Rikus Botha                                                                                                  

3 Junie 2018

Teksgedeelte: Psalm 139:1-6 & 13-18
Tema: “Die God wat my sien”

 

Vooraf inligting oor die teks:

Voordat ons Psalm 139 saamlees vanoggend, is dit belangrik om eers na die struktuur van hierdie psalm te kyk. Daar is twee aparte boodskappe in hierdie psalm versteek en ons gaan vanoggend slegs op een van hierdie boodskappe fokus. Eerstens kan Psalm 139:1-6 en 139:13-18 saamgevoeg word aangesien dit beide handel oor God wat ons as mense ken, en ook bevestig waarom God ons so goed ken. Tweedens kan Psalm 139:7-12 en 139:19-24 saamgevoeg word aangesien dit handel oor die wete dat al probeer ons van God af vlug, al oorweldig die aardse ongeregtighede ons, sal God steeds teenwoordig bly in ons lewens (Vos 2015:192-193).

En die rede waarom ons eerder vanoggend op die eerste samevoeging gaan fokus is omdat dit vandag die eerste Sondag na Triniteit Sondag en die tweede Sondag na Pinkster is. Dit is belangrik dat ons herinner word aan die Heilige Gees wat oor ons uitgestort is. Dat ons herinner word aan God Drie-enig wat ons deel kom maak van Sy liefdesverhouding. Dit is slegs moontlik vir die Heilige Gees om deur ons te leef, en dit is slegs moontlik vir ons om deel te wees van God se liefdesverhouding omdat die Here ons so goed ken. Die fokus is dus vanoggend op Psalm 139:1-6 & 13-18 aangesien dit juis hier is waar ons opnuut weer besef tot watter mate die Here ons elkeen ken (Vos 2015:193). Kom ons lees die gedeelte saam:

 

Teksgedeelte: Psalm 139:1-6 & 13-18

1Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. 2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. 3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. 4Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. 5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

13U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. 14Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: 15geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 16U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. 17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! 18As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.

 

Diens van die Woord:

Niks is vir die Here nuut nie, maar steeds dink ons somtyds dat Hy ons nie ken nie. Dat Hy nie sal verstaan waardeur ons gaan nie, want dit is eenvoudig ongehoord van. Maar vers 1 sê vir ons “Here, U sien dwarsdeur my, U ken my”. Die Here sien dwarsdeur ons, nie in die sin dat Hy ons miskyk nie, maar in die sin dat Hy ons ten volle ken. Dat Hy ons geskape het soos ons is, nog voordat ons aanmekaargeweef is in die skoot van ons moeders.

Ek dink nie ons besef wat dit beteken nie. Ons lewe in ‘n tyd waarin alles vinnig moet gebeur. Waarin mense iets van alles weet, maar nie alles van iets nie. Ons hardloop bymekaar verby en maak nie tyd om werklik mekaar te leer ken nie. As ons net dink aan ons eie broer of suster. Aan ons ma of pa. Aan ons man of vrou. Aan ons kinders. Hoeveel weet ons werklik van mekaar. Doen ons nog moeite om ons broer of suster by te staan wanneer daar uitdagings oor hulle pad kom. Wanneer almal anders van hulle vergeet het omdat hulle dalk “anders” is as die normale?

Is ons ouers, of die mense wat ons grootgemaak het, steeds vir ons ‘n prioriteit of is dit net vir ons belangrik om elke maand die huur te betaal by ‘n huis waar hulle versorg word sodat ons net nie verder oor hulle hoef te bekommer nie? Spandeer ons nog tyd, doen ons nog moeite om vir ons man of vrou te wys dat ons nogsteeds vir hulle lief is? Dat ons hulle ken… Dat hulle nie net daar is om langs ons in die bed te lê nie, maar om liefgehê te word omdat God hulle vir ons gemaak het ten spyte van ons verskille.

Speel ons nog saam met ons kinders buite, doen ons moeite om saam met hulle die Here te leer ken, of het ons gevaal daarin om deel van hulle lewens te wees omdat ons te bang is dat hulle ons gaan weggeskuif, dalk selfs gaan ignoreer as ons te veel wil weet? Sien ons nog mekaar raak, en as ons doen, hoe sien ons mekaar raak? Want sien as die Here sê dat Hy ons sien, is dit nie net bloot ‘n belangstelling in ons lewens nie, maar dit is iets ver bo ons begrip. Vers 5 sê “Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip”.

