Ongebore Die Here werk op ’n besondere manier met ons as gemeente. So het die Here ons gelei in ’n hele reeks preke oor die uitdaging om te oorleef in tye van nood.  Sonder dat ons dit doelbewus so beplan het tussen ons as predikers. (Sien op webwerf.)

Die lewe van gelowiges is net so uitdagend as ander mense s’n, maar dan maak geloof tog ’n verskil vir ons om te kan oorleef.

Noodsituasies is God se spesialiteite.

So het dr André verlede week uit Ps 46 gepreek oor God as noodwiel en stuurwiel.

Hy wil nie net vir ons lei deur Sy Gees nie.  Hy wil ook ons noodwiel wees as ons skielik met ’n pap wiel gestrand lang die lewenspad staan.

So hoor ons weer die bekende vers 2:

“God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”

En toe lees ons in vers 9:

“Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende (groot) dinge Hy op die aarde tot stand bring…”

Wat die Psalm dus wil sê is dat ons ’n slaggie mooi moet kyk.

Ons moet kyk na wat God doen en gedoen het.

En dit wat ons raaksien sal ons op ’n besonderse reis neem.

Dit is ’n reis van verwondering en van geloof.

En as daar iets is wat ons vandag nodig het, dan is dit juis hierdie twee dinge:

En dit het gemaak dat ek weer verder gaan lees het en by Psalm 139 uitgekom het.

 

Skriflesing:  Ps 139

“Die einde van teologie ….   verwondering en … God!”

Wat is verwondering?

Dit is om oopmond, grootoog oorstelp te staan.

En jy wonder: Kan dit waar wees?

En jy weet:  Dit is ’n wonderwerk!

Dit is ongewoon!  Dit is bo-natuurlik!

En dan vind ons ’n refrein van verwondering in Psalm 139:

“Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.”  (:14)

“Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal.” (:17)

“Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.”  (:6)

Dit is die taal van verwondering!

Ek dink ons het die vermoë tot verwondering verloor.

Wat ons tans verwonder is miskien nog iets soos tegnologie.

Maar dit is ook maar net die maaksels van sondige mense.

Dan sal menslike prestasies ons ook verwonderd kan laat.

Die Olimpiese Spele wat nou begin het, sal nogal vir ons verwonderd laat.

Maar miskien kyk ons te naby aan onsself op soek na wonders.

Miskien moet ons leer om baie verder te kyk.

Want rondom ons raak ons maar net by herhaling pynlik bewus van mislukkings en feilbaarheid.

Ons sal moet leer om verder te kyk … hoër te kyk!

En uiteindelik is dit wat God gedoen het en steeds doen, wat nogal die grootste vermoë het om ons oopmond te laat staan.

En hier dink ons dadelik aan die skepping.

En moet ons miskien ’n skeppingspsalm lees – sodat die Psalm kan help om soos met ’n teleskoop vir God duideliker te kan raaksien.

Psalm 139 word geklassifiseer as so ’n natuurpsalm.

En die Bybelse natuurpsalms het die gelowiges in Palestina gehelp om weg te kom van die natuurgodsdienste van daardie tyd.

Want in die natuurgodsdienste was dit die natuurgode wat telkens die lens van die teleskoop volgesit het:

Die hoofgod was El, met al sy portefeulje-gode onder hom.

Hierdie hemel vol gode was ook ’n plek vol van afguns en stryd. Elke god het probeer om homself te laat geld ten koste van sy kollegas in die ander “portefeuljes”.

En mense sou nie anders kon as om paniekerig te raak in die teenwoordigheid van hierdie wispelturige en wraaksugtige gode nie.

Per slot van sake het die antieke panteon (gallery van gode) hulle nie veel gesteur aan mense nie.  Mense was eintlik maar net die “voer vir die gode”.

Trouens, as die panteon geskilder is, dan is dit gedoen met die rugkant van die gode na die aarde gekeer.

Hierteenoor word die Here Jahwe geteken as die God van genade, liefde, sorg…

…. ja ook die Skeppergod wat so wonderlik geskep het.

Sy gesig is na Sy mense gekeer.

En nou wonder ek wat sou die Psalmskrywers alles gesê het as hulle iets geweet het van die grootsheid van die uitdyende heelal met sy miljoene melkwegstelsels en ruimtes van onberekenbare ligjare.  As hulle maar Hubble se foto’s vandag kon sien.

Wat sou hulle alles kon sing oor die wonderwêreld van die molekules en atome,

van die mikrobiologie en fisika ….

Maar hierdie is ’n natuurpsalm wat nie die gewone van die kosmos met sy biologie en natuurskoon besing nie.

Die digter begin wel om na homself te kyk.  Hy begin by die fisiologie – waarvan hy waarskynlik heelwat minder verstaan het as ons moderne fisiologie en mediese wetenskap.

Vers 14 is die loflied op hierdie God wat hom so wonderlik geskep het:

 “Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:  geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.”

Die wonder van die lewe, van die nuwe lewe, van sy eie lewe – maak dat die digter begin sing.

Maar die digter kyk nie bloot wetenskaplik na die wonder van sy eie menslike bestaan nie.

Hy sien sy ontstaan en sy bestaan in die nouste verhouding met God.

