André Oosthuizen

Ons ken die Filippense brief heel waarskynlik oor die gedeelte van blydskap in Fil 4:4. Maar tog was daar baie dinge in die Filippense gemeente waaroor Paulus nie bly en opgewonde was nie. Dinge waaroor hy hom bekommer het en ander goed waaroor hy eenvoudig ongelukkig was. Daarom word Filippense ook in baie kringe ‘n strydbrief genoem, juis omdat daar soveel misverstande en dwaalleer in die gemeente was.
Nou een van die dinge waarteen Paulus hom uitspreek, kry ons in hierdie gedeelte vanaf vers 11. Agter hierdie verse lê daar klaarblyklik die gedagte van sommige gemeentelede dat hulle geestelik volmaak was. In ander woorde, hulle het gedink hulle het geestelik gearriveer! Daar was niks wat hulle geestelik nog kon leer of doen of bereik of verander nie. Op die oog af ‘n vreeslike vreemde en selfs verregaande gedagte om te kan dink jy is geestelik volmaak.
Hoe kan mense selfs dink hulle het nie foute nie en hoef nie te verander nie? Maar jy sien, dit gaan nie net oor die dink jy is volmaak nie, dit gaan ook oor die vraag of jy iets doen aan jou onvolmaaktheid of jou onvolwassenheid.
So, voor ons dink dit is ‘n klomp arrogante mense in Filippi, kom ons staan net ‘n oomblik hier stil. Wie is die geestelik arrogante mense?
• Mense wat moeilik erken dat hulle ‘n fout maak en sukkel om jammer te sê.
• Mense wat dink hulle is beter as ander mense.
o Hoeveel keer sit ons in die kerk en dink, sjoe dit is nou ‘n boodskap wat daardie en daardie een moes hoor? Arrogant!
• Mense wat nooit verander nie. Wat jaar in en jaar uit dieselfde sondige gedrag of gewoontes het.
• Mense sonder ‘n geestelike plan. Wat nie vanmôre die vraag kan antwoord wat die een of twee dinge nou in my lewe is waarin ek geestelik moet groei en verander nie.
• Mense selfs sonder ‘n behoefte om te verander. Wat nie eers vanmôre kan insien dat hulle moet verander of groei nie.
• ‘n Gemeente kan arrogant wees wanneer ‘n gemeente nie voordurend verander of reformeer nie, maar glo dat hy in sy doen en late en inrigting volmaak is. Daar is net een manier van doen en dit is ons manier van doen.
Geestelike arrogansie!
En om hierdie misverstand of dan dwaalleer aan te spreek, gebruik Paulus die beeld van ‘n wedloop, wat op ander plekke in die Bybel ook gebruik word. En die beeld word gebruik om te verduidelik dat elke kind van die Here Jesus geestelik moet bly groei, lewenslank! Jy het nog nie gearriveer nie. En as jy dink jy het al gearriveer is jy geestelik arrogant.
Kom ons staan vir ‘n oomblik stil by Paulus se beeld van die wedloop.
(Skyfie) Ek geniet dit so om die kleintjies se atletiekbyeenkomste dop te hou. Dit is nou die outjies voor skool al. (Die mammas en pappas dink mos almal hulle het ‘n potensiële springbok naelloper in hulle geledere.) Maar dan dra die pa of ma mos vir boetie tot by die wegspring. En hulle los hom daar en gaan wag in sy baan by die wenstreep. En soos hy hardloop kan jy sien hoe die ogies op jou gevestig is, totdat hy hardloop tot in jou uitgestrekte arms en jy hom dan gryp en optel.
In vers 12 sê Paulus, met hierdie beeld in gedagte, dat God hom letterlik gegryp het. Hy sê: “Christus het my syne gemaak.” Die teks hier sê: Christus het my gegryp! Hy het jou uit die kloue van die dood gegryp. Hy het my hart gegryp en die Heilige Gees daarin gesit. Sy gryp het my lewe en my bestemming verander! Ja, jou eindbestemming is seker. Jou Pa wag daar vir jou. Maar Hy het my gegryp en by die wegspring gaan sit. Sy gryp is nie die wenstreep nie! Tussen die wegspring en die wenstreep lê ‘n wedloop. En in hierdie wedloop moet jy jou inspan en uitstrek en koers hou. En Hy gee vir jou al die toerusting om te kan hardloop, maar jy is nog nie die volmaakte atleet nie.
Dit is soos ‘n baba wat gebore word. Die baba is volmaak geskape, maar nog onvolwasse en ver van volmaak in sy ontwikkeling as mens. Ons is volmaak in Christus, maar nog nie volmaak in ons geloofsontwikkeling nie. Daar is nog baie wat ons moet leer en baie geloofsgroei wat moet plaasvind.
