Prediker: André Oosthuizen E-pos andrej@webafrica.org.za

Ek wonder wie van julle sal hierdie onthou. Speel videosnit van The Lone Ranger.

Die eerste Lone Ranger is al hier in die 1950’s gemaak en was baie mense se gunsteling storie.  ’n Man alleen op sy perd wat die wêreld aanvat.  Ek het gedink die Lone Ranger is ’n baie goeie voorbeeld van wat in ons samelewing vandag besig is om te gebeur.  Kyk, ons jaag van die een punt na die ander, van die een oorlog na die ander, van die een dag na die ander.  En so tussen-deur die stof en die lewensdraaie kry ons ’n paar skote in.  Die lewe skiet op ons en somtyds kry ons dit reg om ’n paar skote terug te skiet.  Maar op die ou einde is dit niks anders as ’n gejaag nie – totdat die perd op sy agterpote gaan staan en jy moet klou vir jou lewe.  Jy moet klou om bo te bly of by te hou!

En weet jy, ons het almal op ’n manier ‘n Lone Ranger geword.  Individualisme en privaatheid het die afgod van ons tyd geword.  Ons sluit onsself toe agter kantoordeure en devils fork heinings.  Ons bly eerder by die huis en kyk op ons eie vir Andries op die televisie as om Sondagmôre die moeite te doen om tussen ander mense te gaan sit.   Ons dra eerder ons eie pakkie as om dit met ander te deel.

Want jy sien, hierdie, Lone Ranger-geloof het ’n slagspreuk wat hom dryf.  Het jy al gehoor mense sê, geloof is ’n persoonlike saak?  Dit is ’n saak tussen my en die Here!  Dit het niks met niemand uit te waai nie.  Dit is die motivering vir Lone Ranger – Christene!  Privaat Christene.  Daarom, wie het nou ander mense of ‘n kerk nodig om die Here te dien as geloof net ’n saak tussen my en die Here is?   En weet jy wat is die gevolg van hierdie Lone Ranger-geloof?  Dikwels is die gevolg dat mense in ongeloof en moedeloosheid verval!

Want jy sien, om alleen die pad te stap is nie maklik nie.  Mense raak vandag al hoe meer en vinniger negatief, pessimisties en moedeloos.  En dit is nie net omdat omstandighede moeiliker raak nie, maar ook omdat mense hulleself die bemoediging en ondersteuning van ander gelowiges ontneem.  Ek wil dit herhaal en jy moet mooi luister, mense raak vandag vinniger negatief en pessimisties en moedeloos omdat hulle hulleself die bemoediging en ondersteuning van ander gelowiges ontneem. Vriende, elkeen in sy eie hoekie met sy eie probleme was nog nooit die Here se plan om sy kinders gelowig en versterk en bemoedig te hou nie.  Toe die Here Jesus jou van sonde verlos en gered het, toe Hy jou sy kind gemaak het, het Hy onmiddellik vir jou ‘n nuwe familie gegee.  Hy het jou ingebind in ’n geloofsgemeenskap.  En reg deur die geskiedenis van God met sy volk sit Hy mense bymekaar om mekaar te bemoedig en te versterk.

Ons het verlede week gepraat oor bemoediging.  Oor paraklesis, en die Een wat bemoedig die Parakleet.  Die preke is op die internet vir dié wat daarna wil kyk of dit wil lees.  In die week se personeelvergadering lees oom Manie vir ons uit Romeine 1 en die Here praat toe verder met my oor hierdie teks in die week.

Skriflesing:Romeine 1:8-17

1:8: “Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle…”

Nou vriende, dit is nie altyd vir ons so lekker of gerusstellend om te weet dat mense oor jou praat nie.  Want kyk, dit bly seker een van mense se gunsteling tydverdrywe om oor ander mense te praat.  Om ander mense se maniere, se huise en kinders te bespreek.  En gelukkig hoor ons nie wat ander alles van ons sê nie, want die meeste van die geskinder is nie baie mooi goed nie.  Jy sien, en op ‘n manier versterk dit hierdie Lone Ranger-geloof.  Mense sê eenvoudig, ek hou my eerder besig met my eie goed in my eie hoekie agter my eie heining as om uitgelewer te wees aan ander se geskinder en belediging.  En dit is waar, en daar is meriete in.  En daarom kinders van die Here, om regtig mekaar te bemoedig soos Paulus hier sê, moet daar iets verander.  Daar moet iets in ons geloofsgemeenskap verander.  Die inhoud van ons gesprekke moet verander!  Ons sal moet nadink oor hoe ons praat, waaroor ons praat en selfs met wie ons praat.

