Ons is maar redelik bangbroeke, sou jy kon sê.
Daar is ’n magdom goed waarvoor ons vrees. Ons praat selfs van fobies, angsversteurings.
En as jy nou iemand is wat onnatuurlik bang is vir …
– Spinnekoppe, dan gee ons daaraan ’n naam: arachnofobia.
– Klein ruimtes: claustrofobia
– Hoogtes: acrophobia
– Vrouens: gynophobia
– Huwelik: gamophobia
– Water: aquaphobia (en jy gaan nie naby water voordat jy nie eers goed kan swem nie!)
– Kleur wit: Leukophobia

Wat is die dinge waarvoor mense die meeste bang is? Ja, slange! ’n Derde van mense is onnatuurlik bang vir slange. (Ophidiophobia)
Ek dink daar is drie ander wat ook baie voorkom: cyberphobia (vrees vir rekenaars),
En obesophobia (vrees om oorgewig te word) en dentophobia (vrees vir die tandarts)!

Ons gee die naam fobie aan iets waarvoor jy onnatuurlik bang is. Wat jou waarskynlik nie regtig sommer net sal seermaak nie, maar waarvoor jy onnatuurlik bang is.
Ons kan praat van ’n angsversteuring.

Ek lê vanoggend en dink aan ander dinge waarvoor ons almal waarskynlik maar bang is:
Siekte, armoede, rommelstatus, droogte, waternood, geweld….
Ons sou lang lys daarvan kon maak.

Waarom sou daar egter ‘n “groot vrees” wees by die verskyning van die engele (in ons teks) en vir die glorie, die glorie-heerlikheid, van God?

Die omgewing wat hier geskilder word fassineer my…
Kom ons kyk na die omstandighede van die skaapherders:
Skaapwagters – doodgewone en alledaagse mense – op die onderste leer van die hiërargie – dikwels is hulle beskou as skelm en eenvoudig.
En tog is hulle die eerste geadresseerdes vir God se goeie nuus.
Dit is tipies hoe God sy genade uitstrooi – vir die “geringstes”.
Dit is veral ook Lukas-evangelie wat hierdie fokus oor en oor beklemtoon.
God is die God vir “die geringes” die randfigure. Selfs vir jou en vir my!

Die eenvoud en die alledaagsheid val my ook op in die beskrywing van die skaapherders se leefwêreld.
Hulle bly in die oop veld. Daar is nie allerhande geriewe en luukshede nie. Daar is nie sagte rusbanke en TV’s en selfone en Facebook nie.
Dit is asof daar ruimte is vir meer ontvanklikheid. Meer openheid vir indrukke en boodskappe.

Hul lewe was waarskynlik ook nie te avontuurlik nie. Behalwe vir die verdomde jakkals wat eergister weer die een lam gevang het. En daaroor sou hul nou kans hê om 3 dae oor te gesels. Want wat anders was daar om oor te gesels?

Nog ‘n vervelige dag, nog ‘n vervelige nag.
Tot een aand …. Hul sit nog so woordeloos en staar in die vuurtjie … hul praat is op.
Toe gebeur daar iets waaroor hulle vir altyd (!) sou gesels,
…waaroor ander mense hulle eeue lank (!) sou beny!
“Meteens” …. Onverwags!
Die hemel skeur oop!
Hier gebeur iets waarvoor lank gehoop is.
… Waarvoor gebid is!
… Waaroor die Skrifte voorspel het!

Maar die goeie nuus, die beste nuus ooit, het ‘n vreemde emosionele reaksie.
Hulle skrik!
Letterlik staan daar “hulle het gevrees … met ‘n groot vrees”.
In Grieks ‘n “mega fobie”! Ons ken die leenwoorde “mega” en “fobie”.
Groot en vrees.
Hulle het heel uitge-freak!! Totaal!
Waarom?

Jy sou sê: “Ek sou ook uit-freak! ‘n Engel, ‘ n regte magtige engel uit die hemel!
En daarmee saam die Here se doksa, sy “heerlikheid” in die vorm van ‘n glans wat iets van Sy goddelike grootsheid uitstraal.

Die heerlikheid van God is ‘n bekende motief in die NT. Dit gaan oor God se presensie wat sigbaar word. God is hier en daarom skyn hier ‘n nuwe lig. Alles lyk anders.
Alles lyk anders – helderder, in die lig van Sy teenwoordigheid.

So is doksa die NT vertaling van die OT kavod ” heilgheid”.

Iets van God word hier sigbaar!
Waar ons normaalweg net moet glo, sonder om te sien, word die normaal-onsienbare nou sigbaar. Die grys wolke van die wêreld se morbiede hooploosheid trek weg en en die Goddelike doksa skyn uit hierdie aardse dimensie in.
En die herders tas rond na hul sonbrille. Want die lig is te helder.

Dit is genade. Dit is openbaring.
Dit is ‘n wonderwerk.
Maar hier gebeur niks minder as wat God vandag deur Sy Woord en Gees hier in ’n erediens wil laat gebeur nie.