En so is daar ook nog baie ander situasies en verhoudings wat ek kan opnoem van waar ons dink ons ken mekaar, maar slegs deur hierdie paar voorbeelde kom ons tot die besef dat om mekaar te sien beteken vir God iets heeltemal anders as wat dit vir ons beteken. Ons sien mekaar raak net om mekaar totaal en al mis te kyk. Maar God sien ons raak en Hy ken ons beter as wat ons ooit kan dink om geken te kan word. Ons elkeen het ons eie uitdagings in hierdie lewe. Ons eie emosies, bekommernisse en gedagtes. Maar ons steek dit weg omdat ons nie wil hê mense moet dit sien nie. Ons steek dit dikwels selfs vir ons vriende, ons familie of ons man of vrou weg. Ons steek dit weg vir diegene wat veronderstel is om ons te ken en vir wie ons ken (Brueggemann 1995:69).

Maar dan lees ons Psalm 139 wat handel oor die wonder van God. Dawid verwonder hom oor God. Hy skryf hierdie psalm om self weer herinner te word aan wie God is, ten spyte van die onsekerhede en teëspoed wat Hy in sy eie lewe beleef. Ten spyte van mense wat sy geloof bedreig en sy toekoms vir hom bleek laat lyk.

Die doel van hierdie psalm is nie om enige een wat dit lees angstig of bang te laat nie. Dit is juis geskrywe sodat elkeen wat dit hoor en lees opnuut weer herinner kan word aan wat dit beteken om sy of haar identiteit in Christus te vind. Opnuut weer te kan hoop ten spyte van angs wat ons lewens bedreig. Die spanning in hierdie psalm lê eintlik op drie vlakke. Tussen die manier waarop ander mense ons sien, die manier waarop ons onsself sien, en die belangrikste een van almal, die manier waarop God ons sien (Kidner 2008:501).

Dawid bevind homself op hierdie plek waar God iets wonderlik aan Hom openbaar binne Sy eie omstandighede en kennis oor wat dit beteken om te glo. Hy kom herinner Dawid daaraan dat Hy hom die beste ken. Dat Hy hom op ‘n manier ken wat alle kennis te bowe gaan. Die Here ken alles wat Hy vir Dawid in gedagte het, want wanneer die Here hom sien is dit nie net bloot ‘n raaksien nie, maar vers 1 sê vir ons dat God dwarsdeur hom sien. Dat God alles van hom ken en alles van hom weet… maar dit is ook meer as dit. God ken nog soveel meer. Hy ken vir Dawid ten volle, en Hy ken nog baie meer as net vir Dawid. God ken Dawid dwarsdeur (Kidner 2008:500).

En ek sit net terug in verwondering, want as ‘n mens net aan hierdie gedagte dink… dit is onmoontlik om dit eers te begin begryp. Om te besef dat wanneer ons klaar gedink is oor alles wat die Here vir ons in gedagte het, is daar nog soveel meer van die Here oor om aan te dink. Hy ken ons nog voordat ons onsself ken. En wanneer ons onsself leer ken, ken God soveel meer.

God kom in Psalm 139 en kom maak ons nederig. Hy kom wys vir ons deur Dawid dat ons eintlik niks weet van onsself as ons Hom nie ken nie. Dat ons niks weet van mekaar as ons Hom nie ken nie, want hy het ons eerste geken. Vers 4 sê “Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees”. Die Here weet, selfs nog voordat ons kan dink daaraan om iets te sê. Ons kan die Here nie “onkant” vang nie, Hy weet alles van ons. Vers 2 sê “Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit”. En vers 3 gaan verder wanneer dit sê “Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.”

Want sien vriende, wanneer God sê dat Hy ons sien, dan kyk Hy nie net na ons en maak aannames volgens wat Hy sien nie. As Hy dit gedoen het sou almal van ons wat hier is vanoggend nie ‘n hoop gehad het op die ewigheid saam met God nie. Dan sou God ons as sondige mense gesien het en gesê het “Weet julle wat, dit was julle besluit om te kies vir dit wat verkeerd is, ek het my deel gedoen, nou moet julle maar self aansukkel”. Maar dit is nie wie God is nie. Hy kyk verby ons sondige natuur en sien die persoon raak wat Hy geskep het. Die een wat Hy gevorm en aanmekaargeweef het in die skoot van ons moeders (Ross 2011:864).

 

Diens by die tafel:

Hy kom na ons toe en herinner ons dat Hy ons so liefhet dat Hy sy enigste Seun vir ons gegee het om aan die kruis vir ons te sterf. Ons breek die brood want dit is Christus se liggaam wat vir ons gebreek is. Ons drink die wyn want dit is Christus se bloed wat vir ons gevloei het (Brink 2013:25). En deur dit alles kom sê God net vir ons dat Hy ons ken. Dat Hy die sonde ken waarmee ons elke dag sukkel. Dat Hy ons huislike omstandighede ken en dat Hy dit ken wat ons vir mekaar wegsteek en nie oor praat nie. Hy kom leef tussen ons, sterf vir ons en kom wys vir ons dat Hy ons ken. Dat Hy ons aanmekaargeweef het en geken het nog voordat enige iemand anders van ons geweet het. En omdat Hy ons so goed ken kan ons iets van Sy liefde ook beleef by die nagmaalstafel en dit ook met mekaar deel sodat ons ook mekaar mag ken (Ross 2011:865).

