Picture1André Oosthuizen    andrej@webafrica.org.za

Ps 118 is ’n danklied wat gesing is as mense kerk toe gegaan het.  En dit is gewoonlik in beurtsang gesing: Iemand sou voorgaan: Loof die Here want Hy is goed… en dan sou die gemeente antwoord: aan sy liefde is daar geen einde nie.  En sodra jy dan by die tempelpoort gekom het, het jy ’n tipe lojaliteitsverklaring gehad (v19): maak die tempelpoort vir my oop want ek wil ingaan om vir die Here dankie te sê vir wat Hy vir my gedoen het.

En vriende vanmôre staan ons in die tempel en ons vra dat die Here vir ons sal oopmaak, sy hart, sy Woord, sy teenwoordigheid, want ons is hier om vir Hom dankie te sê.  Daarom gaan ek voor met dieselfde woorde: “Loof die Here, want Hy is goed, (en die gemeente antwoord) aan Sy liefde is daar geen einde nie!”

Skriflesing

Dankbaarheid is ’n blommetjie wat nie in alle tuine groei nie (Guido Gezelle).   En so aan die einde van die jaar wanneer die winde van die lewe vir 11 maande lank ons droog en moeg gewaai het, het ons miskien nodig om herinner te word aan die blommetjies van dankbaarheid wat daar steeds in ons lewenstuine staan.

En jy sien, hierdie dankbaarheid is in ’n kind van die Here se lewe diep gewortel in die teenwoordigheid van God in ons lewens.  Dit is wat Psalm 118 sê.  Ons kan sing oor God! Ons kan sing oor sy goedheid! Ons kan sing oor sy sorg! Ons kan sing oor sy beskerming! Ons kan dankbaar sing oor sy teenwoordigheid!  Ja, jy kan vanmôre getuig dat die Here vir jou goed is, hoekom, want aan sy liefde vir jou is daar geen einde nie!

Dankbaarheid is diep gewortel in die teenwoordigheid van God.  Want jy sien, die lewe bied genoeg uitdagings wat ons dankbaarheid wil steel.  Die digter sing, maar in dieselfde asem vertel hy van sy swaarkry in vers 5-9 en 10-18.  Hy vertel van mense wat hom haat, van aanvalle, van vrees en bekommernis.  Jy sou vanmôre kon skryf oor jou eie swaarkry hierdie afgelope jaar.  Miskien sou dit meer as hierdie paar reëls kon wees.  Miskien voel jou probleme ook soos ’n swerm bye wat om jou pak (v12).  Partykeer voel dit mos of die lewe ons wil versmoor.  Of die probleme net te veel raak.  Of die een probleem die ander probleem nader lok.  Ons elkeen se swaarkry is of was ’n eie swerm bye.  Maar dankbaarheid is diep gewortel in die teenwoordigheid van God.  En die digter is in vers 5 dankbaar vir ’n plekkie waarheen hy kan vlug as dit swaar raak.  Vers 5: “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor…  Vers 8: “Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.”

Liewe kind van die Here, jy het ’n skuilplek teen die storms en winde van hierdie lewe.  Jy kan by die Here gaan wegkruip as die lewe jou seer maak of swak maak of selfs onderkry.  Jy kan by Hom gaan skuil as die bye jou pak en jy nie weet watter kant toe nie.  En in daardie skuilplekkie kan jy weet “die Here is by my, ek hoef nie bang te wees nie, Hy help my!” (v7)

Die interessante is dat die digter skryf oor sy swaarkry en skuilplekkie – in die verlede tyd.  “Nasies het op my afgestorm, hulle het my omsingel van alle kante, ek het na die Here geroep, Hy het my gebed verhoor.”  Jy sien, swaarkry kry mos ander betekenis as jy daarop terug kyk.  Toe hy terug kyk op sy swaarkry het hy besef hoe getrou die Here was.  En daarom vriende, een van die kragtigste geloofswapens wat ek en jy het om vandag met geloof en hoop en vreugde en dankbaarheid te bly lewe, is ’n geloofsgeheue.

