Picture1André Oosthuizen   andrej@webafrica.org.za

Om aanvaar te word of aanvaarbaar te wees vir ander mense is waarskynlik een van die hoofredes agter alles wat jy doen.  Aanvaarding is die gevoel dat jy iewers hoort, dat jy iewers inpas, dat daar mense is wat vir jou omgee en lief is soos wat jy is.  Jy sien, aanvaarding speel ’n groter rol in ons lewens as wat ons aanvanklik sal toegee.  Want bykans alles wat ons doen het te make met hierdie behoefte om aanvaar te word.  Neem byvoorbeeld net die klere wat jy vanmôre aan het.  Wat jy aangetrek het vir kerk vanmôre is nie net omdat dit vir jou mooi en gerieflik is nie, maar deels ook omdat jy weet dat dit vir die res van ons aanvaarbaar sal lyk. 

Kinders soek die aanvaarding van hul ouers, kollegas en vriende van mekaar.  Vroue soek die aanvaarding van hul mans en mans van hul vroue.  Jy sien, om deur iemand aanvaar te word is seker een van die mens se mees basiese emosionele behoeftes.  En om nie aanvaar te word nie is seker een van die slegste en eensaamste goed wat met ’n mens kan gebeur.

Ongelukkig leef ons nie in ’n kultuur waar mense mekaar noodwendig maklik aanvaar nie.  In ons land sukkel mense om mekaar te aanvaar.  En dit is ongelukkig ook nie net waar in ons land nie, maar somtyds ook deel van die kerk.  Selfs in die kerk ervaar mense somtyds baie min aanvaarding.  Mense word baie maklik uitgeskuif, op neergekyk, geetiketteer, onwelkom laat voel, veral as hulle ’n bietjie anders as ons lyk of anders as ons dink, of anders as ons aanbid.  Siekes, sondaars, bedelaars is gewoonlik buite die tempel en soms selfs buite die stad se mure gekry.

En in Johannes 8 kry ons ’n vroutjie wat nie aanvaarding gekry het nie, maar spot en verwerping.  Jy sien, die agtergrond van hierdie gebeure vind ons in die voorafgaande gedeeltes in Johannes 7 vanaf vers 40 af.  Eintlik is sy die slagoffer van ’n smeerveldtog teen Jesus.  Die Jode en fariseërs is naarstiglik op soek na goed waaroor hulle Jesus kan aankla en veroordeel.  En toe kry hulle hierdie vroutjie – op heter daad met owerspel betrap.  En summier word sy in die middel van die spotterskring gesit – eensaam, uitgelewer, verwerp.

En vriende, dit het my laat wonder hoe ons, “die kerk” met sondaar mense omgaan.  Want jy sien, dit was die kerkmense van die dag wat dit gedoen het!  So asof ons nie self sondaar mense is nie.  Is ons reaksie teenoor hulle wat struikel en val – net soos ons – om mense se waardigheid te beskerm, om steeds die mens ten spyte van sy/haar foute en tekortkominge in liefde te aanvaar of maak ons nie baie keer presies soos die fariseërs en praat meerderwaardig en veroordelend en selfs vermakerig oor mense wat foute maak nie?  En ek dink ons, “die kerk”, kinders van die Here moet daarteen waak dat ons soos hierdie fariseërs onsself belangriker en heiliger as ander ag en in die proses mense seer maak, uitskuif, etiketteer, veroordeel en geestelik laat vereensaam.

Jesus antwoord nie eers die mense wat klippe wil gooi nie.  Hy raak nie betrokke in argumente oor die grense van liefde nie.  Inteendeel, Hy kom gee vir hierdie naamlose vroutjie waarskynlik presies dit waarna sy gesmag het – aanvaarding.  En toe almal omgedraai en weggeloop het, staan Jesus op en vra met soveel respek en waardigheid teenoor haar (vers 10) … “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”  En sy antwoord: “Niemand nie, Here.”  En dan sekerlik vir my die mooiste woorde in die hele Bybel vers 11: “Toe sê Jesus: Ek doen dit ook nie.”

Ek het nie gekom om jou te veroordeel nie!  Ek is nie hier om jou te verwerp en verder te verneder nie.  Hy wil in haar selfs nie verder laat skuldig voel nie!  Want Jesus het sondaar mense soos hierdie vroutjie en sondaar mense soos ek en jy met sy lewe lief!  Hy reik uit na sondaar mense, Hy gaan soek hulle en laat hulle verstaan dat jy selfs met jou vuil sondelas vir Hom aanvaarbaar is!

