Picture1

Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za

Na Sondag se erediens oor bekering, dat ou gewoontes afgelê en die Heilige Gees vir ons nuwe gewoontes moet aanleer, het ek ’n baie interessante gesprek gehad met dr Gert van Niekerk, ’n sielkundige hier by ons in die gemeente.  Hy praat toe met my oor die vorming van ’n karakter of gewoontes.  Met ander woorde, hoe word jy wat jy vandag is of hoe verander jy om te wees wat jy wil wees?  Ek het hom gevra om vanaand iets daarvan te deel, maar hy is te bang ons gaan nie vanaand huistoe nie!

Maar jou denke speel ’n enorme rol in jou lewe. Eintlik beheer jou denke jou hele lewe, nie net jou emosies en gesindheid nie, jou denke kan selfs jou fisiese gesondheid beheer.  Met ander woorde, jou denke het ’n uitwerking op jou hele lyf.  Nou daar is ’n baie maklike voorbeeld om dit te staaf.  As iemand jou kwaad maak, bring daardie gedagte of emosie van woede fisies jou liggaam in beweging.  Jou brein stuur boodskappe na jou spiere om te begin saamtrek, jou pupille vergroot, adrenalien word afgeskei, en jy is reg om te baklei!  Jou denke beheer jou lewe! 

Maar jou denke alleen is nie genoeg om gewoontes aan te leer of af te leer nie. As ek byvoorbeeld nie so gou wil kwaad word nie, gaan die feit dat ek daaroor dink alleen, nie maak dat ek nie meer kwaad word nie.  Nee, jou gedagtes moet uitgespreek word, jy moet daaroor praat.  Jy moet vir jouself sê jy gaan nie kwaad word nie en jy sal dalk vir jou man of jou vrou moet sê dat jy nie gou kwaad wil word nie.  En dan gaan jy dit moet begin doen.  Jy sal in situasies moet kies om nie kwaad te word nie.  En dit is eers as jy begin doen wat jy dink en sê dat dit deel word van jou karakter word.  Met ander woorde, jy dink iets, jy sê iets, jy doen dit later en dit word deel van wie jy is.  Jy kan dit natuurlik negatief of positief interpreteer.   SKYFIE

Nou Paulus was nie ’n sielkundige nie, maar hy het hierdie ding al lank terug verstaan.  Hy het verstaan dat as die Heilige Gees jou denke kan beheer, beheer Hy jou lewe!  Dis so maklik soos dit!  Hy sê in Rom 12 dat gelowiges vir God heilig moet lewe, maar verduidelik in Rom 12:2 hoe gaan jou gedrag heilig word?  “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe!”  As die Heilige Gees ons denke beheer beheer Hy ons lewe.  Hy begin dus by ons gedagtes!  Hy oortuig ons van wat reg is, Hy wys en leer en prent dit in wat God wil hê.  Daarom sê Paulus in Romeine 8:5: “… dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.”  So, wanneer die Gees jou gedagtes beheer sal jy jou al hoe meer besig hou met die dinge van die Gees.  En die dinge van die Gees sal jou gewoontes raak en jou gewoontes vorm jou karakter.  En die uiteinde is die bestemming ’n lewe saam met die Gees van God.

Toe die Heilige Gees in Handelinge uitgestort is, was hierdie beginsel van karaktervorming opmerklik in daardie eerste gemeente.  En ek wil vanaand met die tema van omgee vir jou wys hoe hierdie volgorde van denke, praat, gedrag en gewoontes kinders van die Here vorm om ’n omgeekarakter te hê.

Toe die gelowiges onder die kragveld van die Gees gekom het, het die Heilige Gees hulle gedagtes radikaal verander!  Een van die goed wat gebeur het was dat hulle oë oopgegaan het vir mekaar!  Petrus se gedagtes oor rein en onrein verander en skielik word die ontvangers van omgee nie net ’n sekere uitgesoekte groepie mense nie.  Ons lees dat die gelowiges eensgesind was, dat hulle in mekaar waardering gevind het, onderling verbonde was.  Dit was Jode en nie-Jode wat voorheen nie eers om dieselfde vuur gesit het nie!  ’n Radikale gedagteverandering!

