Romeine 8 kan ook die hoofstuk van die Heilige Gees genoem word, want die woord Gees of gees kom 21 keer in hierdie hoofstuk voor.  Dit is verreweg die meeste in een hoofstuk oor die Heilige Gees. Paulus begin in die eerste 13 verse om te vertel dat Jesus mense vry maak.  Werklik vry! Vers 1:  In Christus Jesus is daar vir my geen veroordeling nie!  Met ander woorde vriende, as Jesus jou kom vrymaak, dan hoef jy nooit weer te wonder of God my gaan vergewe nie.  Hier staan dit so duidelik soos daglig: daar is vir jou geen veroordeling meer nie.  Daarom spreek die Here nie net vry nie, maar maak Hy ons ook vry van die skuldgevoel oor sonde.

Maar dan sê Paulus, is daar hierdie voortdurende stryd tussen die Gees en my eie sondige begeertes in vers 5-13.  Nou dit ken ons mos.  Ons ervaar dit in ons eie lewe hoe ons voortdurend moet stry teen die verkeerde en die slegte.  Dit is vir ons makliker om die verkeerde te doen as om reg te doen.  Maar juis daarin wil die Heilge Gees ons lei en verander en van ons besit neem sodat ons al hoe meer ’n lewe van oorwinning kan lewe!

Ek wil vanmôre stilstaan by ’n ander gedagte wat ons kry in vers 14: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei is kinders van God.”  Miskien wonder jy waarom hierdie ooglopend eenvoudige versie in hierdie hele hoofstuk van die Heilige Gees.  Maar jy sien, hierdie versie konfronteer ons eintlik net met een vraag.  En ek wil hierdie vraag vir jou gee om verder oor te gaan dink.  Die vraag is: Is jy’n kind van Jesus of ’n slaaf van Jesus?    En dit is nie soseer ’n vraag wat jy net met jou kop moet antwoord nie, maar met jou hart. 

So ’n paar jaar gelede was daar op televisie die Big Brother realiteitsprogram.  Mense is in ’n huis gesit met ’n kamera in elke hoek van ‘n vertrek.  En dan het die sogenaamde Big Brother hulle dopgehou.  Die kameras is gedraai en aangesit daar waar dit die interessantste lyk, natuurlik dan tot groot vermaak van almal wat saam met die Big Brother na die mense geloer het.  En natuurlik het hierdie aanhoudende geloer en afloer later sy tol op die deelnemers begin eis, soveel so dat sommige die huis wou verlaat.

En ek vra vriende, hoe beleef jy vir God?  Beleef jy Hom as jou Vader of is Hy nie dalk tog vir jou ook ’n soort Big Brother wat jou voortdurend met arendsoë dophou om te kyk of Hy jou nie kan uitvang nie?  Beleef jy God as jou Vader, of is jou belewing van God een waar Hy die Baas is en jy die slaaf wat net gehoorsaam en getrou vir Hom moet tevrede hou?  Kom ek sê vir jou wat ek hoor.  Ek hoor hoe kinders van die Here worstel met pyn en met siekte en met verlies omdat hulle dink, die Baas iets oor hulle gebring het, of iets van hulle ontneem het.  Ek hoor hoe mense van die “Grootbaas” praat wat gereeld die sweep klap en paksla uitdeel of iets van my af gaan wegneem.  Vriende, ons word met die bangheid van ’n slaaf teenoor sy baas grootgemaak.  Bang ons stel Hom teleur, bang ons maak Hom kwaad.  Bang jy word te familiêr met God.  Dit is een van ons grootste vrese in die ons kerk.  Dat ons te familiêr met God kan raak.  Hy kan nie te naby aan ons kom nie, en ons kan ook nie te naby aan Hom kom nie.  Dit maak ons ongemaklik en daarom is dit makliker as ons slawe van God bly wat Hom op ’n afstand hou.

Jy sien, die gevolg is, slawe doen goed omdat hulle moet nie omdat hulle wil nie.  En daarom is daar baie kinders van die Here wat ’n klomp goed doen omdat hulle dit maar moet doen.  Ons moet maar kerk toe kom, ons moet maar Bybelstories lees, ons moet maar ons kinders laat doop, ons moet maar belydenis van geloof aflê, ons moet maar ons dankoffer gee.  Ons rig ons gemeentes en kerkwees ook daarvolgens in.  Klomp goed wat ons maar moet doen.  Vriende, slawe moet, kinders wil!  Daarom raak dit vir slawe van die Here op ’n stadium te erg.  Om ’n slaaf te wees eis by baie sy tol.  Party verflou in hierdie slawe toewyding, ander slawe dros en raak weg of afwesig.  Ander verlaat bloot net die huis.

