Bybel voor bed’n Ontdekking is iets wat ons almal rasend opgewonde maak.

Die ontdekking van penisillien, byvoorbeeld,  het die mediese wêreld verander.

Die ontdekking van die Dooie See Rolle daar in die grotte hoog teen die kranse neffens die Dooie See het die hele religieuse wêreld op hul voete gehad.

In Egipte is nou onlangs ’n hele reeks leeubeelde onder die woestynsand by Karnak ontdek nadat dit vir 3000/4000 jaar begrawe gelê het. Dit is WOW!

Partykeer word dinge nuut ontdek, soos met tegnologie: ’n gloeilamp, elektrisiteit, radioseine, rekenaars, internet….

Partykeer is dit egter die herontdekking van iets wat lank weg of verborge was.

 

Die ontdekking waarvan 2 Kon 22 ons vertel, was die ontdekking van die Bybelboek Deuteronomium, of minstens ’n groot deel daarvan.

Dit word in die tempel se “Bybelkamer”/biblioteek gevind.

Dan vra ons onsself af: “Hoe is dit moontlik?”

“Hoe is dit moontlik dat dat die boek nou kon wegraak?”

Miskien moet ons eerder sê die boek het in onbruik verval en onder die stof in die hoekie van die Bybelkamer beland. En niemend het dit meer gemis nie.

En dit is daar waar ek in Deut 17 lees…   (en dit sal die relevansie vir die koning uitwys):

“Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, en jy dit in besit geneem het en daarin woon, sal jy sê: ‘Ek wil ‘n koning oor my aanstel. Elke nasie in my omgewing het ‘n koning.’ Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel.

“Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik.

Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.

Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en ‘n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie. As hy gehoorsaam is, sal hy lank lewe in sy koninkryk, hy en sy seuns tussen sy volk Israel.”   (:14-20)

 

Presies dit het nie meer gebeur nie!

Die koning het nie meer ’n Bybel op sy bedkassie gehad nie.

Die koning het nie meer sy Bybel gelees nie. Sy voorgangers ook nie.

Die koning het nie meer volgens die Woord van God gehandel nie.

Die koning het hom daarom bokant sy volksgenote verhef.

En daarom het dit nie meer goed gegaan in die koninkryk nie.

Trouens, dit het so sleg gegaan dat God besluit het om Jerusalem te vernietig

en die volk in ballingskap weg te voer!

 

En so wonder ek wat lê op ons konings en staatspresidente se bedkassies?

En ek wonder waarom gaan dit so moeilik in SA?

 

Maar miskien is daar ’n tweede vraag wat ons in ons geloofsgemeenskap hier moet vra.

En dit is die vraag: Wat lê op óns bedkassies en wat maak óns daarmee?

Miskien is die dieper vraag: Wat glo ons van God?

 

Glo ons nog in God as die sprekende God?

Glo ons nog dat God se Woord skeppingskrag het?

Glo ons nog in die vleesgeworde Woord, Jesus Christus, wat met sy Woord en sy Heilige Gees sprekend en skeppend nuutheid in ons lewens wil bring?

Het ons nie juis in hierdie tyd nodig dat God in ons moedeloos en wanhoopsituasies moet kom inspreek nie?

Het ons nie ’n herlewing nodig soos in koning Josia se tyd nie?

 

Kom ons kyk mooi wat tydens hierdie herlewing gebeur het:

Die herlewingsverhale van die Bybel fassineer my intens! Dit behoort ons te fassineer omdat ons daaruit moet leer.

Eintlik gee die verhaal vir ons ’n resep vir herlewing.

En hoe nodig het ons nie herlewing nie!

Pinksterfees het ons opnuut geplaas op ’n pad van herlewing en vernuwing.

 

Josia was nogal ’n vars briesie in die koningslinie van Juda.

Wie was die Josia?

Ons lees (:2:: “Josia was ag jaar toe hy koning geword het, en hy het een en dertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jedida, ‘n dogter van Adaja uit Boskat.”

Vers 1 sê: “Sy ma was Jedida, ’n dogter van Adaja uit Boskat.”

Waarom sou hy nie volgens tradisie benoem word aan die hand van sy vader nie, maar wel nav sy moeder se geslagslyn?

Waarskynlik omdat hierdie ’n gelowige geslagslyn was waar sy moeder hom ’n verbondsopvoeding gegee het. Sy was waarskynlik dié sleutelfiguur.

Wie was sy pa: Koning Amon, die seun van koning Manasse – goddelose mense!

Daarom wil die kroniekskrywer vir ons sê: Hy was van ander stoffasie!

Hy moes sy ma se kind gewees het.   Geloofskind.

Adaja beteken “Die Here is ’n sieraad”

Jedida beteken “Liefling”.

Dit is geloofstaal.

Dit lyk of hier ’n verbondsmoeder en –oupa was wat God ernstig opgeneem het en die verbondsopvoeding van Josia ernstig opgeneem het.

Miskien is dit waar herlewing begin:

Waar ’n ma met haar kind op die skoot sit en vir die ou kleintjie van Jesus vertel.

