Inleiding:

Ek dink lockdown sou vir Jesus ook moeilik gewees het. Want Jesus het gehou van braai en eet saam met mense. Dit is natuurlik in teenstelling met sy voorloper, Johannes die doper. Vir hom sou jy nie sommer by ‘n braai kry nie. Hy het alleen in die woestyn gebly en nie gehou van kuier saam met klomp mense nie. En as jy dit sou regkry om hom by jou huis te kry, moes jy genoeg springkane bymekaar kon maak om hom versadig te kry J!

Jesus het baie gereeld saam met mense geëet. Trouens, Jesus se bediening begin met ‘n ete by ‘n troue en word afgesluit met ‘n ete in die bo-vertrek. Etes saam met mense, vreemde en verskillende mense, was vir Jesus baie belangrik in sy bediening. Ons kry Hom gereeld aan tafel met sondaars en tollenaars, ten spyte van die sosiale kritiek van die hoog heilige fariseërs wat Hom as ‘n vraat en ‘n wynsuiper uitgekryt het.

Maar die laaste ete saam met Jesus, het heilige betekenis gekry. ‘n Ete daardie aand wat sy wortels in die Ou Testamentiese pasga het. En om nagmaal te verstaan, moet ons vanmôre oor die pasga lees.

Skriflesing: Eksodus 12

Eintlik was die pasga viering soos ‘n klein opvoering wat jaarliks in elke Joodse huis plaasgevind het. En die elemente van hierdie ete, het geestelike betekenis gehad.

Die hoofelemente was natuurlik die ongesuurde brood en die braaivleis. Later, deur die loop van Israel se geskiedenis, het daar elemente bygekom soos eier en bitter kruie en soutwater en ‘n vrugtebladjang. Die pasga het so gewerk.

Nadat al die kos met sorg en liefde voorberei is, het die gesinslede by die tafel gaan aansit. Dan het die jongste lid van die gesin vir die oudste gevra: wat beteken hierdie ete? En dan het oudste aan die hand van die kos op die bord die geskiedenis van God se sorg vir sy kinders vertel.

En so was hierdie ete fundamenteel tot die geloof en die geloofsgeheue van elke Israeliet. Hierdie ete het vir die Joodse kindertjies geloofswoorde geleer. En ek wil vanmôre 2 aspekte van die pasga-ete uitlig.

  1. Dit was ‘n sosiale geleentheid met ‘n geestelike karakter.

In vers 3 staan daar veelseggend: “Sê vir die hele gemeente van Israel.” Israel is nog nooit voorheen ‘n gemeente genoem nie. Hulle was die volk van God of die kinders van Abraham. Gemeente impliseer ‘n bepaalde band en onderlinge verhouding tussen mense. En behalwe dat daar ‘n geloofsband tussen hulle was, was die pasga ‘n ete wat in die gesin gebruik is. Dit was ‘n geleentheid waar ‘n gesin saam eet en waar sekere geloofswoorde vertel en oorgedra is van die een geslag na die ander.

Dit was immers die verdere opdrag wat later in in Deut. 6 sou kom. “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Hierdie gebooie moet jy onthou en jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” En met die pasga het presies dit gebeur! Dit was ‘n onthou en inskerp ete. Dit was ‘n ete waarin gesinslede nie net woorde oor God by mekaar gehoor het nie, maar ook saam God se goedheid gevier en beleef het. Pasga het gesinne en families en geloofsgemeenskappe geestelik aan mekaar verbind.

  1. Leef vorentoe deur terug te kyk!

Die tweede ding wat ons uit die pasga leer is om gereeld terug te kyk. Die kruie in die soutwater het die swaarkry in herinnering geroep. Trouens, die mense van die Ou Testament het vorentoe geleef deur terug te kyk. Dit is soveel anders as ons vandag! Ons geloofslewe word dikwels gedefinieer as opkyk en vorentoe kyk. Selde deur terugkyk.

Ons leer ons kinders ook so na die lewe kyk. Ons dryf mekaar vorentoe en ontmoedig omkyk. Trouens, ons wil die verlede ignoreer of vergeet. Maar dit is nie hoe gelowiges behoort te leef nie!

Pasga leer ons dat gelowiges moet omkyk! En ons moet gereeld omkyk! Ons kyk te min om! En die volk moes omkyk, nie net na dit wat in Egipte gebeur het nie, hulle moes omkyk ook na die pad wat die Here met hulle elkeen geloop het tot waar hulle nou is! Daarom die opdrag in vers 25 om eers die pasga te vier as hulle in die beloofde land is. Want dan het hulle baie om na terug te kyk! Kan jy dink waaroor het hulle alles om die tafel gesels! Oor die plae, die water uit die rots, die kwartels en manna, die wolkkolom en vuurkolom, oor mure wat val en God se troue sorg!

