Inleidend:

  1. Vanoggend se boodskap gaan oor die doop. Soos die meeste van julle waarskynlik weet, het ons gemeente ’n bestuursraad wat oorhoofs kyk na alles wat in die gemeente gebeur. Een van die groot gevare met bestuursrade en kerkrade is dat dit baie maklik maar bloot administratiewe liggame kan word, waar dit net gaan oor inkomste en uitgawes, praktiese besluite. Daarom probeer ons altyd by ons bestuursraad doelbewus om meer as net sulke sake te hanteer. En toe dit gebeur dat daar ’n navraag oor die doop op ons tafel kom, het ons besluit om nie maar sommer net ’n vinnige antwoord te gee nie, maar om weer ’n slag diep oor die doop te gaan dink. En die belangrikste vraag wat ons gevra het: Wat sê die Bybel, spesifiek dan die Nuwe Testament, oor die doop? Die uiteinde van ons besinning het julle in die stuk wat by die deure beskikbaar is. Vanoggend se boodskap sluit daarby aan.
  2. Gewoonlik werk dit so in die kerk dat lidmate die klaar afgehandelde produk kry. Julle hoor ’n preek, julle woon ’n erediens, ’n doopgeleentheid of ’n nagmaal of ’n begrafnis by, maar julle weet nie eintlik wat alles vooraf gebeur het en al die baie keuses wat vooraf gemaak is nie. Julle kom beleef eintlik net die voorbereide produk. Dit is soos wanneer jy na ’n koffiewinkel gaan: Die kelner bring vir jou die koffie en die sny koek; jy het so min of meer ’n idee van wat alles vooraf gebeur het, maar dit wat op jou bordjie lê, is ’n stuk koek wat klaar gebak en gesny is. Op ’n manier is dit ook wat in die kerk gebeur: As julle Sondae kerk toe kom, kry julle die stuk koek klaar voorberei. Jy het vaagweg ’n idee van hoe die kerk en die dominee by alles uitgekom het, maar jy het nog nooit regtig diep gaan dink oor die proses en die bestanddele nie. En dit is wat ek vanoggend wil doen: Ek wil met julle praat oor die bestanddele van die sny koek, van die doop; wat dit is wat ons alles in die Bybel kry en “meng” en “bak” tot ons by die stuk koek uitkom.

Ek kan nie vanoggend oor alles praat nie. Lees gerus die stuk wat by die deure beskikbaar is, as julle in meer belangstel. Maar ek gaan vier van wat ek dink die belangrike bestanddele is, uithaal.

Kom ons begin met ’n heel konkrete vraag: Wanneer het jy lid geword van die kerk van Christus? Luister mooi na die vraag. Ek vra nie wanneer jy lid geword het van die NG Kerk, of van hierdie gemeente, of van enige ander kerk nie. Ek vra wanneer het jy lid geword van die kerk van Christus.

Kom ons kyk wat sê die Bybel. Wanneer word mense lid van die kerk van Christus? Ons Skriflesing is Hand. 16:13-15.

Handelinge 16:13-15 vertel vir ons van Paulus se tweede sendingreis; hoe hy sy sendingwerk in Filippi begin het. Nou moet julle onthou: Paulus het met ’n plan gewerk. As hy by ’n nuwe stad gekom het, het hy altyd heel eerste na die Jode gaan soek, want hulle het mos al klaar die Ou Testament geken, geweet van die Messias wat op pad is. En waar kry jy die meeste Jode bymekaar? Vrydagaand wanneer die Sabbat begin. In Filippi doen hy presies dieselfde. Hy gaan soek die Jode op. En dan loop hy vir Lidia raak; sy was ’n heidin wat daardie stadium reeds by die Jodedom aangesluit het. Sy was ’n ryk sakevrou wat pers wolmateriaal verkoop het. Pers was die kleur wat destyds die moeilikste was om te maak. In ons taal: Miskien ’n sakevrou wat ’n boetiek besit waar luukse klere verkoop word.

Hier is baie interessante sake in hierdie stuk, maar kom ons vra net die vraag: Wanneer het Lidia lid geword van die kerk van Christus?

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou ’n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.

