Ryk en begaafdHier kry ons twee gebeure naas mekaar. Eintlik is dit die twee kante van dieselfde muntstuk.

In die hartseer verhaal van die ryk jongman staan geld en rykdom sterk op die voorgrond.

Ons oupas het gekla dat die wêreld hel toe gaan in ‘n winkelmandjie.

Vandag sal ons sê die wêreld gaan hel toe in ‘n supermark-trollie.

As jy so met jou trollie na die betaalpunt van die winkel loop, dan moet jy weet daar is groot rooi ligte wat vir jou begin flikker.

Nie net jou begroting nie, maar ook jou siel is in gevaar.

Nou sal jy vra: “Dominee, hoe op aarde is dit moontlik?”

Kom ek verduidelik:

As jy so met jou hipermark trollie aankom na die betaalpunt, dan het jy alles al gekry wat jy op jou lysie het. Jy het die broodnodige gekry en jy het die kleiner luuksheidjies ook gekry. lik word al jou behoeftes daar by die eenstop-hipermark bevredig.

Jy het regtig niks meer nodig as dit wat in die trollie is nie.

En dan moet jy oppas ook vir daardie drukgang waarin hulle jou inlei na die betaalpunt toe.

Want dit is daar dat die Bar-One en die fudge-blokkie vir jou lê en loer. En hy wink vir jou: “Steek jou hand na my toe uit!” En daar langsaan is nog ‘n lekkerlees-tydskrif of die tydskrif met die TV programme in – ook vir die naweek op die rusbank. As jy kinders het, dan kom jy nog by die betaalpunt aan met ‘n teddiebeertjie en ‘n plastiek-telefoontjie ook.

Nou het jy regtig meer as wat jy nodig het!

En dan maak die betaalstelsels dit ook nog makliker. Met hierdie wonderkaart kan jy eers volgende maand of oor drie maande hierdie trollie betaal.

Jy moet net nog veilig by die huis kom en plek kry om alles in te pak in die yskas en ander kaste wat alreeds oorvol is.

Daar is net nie meer ‘n manier dat jy sonder al hierdie lewensmiddele hoef klaar te kom nie.

En wie moet jy bedank? Die supermark!

En nou weet ek dat ek praat met bevoorregte mense, al is party van julle studente of jong werkendes.

Jy sou kon sê, nee, Dominee, die grootste probleem is nie die trollie nie.

Die grootste probleem is die oorbevolking en die beperkte lewensmiddele.

Die mense se aanwas het net hand uitgeruk. Veral in die Derde Wêreld.

Elke sekonde word ses mense gebore en drie sterf.

Elke jar word 100 miljoen tot die wêreldpopulasie bygevoeg. En jy kan dan maar jou sommetjie maak. Wanneer het ons nie eers meer staanplek vir almal nie?

Wanneer het ons nie meer lewensmiddele vir almal nie?

Maar voor jy die Derde Wêreld al die skuld gee. Die skokkende is dat die groot sondebokke wat alles opgebruik, is die rykes. Dit is die 20% rykes in die ontwikkelde lande wat 80% van die wêreld se hulpbronne verbruik.

Ek het die vermoede dat meeste van ons waarskynlik deel van die 20% kan wees, al is ons in Afrika.

Ons is deel van die verbruikerskultuur. En ons kan daarvoor betaal!

Jy sorg mos skynbaar vir jou self.

Jy het niemand meer nodig nie.

Met die supermark naby jou en met jou kredietkaart in die hand het jy niks meer nodig nie!

Descarte het gesê: “Ek dink, daarom is ek!”

Die moderne verbruiker sê: Ek koop, daarom is ek!”

En God sê: ” Ek is wie Ek is, daarom is jy.”

Ons is ook baie soos die ryk jongman.

Vers 22 sê hy het “baie besittings gehad”.

Met hierdie baie besittings kon hy seker alles koop wat sy hart begeer.

En nou was daar nog iets wat hy begeer het: Die ewige lewe!

Tipies verbruiker, het hy gevoel: Hier is nog iets wat ek kortkom!

Om die waarheid te sê: Ek hoor hoe klop die Heilige Gees aan sy hart.

Hy word ingenooi na ‘n rykdom wat hy nie geken het nie, maar waarna hy verlang het.

Ek sy begeerte was blykbaar baie opreg:

Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop.

Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

Dit is nodig dat ons sy vraag mooi beluister:

“Wat moet ek doen?

Kyk, Kursus 1 van die Wet het hy klaar gedoen.

Maar dit was nie genoeg nie.

Daar moes ‘n manier wees dat hy, met al sy rykdomme, hierdie kosbare geskenk kon koop.

Hy het seker heimlik gehoop dat sy “doen” sou wees om te betaal.

Want dan was hierdie rykdom binne sy bereik.

Maar hy vind toe uit dat al sy geld nie genoeg is om te betaal vir hierdie kommoditeit nie.

Om die waarheid te sê: Sy besittings was die struikelblok.

Hoe so? Is ‘n bydrae hier in die Tiendemaand dan nie ‘n goeie ding nie?

Nee, hierdie jongman is toe meer modern as ons.

