Skriflesing: Lukas 2:25-35

Tema: Demissie of hoopvolle Advents-bevestiging?

Lukas evangelis hou van sêr. Meer spesifiek Advent-sêr.
Daarom teken hy vir ons ‘n 5-tal adventsliedere op aan die begin van sy evangelie.
Vandag lees ons van die lied van ou vader Simeon. En ons leer ‘n nuwe Adventslied aan.
Ons lees ‘n klompie mooi agtergrondsinligting van hierdie ou man.
Daar word eintlik vir hom ‘n baie mooi getuigskrif geskryf oor sy vroomheid, sy wetsgehoorsaamheid, sy toewyding en dat hy met ‘n verwagting geleef het.
Hy het die verwagting gehad dat daar troos of herstel vir Israel sal kom.
Dit was die Israel wat so deurgeloop het onder die ballingskap, die ontreddering met die terugkeer, maar ook die huidige onderdrukking van die Romeinse oorheersing.
Hy wag …. (letterlik staan daar) vir daardie ontferming van die Here oor sy volk.
As ons vra na die geheim van hierdie Simeon se lewe, dan kry ons dit in ‘n refrein in vers 25-27: die rol van die Heilige Gees in sy lewe.
Drie maal lees ons dat die Heilige Gees vir Simeon in Sy hand gehad het ( dit het bietjie verlore gegaan in die gewone vertaling):
• Die Heilige Gees was met hom (:25)
• Hy het deur die Heilige Gees ‘n openbaring ontvang (:26)
• Hy is deur die Heilige Gees gelei om na die tempel toe te gaan. (:27)
En dan verstaan ons dat sy vroomheid toegeskryf kon word aan die Heilige Gees wat in beheer van sy lewe was.
Die Heilige Gees is duidelik die Uitvoerende Subjek in hierdie verhaal.
Die Heilige Gees is soos ʼn spelleier/regisseur by die uitspeel van ʼn drama.


(En dadelik hoor ons weer die aksent vanjaar in die Refo 500 feesviering dat ons in hierdie gemeente weer ‘n klem nodig het op die Heilige Gees. Saam met die ander sola’s van die Reformasie het ons ook ‘n Sola Pneuma nodig.)
En Adventstyd appelleer sommer dadelik op ons dat ons fyn sal luister na die Gees van God wat so wonderlik in ons as sy kinders wil werk.
Laat Hy jou Spelleier/Regisseur wees wat in jou lewe vir jou lei. Ons is in ‘n drama wat uitgespeel word.
Luister fyn na die Heilige Gees.
Hy wil daagliks die Uitvoerende Subjek in jou verhaal wees.
Moet tog nie in hierdie Adventstyd in die pad van die Gees staan.

En nou het die Gees vir Simeon ‘n belofte gemaak dat hy nie sal sterf voordat hy die Christus gesien het nie.
En Christus word toe wel gebore. En die ouers kom volgens al die nodige rituele tempel toe. Die Kindjie word waarskynlik besny en die moeder bring na die bevalling die duiweoffers vir haar reinheid.
En daar staan Simeon met die Christus in sy arms!

Vers 25 trek die aandag van die verteller met ‘n opmerking:
“En kyk … in Jerusalem was daar ene Simeon…!
En Simeon, op sy beurt kyk…..! En hy sien die Christus!
Hy kan sy oë skaars glo! Dit het waar geword! Hy is oorstelp van blydskap!
God is toe getrou! (Net soos Hy getrou was by Bloedrivier!)
God het die Messiasbelofte getrou in vervulling laat tree.
En Simeon begin sing! Seker met ‘n ou kraakstem!
Maar hy sing en hy nooi ons in om saam te sing…

Wat sing hy?
“Here, nou laat U toe dat U dienskneg (lett.: “slaaf”) in vrede sterf,
soos U gesê het.
My oë het inderdaad U verlossing gesien
wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het,
‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien (aanhaling uit Jes 42 en 49)
en eer bring aan U volk Israel.”

Wat gebeur in die eerste vers?
Die Latynse vertaling wat ook aan die moderne lied sy naam ontleen het is “Nunc dimittis…”
“Here, gee nou vir my demissie”. Dominees kry mos demissie, hulle tree nie soos gewone mense af nie! Snaakse spesie! En hul word gelegitimeer, nie afgestudeer; beroep, nie aangestel.)
Daarom ook die Afr vertaling:
“Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het …”

Miskien is hieraan onderliggend die gedagte van die slaaf wat deur sy eienaar in die donker nag aangestel word om noukeurig die sterre dop te hou. Deur die vervelige stikdonker moet hy wag staan om die opkoms van die besondere ster aan te kondig.
En dan, as dit gebeur, dan roep hy almal wakker en hulle moet kom kyk.
Maar dan is sy taak afgehandel en dan kan hy van sy taak losgemaak word om te gaan slaap.
In daardie sin kry die sterrewagter, Simeon, ook demissie.

