LeeuDie beeld wat jy van God het, is baie belangrik.

As jy ‘n beeld van God het as die kwaai God deur woeste wenkbroue na jou loer en soek na wraak, dan gaan jy vir Hom bang wees.

As jy daarenteen ‘n beeld van God het as ‘n liefdevolle en deernisvolle God, dan gaan daar by jou ‘n groter toegeneentheid tot Hom wees.

Vir die eerste God gaan jy wegskram en probeer om maar liewer so ver moontlik van Hom af te bly. Maar dit sal ‘n vreesverhouding wees eerder as ‘n liefdesverhouding

Vir die tweede God sal jy nie te bang wees nie. Hy is dan liefde! Maar dit kan ook wees dat jy te gemaklik en familiêr met daardie sagte God raak.

Ek wil hierdie twee Godsbeelde vergelyk met ‘n leeu en ‘n teddiebeer.

Vir ‘n leeu, daar in die natuur, het jy die grootste ontsag. Jy kan Hom nog bewonder, maar jy bly op ‘n veilige afstand. Hy is te angswekkend om dit te naby aan hom of aan sy verkeerde kant te waag.

Die teddiebeer is weer mak. Hy is drukbaar. Manipuleerbaar. Jy hou van hom naby jou en hy troos ook, maar hy is eintlik niks werd nie. Hy leef nie.

Hy kan nie jou lewe regtig beïnvloed nie.

Dit sou ‘n baie interessante studie wees om mense se godsbeelde na te gaan en dan te probeer vasstel waar die godsbeelde ontstaan het.

Dit het blykbaar baie te make met jou grootword en jou ervaring van persone naby aan jou.

Maar, kom ons los die agtergrond, want die Woord wil vandag vir ons help om ons Godsbeeld, hoe eensydig en skeef dit ookal mag wees, bietjie reg te stel.

Michael Gallager skryf ‘n boek oor die God waarin hy NIE glo nie.

Hy sluit die boek af met ‘n paar vals prentjies van God:

The God who pounces on sinners.

The God who doesn’t need humanity.

The God who doesn’t care about Calcutta.

The God who despises human happiness.

The God who says, “You will pay for that!”

The God who has no emotions.

The God who would only reluctantly become a man…

 

Wat is Jeremia se prentjie van God?

Net eers ‘n stukkie agtergrond:

Vers 6 vertel dat die Woord van God tot Jeremia kom in die tyd van koning Josia.

Dit was ‘n wonderlike tyd. Dit was die tyd van die groot herlewing. Dit is die tyd toe die tempel so deeglik skoongemaak is van al die afgodiese gemors (waaroor ds André onlangs gepreek het uit 2 Kronieke 29).

Hierdie teks sê vir ons dat die herlewing nie lank gehou het nie.

Toe hoereer die volk weer agter allerlei ander afgode aan.

Ek gebruik die term “hoereer” want ons kry hier ‘n sterk beeldende appél wat juis met die gedagte werk.

Dit is die verhaal van God wat hartstogtelik lief is vir sy volk. En nou het hulle al weer hul rug op Hom gedraai.

Hulle is soos die profeet Hosea se vrou wat toe mos ‘n hoer word en dan kry Hosea die opdrag om haar terug te neem.

Net so roep God na sy kinders: “Kom terug, kinders wat afgedwaal het!”

Dit is ‘n refrein wat in die kort stukkie van ons gelese gedeelte drie maal uitgeroep word.

God wil sy kinders terug hê ten alle koste.

Al het hulle ook wat gedoen!

Jeremia verwys dan na God se reël in Deut 24 dat, as ‘n vrou ontrou aan haar man geword het, sy nie teruggeneem mag word nie.

Dit sou die land “verontreinig” en ‘n kultuur van losse sedes skep.

In Jer 3 kry ons dat God, ten spyte van die reël, tog sy volk wil terugneem.

Al het hulle agter ander Gode aan ge-“flerrie”, is God bereid om hulle terug te neem.

God is so hartstogtelik lief vir hierdie kinders van Hom, dat Hy bereid is om sy eie reëls te breek. (NB!) Die reël van doodslag is dan ook so gebreek met die kruisdood van Christus.

As jy vandag vir jou self kan sien as iemand wat van God af weggedwaal het – bietjie verder of nader – dan moet jy hoor hoe lief God jou het.

Hy soebat: “Kom terug!”

En Hy sal selfs sy eie reëls breek om jou terug te verwelkom.

Dit is dieselfde taal wat ons in Hosea 11 kry:

Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”

Kom ons noem dit met ‘n baie besonderse term:

Dit is ‘n passievolle God!

Die woord “passie” het vir ons twee sterk betekenisse gekry:

Dit is God!