Selfstandig, juppy, ryk, leier … met ‘n sterk geestelike verlange na meer!

En hy ontdek heel traumaties dat die die ewige lewe nie in sy hande is nie.

En hy kan dit ook nie koop nie.

En nou kan ons nie sê dat die fout aan Jesus se kant lê nie. Trouens, ons lees die volgende aangrypende vers:

Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”

Daar is nooit ‘n tekort aan Jesus se liefde nie.

Die probleem is die hindernis.

En die ryk jongman moes eers die hindernis uit die pad uit kry.

My eie gedagte is dat sy geld nie regtig die groot probleem was nie, maar die feit dat hy nog nooit geleer het om te ontvang nie. Hy het nog nooit vir iets leer vra nie.

Nee, hy was altyd in beheer. En hy was die een wat eerder kon uitdeel.

Maar hy het nog nooit geleer om te ontvang nie.

Minstens het hy niks van genade verstaan nie.

Want genade is juis die ontvang SONDER teenprestasie.

 

En dit is hoekom die gebeure met die kindertjies deel is van hierdie verhaal.

Ons het gesê dit is die mooi verhaal.

Dit is die kindertjies wat gebring word – sodat Jesus hulle kan seën.

Let wel, hulle word gebring, dis nie hul slim inisiatief of pogings nie.

Jesus sit sy arms om hulle… Hy is die drukkie God van liefde.

En Hy seën hulle. Maw Hy lê nie net vir hulle die hande simbolies op nie, maar Hy seën hulle. Hy gee vir hulle die goedheid vanuit God se oorvloedige skatkamer!

Wat moet hulle doen? Niks! Hulle moet net ontvang. Bakhand.

Nou verstaan ons beter wat beteken die uitdrukking:

“Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Hoe ontvang ‘n mens die Koninkryk van God?

Bakhand.

As jou hande vol van ander dinge is, dan maak dit die ontvang net baie moeilik

/selfs onmoontlik!

 

Dit beteken dat dit nie net materiële dinge is wat hande te vol kan maak nie.

Dit kan ideale wees.

Dit kan kultuurgoedere wees.

Dit kan trots ….. eiebelang …. jou beroep …. jou familie … ENIGIETS wees!

Hierdie dinge kan ook na jou redding steeds vir jou weerhou van ‘n oorgawe-lewe aan die Here.

Dit kan nou jou oorvloed steel.

Vra die Heilige Gees om hierdie dinge aan jou uit te wys dat jy dit kan gaan “verkoop”

Dat jy kan terugkom en vir Jesus kan volg.

Dit is wat die ryk jongman moes doen, maar waarvoor hy nie kans gesien het nie.

En al hierdie struikelblokke is groot.

Meeste van hulle is onoorkomelik, te groot! Van ons kant af gesien.

So onmoontlik soos om ‘n kameel deur die oog van ‘n naald te druk.

(Kom ons hou maar by die letterlike betekenis van die beeldspraak.)

Maar wat vir ons onmoontlik is, is nie vir God onmoontlik nie!

Vers 27 is een van die gerusstellendste verse in die Bybel. En ek weet dat dit nie net oor die redding van mense gaan nie.

Dit gaan nie net oor die wonderwerk van geloof en die wedergeboorte en die nuwe lewe in Christus nie.

As jy by doodloopstrate in jou lewe gekom het, dan wil Jesus graag vir jou hierdie versekering gee:

Vers 27: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

Hoe sal Jesus vir sy kinders die ewige lewe gee, maar hulle nie in hierdie lewe ook bystaan en help in hul verknorsings nie?

Dit gaan alles oor genade.

Nie net ons redding nie, maar ook ons lewe as dissipels van Jesus.

Hier val die klem op die genade.

 

Ek wil afsluit.

Kom ons plaas die teksgedeelte dan nou binne die groter konteks waar Jesus met sy volgelinge praat oor dissipelskap,

Dan is hier ‘n logiese uitvloeisel.

Jy sal as disspile van Jesus niks hê om te gee as jy dit nie eers ontvang het nie.

Leë hande kan niks gee nie – ook nie jouself as offer nie.

Jy sal ook nie vir ander uit jou oorvloed kan gee as jy nie eers die lewe by Jesus ontvang het nie.

So kan jou trollie dan iets meer word as die simbool van selfversorging en selfgenoegsaamheid.

Jou trollie in die hipermark kan die simbool word van sorg – as jy vir ander wat in nood is ‘n paar ekstra artikeltjies inlaai.

En ek waarborg jou dat jy dit nie op jou begroting gaan opmerk nie.

As jy alles in Christus het dan is jou hipermarktrollie nie ‘n simbool van wanhoop nie, maar word dit ‘n simbool van hoop.

Dan word jou hande wat weet van ontvang, ook hande van gee.

Dan word die huis rondom jou vol.

Vers 30 sê: ” … jy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging (dit is die lydenspad), en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”

Dit raak al meer interessant!

 

Amen

Kyk mooi na jou hande.

Waarvan vertel jou hande jou?

Vertel vir die here wat jy eintlik daarin wil hê.

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.