(Ds Retief Botha 2 Julie 2017)

Die profesieë van Sagaria word gelewer rondom die jare 520 vC.

Dit is so ’n paar jaar nadat die eerste ballinge uit Babilon teruggekeer het.  En hulle was baie opgewonde oor die terugkeer.  Maar die terugkeer was nie sonder teleurstelings nie.

Parykeer werk dinge mos nie uit soos jy jou dit voorstel nie.

Die “tuiskoms” in Jerusalem was een so ’n teleurstelling.

En daar was spanning tussen verskillende groepe in die gemeenskap.

Die ekonomie was in ‘n resessie.

Die hulp wat die Persiese hof aan hulle beloof het, het nie gerealiseer nie.

Negatiwiteit het oor hulle gespoel.

Die werk waarmee hulle besig was, die herbou van die tempel, het heeltemal tot stilstand gekom.

Sagaria is vir teleurgestelde mense geskryf.

En miskien kan ons baie daarmee assosieer as ons eerlik wil wees met onsself.

Ek gaan ’n paar opmerkings maak met die lees van die teks.

Die eerste is dat hierdie eintlik ’n langerige preek was as samevatting van die naggesigte van Sagaria tot op hierdie moment.  Hierdie preek kan verdeel verdeel word in 10 kort preke, elkeen met ’n eie nuwe moment wat bykom.

(Beginnende by die volgende verse:  1, 3, 4, 6, 7, 9, 14, 18, 20 en 23)

10 preke – soos die Tien Gebooie – die volkome getal vir dit wat God se volkome wil vir die luisteraars is.

Lees  Sagaria 8

Tema: As die nasies aan jou klere begin gryp.

Ons wil so graag vir die Here en vir die gemeenskap ’n Sentrum wees waar mense kan kom aanbid, kan kom heling vind, kan kom groei en kan kom dien.

Dit is die droom. Dit is om kerk van die Here Jesus te wees.

Maar dit gebeur nie sommer so outomaties nie.  Veral nie in ons tyd nie.

Mense is moedeloos en negatief.

Elkeen probeer tans net op sy eie (en op sy eie manier!) om te oorleef.

Ons sal moet begin vis vang.  Met lokaas.  Om mense te trek.

Om hulle in te katrol na God toe.

En ons sal die regte aas daarvoor moet gebruik.

Ons sal die regte reklame moet kry.

Maar dit is nie net die regte sosiale media en meer effektiewe reklame nie.

Mooi musiek en goeie preke alleen is nie genoeg lokaas nie.

Ons het ander/meer aas nodig.

Ook nie kunsvliegies (soos vir flyfish/vlieghengel )nie!

Regte “live bait”!   Dit is al wat sal werk!

 

Die vraag is:  Wat maak dat mense wil deel wees van hierdie beweging?

Wat maak dat mense ons (soos vers 23 sê) aan die klere sal gryp om te sê:

“Ons wil saamgaan?”

Die gedagte dat mense wil saamgaan is opwindend, maar tog ook nie so eenvoudig nie.

Kom ons soek vandag die pad daarheen.

 

My preek begin by my eie wanhoop – om by God se hoop uit te kom.

Die hoop en die beweging van Sagaria 8.

So skrik ek ook een oggend hierdie week wakker.

Ø  En ek is dadelik ontsteld oor die dood van die joernalis Suna Venter,

Ø  en die dood van twee polisiemanne wat in die aanklagkantoor in Koffiefontein doodgeskiet is.

Ø  En ek dink aan ’n politieke gesprek met ‘n arrogante radikale die vorige aand op DSTV.

Ø  En ek onthou dat ons land aan die brand is, fisies, polities en sosiaal….

Ø  en dat die land in resessie is.

Dit is nie waarna ek uitgesien het vir my kinders en kleinkinders nie.

Ek is teleurgesteld.

En ek sukkel om myself daar uit die bed te trek

– selfs met die belofte van die lekkerste moerkoffie en my vrou se heerlike beskuit.

Ek is verlam en depressief.   Ek het my entoesiasme en my passie verloor.

Teleurgesteld … totdat die Here my die oggend kom optel met hierdie teks van Sagaria 8.

Hierdie teks en hierdie profesie bring hoop en motivering soos wat jy selde elders sal kry.

 

Waar begin dit?

Dit begin by ’n geleentheid soos NOU!

Dit begin by die “Woord van die Here” wat na ons toe kom.

Sagaria sê:  “Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom.” (:1).

God se inspreek in ons lewens … en in ons moedeloosheid … bring altyd ’n vorm van nuwe hoop.

En dan is die teks op ’n hele paar punte vol van dinamika.   Daar is beweging in die teks.

Daar is persone wat aan die beweeg is – te midde van die verlammende teleurstelling.

Die beweging geskied op 3 terreine:

Ons lees van

  1. God wat aan die beweeg is
  2. van gelowiges wat geroep word tot beweging.
  3. nasies wat aan die beweeg kom

 

  1. God wat aan die beweeg is.

So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. (:3)

In Sy vrymag het God hom 70 jaar vantevore aan hierdie opstandige volk onttrek.  En hulle het in die ballingskap geland.

In Sy vrymag besluit Hy egter om weer na Jerusalem toe terug te kom.

En die teks vertel waarom God so genadiglik in beweging kom:  Want Hy is “hartstogtelik begaan oor Sion”.

Die God wat kom, word gedryf deur sy liefde en Sy omgee vir mense.

