Picture1Daar is nog altyd die persepsie dat dagdroom ’n mors van tyd is.  Dis nou wanneer jou gedagtes so bietjie afdwaal in klas of by die werk en jy dink aan ander lekkerder goed.  Kinders kry gewoonlik op skool raas daaroor.  Maar as jy mooi daaroor dink, iemand moes iewers daaroor gedroom het om op die maan ’n vlag te plant, of om met ’n boot onder die water te ry of soos ’n voëltjie te kan vlieg.  Jou verbeelding speel nogal ’n baie belangrike rol in jou lewe, veral ook in die tipe drome wat jy droom.

Dromers kan partykeer vir ons weird en uitputtend wees.  Vir die meeste van ons is droom ’n mors van tyd, want die probleem met drome is dat jy iewers moet wakker skrik.  Ons is eerder realiste.  Ons boeke moet aan die einde van die maand klop en ons moet kos op ons tafels sit.  Sit en droom gaan nie aan die einde van die kwartaal vir my ’n predie gee nie.  Wel, ek het nuus vir jou, dit kan!

Daar is navorsing onlangs gedoen oor dagdromers.  En verrassend genoeg, dit het wonderlike voordele.  Ek gaan nie vanaand daaroor praat nie, maar jy kan dit bietjie gaan GOOGLE!  Dit kan jou bloeddruk verlaag, help met kreatiwiteit, soos slaap help om inligting vas te lê, kan dagdroom ook daarmee help.  Einstein het bv sy relatiwiteitsteorie ontwikkel toe hy dagdroom het hoe hy op die randjie van die heelal stap!  Dit is wetenskaplik bewys!

Maar in die praktyk, maak ons drome dikwels plek vir die realiteit.  Byvoorbeeld, baie van julle het gaan swot dit wat sin maak, daar waar jy die beste kans op ’n werk het, wat vir jou die meeste geld of geleenthede gaan bring, en nie noodwendig dit wat jy aanvanklik gedroom het om te word nie.  Ek bedoel, want hoeveel polisiemanne en brandweermanne sit vanaand hier?  Nee, ons drome maak dikwels plek vir die realiteit.  En die realiteit bepaal ons lewe!  Die vraag is net of die realiteit ons nie baie keer ontneem van ’n klomp vreugde, entoesiasme en geleenthede in die lewe nie.

Miskien het van julle hierdie fliek gesien “The secret life of Walter Mitty”.  Dit handel oor ’n ou wat vasgevang is in die realiteit van die lewe, maar wat dan ontsnap deur sy drome.  En die verrassende gevolge wat dit vir sy lewe het!  (Speel die trailer)

Opvallend vir my is die stukkie waar sy travel journal leeg is omdat hy dit nooit gewaag het om te droom nie!  En hoe sy lewe verander die oomblik as hy begin droom!

Die realiteit van hierdie verhaal was vir Jesus se dissipels eintlik oorweldigend.  ’n Groot klomp mense het na Jesus kom luister daar langs die see van Galilea waar Hy wonders gedoen en siekes gesond gemaak het.  En toe Jesus saam met sy dissipels op die berg gaan sit en so oor die skare mense kyk wat agter Hom aangestap het, besef Jesus dit is laat en die mense het die hele dag nog niks geëet nie.  En skielik tref die realiteit hulle.  Daar sit omtrent 15 000 mense (meer as wat die Cheetahs gaan kyk).   Net die mans is 5000!  Hulle het net 5 brode en 2 vissies.  Maw, daar is 1 brood vir elke 1000 mans en dan moet hulle dit nog verdeel in hulle gesinne.  Dit is die harde werklikheid!

En dan draai Jesus na Filippus met ’n vraag wat net ’n dromer in sulke omstandighede sal vra: Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?  Nou ouens, in die eerste plek is daar nie eers ’n Spar vandag in ons land wat 10 000 brode op ’n dag op sy rak het nie, wat nog te sê in daardie tyd en so laat in die aand.  Dis eintlik menslik gesproke ’n stupid vraag om te vra!  ’n Mens is half geskok dat Jesus enigsins dink daar is ’n kans om hierdie mense kos te gee. Maar Jesus vra hierdie vraag met ’n rede.  Vers 6: Hy wou sy dissipels toets.  Hy wou kyk hoe reageer hulle op die werklikheid.

En ou Filippus antwoord onmiddellik soos ons sou antwoord.  Met die realiteit.  Jesus, weet u hoeveel dit gaan kos om vir die spul mense kos te koop?   Vers 7: 200 mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen ’n stukkie brood te gee nie.  Nou 200 mense se dagloon is min of meer die bedrag wat ’n arbeider in ’n jaar sou verdien.  ’n Jaar se salaris is heeltemal te min!  Andreas merk op in 6:9: hier is ’n seuntjie met ’n bietjie kos, maar wat is dit vir so baie mense?  Met ander woorde: Here, hierdie is eintlik ’n hopelose situasie!

In terme van menslike vermoë is hierdie ’n onmoontlikheid!  Die somme klop nie!  Daarom is die dissipels se voorstel realisties gesproke die beste opsie.  Stuur hulle weg!  Gaan huistoe en sorg vir julleself!

Maar julle sien, hierdie antwoord laat nie ruimte vir verbeelding nie.  Dit laat nie ruimte vir ‘n verwagting of ’n droom van wat God kan doen nie!  Die antwoord is net vasgevang in die realiteit.  En dit is die probleem wat ons dikwels met geloof het!  Ons word die meeste van die kere so oorweldig deur die realiteit van ons situasies en omstandighede, dat ons daarin vasgevang raak en vergeet om te droom oor wat die Here kan doen!   Die gevolg is dat ons geloofsjournals baie keer, soos die ou in die fliek, leeg bly.  Ons laat geleenthede verbygaan om op geloofsreise en avonture meer van God se grootheid te ontdek.

