Picture1André Oosthuizen  andrej@webafrica.org.za

Water is lewensbelangrik.  Behalwe dat water in die natuur letterlik die draer van lewe is, besef ‘n mens eers regtig hoe belangrik water is die dag as jy nie water het nie.  As jy nie ’n kraan kan oopdraai of ’n waterbottel uithaal nie.  Geen ander voedingstof is so belangrik vir die menslike liggaam as water nie.

Ek het dit nie besef nie, maar as jy 60 kg weeg, dan weeg die “droë” bestanddele in jou samestelling net 20 kg. Die ander 40 kg van jou massa is water.  Meer as vier vyfdes van ons bloed is water en amper driekwart van ons brein en spiere is water.  Daarom kan jy 40 dae sonder kos gaan maar as jy meer as 5 dae sonder water is sal jy dood gaan omdat die water te min en die soute te veel sal raak.

Jy sien, om dors te word is daarom ’n lewensbelangrike instink.  Want hoe sou ons geweet het dat ons liggame water nodig het as ons nooit dors geword het nie?  Maar die oomblik as die water te min raak, of die sout te veel gaan die liggie aan en stuur jou brein die sein – jy is dors, drink water!  Dors is ’n instink wat letterlik jou lewe red!

Pinkster hierdie jaar gaan oor dors wees.  Dit gaan daaroor dat die Gees van God vir ons breine die boodskap wil gee, drink water!  Want geestelike dehidrasie kan lewensgevaarlik wees.

Gebed:

Die Bybel praat nogal baie oor dors wees.

Ps 42:1,2 : “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God.  Ek dors na God, na die lewende God”.

Jy sien almal raak dors.  Maar nie almal raak dors vir dieselfde goed om te drink nie.  En dit waarna jy dors bepaal natuurlik wat jy gaan drink.  Kom ek verduidelik. Baie mense dors vandag na mag en status en populariteit.  Ander weer het ’n onversadigbare dors na meer en beter en grander.  En omdat ons in ’n kitssamelewing leef waar ons so vinnig moontlik wil kom waar ons wil wees of wil kry wat ons wil hê word hierdie dors geles deur energiedrankies.

Want energiedrankies doen dit wat die naam sê dit gaan doen – dit gee vir jou onmiddellike energie.  Party like a rockstar, burn intense energy, Monster energy, full throttle energy.  En weet jy, baie mense leef op energiedrankies nie omdat hulle regtig dors is nie, maar omdat hulle die tydelike energie nodig het!  “Red Bull gives you wings”, sê die advertensie mos.  Dit gee jou so bietjie energie om die wielietjie ’n rukkie langer te bly draai in hierdie ratrace.  Om ’n rukkie langer op “Full Throttle” rond te kan hardloop.  En baie mense hardloop “Full Throttle”.  Want om vandag by te hou verg baie energie en baie geld en baie inspanning.  En miskien is dit ’n ongemaklike vraag vanmôre, maar hoe ver of hoe diep is jy ingetrek in hierdie Red Bull lewe?  Smag jy nie dalk ook na ’n klomp goed wat jy eintlik nie nodig het nie, maar wat maak dat jy “Full Throttle rondhardloop om die wielietjie gedraai te hou.  Jy sien vriende, baie mense het ’n onversadigbare dors na meer.  Baie mense se lewens word oorheers deur ’n dors van ontevredenheid.  En om al hierdie goed waarna jy smag te kry, moet jy teen ’n spoed die een na die ander Red Bull afsluk.

Maar geen mens kan op Red Bul lewe nie!  En op ’n dag kom jy agter, Red Bull help nie.  En ons was al almal daar.  Dit is die plek of die punt in ons lewe waar jou prioriteite en die gejaag ewe skielik nie meer sin maak nie, of waar ons eenvoudig moeg en moedeloos en uitgeput is.  Dit is wanneer ons in doodloopstrate beland, en waar die lewe vir ons swaar en donker word.  Jy sien, dit is die oomblik wanneer jy smag na iets anders om te drink.  Nie botteltjies of blikkies energiedrankies nie, maar dors na water.

In Psalm 42 soek die digter water.  Hy dors na God want sy vlerkies is geknip.  Hy smag na niks anders as God se teenwoordigheid nie.  Dit is soos ’n kind wat huil en bang is, en net sy pa kan hom troos.  2 keer in vers 6 en dan ook in vers 12 sê hy dat hy in vertwyfeling is.  Nou die woord wat met vertwyfeling vertaal word beteken neerslagtig.  Die kinders sal sê hy voel down.  Hy is moeg.  Die lewe het hom onder gekry.  Sy swaarkry het hom oorweldig en die gevolg daarvan is dat hy voel God het van hom vergeet.  En daarom het hy hierdie groot behoefte, die groot dors om God weer te vind.

