(Erediens 11 Maart 2018) Die gebeure speel hom af by Tabga – met die mooiste mosaïek op die vloer van die kerk wat tans daar staan – met die mandjie vol brood en vis. Dit herdenk hierdie aangrypende wondergebeure.

Wat is die verskil tussen die modernistiese leefwêreld en die Joodse leefwêreld van die evangelie van Johannes?
Dit is eintlik die selfde verskil as tussen die leefwêrelde van die Grieke en die Hebreërs.
Die tipiese vraag van die Grieke sou wees:
“Wat presies (!) het daar gebeur?”
Amper soos ’n regter in ’n hofsaak:
“Wat is die eksakte feite en volgorde van die gebeure?”
Die Hebreër se tipiese vraag in ’n situasie sou egter wees:
“Wat is die betekenis daarvan?”
Niks gebeur sonder ’n rede nie en dit dra ’n boodskap wat ons lewens behoort te beïnvloed.

So is die evangelie van Johannes vol van betekenis. Agter die feitelike moet ons soos speurders gaan soek na die rykdom in die beeldrykheid van die verhale.

So het ons hierdie reeks begin met die ryke betekenis van Jesus wat sy bediening begin met ’n wonderteken by ’n bruilof. En Jesus maak van ‘n gewone bruilof ’n FEES.
Hy maak van doodgeloopte verleentheid – sonder wyn – ’n oorvloedige feesgeleentheid Tot so ’n mate dat ons kon praat van “kies eerder wyn as water”.

Op hierdie verlengstuk kry ons Jesus nou aan die oorkant van die meer.
Hy vaar by die meer van Galilea oor vanaf Kapernaum na Betsaida, die heidense westelike deel van die meer.
Hy soek weer stilte na sy herhaalde konfrontasie met die Jode.

Maar die mense is gefassineer deur Jesus se wonderwerke aan (veral) die siekes.
En hulle volg hom kuslangs te voet – bykans ‘n 10 km ver.
’n Stupid klomp – want hulle maak nie voorsiening vir padkos nie.

En Jesus bekyk hierdie groot skare soos hulle aankom. En Hy kry hul jammer. Moeg geloop en honger en die dag lê nog voor.
En dit gee vir Hom die geleentheid vir ’n wonderwerk waaroor ons nog lank en diep sal nadink.

En dan moet ons na hierdie wonderwerk kyk, nie soos die Grieke nie, maar soos die Hebreërs.
“Wat beteken dit? Wat is die boodskap daaragter?”

Die rolspelers in die gebeure is fassinerend. Kom ons kyk eers na hulle.
En ek wil jou vra om elkeen van die rolspelers in jou verwysingsraamwerk in te nooi.
En jouself te spieël in elkeen van hulle.
(Daarna gaan ons terugkom en ’n verklaring soek vir hierdie wonderwerk. Meer op ’n Griekse wyse.)

Ons begin dadelik by Jesus:
Hy gee om vir mense. Hy sien hul penarie.
Net so weet Jesus ook van jou behoeftes. Al die gestaltes daarvan. Moenie daaroor wanhoop nie.
Jesus staan nie apaties teenoor jou uitdagings nie.
Maar Jesus weet ook dat ons grootste behoefte is nie noodwendig kos nie.
Ons groot behoefte is miskien om Hom raak te sien as die Een wat hoop bring in wanhoop.
En so trek Jesus hierdie jaar ons vernsters op Hom al groter en groter oop.
In die Engelse dienste vra ons ook in ‘n reeks: “Wie is die Christus, van God?”

Dan is daar die volgende rolspeler: Filippus.
Hy is ’n boorling van daardie gebied. Hy ken die wêreld. Daarom vra Jesus juis vir hom: “Waar is die Spar dat ons vir die mense kan gaan brood koop?”

