SKRIFLESING:    Mark 7:24-30

     As die hondjies onder die tafel  nie meer kan wag vir die krummels nie!

 

 

Die groot vraag wat die Here vanoggend op ons tafel sit is die vraag oor ons roeping.

Hoe verstaan jy jou roeping as gelowige in jou eie konteks?

Daarmee saam:

Hoe verstaan die gemeente haar roeping in hierdie konteks waarin die Here ons geplaas het?

Met die finalejaar teologiestudente doen ons ’n sg Roepingsretrait.

Die doel daarvan is om hul roepingsverstaan duidelik te kry.

In daardie proses moet mens dan drie sake duidelik in lyn kry.

Dit werk amper soos skyfskiet: Kry jou oog, die teleskoop en die teiken in een duidelike lyn.

Wat veral die laaste klompie jare vir die kerk duidelik geword het, is die belangrikheid van die wêreld waarbinne ons leef.

Kyk bietjie mooi na hierdie stelling:

 Die NG Kerk het vir baie jare hoofsaaklik binne ’n blanke konteks gefunksioneer. Dit het egter dramaties verander en die kerk is nou deel van ’n derde-wêreld konteks en moet in die besonder haarself herposisioneer om binne derde-wêreld stede te opereer. Die samelewing is ’n paradoksale mengsel van pre-moderne, moderne en post-moderne denke.   (Uit ’n verslag oor teologiese opleiding vir die toekoms.)

En wat vir my kosbaar is, is dat die Here vir my en hierdie gemeente die voorreg gee om juis in hierdie uitdagende tyd sy kerk in SA en in die Vrystaat te wees.

Nog wonderliker is dat die kerk en gemeentes, ook Universitas, besig is om in te koop op sy roeping in hierdie konteks.

Ons begin al beter verstaan dat ons geroep is om ’n missionale/gestuurde kerk te wees met sy unieke boodskap van hoop in Christus Jesus.

Sien die klem het geskuif van “presies die regte dinge te glo”, na “om die regte dinge te begin doen.”

 

Nou kom Mark 7 en hy help ons op ’n baie mooi en eenvoudige wyse.

Die teks help ons om ons kerk-wees te verstaan as dissipels van die Jesus van Mark 7.

Die teks gebruik ’n baie huislike beeld van hondjies wat onder die baas se tafel wag vir ’n stukkie kos wat van die tafel afval  – of “per ongeluk” afval.

Die “per ongeluk” is baie belangrik.

Want sien ma sê dat ons nie die honde moet kos gee as ons eet nie, want dan leer hulle om te kom staan en bedel.

Maar jou hart kan dit nie uitstaan as daardie ou ogies so smekend vra vir ’n ou afval-vleisie of afval-broodjie nie!!

 

“Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

Met hierdie woorde het die Siro-Fenesiese vrou vir Jesus, kan ons amper sê, uitoorlê.

Nou waar vind die gesprek plaas?

Jesus en sy dissipels  reis uit die Joodse gebied na die gebied van Tirus.

Hoekom?

Miskien gee vers 24 vir ons ’n aanduiding:

“Daar het Hy in ’n sekere huis tuisgegaan en Hy hou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie.”

 

Dit lyk vir my of Jesus ’n bietjie met vakansie wou gaan.  See toe.  Hy het behoefte gehad om, te midde van ’n druk en veeleiesende program en baie teenstand, net ’n bietjie tot stilstand te kom.

 

Jou liggaam vra dit as die skof te lank word.

Maar miskien nog belangriker as die liggaamlike rus, het ons die geestelike rusperiodes nodig.

Leer dit aan om, te midde van jou raserige vol program, tyd te maak om geestelik tot rus te kom.

Vind tyd om jouself oop te stel vir God, nie net dat jy kan luister nie, ook nie net om op sy skoot tot rus te kom nie, maar dat Hy jou kan verander/transformeer.

Die Here werk transformerend deur sy Woord en sy Gees, maar daarvoor het Hy bietjie van ’n afspraaktyd met jou nodig.

 

Nou snuffel hulle vir Jesus uit!

Jesus kan net nie wegkruip nie en Hy kan nie weggesteek word nie.

Hy is te asemrowend om Hom mis te kyk!

En mense se nood is te groot dat hulle nie desperaat sy hulp sal soek nie!

So doen hierdie Siro-Fenesiese vrou ook.