Vers 15: “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie;…’

Vriende, die Heilige Gees is nie ’n slawegees nie.  Hy is die Gees van kindskap.  Met ander woorde vriende, my verhouding met God is nie dié van ’n baas en sy slaaf nie, dit is dié van ’n kind wat sy pa liefhet!  Dit lê op ’n ander vlak, op ’n persoonlike en intieme vlak.  En die Heilige Gees wil hierdie besef by ons tuisbring.  Hy wil slaweharte verander en omskep in kinderharte.  Hy wil ons gedagtes verander sodat ons nie meer oor onsself sal dink as God se slawe nie.  Nee, God verlang ’n intiemer, nouer verhouding met ons!  En weet jy hoe wil die Heilige Gees dit regkry om ons verhouding met God tot ’n intiemer vlak te transformeer?  Hy wil ons leer om God anders aan te spreek.  Romeine 8:15: “…julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “ABBA!” Dit beteken Vader!”  Die Heilige Gees wil ons leer om God as ABBA aan te spreek!

Weet jy ABBA is een van die kosbaarste woorde in die Bybel.  ABBA is ’n Aramese woord waarmee ’n jong Joodse kindjie sy pa aangespreek het.  Maar ABBA is nie net ’n woord nie, dit is veel meer as dit.  Dit is ’n gevoel.  Daar sit ’n klomp emosie in hierdie woord.

Met hierdie woord het ons Here Jesus sy Vader aangeroep toe Hy in Markus 14:36 bid: ABBA, Vader neem dit van My af weg!  Daarom het hierdie ABBA vir die eerste Christene so ’n heilige woord geword dat hulle dit nie wou vertaal nie en kom die ABBA op 3 plekke in die Bybel net so in sy Aramese vorm voor.  En die ongelooflike is dat die Heilige Gees ons wil help om met hierdie innigheid en liefde van ’n seuntjie of dogtertjie teenoor hulle pappa, die Here aan te spreek.  Dit is waartoe die Heilige Gees jou wil lei!  Ja tot heiligmaking en vrugte en allerhande ander dinge ook, maar veral om God as jou ABBA-Vader te herken en aan te spreek!

Om een of ander rede is dit vir ons moeilik om God as Pappa aan te spreek.  Dit is waaroor jy verder moet gaan dink.  ABBA-Vader, Pappa is woorde van charismate.  Dis die AGS ouens se manier van doen!  Maar vriende op ’n manier wil die Heilige Gees ons leer wat dit beteken om God werklik soos ’n kindjie aan te spreek en lief te hê.  Om klein genoeg te wees sodat jy God kan aanroep soos kindjie vir syl/haar Pappa.  Want weet jy, die hartseer is dat ons deur die lewe kan gaan sonder om vir God in die volle sin van die woord “Vader” te leer sê.  Ons is in die Vaderhuis, ons is kinders van die Vader, maar ons loop nog steeds met slaweharte rond.  Om Hom te dien is baie keer ’n plig, nie ’n voorreg nie; ’n moet, nie ’n mag nie; ’n saak van vrees, en nie van blydskap en liefde nie.

Hoe beleef jy tans vir God?  Miskien wil jou slawehart God ook op ’n afstand hou en van ’n afstand dien.  Maar wat ek vanmôre weet is dat Hy daarna verlang om jou Pappa te wil wees.  En miskien moet jy dit begin waag om Hom jou Pappa te noem, ABBA-Vader.  En in jou roep sal jy ervaar hoe jou Pappa miskien vir jou ’n nuwe of ander of intiemer sy van Homself kom wys.  Jou Pappa wil jou vanmôre maar net op sy skoot kom tel, jou vashou en naby jou wees.  Dit is sy begeerte.  Want Hy weet dat die lewe somtyds soveel beter is as jou Pappa naby is.

Ek wil vir julle ’n liedjie speel wat gereeld in ons huis gespeel word.  Anri en Elré speel hierdie liedjie en dan dans ons in die kombuis.  Maar die tyd toe ek nou weg was, kon hulle nie die liedjie speel nie, want die liedjie het hulle hartseer gemaak omdat hulle pappa nie daar was om met hulle te dans nie.  Toe ek Woensdag terugkom het hulle die liedjie weer aangesit en ons kon weer in die kombuis dans.  Luister met jou hart daarna en miskien sê hierdie eenvoudige liedjie tog vir jou vanmôre iets van jou ABBA-Vader.