SKRIFLESING: 1 Tessalonisense 1
Tema: “Oorvloedige leidrade vir dankbaarheid”

Dankbaarheid word nie juis ingebore nie.
Dit is nie spontaan deel van ons DNA nie.
Ons sukkel aanhoudend om vir ons kinders die towerwoordjies van “asseblief” en “dankie” te leer.
En as ons groot geword het dan is dit een van die eerste goed wat ons weer afleer.

Juis omdat dankbaarheid nie sommer spontaan en elke dag deel van ons lewe is nie, hou ons spesiaal hierdie tyd van die jaar dankfees. En ons oefen dit in.
En ons help mekaar om opnuut te ontdek wat die redes is vir dankbaarheid.
Dit is amper of ons op hierdie dag speurders word wat met Sherlock Holmes vergrootglase rondloop en te soek na leidrade wat ons kan help in ons dankbaarheid.
Ons is eintlik soos speurders op soek na leidrade om uit te vind wie was hier op die toneel?
En wie is steeds op die toneel?
En as ons mooi rondom ons en bo ons en in ons gaan rondkyk, gaan ons so baie leidrade kry dat ons nie gaan weet hoe om uitdrukking te gee aan al ons dankbaarheid nie.

Want sien, dankbaarheid het die geneigdheid om jou so half verleë te laat.
As jy iets groot ontvang, dan voel ’n klein woordjie soos “dankie” nie genoeg nie.
Jy begin soek na meer maniere om dankie te sê:
• Jy stuur ’n sms en ’n WhatsApp.
• Jy vat ’n dankie-sê geskenkie saam.
• Jy gee jou weldoener ’n drukkie.
• Jy vertel hoe kosbaar dit vir jou is.
• Jy vertel selfs vir ander mense hoe kosbaar die geskenk is.

En dit is presies waarmee Paulus hier besig is in die brief aan die Tessalonisense.

(Agtergrond)
Tessalonika was die destydse hoofstad van die Romeinse provinsie Masedonië
Die agtergrond is nie onbelangrik nie. As jy nou mooi in Handelinge 17 gaan navors, dan sal jy sien dat Paulus net vir ’n paar weke in Tessalonika was.
Hy verkondig die Evangelie en tipies die krag van God se liefdesboodskap: daar kom ’n hele klomp mense tot bekering.
En ’n gemeente van Christus vorm daar.
Maar toe breek daar ’n oproer uit oor hierdie nuwe sekte wat die vreemde dwaalleer aanhang.
En Paulus en sy medewerkers, Timoteus en Silvanus (in kort ook Silas genoem) moet vir hul lewe vlug.
En as Paulus nou in Korinte, suid van Tessalonika sit, dan is hy besorg oor die gemeente van Tessalonika. Hulle is nog jonk in die geloof. Hulle kan so maklik weer koue voete kry.
Die evangelie het nog nie eers behoorlik wortel geskied nie.
Daarom stuur hy vir Timoteus na hulle terug en hy bring later vir Paulus terugvoer oor hoe dit daar in Tessalonika se gemeente gaan.
En Paulus weet dat daar nog baie by hul geloof moet “aanvul”.
En daarom nou hierdie pastorale brief.

Paulus leer vir ons van dankbaarheid.
En hierdie is die langste gedeelte oor dankbaarheid in al sy briewe:
Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. (:2)

Kyk mooi na die eerste sin.
Dit vertel iets van Paulus se gebedslewe.
Hy bid nie alleen nie. Hy bid saam met ander gelowiges.
Nou, daar is nie maklik reg en verkeerd met gebed nie. As jy voor God staan dan is jy op die regte plek en dan is die vraag nie of jy alleen bid en of jy saam met ander bid, of jy kniel en of jy opstaan nie …. selfs nie of jy jou oë toemaak nie.
Maar dit is die een ding waaroor ons meer moet praat in hierdie gemeente. Om saam te bid.
Meer te bid en saam te bid.
En hoe meer jy alleen voor God se genadetroon vertoef, hoe groter word die behoefte om saam met medegelowiges daar te kniel. En hoe groter word die behoefte om saam met medegelowiges ook dankie te sê vir alles wat ons uit God se hand van genade ontvang.

En Paulus se gebed is hier die een manier waarop hy uitdrukking gee aan sy dankbaarheid.
Trouens die belydensskrifte praat spesifiek van gebed as die belangrikste deel van ons dankbaarheid.
Wetend dat dankbaarheid op baie verskillende maniere in jou lewe bewys kan/moet word.

En waarvoor dank hy God?

Hy dank God vir mense.
Watter mense? Net die soetes en die goeies en die vriendelikes?
Daar is verseker mense in ons lewens waarvoor ons nie die Here wil dank nie.
Dit is die mense wat ons boos maak en wat ons kritiseer …..