Die Direkte vertaling kies vir ‘n ietwat ander interpretasie:
“Here, nou laat U toe dat U dienskneg (lett.: slaaf) in vrede sterf,
soos U gesê het.”
Dit is meer soos ‘n vergunning wat God gee. Jy het gesien! Jy het die Christus gesien! En nou kan jy in vrede sterf… wanneer dit ookal gebeur.”
Dit is nie demissie vra. Dit is ‘n geskenk wat hy ontvang.
Hy kan sterf met die sekerheid en vrede dat God die Messias-beloftes waar gemaak het.
Sy hoop en sy wag was nie tevergeefs nie.

Vir Simeon mag dit die vrede wees net voor sy sterwe.
Maar as ek en jy die lig van die Opkomende Ster sien, dan sal nie een van ons wil vra vir demissie nie.
Trouens die kerk van Christus kry nie demissie van sy taak om te wag, te sien en dan te verkondig nie.

En presies dit gebeur hier.
Wag – Sien – Verkondig.

Om te wag is ‘n normale menslike aktiwiteit.
Maar dit is nie niks doen nie.
• Ons wag vir Kersfees en die opwinding laai op. In die tussentyd draai ons geskenkies toe.
• Ons wag op die ANC konferensie. En in die tussentyd is ons besig om daarvoor te bid, want die land se toekoms hang daarvan af.
• Of dit is soos om op kuiergaste te wag. Jy doen nie niks. Jy pak die teekoppies reg en stof die teetafel af.

Ons kan verskillend op die verlede, hede en toekoms reageer.
Soms word ons in die verlede se verwyte en teleurstellings vasgevang.
Daarom stol ons in die hede en kan nie kreatief optree nie.
En ons is so bang vir die toekoms dat ons liewer ons koppe onder die komberse toetrek.

Iemand wat soos ou Simeon God se beloftes in die verlede gehoor het en God se getrouheid in Christus ontdek het – sal daarin inspirasie vind vir die hede en die toekoms.
Jou uitdagende omstandighede mag jou nie laat stol as alles nie volmaak is (of was) nie.
Want dit is goddelike hoop in Christus Jesus wat van die hede die geleentheid maak.
En ook die geleentheid kry om vir die nasies te vertel van die lig wat daar is.

Ek en jy het in die geloof die Lig gesien. Hy is die Agent van Verlossing.

Maar die sien van hierdie Jesus is nie vir alle mense noodwendig glo nie.
Hierdie episode beklemtoon ook dat Jesus mense voor ‘n beslissing stel.
Daarom is Jesus se boodskap, in die latere woorde van Simeon, “’n teken wat weerspreek sal word.”
Die wêreld gaan hierdie Kersfees op baie maniere weer vir Jesus sien, maar dit beteken nog nie geloof nie. Dan weerspreek jy nog hierdie teken.

Om die kind te sien, is nog nie ontvang nie.
Om Jesus te ontvang, is om nie net jou arms oop te maak nie, maar jou hart.

En dan moet ons verder sorg dat die nasies daarvan hoor.
Vs 31 sê: “‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien”.
En dit is juis die Lukas-aksent in hierdie Evangelie: Die goeie nuus is vir alle nasies.
Almal moet hoor. Die boodskap moet uit.

Ek sluit af:
Sien julle wat gebeur met Simeon?
Hy hoor.
Hy wag.
Hy sien Hom.
Hy kry die Kindjie in sy arms.
Hy ontvang Hom.
Hy wys die Kind vir die wêreld.
En hy gee die kindjie vir sy moeder terug.

Ek en jy wat gewag het … en gesien het.. en ontvang het ….
Ons wys die Kind vir die wêreld en ons gee die Kind vir die wêreld.

Dit is soos ons saam met Simeon ons Adventsliedere sing.
Vrede in ons harte – ons kan maar sterf ook – want ons is verseker van ons verlossing.
Maar tot daardie tyd word ons vergun om met vrede te leef.
Maar nie net met vrede.
Ook met opwinding en entoesiasme – en om die Kind vir almal te wys.
En so sing ons elke dag ‘n lied wat oral gehoor moet word.
Die Lig, die Ster is hier!
Amen

 

Prediker:  Retief Botha

November 2017