Niks is vir die Here verborge nie, want Hy het ons gevorm waar niemand dit kon sien nie. Hy weet wie ons is omdat Hy ons deur en deur ken. Of ons sit of opstaan. Of ons reis of oorbly. Hy ken ons lewenspaaie, ons gedagtes, ons drome… God ken alles van ons. Vers 17 sê vir ons “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!” En dan lees ons vers 18 net daarna “As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.” Ons lees hierdie verse en ons besef dat God nie net ons ken nie, dat Hy nie net ons gevorm het en ons lewensdae ken nie, maar Hy ken alles van ons. Hy ken dit wat goed is en dit wat sleg is. En die wonder hiervan lê dan nie in die feit dat Hy alles van ons ken nie, maar dit lê juis daarin dat Hy soveel meer ken as hierdie “meer as sand” gedagtes waarvan vers 18 praat. Dat Hy meer is as die baie wat Hy vir ons in gedagte het en ten spyte daarvan maak Hy ons steeds deel van wie Hy is. Van Sy koninkryk en liefde (Kidner 2008:502).

Hy kom vul ons met wie Hy is en kom kies ons uit om Sy kinders te wees. Hy kom maak ons bewus daarvan dat Hy ons ken en daarom kan ons ook mekaar ken en belangstel in mekaar se lewens. En dan kan ons nie anders as om terug te staan in verwondering nie, want Hy ken ons van voor ons geboorte af tot na ons dood. Ons ken mekaar slegs ‘n aardse leeftyd lank… Die laaste deel van vers 14 sê “Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.” En dan gaan vers 16 verder “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Die Here het ons reeds uitgekies, gemaak wie en wat ons is, lank voordat Hy ons geskep het (Brink 2013:378).

Hy wil hê dat ons op Hom moet vertrou met ons lewens elke dag. Dat ons moet vertrou in Sy voorsienigheid, nie omdat dit die regte ding is om te doen nie. Hy wil hê dat ons Hom moet vertrou omdat Hy regdeur ons sien. Omdat Hy ons lewensdae opgeskryf het nog voordat ons gebore is. En Hy kom bevestig dit aan ons. Hy het ons eerste lief gehad. Hy het ons eerste geken. Hy het ons gevorm en ons in besit kom neem, ons uitgekies, en Hy bevestig dit aan ons deur die doop.

 

Diens van die Doop:

En dit is dan ook vanoggend vir ons ‘n voorreg om nie net die water te sien en terug te dink aan die dag toe ons gedoop is nie, maar om dit ook weer vanoggend letterlik te kan beleef. Dat ons opnuut weer daaraan herinner kan word dat God ons nie net sien soos wat ons mekaar sien nie, maar dat Hy ons sien en ons ken omdat Hy ons gevorm het en uitgekies het as Sy kinders en daardeur ook deel maak van Sy belofte.

Wanneer God ons sien, sien Hy ons nie net nie, maar Hy ken ons ten volle. Hy kom was ons skoon en sien raak wie ons werklik is. Hy ken ons elkeen se hartseer, pyn en swaarkry. En net so ken Hy ook elkeen van ons se vreugde, talente en voorspoed. Hy ken ons omdat Hy dwarsdeur ons sien. Hy het ons gevorm en ons kom deel maak van wie Hy is. Om die Here te ken is om te weet dat Hy jou raaksien en dat Hy jou pad ken. Al wat ons moet doen is om Hom te vertrou met ons lewensdae.

Mag ons elkeen in die tyd wat voorlê nie net mekaar sien met ons oë nie, maar mag ons werklik daarna strewe om mekaar te sien en daardeur ook mekaar beter te leer ken. Want wanneer ons dit doen dan sien ons God raak in mekaar. Ons sien die wonder van wie Hy is in mekaar raak en daardeur iets van Sy grootheid ook in ons eie lewens raak. As ons God se gedagtes vir ons elkeen sou opnoem sê vers 18 dat dit meer sal wees as wat daar sand is. En as ons daarmee klaar is sou daar soveel meer van die Here nog wees om te leer ken. As mense sien ons mekaar en ons weet dalk van mekaar. Maar wanneer God ons sien dan ken Hy ons ten volle nog voordat ons self kon ken. Hy is die God wat vir my en vir jou sien (Vischer 2003:415). Amen.