Jy sien, ons beland dikwels in ons lewe op plekke en situasies waar Red Bull nie kan help nie.  Waar ons besef, maar dit waarna ek so gesmag het en waarvoor ek so rondgehardloop het, is eintlik nie die moeite werd nie.  Daar kom tye waar ons besef waaroor die lewe eintlik gaan en tye waar ons besef dat net God kan help.  En dit is dan wanneer jy water soek.  Wanneer jy dors na Water.  Na God se teenwoordigheid.

In Jesaja 58:11 sê die Here: “Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.  Hy sal jou sterk maak.  Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”

Woestyne is plekke van dors.  Woestyntye in ons lewens is die tye wanneer ons regtig dors word.  En jy sien daarom is woestyntye goeie tye ons lewe, want dit maak ons dors.  Dit is die tye wanneer die Gees die boodskap stuur, drink!  Drink van die lewende water!   Drink van God, want dit sal krag gee en jou dra!  Miskien is jy vanmôre in so ’n woestyntyd om een of ander rede.  Dit is nie so slegte plek om te wees nie, want dit maak jou dors na water, die Lewende Water.

Ek was al ’n paar keer in my lewe gedehidreer as gevolg van sport en ander kere siekte.  Soveel so dat ek deurmekaar geraak het – naar en hoofpyn en spierpyne gekry het.  En al wat dan werk is om opgeneem te word en ’n drip te kry om die water terug te sit.  Dehidrasie is lewensgevaarlik.  Jy kan doodgaan daarvan!  Geestelike dehidrasie is ook lewensgevaarlik!  En baie kinders van die Here ly vandag onder die simptome van dehidrasie.  Hulle kragte is min, hulle is moeg en moedeloos, hulle is uitgeput en pessimisties en hooploos oor die toekoms omdat hulle nie genoeg water drink nie.  Nie genoeg water drink deur tyd saam met God te spandeer nie, hulle drink nie Sondae water in kerktyd nie.  Hulle hardloop rond ja, maar is geestelik gedehidreer.  En miskien moet ek en jy meet hoeveel water het ons die afgelope week gedrink.  Het jy genoeg van hierdie geestelike water gedrink?  Maak jy genoeg tyd om water te drink?

Die probleem met geestelike dehidrasie is nie ’n tekort aan water nie.  Inteendeel, Christene het die wonderlike voorreg om te weet, die water sal nooit opraak nie!  Daar is ’n fontein van Lewende Water waarvan ons elke dag genoeg kan gaan drink.  Jesus sê in Johannes 7:37-39: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”  As jy dors het kan jy gaan drink soveel as wat jy wil en wanneer jy dit nodig het!  Daarom vriende, moet ek en jy nie bid vir water nie, ons moet bid vir ’n groter dors!  Ons moet bid dat die Heilige Gees ons dors sal maak vir die lewende water.  Dors vir God se teenwoordigheid.  Dors na ’n intiemer verhouding met God.  Dors na meer tyd saam met God.  Dors daarna om God beter te leer ken.  Dors daarna dat God ons meer kan gebruik, ons gawes ons talente, ons tyd, ons geld.  En ons moet bid dat die wêreld nie sy dors sal les met goedkoop en tydelike energiedrankies nie, maar met die lewende Water.

Jesus sê in Matteus 5:6: “Geseënd is dié wat dors na wat reg is”  Die woord wat hier vir dors gebruik word is nie ‘n eenmalige dors nie. Jesus sê nie geseënd is dié wat eens op ‘n tyd dors was nie. Nee Jesus sê: Geseënd is hulle in wie se harte daar ’n lewenslange, onversadigbare dors na God is.  Wat water en nog water en nog water wil drink omdat daar ’n oorvloed water beskikbaar is!

Slot:

Dit is interessant dat daar elke keer gesê word, as jy dors is, sal jy water kry, maar dan gebeur daar iets met jou.  Jy kry nie net water nie, jy verander self in ’n fontein!  Jesaja 58:11 sê: Jy sal wees soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”  Johannes 7 sê: “Strome lewende water sal uit jou binneste vloei”.  Wanneer jy van die lewende water drink word jy ‘n fontein waarvan ander weer moet drink.  Want so sit die Here fonteintjies op verskillende plekke uit sodat mense wat dors is van die lewende water kan kry!  En jy sien, as jy nie drink nie, as jy geestelik gedehidreer is, kan ander nie by jou drink nie.  Jy kan nie gee wat jy self nie het nie!  Daarom vra ek myself die vraag: Drink ek genoeg, nie net sodat ek aan die lewe kan bly nie, maar sodat ander ook by my kan drink?

Dors is ’n lewensbelangrike instink wanneer jou brein die boodskap oordra dat jy water nodig het.  Mag die Heilige Gees die lewensbelangrike boodskap oordra, jou dors maak sodat jy water sal drink.  Ek bid hierdie Pinkster nie vir water nie, maar vir ’n groter dors in jou lewe.  ’n Dors wat die Heilige Gees as die lewende water sal les.  Red Bull gee wings, water gee lewe!  Amen