Mense is vir Hom kosbaar en Hy wil vir mense goed wees.

Eintlik word hier ’n hele lys dinge oor God gesê:

o    Hy is die Almagtige – en daarom kan Hy groot dinge doen.   Hy kan baie meer doen as wat ons dink moontlik is vir Hom.

(Ons kom na hierdie eienskap van God terug.)

o    Ja, Hy is die een wat lief is vir mense – soos ons pas gehoor het.

En waar Sy mense vertrap en verneder word, word Hy selfs “woedend” daaroor (:2)

o    Ons verneem hoe hy die Komende God is.  Hy is in beweging.  Hy is aan die beweeg – al nader aan mense.

Uiteindelik is Hy ook die een wat in Christus Jesus tot BY ons gekom het.

Hy noem homself Immanuel – “God-met-ons”.

Dit is dieselfde woordstam wat hier gebruik word as Hy sê: “Ek gaan in Jerusalem woon”.

Nuwe-Testamenties weet ons daarvan dat God deur sy Gees selfs nog nader gekom het – Hy het IN ons kom woon.

o    Hy is ook die God van die weer-begin.  Hy skryf sondaars nie af nie.  Hy begin oor.   Hy begin van voor af weer met mense ’n pad loop.

o    Hy is laastens ook die Redder-God.

Vers 7:  “So sê die Here die Almagtige: Ek gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom.”

God spesialiseer in reddingsaksies.

Partykeer moet Hy ons red uit die hand van onderdrukkers.

Partykeer moet Hy ons red van onsself, ons sonde en ons eiesinnige onnoselheid.

Ja, Hy is die Redder.

 

Sien jy die groot klomp teologie oor God?

Hy is inderdaad besonders en uniek.

Ons kon nou hier ophou en net heelaand sing oor hierdie 5 aspekte van God Elohim.

 

Nou die vraag:  Waaroor droom hierdie God?

Ons sou ‘n paar aspekte oor God se droom vir mense hier kon uitlig, byvoorbeeld die vasdae wat feeste word (:18) en die voorspoed op landbougebied (:12).

Maar die mooiste beeldryke beeld is dié van die stadspleine:

Luiser na hierdie beeld:

So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met ‘n kierie in die hand.  Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel. (:4)

Hy wil vir mense ’n vredevolle, vreugdevolle en veilige blyplek gee.

 God droom oor ’n bevolking – en die ou mense en die kinders, die weerloses, verteenwoordig eintlik almal – waar almal weer onbesorg op die pleine kan sit en kan speel.

 Dit is hoe die God van hoop dit wil sien.

En as jy dit paar met die feit dat Hy die God is van die almag, dan klink dit nie meer te vergesog nie.

Maar daar is ‘n “catch”!

Mense!

Mense se optredes kan maak dat God nie die weldoener is nie, maar eerder die opponent word.   En dit het gebeur in Juda.

Daarom het hulle teleurgesteld in die hooploosheid van die ballingskap geland.

Wat nou nodig was, in hierdie nuwe bedeling, was dat mense weer God se wil sou begin soek.

En daarom hierdie tweede beweging (naas God se beweging na hulle toe):

 

  1. Ons lees van gelowiges wat opgeroep word tot beweging.

Hier is ’n refrein van “Skep moed!” (:9 en :13)

Letterlik staan daar “Laat jou hande sterk wees.”

Steek jou hande uit en begin doen iets positiefs.

Vers 16 en :19 praat dieselfde taal:

Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. (:16)

 … maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is. (:19)

Waarheid, reg en vrede.

Dit is die verantwoordelikheid van die inwoners.

Dit is die beweging waartoe ons opgeroep word.

God beweeg in vriendelikheid na die mense toe.

Mense begin beweeg volgens God se wil.

En nou …. ’n verrassende gevolg …

 

  1. Ons lees van nasies wat aan die beweeg kom.

As die Bybeld praat van die “nasies”, dan is dit gewoonlik ’n verwysing na die buitestanders wat nog moet toetree tot die verbondsgemeenskap.

Presies dit kry ons in die reaksie waarvan Sagaria 8 praat:

So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.” (:23)

Wanneer God by mense is.

Wanneer mense in waarheid, reg en vrede begin leef.

–       Daar trek dit aandag.

–       Daar raak mense jaloers.

–       Daar begin mense te praat oor die besonderse van hierdie geloofsgemeenskap.

–       Daar wil mense deel wees van hierdie beweging

Ek sluit af:

Voel jy al hande wat pluk aan jou baadjie-pante?

Dit is die gevolg daarvan dat God by ons is.

Dit is die gevolg daarvan dat ons al meer na die wil van die Here soek.

Dit is omdat die Here mense trek – na Hom en na Sy kerk.

Ja,  Immanuel is steeds aan die beweeg – na ons toe.

En gelowiges beweeg al nader aan God se wil deur die Heilige Gees.

En die “nasies” vind dit so aanloklik dat hulle nie die suigkrag kan weerstaan nie.

Kom ons gaan vang vis!

Los jou teleurstelling.  Skep moed!

Begin beweeg … gooi die aas uit!

Rooi-aas!  Mieliepap! Kaboem mielies!

Miskien baie verskillende soorte lokaas, want smake verskil…!

So lank mense God se teenwoordigheid daarin sal raaksien.

Gaan lok mense in vir Jesus!

Amen

 

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.