Hoeveel keer beland ek en jy nie ook in situasies waar dit wat ons het, net heeltemal te min is vir dit wat moet gebeur nie.  Ek bedoel, ons kom in situasies wat na ‘n doodloopstraat lyk en waar ons eenvoudig nie die planne of die krag het om onsself uit die moeilikheid te kry nie.  Daar is seker honderde voorbeelde in jou lewe waar die vissis en broodjies te min was vir dit wat nou moet gebeur.  Ons laat baie keer die situasie ons oorweldig.  Ek weet nie van jou nie, maar daar is baie min kere wat ek in ’n hoek of ’n doodloopstraat is en op die bed gaan lê en droom oor watter wonderlike goed nou kan gebeur sodat ek uit die gat of die gemors kan kom.  Ons doen dit nie!  Ons sal eerder toelaat dat die moeilikheid ons passief en negatief maak.  Ouens, die punt is, ons droom nie meer van hoe die Here situasies kan omdraai nie!

Geloof het te realisties geword!  Ons glo in terme van wat vir ons haalbaar en moontlik lyk.  Die bietjie wat ons het, word afgemeet en bereken.  5 brode en twee vissies kan dalk 10 mense kos gee, nie 15 000 nie!  En die probleem is, wanneer geloof te realisties word, verloor dit sy krag en betekenis en impak in die wêreld.  En bly gelowiges se geloofsjoernale leeg.

Bertie het verlede week gepreek oor geloof wat verbeeldingryk moet wees.  Wat gelowige kinders van die Here nodig het is inderdaad ’n gelowige verbeelding!  ’n Gelowige verbeelding wat weer drome kan droom oor wat God deur ons kan doen.  ’n Gelowige verbeelding wat besef, God kan met die bietjie wat ek het, baie doen!  Meer as wat my somme sê!  Tereg is die vraag nie wat ek vir Jesus kan doen nie, maar die droom: wat kan Jesus deur my doen!

Hier kom ’n seuntjie met 5 brode en 2 vissies aan.  Hy kon sekerlik nie droom oor wat Jesus met hierdie bietjie kos kon maak nie!  En die dissipels kyk ook so half ongeloofwaardig na hierdie mannetjie.  En Jesus vat dit wat hy het, en Hy voed al daai mense!  En die bietjie word baie, so baie dat daar nog baie oorbly!

Ek vra vir jou die vraag wat ek vir myself moes vra: Kan ek en jy nie weer vir ’n slag ook dromers wees nie?  Droom vir ’n oomblik saam met my.  Wat kan die Here alles met jou bietjie doen.  Jou bietjie tyd, jou bietjie bereidwilligheid, jou bietjie geld, jou bietjie omgee, jou bietjie kan in die Here se hand ’n wonderwerk word!

Ouens, wat die kerk van die Here Jesus nodig het, is dromers.  Met respek gesê: wat Jesus nodig het, is mense wat weer drome droom oor wat God kan doen.  Mense wat aan hulle verbeelding vrye teuels gee om te droom wat God deur hulle kan doen!  Mense wat nie net vaskyk in die bietjie wat hulle het, of die bietjie wat hulle kan doen nie, maar in die geloof droom oor hoe God die bietjie baie kan maak!

Miskien het jy ook nodig om weer vir ’n slag te droom oor jou eie situasie.  Miskien moet jy in die geloof droom oor jou toekoms, maak nie saak wat mense of die koerante daarvan sê nie.  Miskien moet jy meer droom oor hoe die Here vir jou sorg, hoe die Here vir jou werk gee, hoe die Here jou in sy diens en in sy kerk en in sy koninkryk gebruik!  Want wanneer geloof te realisties word, is dit nie meer geloof nie!  Want geloof is juis om te hoop op dit wat jy nog nie sien nie.  Wanneer geloof te realisties word, dan is daar nie meer vertroue nie.  Jy sien, geloof en vertroue is die gaping tussen waar ek nou is, en waar ek glo ek môre wil wees.  Geloofsdromers kyk nie vas in dit wat hulle het nie, maar droom oor dit wat God vir hulle kan gee en deur hulle kan vermag.

Slot:

Op die ou einde gaan die storie nie net oor brood wat jy kan optel en eet nie.  Dit gaan oor Jesus as die brood van die lewe.  Die verwysing in vers  4 na die paasfees is ’n verwysing na Jesus wat die brood van die lewe is, soos Hy later verduidelik.  As jy van hierdie brood geëet het, sal jy nooit weer honger kry nie.  As jy in Jesus glo, dan gee Hy vir jou die geloof wat kan droom om berge te versit.  Al is dit so klein soos ’n mostertsaadjie.

Ons uitdaging vir die week is om te dagdroom.

Life is about courage and going into the unknown!  Droom weer vir ‘n slag!  Waag meer!  Verwag meer!  Vertroue meer!  Moenie moedeloos raak oor jou omstandighede of jou probleme of jou hartseer of jou verhoudinge nie.  Droom oor wat Jesus vir jou kan doen.  Droom oor wat Jesus deur jou kan doen.  En wanneer jy jou bietjie geloof en vertroue in God se hand sit, sal Hy jou bietjie, baie maak.  Amen

Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za