Giving handEk sien die mooiste prentjie by ‘n motorhandelaar: ‘n nuwe motor staan en wag vir sy nuwe eienaar. Die motor het ‘n groot rooi geskenk-strik op sy masjienkap. Een of ander reus daar het die motor soos ‘n geskenkpakkie met dié versiering toegebind.

Kan jy jou voorstel hoe opgewonde die nuwe eienaar sal wees as hy/sy daar instap – die grootste geskenk! … asof hy nie in elk geval daarvoor betaal nie – en waarskynlik nog te veel ook!

En toe wonder ek hoe voel die motor daaroor. Daar word van hom ‘n geskenk gemaak, maar hy wonder waarskynlik …. of hy ooit gewas gaan word, of die kinders sy deure gaan slaan en of hy sinkplaatpad sal loop. ‘n Motor het mos darem ook ‘n gevoel!

Jeremia 1 is een van die roepingsverhale wat so kosbaar is in die Woord.

In hierdie roepingsteks kry ons iets wat my aan die nuwe motor op die verkoopsvloer laat dink het….

Terug na die 6de eeu vC:

Dit gaan nie goed in Juda nie. Dit gaan nie geestelik goed nie. Daar word nie meer oor Jahwe gepraat nie. Daar word nie gevra wat Sy wil in daardie konteks is nie.

Juis daarom is daar selfs die militêre magte van Babilonië waarmee God dreig om hulle as tugmeesters te gebruik.

God het iemand nodig om weer oor Hom te begin praat.

God het iemand nodig om weer ‘n slag te vra: “Wat sou God wou hê moet hier gebeur?”

Dit is wat ‘n profeet moes doen.

Daar is so bietjie misverstand oor die taak van ‘n profeet asof hy voorspellings moes maak, ‘n “waarsêer” moes wees.

Dit gebeur wel ook sporadies met heils- en onheilsprofesieë.

Maar ten diepste moes hy God op die agenda plaas. Hy moes mense aan God herinner.

En hy moes vra na die implikasies daarvan as God regtig nog tersaaklik is.

In daardie sin het elkeen van ons as gelowiges ‘n profeteroeping.

Ons staan mos soos Christus in die drievoudige amp van profeet, priester en koning.

Ons staan nou stil by ‘n aspek of twee van die roepingswoord van vers 5:

” Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.”

Nou is die laaste opmerking hier baie interessant:

Letterlik staan daar in Hebreeus: “… Ek het jou as profeet vir die nasies gegee.”

God gee.

Hy is vrygewig.

Hy is uitermate vrygewig.

Voordat Jeremia homself kon bymekaarmaak was hy al weggegee.

Dit is God se manier van doen.

Hy het dit ook met sy eie Seun, Jesus Christus, gedoen.

Hy het vir Jesus weggegee.

Hy het Hom vir die nasies gegee.

Hy het nie vir Jesus op uitstalling gehou as Sy geliefde Seun nie.

Hy het Jesus ook nie gepreserveer vir die museum en die nageslagte om te

bewonder nie.

Hy het nie met Jesus gespog asof Hy ‘n trofee is nie.

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

En God het ook vir Jeremia weggegee.

Ons sou ons kon voorstel hoe Jeremia protesteer:

“Wag so ‘n bietjie, Here!   Moenie so gou wees om my weg te gee nie!

         Ek het darem seker ook ‘n sê hierin.

         Het ek dan nie my onvervreembare menseregte nie?

          Ek het ook ‘n paar besluite wat ek self oor my lewe wil maak!”

Stel jou God se reaksie voor:

“Sorry! Ek het dit al voor jou geboorte gedoen! Dit is klaar gedoen! Jy is klaar weggegee!”

 In sekere dinge het ons ‘n keuse, in ander nie.

Hierdie is een van die beginsels van die wêreld waarin ons gebore is.

Dit is die styl van die wêreld! God het dit so geskep!

Om te gee is in ons DNA ingeskape.

As jy net wil ontvang, sonder om te gee, dan gaan jy teen hierdie goddelike wetmatigheid in.

Om die weggee-beginsel te ignoreer is soos om swaartekrag te ignoreer.

Daag die wet van swaartekrag uit en stap van die dak af…..

Die gevolge daarvan sal wees flenter knieë en gebreekte bene!

So werk dit ook met die GROOT WEGGEE:

Omdat die beginsel geïgnoreer word, het ons ‘n klomp verflenterde en mismaakte lewens – mense wat net wil gryp en wil ontvang, sonder om te gee!

Leer vandag hierdie groot beginsel: Jy is gemaak om te gee!

En dan nie net om iets van jouself te gee nie, maar juis om jouself te gee!

Jou lewe is vir ander!

Natuurlik is jou lewe ook vir God en om Hom te verheerlik.

Rom 12 sê:

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God (maw: omdat God vir jou om-GEE!): Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Maar jy is nie net vir God gegee nie, jy is ook gegee vir jou familie,

Vir jou bure!

Vir jou gemeenskap!

Vir die nasies!

En dit is iets nie net vir Jeremia en die wyksleiers en Pierre van Vuuren en Sanel Nolte nie!

Dit is die manier waarop die skepping werk.

Party van ons probeer desperaat om ons lewens vir onsself te hou, of om dit weer terug te wen vir onsself.

Ons dink ook dikwels ons kan nie so vrygewig leef nie, omdat ons dit nog nooit in die geloof probeer het nie.

Maar hoe gouer ons probeer, hoe beter.

Jeremia was ook nie gereed vir hierdie weggee nie  !

Hy klou eers krampagtig vas aan sy selfstandigheid en in die proses dink hy allerhande flou verskoninkies uit:

“Ag, Here my God,” het ek geantwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

 Twee flou verskonings!

Dit was sy weerstand teen hierdie WEGGEE!

Daaragter skuil blykbaar ook heimlik ‘n vrees vir mense.

Luister hoe sê God basies vir hom “Basta! Jou verskoninkies! Jy gaan!”

(:7): ‘Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het.’

Sluit:

Donderdagaand het br Japie vir ons daarop gewys dat die een groot saak waaroor die Here die laaste tyd van voor Kersfees af in die gemeente gepraat het was juis die saak:

“Ek is by julle!”

En hier sê die Here dit weer – en hy herhaal dit in vers 19.

Met God by jou, kan jy jouself maar weggee!

Jy sal nie te arm anderkant uitkom nie.

Want die grootste rykdom en bemoediging is in God – daar neffens jou,

met sy arms onder jou/om jou!

Bind vandag ‘n groot rooi strik om jouself en bied jouself aan as geskenk vir jou familie, jou bure, jou gemeenskap….die nasies.

Jy is gegee!

Jy is gegee as profeet!

Amen

‘n Profeet (het ons gesê) sê iets oor God!

Ons geloofsbelydenis is om iets oor God te sê.

Jeremia se roepingsverhaal loop daarop uit dat God nie net by hom kom staan nie, maar ook Sy woorde vir Jeremia in die mond lê.

Hy het sy hand uitgesteek, aan Jeremia se mond geraak en sê:

“Ek het nou my woorde in jou mond gelê.”

 

Hierdie is ook woorde wat ons nie hoef uit te dink nie.

Dit is woorde oor God wat vir ons gegee is deur die kerk.

Doen Geloofsbelydenis

Vir enige vraag of kommentaar, kontak gerus met ds Retief Botha by rrbotha@hotmail.com