En hierdie verandering van denke het vinnig oorgegaan in gesprek tussen hulle.  Ons lees dat hulle oor hul nuwe verstaan en identiteit begin praat.  Hulle het gereeld bymekaar gekom, hulle het saam geëet, saam gesing, saam gepraat.  Met ander woorde, dit wat die Gees in hulle denke laat gebeur het, het by hulle monde begin uitkom!  In terme van omgee vanaand is dit opmerklik hoe die verandering/vernuwing/vervulling van die Gees oorgegaan het in gesprekke oor omgee.  In Handelinge 6 praat hulle met mekaar daaroor dat hulle nie by al die omgee uitkom soos hulle graag sou wou nie.  Hulle hou toe vergadering oor omgee!  En dan gebeur daar ’n klomp omgee-goed in die gemeente en omgee word deel van die karakter van daardie eerste gemeente.  Die Gees het van hulle besit geneem, hulle het daaroor begin praat, hulle het dit gaan doen en dit het ’n gewoonte geword!

Uit die Handelinge gemeente is dit opvallend hoe vinnig omgee deel van die gelowiges se gedrag en lewe geword het.  Ek wil vier fasette van omgee uitlig vanaand:

  1. Omgee is iets wat jy doen – dit is ’n Christelike gewoonte!

Ons haak baie keer vas by die praat gedeelte.  Ons kan lank praat oor die meriete van omgee.  Ons wil redeneer oor omgee – moet ons gee of moet ons nie gee nie, vir wie moet ons gee en vir wie moet ons nie gee nie?  Wat moet ons gee en wat moet ons nie gee nie?  Hoeveel moet ons gee?  Wat gaan die mense maak met dit wat ons gee?  En dikwels praat ons onsself uit omgee uit!

Jakobus verwoord iets hiervan in 2:15: “Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?  So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”  Opvallend hier weer die volgorde.  Julle weet julle moet help, julle sê julle moet help, maar dan haak julle vas en help nie!

Ons bid baie keer presies dieselfde, veral aan tafel.  “Here, dankie vir die kos wat ons gaan eet, maak ons daarvoor dankbaar en wees asb met hulle wat minder bevoorreg is.  Amen.”  Ons weet ons moet dié wat minder bevoorreg is help (die Gees het ons al daarvan oortuig), ons sê dit vir mekaar en in ons gebede selfs vir die Here dat hulle gehelp moet word, maar dan eet ons rustig ons eie kos op en los die res vir die Here om uit te sorteer!  So ’n geloof sê Jakobus is dood.

Want hoe moet die Here by hulle wees as ons nie by hulle wil wees nie?  Hoe moet die Here sorg as ons nie wil sorg nie?  Hoe moet die Here gaan omgee as ons nie omgee nie?  Ons het Sondag gehoor van ’n gestremde kind wie se fiets gesteel is.  Hoe moet die Here vir daardie kind ’n nuwe fiets gee as ons dit nie wil doen nie?  Hoe moeilik is dit vanaand as hier 200 mense sit om vir daardie kind ’n nuwe fiets te gee of so ’n driewielfiets te bou?  Vriende, die Gees oortuig ons nie van omgee sodat ons ’n gevoel van omgee kan hê nie, maar sodat ons omgee hande en voete kan gee!  En omgee word eers deel van jou karakter, van wie jy is as jy dit begin doen!

En ons het baie voorbeelde in die gemeente waar dit wel gebeur.  Ons almal gee om deur mekaar te besoek, te versorg, te ondersteun.  Ons omgee kry hande en voete in Lesotho by die kleuterskooltjie, in Mosambiek by die oogkliniek.  Daar is nog baie ander voorbeelde.  Maar een ander voorbeeld in ons gemeente is die bediening aan die boemelaars in ons omgewing.  Op ’n Vrydagoggend 9 uur is hier ’n boemelaar gemeente!  En weet julle wat gebeur as ’n mens dit wat jy glo en van oortuig is begin doen?  Op die ou einde beteken dit vir jou baie meer as vir die mense vir wie jy omgee!  Gaan praat maar hierna met oom Andries en oom Vis.  Die oomblik as jy iets vir iemand doen, ervaar jy iets van die satisfaksie, die vervulling, die blydskap van ’n geloof wat nie net gedagtes en woorde is nie, maar wat werklik iets doen en beteken.  En hoe meer jy omgee doen, hoe meer word dit deel van wie jy is, deel van jou Christelike gewoonte en karakter, en word jy ’n omgee dissipel van Jesus.