 

Vriende, soveel mense voel onaanvaarbaar vir God.  Miskien is jy een van hulle wat dink en vir jare al glo jy is eenvoudig nie goed genoeg vir Jesus nie.  Dit is ‘n leuen wat die duiwel verkondig!  Dit is ‘n leuen wat die duiwel gebruik om God se kinders van Hom af weg te hou.  Want die Here Jesus het juis gekom sodat ek en jy vir God aanvaarbaar kan wees.  Hy het ons aanvaarbaar kom maak toe Hy ons sonde aan die kruis vergewe het.  Maak nie saak hoe vuil en sondig jy is nie, maak nie saak of jy saam met die varke vandag lewe of in jou verlede saam met die varke gelewe het, vir God is jy aanvaarbaar, want Hy kyk nie deur die sonde na jou nie, maar deur die kruis van Jesus!  Hy bewys genade aan sondaars!  Hy het in Jesus jou aanvaar, met jou sonde en al, net soos jy is!

 

Natuurlik is Sy genade nie goedkoop nie.  Natuurlik kan dit ook nie goedkoop gemaak word nie.  Daarom Jesus se opdrag, gaan en doen nie meer sonde nie.  Los jou sonde!  Bekeer jou!  Gebruik die geleentheid om oor te begin.  Maar ek glo die Heilige Gees wil ons vanmôre laat hoor – sonde is vir God onaanvaarbaar, maar die sondaar nooit!

 

Daar is ’n tweede kant van aanvaarding.  Behalwe dat God jou aanvaar moet jy natuurlik jouself ook aanvaar.  Jy moet aanvaar dat God jou aanvaar.  Baie mense weet dat God sondaars aanvaar, maar glo self nie dat hulle vir God aanvaarbaar is nie.  Dit is baie keer die plek waar ons vashaak.  Ons sukkel om te aanvaar dat God my aanvaar.  En wat van jou ’n nuwe mens maak is nie die aanvaarding van mense nie, maar die besef dat ek, soos ek is, met al my dinge, vir God aanvaarbaar is!  Hoe groter besef jy het van jou onwaardigheid en sondelas, hoe groter sal jou dankbaarheid wees vir God se aanvaarding.  Jou en my identiteit lê nie in die aanvaarding van mense nie, maar in die aanvaarding van jou hemelse Pappa.

Die derde kant van hierdie aanvaarding is dat God se aanvaarding en jou eie aanvaarding van God se aanvaarding – jou met ander oë na die mense rondom jou laat kyk.  Aanvaarding by God het’n lewensveranderende invloed op jouself en die mense rondom jou.  Ek kan nie God se aanvaarding ervaar en nie ook die wil en behoefte hê om met dieselfde aanvaarding na ander mense te kyk nie.  Vriende, as God jou dan aanvaar vir wie jy is, dan het ek en jy mos ook die verantwoordelikheid om soos God na mense rondom ons te kyk.  Dan behoort ek en jy ook die waardigheid van mense te beskerm, dan hoort ons ook nie in die kring van die mense wat ander verneder en hulle verlekker in ander se foute en tekortkominge nie.  Dan behoort ek en jy te lewe met ’n gesindheid waarin ons mense met dieselfde liefde van Jesus aanvaar.  Waarin ons ook met waardigheid en respek teenoor alle mense optree.

Slot:

Kom ek sluit af met ’n praktiese voorbeeld.  Daar is nog baie ander, en ek bid dat die Heilige Gees verder met ons elkeen hieroor sal gaan praat.

Ons liggaamstaal kan baie keer vir mense sê: Ek is beter as jy, en jy maak nie vir my saak nie.  Wanneer jy bv in ’n restaurant sit en die kelner bedien jou, maar jy kyk nie eers op as jy met hom/haar praat nie, sê jou liggaamstaal, jy maak nie vir my saak nie.  En ongelukkig doen ons dit nie net met ander vreemde mense nie, ons doen dit baie keer met die mense wat die naaste aan ons is.  Ons liggaamstaal sê baie keer vir ons man of vrou of kinders, jy maak nie nou vir my saak nie.  Om dan nie eers te praat van kollegas by die werk of die mense wat ons op straat raakloop nie.

Jy sien, skielik word ek en jy deel van daardie groepie mense wat so gereeld in ’n kring staan en vingers wys.  Ons gooi maklik klippe.  Ons veroordeel en skuif mense sommer vinnig om ’n koppie tee uit.  En dan vergeet ons dat elkeen van ons daardie vroutjie in die middel is, wat nie genade verdien het nie, maar aanvaarding gekry het.  Mag ek en jy, mag Universitas gemeente die plek wees waar mense wat nie genade verdien het nie, aanvaarding kry.  Dit is plek waar ek en jy ook tuis is.  Amen