SKRIFLESING: Luk 1: 67-80

Die agtergrond van hierdie loflied van Sagaria is natuurlik die feit dat Lukas vir ons vertel van die wonderlike tyd toe God se plan van verlossing in werking gestel word.
Lukas skryf die Jesus-verhaal aan ene Theofilus. Van hom self weet ons nie veel nie.
Die naam beteken letterlik “Vriend van God.”
So, ek en jy wat hierdie evangelie lees word ook, as volgende lesers, niks anders nie as “Vriende van God” – wat meer wil verstaan van die implikasies van hierdie gebeure.

• Hierdie lied staan ook bekend as die “Benedictus”, vanuit die Latynse vertaling van die eerste woord in die lied, nl die woord “lofwaardig”.
• Dit korreleer met die “Gloria”-lied van die engele.
• En die “Magnificat” van Maria.

As ons mooi na die struktuur van die lied gaan kyk, dan val dit uiteen in twee dele:
 God neem inisiatief om verlossing te bewerk. Daarvoor word God geloof. (:67-75)
 Johannes die Doper se roeping en opdrag word in die tweede deel uitgespel. (:76-79)

Tema: Adventstyd:
Uit die donker wanhoopshoekie op ‘n helder pad van hoop – sing saam!”

Die Heilige Gees maak hierdie pa so opgewonde oor die nuwe tydvak wat aanbreek, dat hy begin profeteer.
Sagaria kan na sy tyd van stomheid nie ophou praat – en selfs sing – nie.

En so word een van Lukas se mooiste liedere gebore.
Dit is ’n lied uit die hart van ’n priester-pa wat iets van God se hart helder raaksien en wat dan ook insien dat sy seun Johannes deel gaan word van die wegbereiding vir die bediening van die Verlosser wat op pad is.

Die lied val uiteen in twee verse:
 God se lof word besing omdat die Messias-beloftes in vervulling begin gaan.
 Oor die rol van Johannes die Doper word gesing aan die hand van die vraag:
“Wat sal tog van hierdie kindjie word?”

Maar nou begin ek by die laaste gedagte van die lied:

“Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” (:78, 79)

Hier is ’n situasie wat beskryf word met die beelde van “duisternis” en “skaduwee van die dood.”
Dit klink klaar negatief, pessimisties en uitsigloos.
Die donkerte is verstikkend.
Wat verder vir my opval is dat daar eintlik nie eers in die Grieks staan dat mense in die duisternis “lewe” nie. Nee, daar staan letterlik dat hulle in die dusiternis “sit”
(Direkte Vert: “bevind”).
Sien jy die wanhoopshoekie van duisternis en moedeloosheid?
Inmekaargekrimp!
Daar is geen beweging, want daar is ook nie hoop nie.
Soos ’n eensame uitsiglose mens sit hy in sy donker hoekie – sonder hoop, sonder plan, sonder uitkoms, sonder beweging selfs.

Dit is waar ons ook soms land – in ons gestagneerde wanhoopshoekies.
– As ons nie die Benedictus-lied leer sing nie!

Wat jou hoop wegneem, wat jou moedeloos laat, wat jou soms gestagneerd op ’n hopie laat sit, weet ek nie. Maar ek weet ons kom almal een of ander tyd daar.

En ons sal daar bly stagneer as ons nie die lig raaksien waarvan die “Benedictus”-lied sing nie.

“Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring…”

Jesus het God se lig gebring om in te skyn in jou donkerte.

Dit is waarom ons Adventstyd in die kerk het.
Dat die Heilige Gees ons geloofspupille oop kan maak vir die Lig (met ’n hoofletter!).

En as dit gebeur dan kom daar beweging:
“ …om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.” (:79)

Sien jy die verskil: Opgekrul in jou donker wanhoopshoekie – na…
– die helder lig wat dit moontlik maak om op pad te wees, God se pad van vrede.

Niemand van ons gaan op donkermaan met ’n motor sonder ligte op die N1 waag nie.
Maar as jy die nuwe generasie hallogeen-ligte het, dan kan jy beweeg – teen 120 km/uur – in die donkerste nag.

Nou die vraag: Waar kry ons die lig/Lig?

(Eerste “V” van 4 V’s)

1. Vervulling van verbonds-beloftes
Die eerste lofgedeelte van die lied handel oor die vervulling van God se beloftes.
Reeds daar ver uit die OT het die profete aangekondig dat God verlossing sou bring.

Die verlossingsbeloftes was terselfdertyd ook verbondsbeloftes.
Want dit gaan terug na die verbondsbeloftes aan Abraham (:73).

“Ek sal vir jou ’n God wees en Ek sal vir jou sorg.”

En dit is hierdie beloftes wat nou in vervulling gaan.

Sagaria se lied word gesing voor die geboorte van die Messias.
Maar dit word deur Sagaria in die verledetyd gesing:
“Hy het Sy volk in genade opgesoek
En Hy het ’n sterk Verlosser laat opstaan.”

Waarom praat hy so?
Dit is so seker (al lê dit in die toekoms) dat hy verledetyd sing.
Dit is die taal van volkome Godsvertroue.
Dit is die geloofstaal van Advent wat ons ook weer moet aanleer.
Ook ons in SA wat so uitgedaag word om nie hoop te verloor nie.

Die “sterk Verlosser” waarna die lied verwys (:69) is letterlik ‘n “horing van verlossing”.
Sal jy ooit twyfel dat ’n buffel met sy magtige swart horings nie sterk is nie?
Jesus is dus nie die oënskynlike swak babatjie in ’n krip nie!
Hy is die opgestane Heer wat doodsbande kon stukkend breek.
En Hy regeernou met sy almag vanaf God se regterhand.

