 

Wanneer die Elisa-sage nou verder gaan, is daar ’n refrein wat groei.

Dit is dat daar na Elisa toenemend verwys word as die “man van God”.

Ons lees dit waar die weduwee-pastorie-moedertjie se pensioengeldjies uitgeloop het en Elisa vir haar opdrag gee om kruike te gaan leen sodat sy dit kan vol skink met die kosbare olie wat sy dan weer kon gaan verkoop vir lewensonderhoud.

Lees 4:7

 

Dan volg ’n verhaal van ’n Sunemmitiese egpaar wat altyd oor die profeet ontferm het as hy daar verby reis.  Slaapplek en etes vir die profeet op reis.

Hul seuntjie sterf en sy jaag desperaat met haar donkie na hom toe vir hulp.

Hy stuur eers sy slaaf, wat lekker fiks is, vooruit om sy kierie op die gesig van die seun te gaan neerlê.  (Dis ’n vreemde handeling waarheen ons later terugkom.)

Maar as Elisa daar aankkom, gaan lê hy op die lykie en die Here gee die lewe terug.  Bykans net soos in die Elia-verhaal van opwekking van die seuntjie van die vrou by Sarfat.

Wat ons hier en ook later in die genesing van die leërhoof Naäman raaklees, is dat hier telkens  verwys word na Elisa as die “man van God”.

Dit beteken dat hier iemand was wat op ’n besonderse manier aan God verbind word.

Wanneer mense na Elisa verwys het, was daar ’n konnotasie na God toe.

Daar was ’n verwagting dat hy iets van God aan hulle sou bemiddel:

En soos die verhale vorder, word dit ook al duideliker dat hy “man van God” was.

 

En dit laat ons met ’n baie belangrike verkondigingsmoment:

Die vraag is of daar nie die verwagting by mense vandag is om na meer mense (ook ek en jy) te verwys as die “man / vrou van God” nie.

Dit beteken nie dat ek en jy vir mense moet wonderwerke doen of dat ons vir hulle altyd die antwoorde op hul vrae sal kan gee nie.

Wat mense nodig het is iemand soos ek en jy, gewone mense, maar mense wat vanuit ’n verhouding met God vir hulle kan herinner aan God se teenwoordigheid.

Miskien is dit die rol waartoe die Here ons roep.

Kom ons maak dit meer persoonlik selfondersoekend

Sou ander mense jou en God met mekaar in verband bring?

En uit wat hul sien in jou gesindheid en optrede?  Of wat hul hoor in wat jy praat?

En sou jou teenwoordigheid vir mense hoop gee?

 

Kyk, ons kan God nie regtig bemiddel asof ons Hom kan uitdeel aan mense nie.

Ons kan God nie teenwoordig stel nie.

Maar tog is dit verseker waar dat ons mense kan herinner aan God wat alreeds teenwoordig is.  Dit is ons profetiese opdrag.

Mense raak paniekerig, moedeloos en desperaat as hul God nie kan raaksien nie.

Ons kan nie vir hulle brille gee om die Onsienlike te sien nie.

Ons kan egter vir hulle in hul geloof bemoedig om met geloofsoë te bly kyk.

Ons moet nie net die sakramentstekens van brood, wyn en doopwater uitdeel nie.

Ons moet self die sakramentstekens word wat mense aan God herinner.

 

Kyk saam met my na nog een besonderse klein verhaaltjie in 2 Kon 6:1-7:

Kyk, ek dink dit is om God se tyd te mors om Hom te bemoei met ’n byltjie wat in die water val.

Maar dit is juis hoe God is!  Hy wil betrokke wees.  Hy is betrokke.

Hy gee om vir klein en groot en Hy raak betrokke by groot dinge soos lewe en dood.

Ook later soos die volgende verhaal vertel word van ’n hele vyandelike leërmag wat met blindheid geslaan word en dan begenadig word.

Hulle kry nie die swaard nie, maar ’n heerlike partytjie met genoeg eetgoed!

Hier gaan in die byltjie-verhaal gaan dit  bloot oor iemand se verleentheid.

Hy het die byl geleen.  Dit is vir ‘n goeie saak – bou ’n klaskamer aan by die teologiese skool.

Maar daar val die byl in die rivier en daar is nie scuba-gear om dit uit te duik nie!

 

Hoor maar net dat God omgee oor groot goed en klein (onbenullige)  dingetjies.

 

Jy kan Hom gerus weer met die klein dingetjies in jou lewe vertrou.

Selfs met jou verleenthede!

 

Nou is daar ook ’n interessante verskynsel in baie van die sorg-wonders.

Dit is die vreemde middele wat die profeet gebruik in die wonders:

 

Ek dink dit was maar ten diepste “liturgiese handeling” soos ons ook in eredienste het,

 

So word ons as verteenwoordigers ook geroep om soms vreemde dinge te doen.

Eintlik is dit tekens daarvan dat ons eintlik niks daarmee te doen het nie.

Dit is God wat handel.

 

 

Ons is maar ’n funny klompie … en ons doen funny dinge.

Maar so vertel ons vir die wêreld van ’n God wat hoop bring ….

In die klein dingetjies… en die groot dinge.

Hy doen dit vir groot belangrikes en hy doen dit vir die weduwees.

Ek en jy is geroep om Sy man van God  en sy vrou van God te wees.

Dit is wat die mense ook later toe die verhale op skrif gestel is in die ballingskap moes hoor:

“God vergeet nie van julle nie!

Hy is betrokke by ons klein verleenthede, en by die sake van lewe en dood.

En Hy roep jou om selfs in Babilon sy “man/vrou van God” te wees!”

 

Amen

 

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.