 

Wanneer het Lidia lid geword van die kerk van Christus? Wat sê hierdie gedeelte? Toe sy gedoop is. M.a.w. die doop is die manier waarop mense lid word van die kerk van die Christus. Hoekom juis die doop? Hoekom nie ’n ander manier nie? Hoekom het Paulus nie byvoorbeeld ’n stuk papirus gevat en gesê: “Teken hier Lidia, en dan sal ek en die ander teken; dit is die bewys dat jy nou lid is van die kerk van Christus”. Twee redes:

So: Wanneer het Lidia lid geword van die kerk van Christus? Toe sy gedoop is. Wanneer het jy lid geword van die kerk van Christus? Toe jy gedoop is. Hoe voel julle oor die volgende sinnetjie? Mense word lid van die kerk van Christus wanneer hulle gedoop word. Klink na die regte antwoord, nè. Maar dit is nie 100% reg nie. As ons nou in ’n Teologie-mondeling gesit het, het ons nog net 50% gekry. Hoekom? Want dit is net ’n deel van die antwoord. Kyk na die laaste stukkie van v. 14: Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Daarmee wil Lukas vir ons sê om lid te word van die kerk van Christus is nie maar bloot ons eie keuse nie. Ons word lid van Christus se kerk omdat God ons deel maak van sy kerk. En dit – lees ons later in die Bybel – gebeur eintlik al lank voordat ons gebore word. Luister na Ef. 1:4-5:

4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

Wanneer het jy deel geword van die kerk van Christus? Reeds voordat God die wêreld geskep het. Wat dan van die doop? As ons 100% in die mondeling sou wou kry, moet ons dan liewer sê: Met ons doop word ons sigbaar deel van die kerk van Christus. Toe jy gedoop is, het jy sigbaar deel geword van die kerk van Christus.

Ons het dus nou twee bestanddele van ons sny koek:

Derde bestanddeel: Die doop is die inlywing/inenting in Christus

Dit gaan nou nie oor inenting teen siektes nie, maar oor die inenting van plante/bome. Stukkie van een boom word ingeplant op ’n ander boom se stam; word deel van mekaar; die stukkie wat ingeplant word, word nou gevoed deur die stam en die wortels van die ander plant.

Paulus sê dit is wat die doop doen: Dit ent ons in, in die boom in – die liggaam van Christus. Romeine 6:

3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.

Kyk mooi na die woorde: “in Christus Jesus in gedoop”. Letterlik staan daar: Ons is in Christus in gedoop. Die doop maak ons deel van die boom van Christus. Wat met die boom gebeur, gebeur met ons. Christus het gesterf en opgestaan; deur die doop word ons in Hom ingelyf; daarom het ons saam met Hom gesterf en saam met Hom opgestaan.

Die grootste fout wat ons maak, is om aan die doop te dink asof dit maar net ’n teken is. Die doel van ’n teken, is om ons in ’n spesifieke rigting te wys. Die teken “lughawe” wys ons hoe om te ry om by die lughawe uit te kom. So dink ons baie keer oor die doop. Dit wys ons maar net in die regte rigting: As jy gered wil word, glo in Christus. Maar Paulus stel dit baie sterker is dit. Die doop maak ons deel van Christus se liggaam; ons het as ware aan sy liggaam vasgegroei: die liggaam wat daar aan die kruis gehang het, in die graf gelê het en opgestaan het, maar ook sy geestelike liggaam, sy kerk. Die doop lyf ons in, ent ons in Christus in.

Vierde bestanddeel: Die doop laat ons deel kry aan Christus se oorwinning

Dit is ’n gedagte wat ons veral in die Kolossensebrief kry. In die gemeente(s) aan wie dié brief geskryf is, was daar sommige Christene wat gedink het dat Christus nie genoeg is nie: Deur Hom het ons baie gekry, maar nie alles. Hulle was veral bekommerd oor die geestelike magte – engele, duiwels, ander geestelike magte – wat hulle gedink het ’n beheer oor hulle kon kry. En die oplossing was: Glo in Christus, maar doen ekstra dinge; dinge soos die besnydenis, vermy sekere kossoorte, sonder jouself gereeld af, bewys eer aan die geestelike magte. Kolossense se boodskap is: Dis snert. In Christus het julle alles. En wat daardie geestelike magte betref: Toe Christus gesterf het, het Hy hulle mag gebreek. In Kol 2:12 en verder-aan praat hy dan oor die doop, en die boodskap is: Toe julle gedoop is, het julle een geword met Christus, het ons saam met Hom gesterf en opgestaan (dit het ons mos reeds gehoor), maar dan kom nog iets by. Toe het julle ook deel gekry aan sy oorwinning oor die bose magte. Kyk na v. 15:

Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.

Die agtergrond hiervan is die triomftogte van die generaals deur die stad Rome. Toepassing op Christus se dood: Sy dood is God se roemryke oorwinningstog deur die wêreld, met die geestelike magte wat as bedremmelde gevangenes agter hom moet aanstap, op pad na hulle finale vernietiging. Deur die doop het ons deel aan Christus se oorwinning. Die doop gaan dus nie net oor ons verlossing, ons deelhê aan die ewige lewe nie, maar is ook heel konkreet: Die doop maak dat ons saam met ons generaal, Christus, in ’n triomftog deur die lewe stap. ’n Triomftog waarin almal en alles wat op die oog af sterk en magtig is bedremmeld agterna loop omdat hulle mag gebreek is en Christus op pad is om hulle finaal te vernietig.

