16 Januarie 2011

Die begin van ’n nuwe jaar is vir baie amper weer die geleentheid om ’n nuwe lewe te begin.  ’n Nuwe jaar is mos soos ’n skoon bladsy in ’n ou boek of dikwels sommer ’n heel nuwe boek waarin daar mooi voornemens is om die bladsye mee in te vul.  Dit is ook asof die nuwe jaar ons aanmoedig om dit wat agter is te agter te los en oor te begin.  Ons tel die minute en sekondes van die ou jaar af en kondig met groot jolyt en opgewondenheid die nuwe begin aan.  Dit is emosioneel vernuwend!  En miskien is dit ook die rede waarom ons met nuwe krag en entoesiasme ’n nuwe jaar aanpak.  Nie omdat ons ewe skielik soveel meer krag en energie bygekry het nie, maar bloot omdat ons voel ons kan dit wat in 2010 gebeur het agter ons los en oor begin. 

Genesis 12 is die eerste hoofstuk van God se oorbegin met die mense van die wreld.  Na die skepping het dinge lelik skeefgeloop met die sondeval.  En God besluit om oor te begin.  Voor Genesis 12 het God spesiale paadjies geloop met individue.  Adam en Eva en Kain en Abel en Noag.  Maar hier in Genesis 12 begin God om ’n nuwe geloofsgemeenskap op te rig.  Om mense te kies, bymekaar te sit, te roep en te seën.  Mense met God se identiteit wat as God se kinders bekend sal staan.  Nie net meer individue nie, maar ’n hele volk en nasies so baie soos die sterre in die lug.  Dit was God se nuwe droom!

Hoe God hierdie nuwejaarsvoorneme van ’n volk vir Hom werklik wou maak, was deur een man en sy vrou te roep en te gebruik.  Abram en Sara.  ’n Vreemde keuse vir ’n nuwe begin om twee redes:  Eerstens, die moeder van hierdie nageslag is onvrugbaar.  En tweedens, die vader van hierdie Godvresende nageslag is ’n maanaanbidder uit Ur.  ’n Heiden.  Ons sou dink dat die Here tog sekerlik iemand anders en meer geskik kon kry as die vader en moeder van hierdie spiksplinternuwe skeppingsvolk van Hom.  Maar nee, Hy roep ‘n maanaanbidder om die vader te word van mense wat in God glo.  Hoekom?  Hoekom iemand so radikaal anders?  Sodat al die geslagte, al die miljoene mense na Abram kon hoor en sien en lees en besef, God kies gewone mense!  Hy kies selfs mense wie se lewensboeke vuil blandsye in het.  God kies gewone mense en gee aan hulle ’n Goddelike roeping.  Hy maak nie staat op ons vermoëns of ons vertroue of selfs ons geloof nie, Hy kies, Hy roep, Hy rus toe, Hy stuur!

Die geloofsgemeenskap, waarvan jy en ek deel is hier in Universitas, is deur God bymekaar gesit.  Ons is deur God vir mekaar gegee!  Jy en ek is nie gelowige mense omdat ons so dink of omdat ons dit so uitgeredeneer het nie.  Ons glo omdat God ons ontmoet het, in die vreemde, in ons verlorenheid, net soos Hy Abram in Ur ontmoet het.  Net soos Abram, die vader van hierdie nasie, het God jou gesoek, jou gekry en wil Hy jou verander sodat Hy jou kan gebruik. 

Nadat Abram God ontmoet, het sy lewe verander.  Dit was nooit weer dieselfde nie.  Grootliks te wyte aan die opdrag van die Here in vers 1: Trek weg.  Uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af.  Abram moet oor begin!  Hy moet die nuwe jaar en die nuwe lewe skoon begin. Hy moet met die verlede breek en erger nog, die sekuriteite wat hy gehad het, prysgee.  Sy land, sy mense, sy familie.  Interessant, ons dink baie keer dat hy al sy rykdom moes los, maar dit staan nie hier nie.  Inteendeel, hy is met al sy goed daar weg, maar belangrik in sy konteks, hy moes sy mense los en sy land los.  Vriende, vir iemand wat nie kinders het nie is dit ’n ingrypende ding om uit jou familiekring en vriendekring te beweeg.  Want kinderloosheid was destyds ’n groot ramp.  Kinders het jou in jou ouderdom versorg, kinders was jou pensioen en jou mediese skema.  Kinders was jou sekuriteit.  Hier is die arme Abram en Sara, hulle moet trek, hulle moet die sekuriteite wat hulle opgebou het, juis omdat hulle nie kinders het wat vir hulle kon sorg nie, net so los!  Hulle moes hulle pensioen prysgee, hulle tente opslaan en trek!    