Maar Paulus sê: Ons dank God ALTYD en VIR JULLE ALMAL.
Wow!
Hoe kry ‘n mens dit reg? Ons weet te veel van voete van klei – en daarom ook van moddervoete wat oral kom vuiltrap!
Die antwoord is: Want hy kyk deur God se bril na hulle.

Jong gelowiges! Hulle het nog pas die Evangelie ontvang. Hulle het nog nie 1% van die kere in die kerk gesit wat jy in die kerk sit en luister na die Evangelie nie.
Hulle het nog gestoei met hulle heiligmaking, want die Heilige Gees moes hulle nog losskeur van die heidendom en afgodery.
Maar …. en dit is die belangrike: hulle was deel van die gemeente van Tessalonika!
Hulle was gelowiges. Gered deur Jesus Christus.
En dit is waaroor dit gaan. Hulle het aan God behoort!

Bietjie verder beskryf Paulus ook met groot dankbaarheid oor hoe hulle ten spyte van moeilike omstandighede die woord wat met krag tot hulle gekom het aangeneem het.
Hy sê dit was iets wat gepaard gegaan het “met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.”

Die opmerking dat Paulus die brief skryf aan die gemeente van Tessalonika is ook uniek.
Gewoonlik sal hy in sy briewe skryf aan “die gemeente van God” of “almal wat aan God behoort” in ’n spesifieke dorp.

Maar hier skryf hy “aan die gemeente van die Tessalonisense”.
Is dit nie beter om te praat van die “gemeente van God” nie?
Ons het tog nie enigeen ’n eie gemeente nie! Hierdie is ook nie jou en my gemeente nie.
Dit is Jesus se gemeente, Hy het daarvoor betaal…!

En tog wil die opmerking vir ons iets sê. Dit wil sê dat hulle heelhartig met die gemeente geassosieer het. Hulle was deel daarvan! Dit was hulle gemeente!
Hulle het nie maar net daar kerk toe gegaan nie.
Ek vertrou dat jy so oor jou gemeente sal voel.
As jy hier lidmaat is, wens ek dat jy ook sal sê”
“Geloofsentrum Universitas is my gemeente.”
Ek aanbid nie net hier nie. Ek aanvaar verantwoordelikheid. Ek aanvaar eienaarskap vir die Geloofsentrum. Ek is deel van die bediening. Ek het ingekoop op die bediening.

Maar ons het hier begin sien hoe baie opgewonde Paulus was oor hierdie gelowiges van Tessalonika.
Dit is waarom Paulus kon sê: “Ons dank God altyd vir julle almal ….. maw: vir elkeen van julle!”

Maar die dank gaan aan.
God het hulle nie net deel gemaak van die gemeente nie.
Hy is steeds besig om hulle toe te rus met al die gawes wat hulle vir daardie gemeentelike bediening nodig gehad het.

En dan word hierdie gawes wat Hy uitdeel een vir een genoem:
Geloof, liefde en hoop.

Dit is ’n bekende drievoudige deug in die Pauliniese geskrifte.

Geloof het te make met die kennis van God en dat jy ogv daardie kennis van God ook vir God vertrou. Jy neem hierdie Bybelboodskap vir waar!

Liefde het te make met ’n groot stuk omgee in jou hart. Liefde is daardie warm klop van hierdie hart van jou wat deur die wedergeboorte herskep is.

Hoop weer het te make met die toekoms. Ek sien kans vir môre omdat ek weet dat God alreeds daar in môre is.

Hier kry elkeen egter ’n bepaalde aksent by, dit word verder getipeer:
• Die werk van julle geloof
• Die inspanning van julle liefde
• en die volharding van julle hoop.

Ons kyk na hulle elkeen:

1. Die werk van julle geloof.
Die Grieks gebruik die woord ἔργου (ergou). Dit is ‘n woord vir gewone werk. Dit is arbeid. Dit gaan om diens wat gelewer word.
Soos jou werk met die graaf of die skottelgoed of ….

Daarmee word vir ons gesê dat geloof altyd gestalte kry in werke. Daar gebeur iets as daar geloof is. Waar geloof is, daar word iets gedoen.

Dit is op hierdie punt dat dit lyk of Paulus en Jakobus oënskynlik van mekaar verskil.
Paulus sê: “Jy kom in die hemel op grond van jou geloof alleen, sonder die werke.”
Jakobus sê: “Wat help dit dat jy sê jy glo, maar jou dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red”.
Bots dit met mekaar?
Nee!
Al wat Jakobus sê, en wat Paulus ook hier sê is:
Daar is nie so iets soos geloof sonder dat daar werke by is nie.

Jy is gelowige of nie.
Jy doen geloofswerke of nie.
Jy is deel van Jesus se bediening of nie.