Ons het nou vier bestanddele oor die doop uitgehaal:

Wat nou gebeur, is dat mense, kerkgenootskappe, teoloë, hierdie bestanddele gebruik om ’n siening van die doop saam te stel. Om ’n koek te bak. Nou moet julle mooi luister: Alle kerke en alle mense gaan deur hierdie proses van koekbak. Dit is nie asof ’n mens die Bybel bloot net oopmaak en daar lê die stuk koek klaar nie. Nee, ons moet die bestanddele gebruik en iets daarvan maak. En dit is nou waar die verskille tussen gelowiges en kerke inkom, want ons gebruik verskillende resepte. En die resep wat jy gebruik, bepaal hoe jou koek gaan lyk. Daar is heelwat resepte: ’n Gereformeerde resep, ’n Pinksterresep, ’n Rooms-Katolieke resep, ’n Ortodokse resep. En die resep wat jy gebruik, bepaal hoe lyk die koek wat jy bak; bepaal hoe ons prakties mense gaan doop hier in die kerk. In die verlede was daar dikwels groot konflik oor die doop. En dikwels was die idee: My resep is die enigste regte resep; enige ander resep is ’n valse leer en mense wat dit volg, is eintlik maar op pad hel toe …

Dit is nie die pad wat ons as gemeente wil stap nie. Ons wil nie ander mense veroordeel wat ander resepte gebruik as hulle oor die doop dink nie; ons gaan ook nie ons siening op hulle afforseer en maak asof hulle niks weet nie. Maar ons gaan tog ook sê dat ons in ons tradisie van die gereformeerde resep gebruik maak. En in die gereformeerde resep is daar twee goed wat baie belangrik is:

  1. Vir ons is dit baie belangrik dat God die inisiatief neem. Onthou julle nog v. 15 daar heel aan die begin; wat met Lidia gebeur het? Die klem op die inisiatief van God gaan terug na die tyd van Martin Luther, en is as’t ware deel van ons kerklike DNA. Julle kom dit waarskynlik nie meer agter nie, maar dit is onderliggend aan elke preek wat julle elke Sondag in hierdie kerk hoor.
  2. Die verbond is in ons tradisie baie belangrik. Ds Retief het onlangs daaroor gepreek: eerste verbond, ’n nuwe verbond … Daarom sien ons byvoorbeeld ooreenkomste raak tussen die ou verbond en die nuwe verbond: Soos daardie vraag wat ek aan die begin gevra het: Hoe het mense sigbaar deel geword van God se volk in die Ou Testament? Deur die besnydenis. Dan kom ons agter . die doop doen eintlik presies dieselfde in die nuwe verbond.

Met die gereformeerde resep kom ons dus by die verbondsdoop of dan, in die meste gevalle, die kinderdoop uit. Ander gelowiges en ander kerke gebruik ander resepte en kom by ander dooppraktyke uit, byvoorbeeld belydenisdoop. Ons gaan nie met hulle baklei nie; ons gaan nie sê hulle is op pad hel toe of so nie, maar ons vra ook respek vir ons tradisie, vir ons resep.

’n Laaste vraag: Wat vat ons vanoggend saam huis toe? In die afkondigingsblaadjie het ek by vandag se tema net vier woorde laat skryf: Die doop – ons troos. Hoe het ek daarby uitgekom? Toe ek vir vanoggend se preek voorberei het, het ek om een of ander rede begin teruggedink aan my eie doop. Ek is sestig jaar gelede gedoop; in Keetmanshoop waar my pa die dominee was. Ek kan natuurlik niks daarvan onthou nie. My ma het net later vir my vertel dit was nie ’n baie stigtelike geleentheid nie. Terwyl my pa my gedoop het, het ek geskree dat dit bars en my een babakousie geskop dat dit doer trek. M.a.w., ek het nie ’n “clue” gehad van wat daar aan die gang was nie. En tog is juis so iets vir my binne ons gereformeerde “resep” ’n wonderlike vertroosting: Voordat ek vir God kon kies, het Hy my gekies. Ek het nie ’n “clue” gehad van wat aangaan nie, maar God het presies geweet wat Hy doen. Hy het presies geweet wie Francois Tolmie is en wat ek alles nog in my lewe sou aanvang. Hy het geweet van al die verkeerde dinge wat ek sou doen, al die opstandigheid, die afvalligheid, die kere wat ek sou afdwaal, maar Hy het my nogtans gekies. Hoekom? Want Hy is ’n Verbondsgod. Hy hou by sy belofte aan Abraham, Isak en Jakob. Iewers sê Paulus: God het ons met Homself versoen toe ons nog sy vyande was. En dit is wat my doop vir my beteken. Dit troos my.

En nou gaan ons die voorreg hê om te sien hoe twee babatjies gedoop gaan word. Hulle gaan nie ’n “clue” hê wat aan die gang is nie, maar God weet presies wat Hy nou gaan doen.