Om vandag dankbaar en met hoop te lewe, moet jy die Here se sorg van gister onthou!  Om vandag dankbaar te wees, moet jy onthou hoe die Here male sonder tal al vir jou ’n getroue skuilplek was.  ’n Geloofsgeheue van God se troue sorg in die verlede gee vir ons nuwe geloof en vertroue dat Hy vandag en môre sal bly sorg.  ’n Geloofsgeheue help dat ek môre met dankbaarheid kan opstaan, maak nie saak hoe groot my bedreigings is of lyk nie, want ek onthou die Here het my al gehelp.  Daarom kan ek opstaan jy voor die tempelpoort bely: die Here is by my!  Hy gee my krag!  Hy help my!  Ek gaan nie bang wees nie, want om by Hom te skuil is beter as om op mense te vertrou!  Jy sien, jou geloofsgeheue bring die dankbaarheid waarmee jy elke dag behoort te lewe! “Dankbaarheid is die geheue van die hart.”

Die Here is ons skuilplek, Hy was nog altyd, en sal vir altyd wees, maar ons is geroep om met sy krag en in sy teenwoordigheid te gaan lewe.  Sheila Cassidy skryf so ’n mooi ding: “Ons sou nooit geleer het om te vertrou as ons alles begryp nie.  As ons alles sou verstaan, sou ons ook dink dat ons alles kan beheer.  En ons kan nie.  Daar is ’n punt waar net vertroue in God ons kan deurdra.”

SKYFIE Ons elkeen se lewensreis is een waar die Here ons uit die skuilplekkies uitstoot op ’n onbekende oseaan.  Golwe, storms, vrees, bekommernis, hartseer is alles deel van hierdie onbekende reis.  Maar geloof is die seile waarmee die Gees se wind ons vorentoe dryf.  En terwyl ek en jy op die oop see vaar, onthou ons vandag God se hand wat gister oor ons was en seil ons met geloof en vertroue saam met Hom wat ons krag en ons beskerming is.

Vers 24: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”  Vandag in jou bootjie, is ’n dag om oor bly te wees, want die Here is by jou.  Hy was nog altyd.  En dit is genoeg rede om vandag te juig en vandag bly te wees.

Slot:

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons bly wees.  Om met lewensvreugde en met dankbaarheid te lewe berus baie keer op ‘n lewenskeuse wat jy maak.  En die keuse is nie gegrond op jou gevoelens of omstandighede nie, nie op die sterkte van die wind of die hoogte van die golwe nie, maar op God se teenwoordigheid.  Ek juig en ek is bly, want ek kies om te onthou dat die Here naby my was en naby my sal wees.  En ek bely dat daar aan sy liefde vir my geen einde is nie.

Barbara Johnson skryf: “Ons het altyd ‘n keuse: ons kan of toelaat dat die dorings van teleurstelling, mislukking, eensaamheid of woede oor ons situasie, ons hande stukkend steek.  Of ons kan die rose van God se oneindige liefde, genade, wysheid en die vreugde van sy blywende teenwoordigheid, liggies vashou – en ons laat oorweldig deur die troostende geur daarvan.”

Kom ek en jy kies vandag om die rose van God se oneindige liefde, genade, vreugde en blywende teenwoordigheid raak te sien en dit liggies vas te hou soos ons op die water vaar.  Kom ons laat nie toe dat die dorings van ons teleurstellings, hartseer en bekommernis ons hande stukkend steek nie.  Kom ons laat die geur van God se oneindige liefde en blywende teenwoordigheid ons troos.  En kom ons vaar uit met geloof en vertroue in die Een wat ons krag en beskerming is!  Loof die Here, want Hy is goed, (en die gemeente antwoord) aan sy liefde is daar geen einde nie!

Sitgebed    

Nagmaal

Die digter is verstom in vers 22 dat die Here juis vir hom, wat maar ’n klippie is wat deur die bouers afgekeur is, so waardig en belangrik ag dat Hy hom elke keer sal help en beskerm in sy nood.  Hierdie klippie wat afgekeur is word natuurlik in die NT die Here Jesus self.  Hy is die klip wat deur die bouers afgekeur is, wat verneder is, wat in eensaamheid gely en gesterf het.  Maar juis Hy is die is die belangrikste klip in ons geloofshuis.  Ons Rots en ons Sterkte, ons ewige skuilplek.  En jy sien, dit is waaroor nagmaal gaan.  Oor die Rots waarop ons lewe gebou is.  En wanneer die Here jou kom voed, verseker Hy jou dat Hy by jou is, dat Hy jou skuilplek sal wees, en kom gee Hy vir jou nuwe moed en nuwe geloof om met vertroue saam met Hom te vaar.

Eet vanmôre die brood en drink die wyn met ’n bly gemoed en in die teken van jou dankbaarheid.