Dat ons God sal sien.
Dat ons Sy heerlikheid sal sien.
Dat ons Sy genade-openbaring sal sien.

As ons nou sou vra: ” Waarom skrik die herders hier? Waarom vrees hulle met ‘n groot vrees? Dan moet ons dit ook sien teen die agtergrond van die OT.
In die OT het ons God leer ken as die God wat nie gesien kan word nie.
As ons weer na die Mosesverhale gaan kyk, dan sien ons God as die ontoeganklike.
Die volk mag nie Sinaï-berg opklim nie, anders sou hul sterf (Eks 19:24). En as Moses by latere geleenheid die behoefte het om God te sien, dan sit die Here hom in ‘n rotsskeur en beskerm hom daar as God self verby beweeg. Ja, Moses kon daarna vir God slegs van agter af sien. “Niemand mag My gesig sien nie.” (Eks 33:23)

En as ons daarom sou vra, waarom hierdie afstand tussen God en die mens, dan sal ons dit wel vind in ons sondigheid. Ons onheiligheid maak ons ongeskik om in God se heiligheid te verskyn. Sy heiligheid sal ons, geklee in ons onheiligheid, doodeenvoudig vernietig.

Sien jy die afstand tussen God en mens? Sien jy jou sondigheid? Sien jy God se heerlikheid, Sy heiligheid? Sy skynbare “ontoeganklikheid”?

Maar ten diepste hoef ons nie vir God bang te wees nie. Want God is liefde!
Hy soek juis ons teenwoordigheid.

Ons moet eerder bang wees vir ons eie sondigheid.
Want dit is sonde wat ons in die moeilikheid bring – op alle terreine – en ook by God.

Maar nou kom God se engel Gabriël uit by die poorte van die hemel en die glans van God skyn saam met hom by die hemelse poorte uit.
En die skaapherders sien dit.
En hulle skrik hul bykans dood. Hulle vrees met ‘n “groot vrees”.

Maar juis hier in die evangelies kom die keerpunt in die geskiedenis.
God draai nou Sy gesig in genade na die wêreld toe.
God gee Homself in groot toeganklikheid vir ons.
Hy trek as’t ware die hemelse gordyne oop dat mense Hom kan sien.
En ons sien Hom …. in die persoon van Jesus Christus.

En is God dan so angswekkend daar in die krip?
Nee, Hy lyk eerder magteloos! Broos! Allermins vyandig!

Dit is Johannes evangelie wat so mooi verwoord in Jesus se lering:
“Wie My sien, sien die Vader.” Joh 10:30
Moses se behoefte om God te sien bly steeds ook ons behoefte.
Ons wil God so graag sien.

En dan kom kry God vir ons gesig.
Dit is ook die beloofde teken: ‘n Kindjie in doeke in ‘n stal.
Gaan kyk maar self!
Jy hoef nie bang te wees nie!
Dit is juis hierdie Kindjie wat moes kom om Verlosser te wees.
Hy verlos van sonde. Dws ons hoef nie meer met angs en vrees voor God te staan nie.
Ons hoef ook nie meer God se heiligheid of sy heerlikheid te vrees nie.
Met die kruisdood het Jesus ons straf, en daarom ook ons vrees weggeneem.
Die Kindjie in die krip het gekom om sondaars kinders van God te kom maak.

Lukas se evangelie werk die heeltyd met tekens.
Dit is deel van Lukas se skema.
• Daar is ’n boodskapper (engel) wat verskyn met ‘n boodskap.
• Daar is skrik en vrees.
• Die boodskap is te groot om te glo, dan gee die Here ’n teken.
• Dit versterk geloof as hul die teken se vervulling sien.
• En na die vervulling, volg daar die verwondering of ‘n lofreaksie.

Sagaria se teken toe hy nie kan glo nie is … sy stomheid.
Maria se teken is … die swangerskap van Elizabeth.
Die herders se teken … ‘n Kindjie in ‘n krip.

By al hierdie adventsverhale is daar uiteindelik ’n lofreaksie.
Wat meestal gesing word – en waarby ons kan aansluit hierdie kerstyd.

Ek sluit af,

Advent 2018 nooi ons uit om in die ligkring van God se heerlikheid te verskyn.
Dit nooi jou uit om met ‘n verwagting uit te sien na die lig van die heerlike Goddelike teenwoordigheid.

Dit nooi ons uit om ons vrees in te ruil vir “‘n goeie tyding van groot blydskap”.
Jy kan huppel van blydskap!
Jy kan juig van vreugde

En die vrees maak nie net plek vir blydskap nie, maar dit maak ook plek vir vrede.
Die engelekoor sing daaroor:

“… en vrede op aarde vir die mense in wie God ‘n welbehae het.”

Kersfees nooi jou dus om jou vrees eenkant te sit en
… in te stap tot by die Kripkind en in sy oë te kyk:

Daar sien jy Goddelike heerlikheid.
Daar beleef jy blydskap.
Daar kry jy vrede.

Want God is lief vir jou!
Hy het ‘n “welbehae” in jou!
Amen