Kom ons maak net Paulus se sin klaar in 1:8: “…want in die hele wêreld praat die mense oor julle… geloof.”

As julle oor mekaar praat sê Paulus, as julle met mekaar praat, maak ’n punt daarvan om oor geloof te praat!  Met ander woorde, maak geloof deel van julle praatjies sodat julle mekaar kan versterk en bemoedig deur wat julle sê!  Dit is wat Paulus sê in 1:11 “Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne.”

Jy sien, ’n volwasse kind van die Here is iemand wat nie daaroor skaam is nie en dit selfs openlik erken dat ek ander gelowiges nodig het om moed te hou!  Dit is wat Paulus vir die Romeine sê, as ons bymekaar is kan ons mekaar versterk en moed gee!  En liewe kind van die Here, soos jy hier sit vanmôre het jy ook ander se bemoediging nodig.  Jy het nodig dat iemand jou raaksien, dat iemand jou optel, dat iemand jou versterk, dat iemand jou moed gee om aan te gaan.  Waar kom ons aan die ding dat jy ’n swakkeling is as jy ander nodig het?  Die wêreld wil van mense Lone Rangers maak, maar God sit mense bymekaar!  Ons is deel van ’n familie wat mekaar se ondersteuning en bemoediging nodig het, wat dit moet waardeer en koester dat daar mense is wat wil omgee.  ’n Familie wat bereid is om mekaar se laste te dra en sodoende die lewe vir mekaar ‘n bietjie makliker te maak.  Dit is wie ons is!

In Handelinge 28:15 toe Paulus uiteindelik in Rome uitkom en die gelowiges daar ontmoet, lees ons: “Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.”  En vriende, ons het nodig om in mekaar se teenwoordigheid moed te skep!  Want as gelowiges nie in mekaar se teenwoordigheid kan moed skep nie, waar in hierdie lewe gaan ons dit regkry?  Daarom is dit krities belangrik dat ons in ons gesprekke mekaar sal versterk en bemoedig want ons is geneig om mekaar redelik vinnig in verdere moedeloosheid en hooploosheid te dompel.

En juis daarom moet ek en jy onsself eerlik die vraag afvra: bemoedig my geselskap mense of maak dit mense net meer moedeloos?  Bring my geselskap hoop, of maak dit die hooploosheid groter.  Kan geloof in my woorde gehoor word, of praat ek mense verder in ongeloof en moedeloosheid in?

Vriende wanneer geselskap goed en opbouend is, wanneer geselskap mekaar aan God en geloof herinner word mense versterk en bemoedig.  Daarom sit God se bemoediging rondom jou!  God se bemoediging werk saam met jou!  God se bemoediging kuier saam met jou!  God se bemoediging bly saam met jou in jou huis!  Maar dan moet ons mekaar bemoedig en nie ontmoedig nie.  Dan moet ons geloof praat en nie ongeloof nie.  Dan moet ons hoop praat en nie hooploosheid nie.

God het man en vrou bymekaar gesit om mekaar te versterk en te bemoedig.  God het kinders vir pa’s en ma’s gegee om te bemoedig.  God gee kollegas by die werk om te bemoedig.  Maar dan moet ons geloof praat!  En wanneer kinders van die Here ingestel is om geloof te praat sal pessimisme verander in hoop en geloof.  Dan sal ons mekaar aanmoedig met die geestelike gawe van bemoediging om die wedloop van die lewe te bly hardloop, ons oog gevestig op Jesus!

Slot:

Lone Rangers eindig eensaam en dikwels moedeloos en ongelowig omdat hulle die bemoediging van ander mense misloop.  Dank die Here dat Hy ons vir mekaar gegee het!  Mag ons meer en meer deur mekaar se geloof bemoedig word. Mag die Heilige Gees ons sensitief maak vir die woorde wat ons spreek.  Mag ons woorde en gesprekke mekaar opbou, moed gee, versterk en van geloof getuig.  Dan sal ons deur mekaar se geloof bemoedig word en moed skep.  Amen