Koffie           TEMA:   “Baie meer as ’n koffie-kuier…”

Om iemand te nooi vir ’n lekker koppie koffie by Mugg & Bean is baie besonders.

Hulle het so ’n papier piering-“coaster” wat sê:  “Koffie maak alles reg.”

Dit is baie na aan die waarheid.

Maar tog is so ’n koffie-kuier maar iets van so ’n kwartier of ’n halfuurtjie en soms nooi jy iemand uit vir so ’n koffie, nie om tyd met die persoon te spandeer nie, maar eerder ter wille van die Mocca Java.

Johannes vertel van Jesus se eerste dissipels wat so by Jesus wou gaan kuier.

Hulle het ’n opregte behoefte om nie net Jesus se koffie te gaan drink nie,

maar om Hom beter te leer ken.

Wat hulle dan kry is ook baie meer as ’n koffie-kuier.

Hulle kry iets wat hul hele lewe sou verander…!

Kyk, hier is twee ouens, Andreas en dan nog ’n ou, hoog waarskynlik, Johannes self -Johannes wat later hierdie evangelie sou skryf.

Hulle is volgelinge van Johannes die Doper,

die padmaker vir die koms van die Here Jesus.

En dan wys Johannes die doper eendag die vinger na ’n nuwe figuur op die toneel.

Matthias Grünewald skilder hom met hierdie prominente vingerwysing.

(Ds Andre gaan vanaand oor hierdie vingerwysing preek.)

Johannes die Doper sê:  “Kyk, daar is die Lam van God.”

Die volgende dag staan Johannes weer daar en hy sê weer ’n keer:

“Kyk, daar is die Lam van God.”

En ek het begin wonder of dit nie maar in ons geestelike lewe ook so werk nie.

Moet ons nie maar oor en oor vir mekaar op Jesus wys nie?

Moet ons nie maar weer en weer vir Jesus in die oog kry voordat ons regtig glo nie?

Of voordat ons so nuuskierig raak dat ons agter Jesus begin aanloop nie?

 

“En wat soek julle?” vra Jesus toe hy hulle agter hom opmerk.

Miskien moet ons ook aan die begin van die jaar die vraag probeer antwoord:

Wat soek ek regtig?  Wat is my nuwejaarsvoornemens, drome en ideale?

Wat wil ek ten diepste hê?

Broer/suster?  Wat begeer jy meer as enigiets anders?

 

Hierdie twee se motief was baie opreg:

Hulle soek om meer van hierdie Jesus te weet en te verstaan.

Want as hulle kry wat hul soek, gaan hul hom voltyds volg.

 

Miskien is dit jou groot dors wat jy nog net met sulke klein tuigies begin les het!

Miskien is Hy nog net vir jou ’n ver-af misterie van wie se oorvloed jy nog so min verstaan.

 

Miskien het jy ook vanjaar meer tyd saam met hierdie Jesus nodig.

 

Hul vraag:

“Waar gaan u tuis?” ( Letterlik:  “Waar bly jy?”) is nie die soek na ’n adres nie,

maar die soeke na die Sentrum van jou lewe.

Dit is die soeke na die essensie van jou menswees.

Dit is die soeke na die Verlosser en die bevestiging van Sy identiteit.

In Joh Ev is die begrip “bly” baie belangrik.

Dit word dan ook hier 3 maal so beklemtoond gebruik.

Dit slaan op die teenwoordigheid en die ervaring van die lewende Jesus by jou,

met jou, in jou.

 

Presies dit is wat hier gebeur as Jesus met sy uitnodigende gasvryheid vir hulle uitnooi.

“Kom saam, dan sal julle sien.”

Hy nooi nie net uit nie.  Hy nooi ook in!

 

Jesus se wese is die van gasvryheid wat steeds besig is om mense uit te nooi / in sy teenwoordigheid in te nooi.

Hy nooi om te kom bly.

Hy wil so graag hê dat ons by Hom sal kom bly.

 

Presies wat hulle alles toe daar beleef het, word nie vertel nie.

Johannes kon sy indrukke gegee het, maar hy laat die spanning so bietjie oplaai dat mense die Evangelie verder moet lees.

 

Daar staan dat dit die 10de uur van die dag was.

Ons vertaling werk met die Joodse tyd wat vanaf sonsopkoms gemeet is en daarom is dit vertaal as 4 uur die middag.

Meer waarskynlik was dit 10 uur die oggend soos die Romeine vanaf middernag getel het, want die evangelie is oorspronklik geskryf vir gelowiges in Klein-Asië.

Dit verklaar ook beter die opmerking dat hulle die hele res van die dag by Jesus gebly het, miskien tot laataand.

 

Die punt is dat hulle geruime tyd met Jesus deurgebring het…

en meer gekry het as Mocca Java!

Wat hulle vind, is presies wat die Here vanoggend hier in ’n erediens wil hê moet gebeur:  ’n rukkie tuiskoms by Hom waar jy sy liefde en sy gasvryheid kan ontdek en beleef!

 

Hy verlang na jou op sy skoot met sy arms rondom jou.

En Hy verlang dat jou arms dankbaar en in verwondering rondom Hom geslaan sal word.

 

Ek sluit af:

Die ontmoeting met hierdie Jesus was vir hulle so ’n wonderlike WOW-ervaring, en hulle is so verseker van die identiteit van hierdie Jesus dat hulle nie kan gaan slaap nie.

 

Andreas gaan soek koorsagtig sy broer Petrus en as hy hom kry, dan borrel dit oor:

“Ons het die Messias gekry.”

 

Waar jou siening van Jesus skuif, daar begin jy te skuif.

Dan skuif jy na ander mense toe en vertel jy vir hulle daarvan.

Dan skuif jy met Sy liefde na hulle wat sonder hoop geraak het en dra  die liefdeswarmte daar in.

 

Sien, jy kan nie toelaat dat mense buitekant bly staan as jy die adres het nie.

Jy kan nie toelaat dat mense met vraagtekens en onsekerheid loop as jy die tuiskoms  en die vaderhart leer ken het nie.

 

Maak hierdie ’n jaar van verdieping!

“Kom saam, dan sal julle sien.”

 

Maar ook ’n jaar van verspreiding van hierdie goeie nuus!

“Ons het die Messias gekry!”

Amen

Prediker:  Ds Retief Botha