Maar Filippus is ’n realis. Hy weet ook iets van finansies. Hy maak gou die sommetjie.
Jy sal vir 5000 honger mans, afgesien van miskien net soveel vroue en kinders, ’n fortuin nodig hê. Hy bereken dit in terme van die gewone gangbare dagloon: 200 mense se dagloon.
Ses maande se salaris!
(Maak jy maar die sommetjie.)

So kry ons rondom ons ook realiste wat net teen die syfers vaskyk.
By hulle is daar nie ’n wyer kyk waarin God se
• grootheid en
• God se vindingrykheid en
• God se genade en
• God se almag verreken word nie. Hul uitdagings is te groot vir hierdie Jesus.

Filippus se hoop stop dus by sy realisme.
En dit is bloot nie haalbaar om iets aan hierdie nood te doen nie. Klaar! Wanhoop!

Die derde rolspeler is Andreas.
Hy is ‘n pragmatiese en praktiese mens. Hy soek eerlik na oplossings.
Hy is ’n doener. En hy soek vir hulpbronne wat kan help om die nood te verlig.
Ons kry ook sulke mense in die gemeente.
Hulle is altyd bereid om te help en na oplossings te soek.
En Andreas was altyd besig om mense na Jesus te bring. So het hy ook sy broer, Petrus,
na Jesus gebring.
En Andreas kry ’n seuntjie met ’n kosblikkie. Hy bring hom na Jesus.
Daar is ietsie in sy kosblikkie.

Maar Andreas stuit ook teen die onmoontlike van hierdie uitdaging:
“Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

Sy praktiese uitkyk stuit ook voor die klaarblyklike onmoontlikheid.

Dan is daar die seuntjie met die kosblikkie.
Wat my opval is die gewilligheid om hierdie kosblikkie oop te maak en vir oom Andreas te gee.
5 garsbroodjies en twee gesoute vissies. Hy het ’n goeie ma wat nie suinig is nie.
5 broodjies en twee vissies is eintlik baie vir ’n seuntjie.
Maar tog – totaal te min vir die 10 000 hongeres!
Sulke mense kry ons ook rondom ons. Dit is selfs iets van Jesus se karakter wat sigbaar word. Hulle gee totdat dit seer maak. Hulle gee omdat hulle omgee. Hulle gee onselfsugtig.
Hulle leef met hoop – “dat my klein bietjie ’n verskil sal kan maak”.
Veral as ek dit in Jesus se hande gee! Daar word dit ’n asemrowende oorvloed!

Filippus: die pessimis.
Andreas: die pragmatis.
Die seuntjie: die hooptimis.

En dan kom ons terug na Jesus.
En ons ontdek Jesus hier as die Een wat hoop kan laat realiseer.
As Hy die klein bietjie van die seuntjie in sy hande neem, dan maak Hy dit ’n oorvloed-fees!
Net soos die 600 liter wyn van die bruilof.
“Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.”
Oorgenoeg! Sonder beperkings! Tot almal versadig was!
Jesus kan my en jou klein bietjie neem en dit tot seën en oorvloed maak.

Dit is wanneer die min meer word as genoeg.
Soveel so dat daar 12 mandjies vol oorskietbrood oorbly.
Sien ook hier die simboliese 12: vir elke dissipel van Jesus se kerk ’n hele mandjie vol.

Daarmee saam leer Hy ook vir ons om nie te mors met kos nie:
“Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

Kos en water (en alle lewenskommoditeite) moet nie gemors word nie.
Veral nie in ons dag nie.

Nou ons Griekse vraag: “Wat presies het daar gebeur?”
Ons vra mos meer as die betekenis. Ons soek eksakte speur-feite.

Daar is al in die verlede drie verklarings-moontlikhede gegee vir hierdie “wonderwerk”:

1. Dat daar ’n skeppingswonder gebeur. Dws elke keer as Jesus die brood en die vis breek en uitdeel, dan vermeerder die res van die brood sodat daar ’n oneindige aantal porsies afgebreek kan word.
Met hierdie verklaring het ek geen probleem nie. Want Jesus is immers die Skeppingsmiddelaar. Waarom sou Hy nie weer kan skep en vermeerder nie?
Hierdie verklaring trek dan ook ons venster op Jesus groter en eer Hom as die Almagtige wat steeds skeppings- en versorgingswonders kan doen.