So is daar in die pasga hierdie 2 elemente teenwoordig, naamlik 1. die sosiale ete maar 2. met ‘n geestelike betekenis. ‘n Ete waaraan geloofswoorde gekoppel word.

En daar om die tafel vat Jesus daardie aand ook die stapelvoedsel van gewone brood en wyn, en gee daaraan heilige betekenis en geloofswoorde. En toe Jesus die brood en wyn vat, was sy wens dat ons aan Hom sal dink en Hom sal onthou as ons saam eet en drink!

Die Chinese het ‘n spreekwoord wat sê: As jy onthou wil word moet jy ‘n huis bou, ‘n boom plant, ‘n boek skryf en ‘n seun hê. Vandag wil mense onthou word deur standbeelde of straatname wat na hulle vernoem word. Jesus sê, as julle My wil onthou, eet saam brood en drink wyn!

En dit vriende, bring ons by die hart van nagmaal. In die nagmaal kom hierdie twee elemente van pasga bymekaar, die saam-wees en die terug kyk.

Nagmaal is ‘n sosiale geleentheid met ‘n geestelike karakter.

So het die vroeë kerk nagmaal verstaan. Hulle het gereeld in mekaar se huise bymekaar gekom, saam geëet en saam gekuier en mekaar deur die tekens van brood en wyn aan die Here Jesus herinner. ‘n Gewone saamwees-ete met ‘n geestelike karakter.

In Korintiërs het die sosiale karakter van die nagmaal groter klem begin kry as die geestelike karakter. Hulle het hulle dronk gedrink aan die wyn. Dit was net ‘n sosiale ete, sonder geestelike betekenis of inhoud. Paulus spreek hom daarteen uit in 1 Kor. 11. In ons tyd weer het die geestelike karakter groter klem gekry, ten koste van die sosiale karakter van die gemeenskapsmaal. Ons het nagmaal geïnstitusionaliseer, dit styf en formeel gemaak, selfs somber, individualisties en formalisties. So sit ons elkeen met ons eie stukkie brood, wat ons nie eers deel nie, en nie ‘n woord oor God se troue liefde vir mekaar sê nie!

En iewers tussen hierdie twee uiterstes sou ons vir Jesus aan tafel kry.

Ek het hierdie week baie oor nagamaal geleer.

Ek is bly oor nagmaal in lockdown. Ek is bly dat ons terug geruk word na die hart van hierdie ete. Ons ervaar in lockdown die behoefte dat ons as gelowiges bymekaar hoort. Maar ‘n gesonde geloofsgemeenskap bestaan uit gesonde gesinne. En om dit reg te kry moet pa’s en ma’s en kinders saam aan ‘n tafel sit. En gesinne moet geloofswoorde en geloofsverhale saam met brood en wyn inkry. Want dit is tog die hart van jou geloofshuis. Julle gesin is ‘n gemeente in die kleine.

Pasga en nagmaal het my laat besef, ons het te min etes met ‘n geestelike karakter in ons huis of selfs met ons vriende. Want ware vriende is mense saam met wie ons kan eet en bid. Ons moet meer mense nooi vir ete waarin ons geloofstories deel en mekaar aan God herinner. Dit is immers hoe God ons vul en voed met die brood van die lewe.

Pasga en nagmaal het my laat besef ons kyk te min om en ons vertel te min vir mekaar van dit wat agter ons lê. Want as jy omkyk sal jy die kruis van die Here Jesus sien. Maar as jy omkyk sal jy ook jou eie kruise langs die pad sien.

Slot:

Sonder die Heilige Gees by julle ete, sal hierdie net brood en wyn bly. Wanneer die Heilige Gees vanmôre beheer neem ook van hierdie ete, vul Hy jou met ‘n bonatuurlike vermoë om in brood en wyn God te vind. In brood in wyn God se hand in jou lewe raak te sien. En in brood en wyn mekaar te vind. So voed God ons met die brood van die lewe wat ons nodig het om met geloof vorentoe te leef.

Gebed:

(Jana se cd speel snit 3,4)

Sit om die tafel:

3 Goed moet vanmôre met hierdie ete in jou huis gebeur.

  1. Die jongste moet vir die oudste vra wat beteken hierdie ete. As jy alleen is dink jy hieroor.
  2. Dan moet julle omkyk en kry elkeen om te vertel iets in die verlede hoe die Here jou al gehelp het. Miskien is dit wat jy nie wil onthou. Maar miskien is die trane en swaarkry in die verlede juis dit wat jy moet onthou en raaksien vanmôre.
  3. Dan eet julle die brood en drink die wyn en dink aan wat Jesus vir jou gedoen het.

As jy die brood vat, dit breek en uitdeel dan sê jy dit is die liggaam van Jesus wat gebreek is. En as jy die wyn of druiwesap ingooi en dit drink, dan herinner julle mekaar aan die bloed van Jesus wat gevloei het vir ons sonde.