Haar dogtertjie is besete van ’n bose gees.  Ons hoef nou nie alles daarvan te verstaan nie, behalwe dat dit ’n groot krisis veroorsaak het.

En dat Satan tydens Jesus se bediening waarskynlik sy demoniese magte toegespits het op die omgewing.

Maar sy is desperaat en sy kom soek desperaat hulp.

En sy weet van niemand anders as juis Jesus om te help nie.

Jesus kom egter bietjie onbehulpsaam oor:

“Wag…. wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

Daarmee verduidelik Jesus dat sy primêre taak was om die goeie nuus vir die Jode te neem.    Dit was sy primêre roeping.

Sy volgelinge sou die evangelie na sy dood en opstanding verder die wêreld in dra.

Hy self tree eintlik net so by uitsonderlike geleenthede tydens sy kort bediening oor die Joodse grense.

Nou moet ons ook verstaan dat almal wat nie Jode was nie, deur die Jode “honde” genoem is …. en natuurlik ook soos honde behandel is!

En Jesus gebruik die terminologie van hierdie diskriminasie en vernedering om vir die vrou sy prioriteite uit te wys.

Die vrou gooi nie ‘n “tantrum” nie.

Sy hardloop ook nie howe toe om ’n saak van haatspraak aanhangig te maak nie.

Sy aanvaar amper haar status as hond!

Want sy het nie krag vir politiek nie.

Sy het net nood.

En sy kom staan desperaat bakhand met haar nood.

Sy kan nie wag tot haar beurt eendag sou kom nie.

Die nood is nou!

 

Sy uitoorlê Hom eintlik met haar antwoord:

“Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

Waaroor gaan dit?

Dit gaan oor ’n bakhand pleit vir genade!

En dit gaan oor genade!

En dit gaan oor Jesus wat in sy almag ’n verskil maak!

 

Maar kom ons posisioneer onsself egter nou eers.

Is jy deel van die kindertjies of deel van die hondjies?

As jy nou nie ’n Joodse stamboom het nie, dan is (ek en) jy eintlik hondjies!

Ons is nie deel van die Joodse volk nie, maar in God se genade het hy vir ons genoeg krummels onder die tafel gegooi dat ons gered kon word!

 

Kan ons sê dat Jesus vir ons krummels oor die grens gegooi het?

Hy het vir ons die verlossings-krummels uitgegooi tot hier ver in die suidpunt van Afrika.

Maar dit het ons wesenlik verander.

Dit het van ons kinders van God kom maak.

Dit beteken dat ons aan die tafel saam met die Vader kan aansit.

Maar dit beteken ook dat ons die geleentheid en die voorreg …. en die roeping (!) het om krummels onder die tafel in te gooi.

 

En onder ons oë sit daar hondjies wat nie meer kan wag nie!

Ons sit nie net met krummels van verlossing nie, maar ook krummels van heling en sorg en diensbaarheid (soos ons visie dit stel).

En by ons voete sit daar so baie mense en so baie situasies wat smeek om genade.

 

En hul kyk almal grootoog met afwagting na mense wat hul hande op die krummels van hoop kan lê.

Ons weet hul moet in die eerste plek soek na Jesus wat die krummels kan gee.

Maar hulle weet dit nie.

Hulle sien net vir ons raak.

En hul verwag dat ons ’n gebaar sal maak.

Hul wag dat ons vir hul duidelik op Jesus sal wys

en hul wag dat ons Jesus se genade sal betoon met tekens wat vir hul hoop gee.

 

Al is dit nie elke dag ‘n 5-gang bord kos nie, dan ten minste erkenning van hul menswaardigheid.

Al is dit nie ’n huis vir ’n boemelaar nie, dan ’n glimlag en ’n handdruk.

En daar is geen vuil wat jy nie van jou hande sal kan afwas nie.

Onthou hoe het ons twee weke gelede gesê dat daar geen oorlewing en ook geen

herwinning is sonder vuil hande nie!

Sluit:

Wanneer ons as Jesus se dissipels nou vra:  Wat is ons roeping?

Dan moet ons na Jesus kyk!

Dit is jou roeping!

Dit is hoekom jy hier geplaas is.

Dit is hoekom jy jou eie krummels onder Sy tafel en uit Sy hand ontvang het.

Sien, jou en my roeping hang presies af van die Een wat ons roep.

 

En hier sien ons die karakter van die Roepende Jesus:

Amen

Prediker:  Ds Retief Botha