En al wat hulle gehad het was ’n belofte van hierdie vreemde God.  Abram, as jy dit waag en My vertrou, Abram as jy jou natuurlike sekerhede prysgee, sal Ek jou beloon deur jou Goddelik te seën!  Hy is voor ’n keuse gestel.  Abram, bly waar jy is in Ur en sukkel voort met die ou lewe met al sy ou kwellings en behoeftes van sonder kinders wees, of waag dit om jouself weerloos in God se hande te stel en vertrou dat jy ’n nuwe lewe sal ontvang, nuwe hoop, ’n nuwe familie!  Dit was die keuse wat Abram moes uitoefen.  Gaan ek my tente opslaan en begin loop op hierdie pad en met hierdie vreemde God se plan waarvan ek net die buitelyne van weet, of gaan ek bly waar ek is?    

Vriende, dit klink vir my of dit vandag ook maar ons keuse bly.  Gaan jy bly waar jy is, soos jy is, met al die bekommernisse soos dit nou is, of gaan jy waag en jou tent opslaan om God in die vreemde nuwe jaar te volg?  Omdat Abram dit gewaag om sy tent oor die grens te dra, kon God met sy volk oorbegin.  Duisende jare na Abraham, begin God in Jesus Christus genadiglik elke dag met ons oor.  Elke dag wanneer ons maar weer ons rug op die ou afdraaipaadjies draai en na God kyk. 

Maar die begin van ’n nuwe jaar is op ’n besondere manier weer God se oorbegin met ons.  God se uitnodiging om Hom te volg op ’n pad en avontuur waarvan jy dikwels ook nie veel meer as die stippellyne kan sien nie.  Maar jy het die keuse vanmôre.  Bly waar jy is of waag dit nuut saam met God!  Bly waar jy is, soos jy is, of waag dit om jouself as’t ware weerloos in God se hande oor te gee, jou tente op te slaan en te begin stap. 

U sien broers en susters, dit is gemaklik in ons tente.  Ons is gewoond aan ons tente.  Ons voel veilig in ons tente.  Ons het jare lank opgeslaan aan ons tente.  Daarom sit ons jaar in en jaar uit half verstar in ons tentjies met al ons sekuriteite rondom ons uitgepak, te bang om tent op te slaan en met geloofswaagmoed God te volg.   

Een van die luisterseisoen se waardes is openheid.  Is daar nog by ons as kinders van die Here die openheid, die sensitiwiteit, die bereidwilligheid dat God ons op weg kan neem?  Dat God nog vir ons op vreemde paaie kan stuur?  Onbekende en ongemaklike paaie buite ons verwysings of buite ons gemaksones en selfs voorkeure?  My liewe broer en suster, hoe lank sit jy al in jou tent, met alles wat jou veilig en gemaklik laat voel, te bang om een of ander uitdaging van die Here in jou lewe te aanvaar?  Miskien is die begin van ’n nuwe jaar ’n goeie tyd om te dink oor die goed wat ons in ons tentjies sit en vashou.  Goed wat maak dat ons nie vorder nie. 

Vir hoeveel jaar koester jy al ’n onaangename gewoonte wat jy maar so saamdra elke oujaar na die nuwejaar?  Hoeveel jaar sit jy al met die behoefte om iewers in te skakel of iewers ’n verskil te maak, maar jy is te bang om uit jou tent te kom en te sê: Die Here roep my!  Vir hoeveel jaar sit jy in jou tent en geestelik kwyn omdat jy nie so ver kom om meer gereeld tyd saam met die Here en sy kinders hier in die erediens deur te bring nie?  Lê jou sekuriteit in die begin van hierdie nuwe jaar in dit wat rondom jou uitgepak is, of in die hand van jou Vader? 

U sien, dit bly jou keuse.  Bly waar jy is, of waag dit nuut saam met God.  En om nuut te begin vra van my ’n stuk toewyding.  Los dit wat besig is om jou tyd te mors, maar wat jy nog nie die moed of oortuiging voor gehad het om te laat staan nie.  Los die gekla wat al deel van jou daaglikse omgewing geword het!  Sien af van ’n vriendskap wat besig is om jou te ondermyn.  Soek na nuwe geleenthede en sprei in die nuwe jaar jou tente verder uit, selfs oor grense uit, sodat God jou meer en meer kan gebruik.  Waag dit om uit jou tentjie uit op te staan en God belowe Goddelike seën oor jou lewe!  Meer nog, Hy seën jou sodat jy weer tot seën kan gaan wees.   

Slot: Mag daar by ons ’n sensitiwiteit wees vir God in hierdie nuwe jaar.  ‘n Openheid dat Hy jou dalk uit jou tentjie kan roep.  Kom ons waag dit met God hierdie jaar!  Moenie 2011 uitgaan dieselfde mens as wat jy 2010 uitgegaan het nie.  God staan gereed om jou te seën en jou ’n seën vir ander te maak.  Maar gaan jy bly sit of gaan jy jou tent opslaan en met geloofswaagmoed God volg?  Amen