En nou sê ek nie jy moet heeltyd op sending-uitreike wees nie.
Om net jou kinders mooi op te voed en te versorg is deel van die werke.
Om vir jou gemeente en kleinkinders te bid is deel van die werk.
Om jou hand vir ’n Tiendemaand in jou sak te steek is deel van die geloofswerke.
Om volgende week met die laaste gemeentefees saam te kom braai en ander te bemoedig is deel van jou geloofswerk.

Geloof is altyd gekoppel aan ’n werk/werke.

2. Die inspanning van julle liefde.
Die liefde waarvan Paulus hier praat is die onbaatsugtige agape-liefde, nie boetie-en-sussie-liefde of erotiese liefde nie.
Dit is Goddelike kruisliefde wat ander se belange bo jou eie stel.
Maar hier word dit ook gekwalifiseer met die Grieks: κόπου, “kopou”. Inspanning.
Dit is liefde wat veeleisend is. Dit tap alle krag uit jou uit.

Tydens my studiejare het ek op Yskor en later in Wellington op ‘n wynplaas gewerk.
Dit was veeleisend. Veral die tinskêre van Yskor. Dit het al jou energie gedreineer.
Ek onthou hoe tannie Rina (Ansa Tolmie se moeder) my die oggend wakker maak met my mondigwording. Toe lê ek nog dwars op die bed, met my werksklere aan soos ek die vorige aand total uitgeput van Yskor af gekom het.

Die belangrike vraag is: Waarom het ek my so ingespan? Om ‘n motor te koop dat ek by my meisie op Wellington kon uitkom. En sy was die moeite werd! En is nog steeds! (Maar sy sing koor by Langenhovenpark se Kerssangdiens vanoggend.)
Liefde het my gemotiveer.
En niks was te veel gevra nie.
Dit is liefde wat homself ooreis – om ‘n doel te bereik – om vir ander met liefde te sorg.

3. Die volharding van julle hoop.
Hoop vertrou die Here vir môre.
In Grieks word gepraat van die hupomones (ὑπομονῆς) van die hoop.
Ons kan dit vertaal met volharding of standvastigheid.
Dit is om nie hierdie sekerheid te laat vaar nie.
Dit is om nie sommer handdoek in te gooi nie.
Dit is om vas te hou. Nie aan hoop nie, maar aan die God van die hoop omdat jy weet dat Hy betroubaar is.

Vir ons in SA is dit belangrik.
Die God wat die verbondswater op jou voorkop laat drup het, is die God wat ook môre en oormôre vir jou sal sorg. Volhard daarin!

So: Dit is wat God alles in hierdie gelowiges van Tessalonika se lewe gedoen het.
En dit is wat die Here deur sy Heilige Gees (sien vers 6) besig is om in jou en my lewe te doen.

Dit is die leidrade wat maak dat ons nie anders kan as om God te dank nie.
Maar dit spoor ons ook aan om daarmee voort te gaan.

Dit is interessant hoe hierdie drie fasette in verskillende rigtings kyk:
Met die geloof wat terugkyk en die kruis en oop graf sien.
Met die liefde wat opkyk en God se liefde sien en dan afkyk en diensgeleenthede sien.
Met hoop wat vorentoe kyk en nie moedeloos raak nie.

Vir Paulus is dit meer as net mooi eienskappe wat God uitdeel.
Dit is vir hom die tekens van God se liefdevolle uitverkiesing.

Ek sluit af:

Paulus werk oral met die skema van navolging.
Self moes hy vir Jesus, die Kurios, leer volg. Jesus loop voor. En Paulus boots Jesus na. (Die Grieks gebruik die woord “mimiek” wat ons ook ken.) Paulus doen Jesus na!
Die gelowiges van Tessalonika het toe vir hom begin volg.
Eintlik het hulle maar net in sy voetspore geloop wat eerste deur Jesus uitgetrap is.

Vers 6: En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.

En die mense rondom die Tessalonisense het (op hulle beurt) gesien wat aan die gebeur is.

Hulle het geloof, liefde en hoop gesien
Hulle sien hierdie mense wat totaal verrassend vreemd en anders optree.
Hulle het ten diepste die Kurios gesien!

En wat het daardie toeskouers gedoen?

So het julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. (:7)

Eendjies, eendjies stap in ’n ry… Een, twee, drie vier stap hul verby…

Dankfees help ons om al God se werk in ons en rondom ons raak te sien.
Dankfees gaan dus nie net oor alles wat God objektief vir ons gedoen het nie,
maar ook oor dit wat Hy in ons doen.
En dan dank ons God in gebed daarvoor.

Want ons weet dat ons geloof oorgaan in werke.
En ons liefde word selfopofferende inspannende sorg.
En ons kyk na vore en vertrou God vir elke dag verder – tot by jou dood of by die wederkoms.
Ons laat dit nie los!

En ….. jy nooi al die ander eendjies om saam te kom stap!

Amen

Prediker: Ds Retief Botha. Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.