2. Die tweede verklaring kom, eienaardig genoeg, van die teoloog en mediese sendeling in Afrika (Gaboen), Albert Schweitzer. Hy het die wonder verklaar, nie as skeppingswonder, maar eerder as ’n geestelike sakrament. Dit beteken dat, net soos ons by die nagmaalstafel aansit – met klein porsie brood en wyn- skaars meer as ’n paar krummels, so was dit ook daar in Tiberias.
Met klein stukkies brood en vis, maar saam met Jesus se bemoedigende en versterkende teenwoordigheid, kon mense van daar teruggaan huistoe – geestelik versterk en verkwik.
Dit was vir hulle meer as genoeg.
Inderdaad gebeur so iets in ons nagmaalviering.

3. Die derde verklaring is fassinerend:
In Detroit, Michigan, is daar ’n Rooms Katolieke priester genaamd Father Bill Cunningham.
Hy sal altyd onthou word vir sy pogings om die hongeres te voed en vir die haweloses huisvesting te gee. Daar in Detroit dryf hy met toewyding ’n program met die naam “Focus: HOPE.”
Sy verklaring vir hierdie wonder is:
Die mense wat op die daguitstappie gegaan het, was nie regtig so stupid nie.
Elke tweede persoon het wel voorsiening gemaak vir ’n middagete en dit in hul rugsakke of onder hul klere gedra. Maar hierdie mense was nie baie vrygewig nie. Elkeen het maar gedink hy sal sy padkos eet as hy alleen op pad terug is. (Hy jy ook al so iets by ’n braaivleis beleef…?)
Toe hulle egter daar saamtrek rondom Jesus, word hulle aan die hart gegryp deur hierdie ou seuntjie se bereidwilligheid om sy ou kosblikkie met die ander te deel.
Daarom dien die ou seuntjie se kospakkie toe vir hulle as inspirasie. En elkeen haal toe sy padkos uit – en begin deel dit met die ander mense rondom hulle!

As daar so iets gebeur het, sou dit, myns insiens, amper ’n groter wonderteken gewees het as wanneer Jesus met ’n skeppingswonder die brood vermeerder.
Want ons is mos van nature selfsugtig. Ons deel moeilik met ander. Ons klou vas aan wat ons het.

Wanneer jy egter deur die Heilige Gees aangeraak word om van jou bietjie met ander te deel, dan lei dit tot ’n rolmodel vir ander en begin leef ons onderling ’n styl van mededeelsaamheid.

Ek sluit af:

Wat jou eie verklaring van die gelykenis ookal is,
– Elkeen daarvan is eintlik ’n wonder uit God se hand:

Of Jesus nou fisies brood en vissies dupliseer,
Of Jesus se teenwoordigheid soos met ’n sakrament ons geestelik versterk,
Of ons deur die Gees gelei word tot die weggeen van die bietjie wat ons het,
dit is elkeen ’n wonderlike stuk geloofsversterking en ’n getuienis van die sorgende God.

’n Laaste inspirerende gedagte wat ek in Engels lees:
I am only one; but I am one.
I cannot do everything, but I can do something.
And what I can do, I ought to do.
And what I ought to do, I will do, so help me, God!

In Jesus se hande word my klein bietjie vir ander ’n oorvloed.

“Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Joh 101:10

Amen.

Voorbidding vir mense wat nood ervaar.
Op een of ander wyse sou jy waarskynlik met hierdie verhaal kon identifiseer.
Saam met baie dankbaarheid het jy waarskynlik ook een of vorm van nood.
– Dink mooi wat jou nood is.
– Dink mooi waaroor jy egter ook vir God wil dankie sê.
Ek bid vir jou!

Prediker: Ds Retief Botha (rrbotha@hotmail.com)