WegneemvraestelTot ek, op my ouderdom, onthou nog die spanning van die eksamenlokaal.

Die angssweet slaan jou uit.

Het jy genoeg geleer? Het jy reg gespot?

En dan kom daarby die feit dat jy beperkte tyd het. Daar is nie lekker tyd vir dink en skryf nie. Daar is nie eers tyd vir bietjie kreatiwiteit (!) nie. Jy moet net skryf – amper pappegaaistyl – alles wat met ‘n wonderwerk terugkom in jou kop.

Ek weet van enkele situasies waar die dosent die studente verras het:

“Neem die vraestel huistoe en kom gee dit vir my in as jy tevrede is.”

Dit is egter nie ‘n eenvoudige saak soos wat jy met ‘n eerste reaksie verligting smaak nie. Want sien: Jy kan meer navorsing gaan doen. Jy kan oor en oor formuleer. Jy kan nog boeke gaan navors. Jy kan dit herbedink en dan weer van voor af begin skryf.

Die probleem is dat jy met so ‘n vraestel nooit klaar kom nie.

Om die waarheid te sê, die spanning word net al meer.

En jy weet dat die verwagtinge van die dosent net al groter word omdat jy mos al die hulpbronne tot jou beskikking het.

Dit is dus ‘n moeiliker pad as die twee ure in die eksamenlokaal.

 

Matteus 25:31-46 praat van so ‘n huistoe-neem-vraestel.

Dit is ‘n moeilike vraestel.

Dit is ook ‘n vraestel met ontsettende implikasies as jy dit druip.

Want die gedeelte handel oor die laaste oordeel en wat die gevolge daarvan sou wees as jy soos op ‘n veeplaas uitgeklas word as ‘n “bok”.

Jesus praat van ‘n “ewige straf” vir diegene wat die toets druip.

Die plasing van die teks in die Matteus-evangelie is baie interessant.

Matteus vertel die Jesus-verhaal tot by ‘n punt waar Jesus se vyfde en laaste groot preek weergegee word. Daarna volg die laaste groot verhaal oor die paasgebeure.

Die laaste preek hier handel in breë trekke oor die eindtye en word daarom ook die “profetiese rede” genoem. Vir baie mense is dit nou nie juis populêre leesstof/luisterstof nie, want ons is redelik gepreokkupeerd met die nou en sy uitdagings. So heimlik wens ons dat die wederkoms tog ook nie te gou hoef te kom nie. Ons het nog te veel om te leef!

Maar hierdie deel van die preek begin met die wederkoms se troontoneel: Mat 25:31-33.

“Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei.”

Daar is majesteit en heerlikheid (Grk: doksa) waarmee Hy kom.

Hy sit ook op die troon van glorie.

Miskien is dit die een groot toneel wat ons te veel miskyk.

En as ons dit miskyk, dan raak Jesus klein en selfs hanteerbaar/manipuleerbaar.

Vandag is, interessant genoeg, ook die Sondag van die kerkjaar wat bekend staan as die “Sondag van Christus die Koning”. Dit is die laaste Sondag van die kerkjaar.   Vanaf volgende Sondag begin die Adventstyd (Kerstyd) wat dan ‘n nuwe siklus van die kerkjaar inlui.   Juis daarom is dit gepas om op die laaste liturgiese Sondag oor die wederkoms en Jesus se Koningskap te preek. As ons die hele jaar deur die Woord van die Here beluister het, dan sal dit nie op die laaste Sondag moeilik wees om Jesus al in die geloof op die troon te sien sit nie.

Ons het nou onlangs gehoor dat die troon van Jesus, die groot Hoëpriester, ‘n genadetroon is. Na hierdie genadetroon kan ons met vrymoedigheid gaan:

Heb 4:16 “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

In Mat 25 is die troon egter ‘n troon met ‘n dubbele karakter: dit is ‘n troon van oordeel en beloning.

Die skape word van die bokke geskei.

Die skape kry die ewige lewe. Die bokke kry die ewige straf.

Hiermee leun Matteus sterk op die leefwêreld van die veeboer van daardie tyd.

Dikwels het die bokke en die skape saam gewei.   Daar was egter geleenthede dat die twee groepe van mekaar geskei is, bv wanneer die skape geskeer moes word of wanneer die bokke groter beskutting nodig het vir die winterkoue.

Hier word hulle dan geskei aan die linker- en regterkant van die Seun van die Mens.

En die Bybel se regterkant is altyd die eer-kant.

En die Bybel oordeel altyd meer positief oor die skape wat ook as beeld gebruik word vir die volk van die Here, Sy kudde.

So groei die beeld van die skape regs van die troon en die bokke links van die troon.

Om die beurt word daar gehandel met die twee groepe.

Beide van hulle kry ook ‘n verduideliking waarom hulle onder die seën of die oordeel van die Koning geland het.

Die rede vir die beloning en die oordeel is baie verrassend.

In die lig van die gereformeerde teologie sou ons verwag dat dit gaan oor geloof.

Jy word immers gered op grond van geloof in Christus alleen.

Maar hier kom draai Jesus ons teologie totaal op sy kop!

Jy word geoordeel ogv dit wat jy gedoen het of nie gedoen het nie.

Dit klik soos ‘n regte dwaalleer met werkheiligheid wat gepropageer word.

Die situasies waarop mense nou beoordeel of getoets word om te kwalifiseer vir die skaapkraal is baie prakties.

