stage_curtainsDie woestynreis was besig om sy tol te eis.  En nou werk dit mos so, as ’n mens moeg word dan kry jy sommer ’n klompie ekstra goed om oor te kla. En arme Moses was die ou wat hierdie klagtes daagliks moes aanhoor.  Hy het die klagtelyn beman.  En in Numeri 20 lees ons dat sy suster Mirjam oorlede is en hy moes daar van haar afskeid neem en begrafnis hou.

 

So dit was ’n moeilike en emosionele tyd vir ou Moses.  En dan kom die klagtes in vers 2 en 3.  Eintlik baklei die volk met hom!  SKYFIE “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is!  Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe?  Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring?” 

 

En net daar draai Moses en Aaron van die volk af weg (vers 6).  ’n Wyse ding om te doen.  En hulle gaan na die tent van ontmoeting toe en daar val hulle op hulle knieë voor die Here neer.  Sekerlik uit desperaatheid of moedeloosheid en selfs moegheid.  Dit is mos wat sulke radelose situasies aan ’n mens doen.  Ons het nie verniet die uitdrukking dat iets jou tot op jou knieë dwing nie.  En daar op hulle knieë raak die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar.  Hulle sien en ervaar die Here in hulle moedeloosheid!  En vir die soveelste keer kry hulle die versekering dat die Here ook hierdie keer uitkoms sal gee. Want die klagte is nie nuut nie né!  Die Here het dit al in die verlede gehoor en Hy het natuurlik in die verlede al hierdie klagtes beantwoord met een of ander wonderwerk.  En so verseker die Here vir Moses en Aaron van sy ewigdurende troos en beskerming en leiding en kry hulle nuwe moed en krag en entoesiasme om hierdie volk enduit tot in die beloofde land te lei.

 

En nou sien ek al die tweetjies die tabernakel uitkom.  Opgewonde oor dit wat hulle van die Here gehoor het!  Opgewonde oor dit wat die Here gaan doen!  Opgewonde daaroor dat die volk op hulle neuse gaan kyk as die Here voorsien.  Die kinders sal sê hulle is nou lekker opgecharge!  Dit is soos dit maar met ons ook werk.  Na ’n erediens, of ’n kamp of ‘n saamtrek of ’n spesiale ontmoeting met die Here voel ons mos goed en gemotiveerd om Hom te dien.  Die wêreld kan maar kom, ons is reg!

 

En hulle roep die volk bymekaar daar rondom ’n rots (vers 10).  En vol moed en bravade sê Moses: SKYFIE “Luister, julle wat julle teen die Here verset!  Luister!  Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”  En Moses vat Aaron se kierie en slaan twee keer op die rots sodat die water loop!  En die volk klap hande en is bly, en Moses en Aaron voel soos hero’s en die mense en diere drink in oorvloed vanuit die stroom van God se sorg.

 

Maar toe praat die Here weer met Moses.  Half uit die veld geslaan, uit die bloute hoor Moses die vreeslike aankondiging dat hy nie die beloofde land sal ingaan nie.  Van ’n high na ’n low, binne oomblikke!  Na amper 40 jaar se gesukkel deur die woestyn sal hy nie die vrug van sy arbeid kan geniet nie!  Want Moses het ’n fout gemaak.

 

Jy sien, daar is twee probleme in dit wat Moses gedoen het.

 

Die eerste is dat die Here vir Moses die opdrag gee om met die rots te gaan praat.  Vers 8: “Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom.”  En toe Moses uit die ontmoeting met die Here stap, toe gaan slaan hy die rots, twee keer!  Miskien uit frustrasie teenoor die volk, miskien as ’n tipe magsvertoon, maar die feit is, dit was nie die opdrag van die Here nie!  Hy moes praat nie slaan nie!  En selfs al lyk dit na ’n klein, sinlose ou foutjie, was dit ongehoorsaamheid!  In vers 12 praat die Here met hom oor sy ongehoorsaamheid: “Omdat julle my nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie….”  Hulle was nie gehoorsaam nie, punt!

 

Jy sien, God vra gehoorsaamheid tot in die kleinste detail!  Tot die letter!  Mense kan nie sommer die opdragte van die Here verander en ignoreer of buig nie.  Wat God gesê het het Hy gesê.  Want Hy is God!  En omdat Hy God is, moet ons gehoorsaam wees aan Hom! Dit is die rede of die motivering vir ons gehoorsaamheid.  Hy is God!  Jy sien, dit gaan nie net oor gehoorsaam of ongehoorsaam nie.  Dit gaan oor die eer van God!  Moses het nie die eer van God beskerm deur gehoorsaam te wees voor die volk nie!  Vriende, met ander woorde, daar is ’n stuk getuienis in ons gehoorsaamheid!  Ons is gehoorsaam aan God omdat ons God se eer wil beskerm en in ons totale gehoorsaamheid, nie aan mense nie, maar aan God die eer wil bring!