Dit is die pa wat sy verlore seun inwag en terug verwelkom sonder verwyte en dan die fees begin uitrol.

Dit is waaroor daar verder in Jer 3 (:16-19) vertel word – hoe omvattend God vir sy kinders wil sorg:

Hoor jy die passie? Hoor jy die omgee? Hoor jy die liefdevolle sorg?

Hoor jy ook van liefde wat oor teenstand en sonde triomfeer?

Hoor jy die verhaal van lydenstyd waar God bereid is om op te offer?

‘n God wat nie oor woeste wenkbrou na jou gluur nie,

… maar deur bloed en verguising

Waarom sou jy dan rondloop met ‘n skewe prentjie van die wrede leeu / wraaksugtige God?

Maar hier is ‘n tweede prentjie – van wie God nie is nie:

(Ds Andre sê dit is soos om met ‘n bi-vokale lens te kyk en twee kante van God raak te sien.)

God is nie die teddiebeer wat net vriendelik is nie – wat NIKS van jou verwag nie.

Het jy al ‘n veeleisende teddiebeer gesien? Nee!

Het jy al ‘n teddiebeer gesien wat vir jou opdragte gee? Nee!

God is nie ‘n teddiebeer!

God verwag ‘n reaksie op sy oproep: “Kom terug…!”

God vra ‘n omdraai van wegloopkinders.

God vra ‘n bekering.

En dit is nie iets wat goedkoop is nie.

Genade word duur verkry.

Genade vra ‘n duur prys.

Dit vra passievolle toewyding:

Jer 4:1, 2:

As jy jou wil bekeer, Israel, moet jy jou tot My bekeer, sê die Here. As jy jou afskuwelike afgode voor My wegvat, moet jy nie meer dwaal nie.

Wanneer jy ‘n eed aflê en sê: “So seker as die Here leef,” moet dit in waarheid wees, moet jy reg laat geskied en reg doen.

Dan sal die nasies hulle seën van die Here verwag en in Hom roem.”

God verwag nie teddiebeer-min nie.

God is nie ‘n nice God wat niks vra nie.

Hy vra ‘n duur dankbaarheidslewe.

Hy dans nie na almal se giere nie.

Hy word gedien.

Hy word gedissiplineerd en met ‘n gehoorsaamheidslewe gedien.

Dit is wat God vra. Sy wil is nie onduidelik nie.

Hy het dit uitgespel in die Tien Gebooie of die samevattende liefdesgebod.

As jy nie hou van dissipline nie.   Kry vir jou ‘n ander God!

Kry vir jou ‘n God wat net nice is. Maar dit is nie ons God nie.

So, jy sien as jy deur altwee die bi-vokale van die lens kyk, dan sien jy God se liefdesorg.

Maar jy sien ook die God met die groot eise van ‘n radikale, selfopofferende gehoorsame liefde.

 

Ek sluit:

Wanneer jy God só sien, dan verander dit ook jou lewe.

Dan kan jy nie meer passieloos deur die lewe gaan nie.

Dan gee jy om vir Calcutta … en Mangaung, vir die Kinderhuis en die haweloses.

Dan dra jy daardie omgee en passie in na jou eie huis – na jou eggenoot en jou kinders.

Dan verkleineer en verneder jy nie ander nie.

… want jou God is anders!

Dan begin jy self met deernis te kyk na die ou by jou werk wat jou so mateloos irriteer.

… want jou God is anders!

Dan sal die Heilige Gees jou ook help om jou kruis op te neem en Christus te volg.

Dan raak dissipline nie vir jou ‘n vloekwoord nie.

… want jou God is anders!

Sy menswording was vir Hom ‘n vreugdevolle liefdespassie.

Selfs die kruisweg was nie vir Hom te veel gevra nie.

Kyk mooi deur altwee die vokaal se lense:

God met die genade en liefde.

God wat vreeslik baie van jou vra.

Dit is ons anderse God – met die passie!

Amen

 

Gebed

Here, Ons hou van ‘n oproep van te kom – as daar vreugde en wins in is.

Maar as dit baie opoffering en ‘n radikale bekering vra, dan deins ons terug.

Ons bekering het dikwels grense wat net strek tot by wat ons dink vir U aanvaarbaar sal wees sonder om groot in die moeilikheid te kom.

Here, maar ons hor vandag weer U oproep: “Kom terug, kinders wat afgedwaal het.”

En op een of ander manier het ons almal êrens weer op ‘n afdraai pad beland.

Vergewe ons!

Trek ons nou weer na U toe terug. Want by U is dit die beste!

Ons hoor U “Kom!”

Hier kom ons weer na U toe.   Dankie dat U Gees ons ook nou daarin lei……

Die reaksie van sommiges is in vers 22 opgeteken:

“Kyk ons kom na U toe,

Want U is die Here ons God.”