Jesus begin verrassend om te verwys na allerlei dade wat aan Hom gedoen is.

Maar dit gooi die “skape” heeltemal deurmekaar…. want hulle kan nie sodanige situasies onthou nie.

Dit is so ongelooflik (of: gelooflik!) mooi as die “skape” sê:

“Here, maar wanneer het ons al die dinge gedoen?”

En Jesus se antwoord is:

‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

Dit beteken dat die Koning op die troon homself onttroon ….en Hy word die noodlydende.

Hy vereenselwig Homself soveel so met die noodlydende dat Hy as’t ware in hul vel en in hul vodde en in hul nood kom inklim.

Kom ons stel dit so: Jesus neem die nood van sy mense baie persoonlik op.

Ons sê mos maklik vir mense: “Moet dit nie so persoonlik opneem nie!”

Maar Jesus neem die nood van sy kinders PERSOONLIK op.

“Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” (:40)

Of, negatief gestel aan die “bokke”:

‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ (:45)

Dit is hoe persoonlik Jesus nood opneem

 

Die vraag is: Wat is die gemene deler in al die situasies wat nou hier gelys word?

Kyk mooi na die situasiesketse:

Die gemene deler is: mense wat in die nood is.

Dit is dikwels die mense wat die randfigure van die samelewing is.

Suid-Afrika het meer van hulle as die gemiddelde land in die wêreld.

Later word hulle genoem die “geringstes van hierdie broers van my”.

Dit slaan nie op die dissipels nie, hoewel hulle ook dikwels onder vervolging sou ly.

Interessant dat Jesus na hulle verwys as “hierdie broers van my”.

So, Jesus identifiseer baie pertinet met hulle as “my broers”.

Dit strook natuurlik met die groot klem wat dwarsdeur die Evangelie van Matteus op mense geplaas word. Mense is vir Jesus baie belangrik.

En veral wanneer mense swaar kry, dan gaan Jesus se hart na hulle uit.

Maar hy “voel” nie net vir hulle nie. Hy doen ook iets aan hulle situasie.

Luister hoe beskryf Matteus Jesus se bediening reg in die begin van die evangelie net na sy doop, Sy versoeking en die roeping van die dissipels:

“Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak.”   Mat 4:23, 24

Jesus gee om vir mense.

In die veelbesproke Belydenis van Belhar word dit so gestel:

“Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in `n wêreld vol onreg en vyandskap op `n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek (Deut 32:4, Luk.2:14, Joh.14:27, Efes.2:14, Jes.1:16-17, Jak.1:27, Jak.5:1-6, Luk.1:46-55, Luk.6:20-26, Luk.7:22, Luk.16:19-31);

dat die kerk daarom mense in enige vorm van nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos `n standhoudende stroom (Ps.146, Luk.4:16-19, Rom.6:13-18, Amos 5);

 Die sinsnede dat God “op `n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is” het nogal wenkbroue laat lig en debat ontketen.

Maar dit het ook gemaak dat ons weer die Bybel gaan lees het.

Jesus roep dus mense om by Hom te kom staan in Sy bediening aan die noodlydendes.

En as jy nie by Jesus kom staan in sy bediening nie, dan beteken dit dat jy nie Sy passie deel nie.

Dan klop jou hart nie soos Jesus se hart nie.

Dan is jy deel van die opposisie.

Dan dop jy die toets.

Dan word jy uitgeklas as ‘n bok.

 

Ek wens ons kon vanaand met mekaar verhale uitruil.

Daar is so baie mooi verhale van mense wat in ons konteks vir ander omgee en betrokke raak waar die nood is. Dit s so inspirerend om sulke verhale te hoor.

Ek weet so bietjie van die gemeente se uitreikbedienings: Chochuis vir kankerleiers, kinderhuis, Lesotho kleuterskool, Kusamala skool vir blindes, Bohmer-skool voeding, hawelosesbediening, voedselvoorsiening, voet en naelsorg vir ouer mense, Universitas-kliniek se tee en toebroodjies, Jade-huis se bediening, pastorale spreekkamer, hospitaalbesoeke, roubediening…..

Maar van al die mooi verhale van individue wat betrokke raak by die nood sal ons nie veel hoor nie. Omdat “skape” maar nederige diere is.

Een van ons lidmate gaan sit by die vrou met die kindjie by die robot by DF Malherbelaan. Luister sommer net na hulle verhaal. Vanaf Zimbabwe. Hulle kan nie teruggaan nie, want daar is nie kos in die land nie. Hulle neem die gesinnetjie huistoe vir bad en klere vir die kindjie.

Dit is wanneer die toetsvraestel huistoe geneem word.

Daar is nie ‘n tydsbeperking op die vraestel nie.

Dit word elke dag deur ons ingevul.

Dit is die moeiliker vraestel wat ons uitgedaag word om elke dag te skryf.

En as jy sukkel met die vraestel: Die Heilige Gees is vir jou gegee om jou te lei in die volle waarheid. Of soos 2 Tim 1:6 sê:

“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”

En Jesus is ons rolmodel.

Neem maar jy toetsvraestel huistoe, werktoe.

Neem dit ook die komende Kerstyd na jou gesin toe…

En elke dag kry jy dit naderhand reg om een ekstra toetsvragie te antwoord.

 

En natuurlik is die sorg vir noodlydendes nie die rede vir verlossing nie.

Dit is maar net die gevolg van ‘n verloste lewe wat in alles vir Jesus navolg.

Amen

 

 

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.