 

En weet jy, baie keer stap ons ook maar uit ’n ontmoeting met die Here, net soos Moses, en gaan ons eenvoudig voort met ons ongehoorsaamheid?  Hoe klein of hoe groot ons ookal mag dink ons ongehoorsaamheid is.

 

Die ander rede vir die Here se straf op Moses vind ons in die eerste gedeelte van vers 12: “Omdat julle My nie erken het nie….”  Moses het nie die erkenning aan God gegee wat Hom toekom nie!  Toe hy daar by die rots staan en almal rondom hom bymekaar maak, was sy woorde: “Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”  Kyk wat gaan ek doen!  Kyk hoe help ek julle vandag!  Kyk hoe goeie leier is ek!  Kyk hoe sorg ek vir julle behoeftes!  En in die proses neem Moses die eer wat die Here toekom van God weg!  En dit was die aanklag op Moses se klagtestaat.  Moses, jy het die kollig gesteel!  Jy het God se lig gesteel!  Nadat God en Moses hierdie wonderlike intieme ontmoeting gehad het, staan Moses nou op die verhoog terwyl God iewers agter ’n gordyn na die mense se applous vir hulle twee geluister het.

 

SKYFIE En vriende, toe ek hierdie beeld kry van Moses op ’n verhoog met kolligte op hom en God iewers agter die gordyn, was dit vir my ’n eye-opener!  Want so kan ons ook op die verhoog staan vanmôre!  En weet jy, baie keer staan God agter die gordyn terwyl die mense vir ons hande klap.  Hulle klap hande vir jou goeie besigheid, vir jou mooi huis, vir jou goeie gesondheid, vir jou kinders en al hulle mooi prestasies, vir jou toewyding by die werk, vir jou werk hier by die kerk, alles natuurlik mooi en prysenswaardig, maar die vraag is: wie ontvang die eer in jou lewe?  Vir wie word daar hande geklap?  Op wie draai ons die lig in ons gesprekke met mekaar?  Vir wie sien die wêreld, of wie wil ons hê moet die wêreld raaksien: vir my of vir God?

 

Want jy sien, in die kern staan die eer van God!  God Naam is op die spel!  Want hoe sal die wêreld ooit kan sien dat dit die enigste lewende Here is wat vir ons sorg, dat Hy ons lei, dat Hy ons beskerm, dat Hy ons raad gee, dat Hy ons seën as ons Hom nie op die verhoog sit nie?  As ons nie in ons gesprekke die lof en die eer aan God bring wat Hom toekom nie?  As ons nie vir ons kinders leer om God in die kollig te stel van alles wat ons doen en bereik nie?  Ons steel, soos Moses God, se eer omdat onsself op die troon of op die verhoog die shine wil vang.

 

Interessant, die Here het nie sy genade van hulle weerhou as gevolg van Moses se ongehoorsaamheid nie.  Hy het nie gesê; omdat julle gesondig het, sal julle dood gaan van die dors nie!  Nee, Hy was genadig.  Hy seën ten spyte van ongehoorsaamheid!  Ten spyte daarvan dat Moses nie gedoen het wat die Here van hom gevra het nie, het die Here steeds Sy belofte nagekom en water uit die klip laat stroom.  En dit is die wonderlike van God!  Dank die Here dat die hoeveelheid water nie afgemeet word in terme van ons gehoorsaamheid nie!  Dank die Here dat ons as sondaar mense van die Fontein van lewende Water kan drink ten spyte van sonde, ongehoorsaamheid en tekortkominge!  Maar Moses het die gevolge van sy ongehoorsaamheid gedra toe hy nie die beloofde land kon binnegaan nie.

 

Ek dink vriende, jy en ek het die verantwoordelikheid om te gaan dink oor die vraag: Wie staan op die verhoog van my lewe?  Ek of God?  Staan ek op die verhoog en God agter die gordyn, of staan God op die verhoog en ek agter die gordyn?

 

Almal van ons sing gereeld saam: wat ek is is net genade, wat ek het, is net geleen.  Maar die oomblik as ons voor die skares gaan staan, het ons ook maar hierdie Moses-geneigdheid om die kollig op onsself te draai.  Ons wys spiere vir mekaar en vir die wêreld, ons hou van die applous, in plaas daarvan om God vir mekaar en vir die wêreld te wys.  En dit is ’n lewenslange geveg om die eie-ek van die verhoog af te kry.

 

Slot: Die verskil tussen ’n wenspan en ’n verloorspan is dikwels in klein verstellings van die wedstrydplan.  Om deur die Gees van God vervul te word (soos ons Pinkstertema sê), is daar dikwels klein geestelike verstellings nodig.  Kom ons bid dat die Gees ons sal lei om God op die verhoog te sit.  Om God op die verhoog te sit deur ons gehoorsaamheid.  Om God op die verhoog te sit in al ons gesprekke, in al ons prestasies, in al ons trots, in elke dag se stukkie werk, in die opvoeding van ons kinders.  Om God op die verhoog te sit wanneer ek sing en wanneer ek gee en wanneer ek dien!  Meer van God, minder van my. So kry Hy die eer! Amen

Prediker: Andre Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za