Hy loop die pad van sy oorgrootie, koning Dawid, en wyk van die gehoorsame geloofspad nie links of regs af nie!

 

Die Koningsmanuskrip laat die klem val op die ontdekking van die Wetboek.

As ons nou 2 Kronieke 34 se verhaal lees (die parallel hiervan), dan sien ons dat hierdie nie ’n enkele insident van ’n radikale ommekeer was nie.   Kronieke vertel meer uitvoerig die verhaal van ’n mens wat oor jare getrou die Here gedien het.

Dit is een van die mooi dinge wat ek ook in hierdie gemeente sien: mense wat oor jare met toewyding die Here dien. Dit is mense wat oor jare leef vanuit God se genadehand en wat in die geloof volhard.

Dit is die mense wat ’n verskil maak aan die samelewing.

Dit is die mense wat hoop indra in die hooploosheid – omdat die Woord van God in hul harte leef.

 

Die volgende wat ons hier raaksien, is dat die geestelike verval nie maar net verdra is nie.

Die verval het Josia gepla.

Dit het Josia geïnspireer.

En daardie verval was verseker nie net die uiterlike bouvalligheid van die tempel wat verwaarloos geraak het nie.

Die bouvalligheid van die tempel was maar net die uiterlike teken van geestelike verval.

Dit is wanneer hulle die werkers aanstel om die tempel te restoureer dat die wetboek ontdek word.

Wanneer hulle die biblioteek uitvee en afstof, dan land die boek in die skoonmaker se hand.

Hy gee dit vir die hoëpriester. Dié gee dit vir die staatsekretaris.

Hy gee dit vir die koning.

Hy gee dit so half terloops saam met sy verslag oor die restourasiewerk.

En Josia lees die wetboek.

En die Wetboek raak hom diep.

Hy besef dat hy nooit meer sy Bybel op die bedkassie het nie en dat hy nooit hierdie Bybel gelees het nie.

Hy verootmoedig hom voor die Here.

 

Nou gebeur nog ’n verdere mooi ding:

Hy maak ’n kommissie van ondersoek bymekaar. 5 man.

Hulle moet by die Here gaan uitvind wat is dit wat die Here vir die koning en die volk met hierdie ontdekking wil sê.

Hulle is soos by die sinodale vergaderings die “luisterspan”.

Ons het mekaar nodig om saam die Bybel te lees.

Die Bybel, soos ons dit vandag het, het deur baie prosesse tot stand gekom in die geloofsgemeenskap.

Wanneer ons die Here se Woord daarin wil hoor, dan is die hele gemeenskap nodig om die Woord saam te lees.

Waar gebeur dit?

Hierdie luisterkommissie gaan verder en raadpleeg ook ander mense. Hul koöpteer die profetes Gulda.

Profesie is een van die baie gawes wat die Heilige Gees vir die kerk gegee het.

Profesie is die gawe om die waarheid oor God so bekend te maak dat dit ander sal bemoedig of oortuig.

Wat sê Gulda? God se oordeel oor Israel staan vas. God het genoeg gehad van al hierdie goddeloosheid. Maar, omdat Hy hierdie herlewing en verootmoediging sien, stel Hy sy oordeel uit. Dit sal eers na jul leeftyd gebeur.

God se genade gee nog vir hierdie spesifieke geslag leefruimte.

En ek wonder hoeveel ons daarop inkoop om God te gehoorsaam.

En ek wonder hoeveel ons inkoop op God se plan wat vir ons genadetyd uitkoop.

Miskien het die Here jou in SA geplaas “juis met die oog op ’n tyd soos hierdie” (nav Ester se verhaal) om genadetyd uit te koop vir ’n geslag en ’n gemeenskap wat eintlik al onder God se oordeel verwoes moes wees!

 

Sien: inkoop op God se Wet en genadetyd word uitgekoop.

 

My gebed is dat so baie van ons heelhartig sal inkoop op God se Woord … dat

God in sy groot genade vir ons meer tyd sal gee vir regmaak en vir toewyding aan Hom.

 

Ek sluit af:

Dit is presies wat verder gebeur.

Waarvoor gebruik Josia en die volk die genadetyd?

Hulle gebruik dit vir ’n verbondsfees.

Die Woord word voorgelees en die volk word almal opgeroep tot ’n verbondsvernuwing.

“Toe het die koning op sy plek gaan staan en ‘n verbond met die Here gesluit en beloof om die Here te volg en sy gebooie, verordeninge en voorskrifte met sy hele hart en siel te gehoorsaam en om die bepalings van die verbond soos dit in hierdie boek vasgelê is, na te kom. Die hele volk het die verbond aanvaar.” (Deut 23:3)

Letterlik staan daar dat hulle “in die verbond gaan staan het”.

Dit is om “in die verbond te gaan staan”!

Dit is om opnuut te kies vir God, sy Woord en die werk van die Gees in jou lewe.

 

En dit begin daarby dat jy jou stowwerige Bybel op jou bedkassie nuut ontdek en met verwagting begin lees.

 

Amen