En jy sien, baie kinders van die Here Jesus dink, as God jou gegryp het is jy by die wenstreep. Al wat saak maak is dat jy gered is. Dit is nie waar nie! Dit is geestelik arrogant! En geestelike arrogansie is iets waarteen ons elkeen moet waak. En miskien sit jy ook vanmôre hier en jy besef dat jy arrogant is. Jy is so besig met ander mense se sonde dat jy nie jou eie raaksien nie. Dalk moet jy vanmôre besef jy het nie gegroei nie, jy het stilgestaan. Jy besef jy is deel van die gemeente wat Paulus vanmôre aanspreek. En weet jy, as jy dit besef vanmôre is daar vir jou hoop. Want erkenning is die eerste stap na geestelike groei en volwassenheid. Erkenning van jou foute en tekortkominge. Ontkenning is arrogansie. (SKYFIE) So as jy jou sonde, jou tekortkominge, jou gebrek aan groei bely en erken, dan kan God met jou werk en begin Hy met jou oor en wil Hy jou help om die wedloop te hardloop en te groei en te verander tot groter volwassenheid. As jy dit bely en erken wil die Gees jou op ‘n pad van vernuwing en verandering lei!
En nadat Paulus die ou gedagtes uitgewys het, kom gee hy een beginsel waarvolgens jy hierdie wedloop nuut of anders moet hardloop.
“Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.” (v13). Dit is ‘n lewensbeginsel wat ons moet volg as ons wil groei en verander tot geestelike volwassenheid.
En die beginsel is, leef vorentoe!
Jy sien, Christene is toekomsmense. Ons is nie mense wat in die verlede leef nie.
Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Ek vergeet wat agter is. Vergeet beteken nie ek onthou niks daarvan nie of ek ignoreer my verlede nie. Nee hy sê, sy gees hou hom nie meer daarmee besig nie en hy laat nie toe dat die verlede sy voorwaartse gang en strewe strem of verlam nie. Sy gees is nie ‘n gevangene van die verlede nie!
En jy sien vriende, daar was baie goed in Paulus se verlede wat sy gees kon keer om vorentoe te leef. Hy het mense laat martel en doodmaak. Hy het die kerk van die Here Jesus, vir wie hy nou baie lief was, eens vervolg en probeer uitwis. Dit is goed waaroor hy sekerlik baie spyt was.
Daar is goed waaroor jy spyt is. Spyt oor wat jy gedoen het of wat jy nie gedoen het nie. Spyt oor foute wat jy gemaak het, spyt oor keuses wat jy uitgeoefen het. Daar is ook dinge in jou verlede wat ander mense aan jou gedoen het en wat jy nie agter gelaat het nie. Wat jy nie kan los nie, of wat jy aan vashou of selfs teen hulle hou. En weet jy, hierdie spyt en wrokke is ‘n lelike ding. Dit skep by baie mense soveel skuldgevoel en bagasie dat hulle nie vorentoe kan gaan nie en nie geestelik kan groei nie. Daar is baie mense wat eenvoudig vashaak by die verlede. En as jy die hele tyd agtertoe kyk kan jy nie vorentoe hardloop nie. Jy kan nie groei nie!
Jy het dit al gesien by jou kinders se atletiek. Die oomblik as kinders in ‘n wedloop begin rondkyk, verloor hulle spoed. En ek het nog nooit ‘n ou reguit sien hardloop met sy kop agtertoe gedraai nie.
Om op ‘n nuwe pad van geestelik te groei te kom moet jy vry kom van die spyt en wrokke van die verlede. En ons moet leer, soos die gemeente in Filippi, dat ons ook nie volmaak is nie. Ons doen nie altyd alles reg nie. Ons maak foute. Ons maak mekaar seer. Ons doen en sê goed waaroor ons na die tyd spyt is. Maar as ons opreg is, kry ons vergifnis en gendae daarvoor en hoort spyt en wrokke in die verlede. Jy is nie dit wat in die verlede met jou gebeur het of dit wat jy in die verlede gedoen het nie. Fillipense 3:13 sê: Jy is dit wat jy nou besig is om te word.
So terwyl jy asemhaal het jy elke dag ‘n geleentheid om in hierdie wedloop te groei en te verander.
Jy is dit wat jy nou besig is om te word.
Daarom is die vraag vanmôre (en ek sluit daarmee af), wat word jy? Watter tipe mens is jy besig om te word? En wat moet in jou lewe verander sodat jy meer en meer die tipe mens kan word wat Jesus wil hê jy moet wees?
Geestelik arrogant het nie ‘n antwoord nie, gee ook nie eintlik om nie, verander nie en lyk gevolglik ook nie anders as die wêreld nie. Geestelik volwasse soos vers 15 sê is mense wat vanmôre die aanmoediging van die Gees hoor, luister, leer, verander en groei.
Ons spring vanmôre weer weg.
Moenie omkyk nie. Maak jou los van wat agter is. Gister is verby.
Strek jou uit na wat voor is en hou koers op hierdie baan wat die Gees ons gewys het. Amen