Daarom moet ons God loof! Hy is “lofwaardig”. “Benedictus”.

Die volgende vraag: Wat kom doen die Messias?

2. Hy bring verlossing. (die tweede V)

As ons die lied lees, dan klink dit of Sagaria sing oor ’n politieke verlosser wat die Romeinse juk moes kom afgooi.
Hy moet kom verlos van “vyande” (:74).
Sodat mense onbevrees en met vroomheid die Here kan dien.

Eers bietjie later lees ons dat die verlossing te make het ook met “verlossing deur vergifnis van sondes” (:77)
En dan begin ons verstaan dat die grootste vyand nie die Romeinse keiser is nie, maar die sonde.
Dit is sonde wat ons van God en van mekaar vervreem.

Ons sou egter kon vra:
Is die verlossing dan nou ’n saak net vir die siel of ook vir die lewe van elke dag?

Dit lyk my tog of die verlossing wat Christus bring met ons hele lewe te make het.
Waar sondevergifnis plaasvind, daar herstel die verhouding met God,
maar dit raak elke ander verhouding waarin ons staan.

Waar ’n vredesverhouding met God ontstaan,
Daar kom al ons ander verhoudinge ook ter sprake.
Dan bevind ek my op die “Pad van vrede” – vanuit ons donker wanhoopshoekie.
(Soos ons in die laaste vers lees.)

Dan soek ons na sosiale vrede, gesinsvrede, ekonomiese vrede, politieke vrede.

Maar dit begin by die Messias van die kruis, die Verlosser wat vergifnis skenk van sonde.

En van daar af kring die verlossing en vrede uit na alle lewenskringe.

Nou is die praktiese vraag: Hoe raak dit vir my en jou?
Afgesien van ons eie verlossing wat ons kry, is daar enige verpligting op ons?

3. Ja, gaan Vertel. (Die derde V.)

Daar net na Johannes se naamgewing en die herstel van pa Sagaria se spraak, was die groot vraag op almal se lippe: “Wat sal van hierdie kindjie word?” (:66)

En watter besondere roeping het hy nie gehad nie?
En juis dit is waaroor Sagaria verder sing in sy lied:

“En jy, kindjie, ‘n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel…”

Jesus word in vers 32 genoem “Seun van die Allerhoogste”.
Johannes word genoem: “Profeet van die Allerhoogste.” (:76)
Met die profeet in diens van die Seun.

Om ’n profeet te wees beteken doodeenvoudig om woorde oor God te praat.

En dit is iets wat ons meer sal moet aanleer. Ook hier in Adventstyd.
Om God raak te sien.
Om God te hoor.
Om God in jou lewe te ervaar.
En dan …. om te praat oor dit wat jy sien en hoor en ervaar.

Dit is die kennis wat Johannes aan die wêreld moes meedeel.
Sien vur Jesus raak – die Een wat vergifnis van sonde bring.

En: Hoe sou hul weet as hulle nie vertel word nie?

Dit is steeds ons grootste roeping – om woorde oor God/oor Jesus te bly praat.
’n Eenvoudige erkenning van God wat verreken word in jou alledaagse gesprek – dit is presies waaroor dit gaan.

Die skildery van Leonardo da Vinci is aangrypend. ’n Klassieke skildery oor Johannes wat later in sy bediening na Jesus wys en sê: “Daar is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem”. Maar dan word Johannes se vinger geskilder met ’n prominente lengte.
“Julle moet kyk waar ek wys!” Die dowwe kruis in die skildery!

Lukas gebruik ook die mooi metafoor van “die pad wat voor Jesus uit gereed gemaak word”.

Daar is soveel struikelblokke tussen Jesus en mense.
Daar is soveel klippe en berge en skeure in Jesus se pad – na mense toe.

My en jou roeping is om daardie pad voor te berei, dit gereed te maak – dat Jesus mense makliker kan bereik.
Ons weet nou al dat ons dit doen deur inligting oor God met mense te deel.
Maar dit kan ook ’n vriendelike groet wees.
Dit kan ’n helpende hand wees.
Dit kan jou voorbidding wees.
Wees ’n stukkie lig in ander mense se donkerte.

Die laaste V is aan die hand van die vraag: Wat leer ons hier van God?

Ja, ons het gehoor van sy getrouheid aan Sy beloftes.
Ons het gehoor dat Hy soos die môreson is wat lig laat inskyn.

Maar vers 78 vertel vir ons die groot geheim oor wat in God se hart aangaan.

En dit bring ons laastens by die 4de V:
Met die vraag: Hoekom het God al hierdie goed in Christus kom doen?
Waarom is Hy steeds daarmee besig in ons dag?

4. Ontdek Verwondering

“ …danksy die genadige ontferming van ons God.” (:78)
“ … danksy ons God se innige ontferming.” (Direkte Vert.)

In God se hart is daar die teerste ontroering van omgee.
Dit mag ons nooit miskyk nie.
Dit is God se hartklop wat jy in hierdie Advent weer moet waardeer.

Ons kan dit ook liefde noem.

Ek sluit:
Dit is waaroor ons ons weer in hierdie adventstyd moet begin verwonder.
Dan sal ons nie anders kan as om woorde oor God te begin praat nie.
Dan word die pad voor Jesus gereed gemaak.
Dan vind mense vergifnis by die kruis.
En dan leer ons God meer en meer vertrou met sy beloftes se vervulling.
Leer hierdie lied!
Maak jou eie moderne melodie!

Amen

Prediker: Ds Retief Botha. Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.

November 2017