  1. Omgee is om te deel

Toe die Gees daardie eerste gelowiges in besit geneem het, was een van die eerste goed wat hulle gedoen het om hulle goed met mekaar te deel.  Hulle was mededeelsaam.  Ons lees dat hulle van hulle goed verkoop het en die geld onder mekaar verdeel het (Hand 2:44,45).  Wat daar gebeur het is nie kommunisme nie.  Kommunisme is ’n staatstelsel wat mense  dwing om alles met almal te deel.  Nee, die Gees het hulle oortuig en gelei om vrywillig hulle goed met mekaar te deel sodat daar in daardie Christelike gemeenskap niemand was wat nie versorg is nie!

Ek wonder hoe mededeelsaam is ons vandag?  Ons het eerder opgaarders geword.  Ons deel moeilik ons goed en gee moeilik weg.  Ons het kaste vol klere, linnekaste vol komberse.  Ons motorhuise is so oorvol van goed wat ons nooit gebruik nie dat die “storage cities” soos sampioene opskiet.  Een van ons grootste probleme vandag is om plek te kry vir al ons goed!  En dit in ’n land waarin daar mense vanaand buite moet slaap!

Paulus praat in 2 Korintiërs 8:13 oor mededeelsaamheid: “Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly.  Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help.  So kom daar ewewig.”

Jy sien, omgee bring ewewig tussen dié wat het en dié wat nie het nie.  Ons sit in ons eie gemeente met mense wat nie het nie.  Mense wat nie werk het nie, mense wat nie pensioen het nie, mense wat nie medies het nie.  Dié wat het moet dié wat nie het nie raaksien en dit wat jy het moet jy bereid wees om te deel met ’n broer of suster.  Want iewers het jy weer nodig dat iemand met jou deel.  Jy sien en so gee gelowiges vir mekaar om en word ’n omgee gemeenskap gevorm!

  1. Omgee is om te gee

Paulus praat in 2 Kor 9 van die bediening van gee.  Hy praat oor die een gemeente wat die ander finansieël moet help.  Vers 13: “…die bediening van hierdie hulpbetoon (finansiële hulp) bring dankbaarheid teenoor God mee… Deur hierdie duidelike bewys van julle bereidheid om te dien, sal daar baie wees wat aan God eer toebring.  Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid… en oor julle opregte mededeelsaamheid…”  Wanneer jy van jou geld vir die werk van die Here gee is jy besig met ’n bediening!  Jou geld kan omgee!  Ja, daar is baie ander maniere om om te gee sonder dat dit jou geld kos.  Maar as jy nie ook met jou geld omgee nie, het jy nog nie omgegee nie!

  1. Omgee is ’n saak van lewe en dood

Fundamenteel aan die omgee vir mense lê ’n diep besorgdheid vir dié wat verlore gaan.  Die eerste gelowiges het ’n hart gehad vir mense wat verlore sal gaan sonder Jesus.  Omgee begin ten diepste by die geestelike nood van mense.  Ons gee so om vir mense dat ons nie wil hê hulle moet sonder Jesus lewe of sonder Jesus doodgaan nie.

Slot

Ek glo die Heilige Gees ons wil ons lei sodat omgee deel van ons geestelike karakter sal wees.  Ja ek weet, diep in ons gebêre is baie vrae oor omgee, selfs goeie uitgewerkte redes en verskonings waarom ons sukkel om om te gee soos ons sien gebeur het in Handelinge.  Maar Pinkster gaan oor die Gees wat gedagtes nuut maak en verander om anders te lewe.

Omgee is om te doen, dit is om te deel, dis om te gee.  Iets van jou tyd, iets van jou geld, iets van jou liefde.  Amen