 

En so gaan die Psalm dan daartoe oor om oor hierdie wonder-God te handel.

Hy beklemtoon 3 aspekte van die Here:

 

Daaroor kan ons ook getuig:

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. (:1, 2)

Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.”  (:4)

Dit is die wonder-God met die alwetendheid.

Jy kan ook niks vir Hom wegsteek nie.  Hy het sonar-oë.

Dit is so gerusstellend:

As jy in die nood is hoef jy nie eers vir God daaroor ‘n inligtingsnota te stuur nie.

As mense diep ontsteld is, sal hulle ook soms sê:

“Ek kry dit nie reg om te bid nie.”

En dan die troos om vir hulle te verseker:

“Jy hoef  nie…!  God weet klaar!

En sy Gees tree self al vir jou in met die “onuitspreeklike versugtinge”.”  (Rom 8:26)

 

Deel van God se alwetendheid is dan juis dat Hy alomteenwoordig is.

Ons God kan nie afgesonder word in ’n kerker of kapélletjie of selfs in jou radeloosheid nie.

Vers 5:  “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.”

Dit is militêre terme soos van ’n leërmag wat ’n stad omsingel en uiteindelik in besit neem.

So is God by jou teenwoordig.

“Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?

Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.” (:7)

Ons sou wou vra: Nou waarom sou jy so dom wees om vir God te wou wegvlug?

God se lig-teenwoordigheid skyn oral in … in jou vreugde en in jou trauma.

En Hy is hoopgewend teenwoordig.

Nuwe-Testamenties het Hy juis wonderlik verrasend deur die Heilige Gees in ons as gelowiges kom woon.

 

As God alwetend en alomteenwoordig was, maar Hy was nie in staat om ’n verskil te maak nie, dan sou dit vir die gelowige niks beteken nie.

Gelukkig het God die spiere daarvoor.

“Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste

ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. (: 9,10)

En vers 5 het al gesê:  “U neem my in besit”.

In die Bybel is die regterhand simbool van krag.

Moet nooit bekommerd wees dat God nie ’n sterk regterhand het nie.

 

En so formuleer die Psalmdigter sy teologie.

Wat is “teo-logie”?

Teologie is dit wat ons oor God glo.

Letterlik: Theos (God) – logos (woorde)

Maw:  Woorde oor God!

En dit is waarmee die kerk hom teologies besig gehou het oor eeue heen.

Tradisioneel het die teoloë lyste gemaak oor God se eienskappe.

(Sien Bavinck se Gereformeerde Dogmatiek, Deel II oor God se eienskappe. 1976)

En dan sou die gevaar wees dat ons met groot bravade kon dink:

“Nou weet ek darem wie God is.”

So asof dit vir my so bietjie van ’n greep op God kon gee.

Maar luister nou hierna:

“Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal

As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.”  (:17, 18)

God en sy gedagtes fassineer die digter.

En uiteraard is God se gedagtes so ontelbaar soos die sandkorrels op die strande.

 

Maar, sê die digter, daar kan ’n punt kom dat ek daarmee klaar raak.

Miskien is dit as jy al die teologiese werke oor God gelees het.

Miskien is dit wanneer jy al jou akademiese lysies oor God se eienskappe gemaak het.

Wat dan?

Wat bly dan vir ons oor?

Hy sê:  Dan, by daardie punt, wanneer ek dink ek het God nou mooi sistematies hier bo in my brein se boksie ingepas … wat dan daarna?

Hy sê: Dan het jy nog nie met God klaargespeel nie.

Dan kom jy by module twee:  By God self!

Nie net kennis oor God nie, maar God self!

En skielik sien jy nie akademese formulerings oor God nie, maar kyk jy in die oë van ’n asemrowende God.

En Hy nooi jou in tot ’n verhouding.

En Hy nooi jou in tot ’n vertroue in Hom….

 

En dit was vir my mooi:

Die eerste sinnetjie voordat Bavinck oor God (en Sy eienskappe) begin nadink is:

 “Het mysterie is het levenselement der dogmatiek.”  (of teologie)

’n Misterie is wanneer jy eerlik genoeg is om te erken:  Ek weet nie!

Of:  Ek weet nog te min.

Of:  Ek wonder nog oor God.

Sluit af:

Maar die erkenning van God se misterie kan ons lei tot twee optredes:

  1. Verwondering oor God en
  2. ’n Loflied aan God.

Wonder oor God is goed.  Partykeer sit daar so ’n stukkie onsekerheid in “wonder”.

Maar miskien is dit die beste hoek van waaruit ons God kan nader … om nuuskierig te probeer kyk, en in jou soeke ’n misterie raak te sien.

En as jy verwonderd voor die misterie kom staan, dan kan jy verskillend reageer:

Miskien met geloof, of gehoorsaamheid, of met ’n wederliefde …

Maar PS 139 sê dan kom jy by ’n punt waar jy niks sê nie!

Hy praat nie meer teologie (Woorde oor God nie.)

Hy staan net oopmond en verwonder hom.

Hy kan nie meer teologiseer nie.

Nee!

Hy sing net!

En hy sing …. met verwondering …. oor God.

Amen

Ons gee ’n paar oomblikke stilte vir jou om in die Misterie te propeer inkyk… enHom probeer raaksien  ….