André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za

Picture1Die mens is vandag gefasineerd met die mens. Mense is vandag dink ek, meer as ooit geïnteresseerd in die vraag: Wie is die mens?  Want jy sien, die verskillende antwoorde op die vraag wie die mens is, bring nuwe moontlikhede, breek nuwe wêrelde oop en ’n bring ’n nuwe verstaan van die mens na ons tyd.

Ek wil twee onlangse voorbeelde gebruik om te wys hoe die mens, kom ek sê, amper behep is met die mens.  Wie is ons?

Homo Naledi – Kyk hoe opgewonde raak die wêreld oor ’n spul bene wat onder in ’n gat lê!  Hoekom hierdie bohaai, hoekom hierdie vreeslike entoesiasme en opgewondenheid?  Want dit vertel ons iets meer van die mens.  Nog ’n stukkie sluimerende waarheid word ontsluit en bekend gemaak.  In die DNA van daardie dooie bene lê die diep geheimenisse van waar ons kom, hoe die mens ontwikkel het en selfs waarheen hy oppad is.

En met hierdie naarstige soeke na die kern van die mens, het ons verstaan van die mens natuurlik ook meer ingewikkeld geraak.  Want daar word nou dieper gesoek, geanaliseer, gedissekteer, gekrap na die mens, selfs tot by sy kleinste deeltjie.  Dit bring my by die 2de voorbeeld.

In my dae is die ouens wat agter die swembad se muur gesit en rook het tydens pouses eenvoudig gevoeter.  Party het geskrik en die stokkies gelos, maar vandag sit hier waarskynlik ’n hele paar wat nie bangemaak kon word nie.  In die soeke nou na wie die mens is en hoekom hy is soos wat hy is en maak soos wat hy maak, is daar nou ’n ander verklaring vir die outjies se stoutigheid.  In die gekrap en gesoek na die mens is gevind dat rook nou geneties is!

“ ’n Mens se geneigdheid om aan rook verslaaf te raak, word moontlik deur sy gene bepaal.  In ’n studie wat in die mediese joernaal The Lancet Respiratory Medicine gepubliseer is, het navorsers vyf genetiese variante ontdek wat verband hou met die geneigdheid om baie te rook.  Mense met dié gene kan ook meer sukkel om op te hou rook en meer ondersteuning nodig hê.  “Dit blyk ’n deel van die risiko dat ’n mens aan tabakrook verslaaf gaan raak, word geneties bepaal,” het prof. Ian Hall van die Universiteit van Nottingham se mediese sentrum aan Beeld gesê.

En so word daar dag vir dag nuwe ontdekkings en aannames gemaak in die mens se soektog na homself.  Wie is die mens?

Vir 400 jaar lewe die Israeliete in Egipte tussen mense wat hulle verwonder oor mense.  Die Egiptenare was so beïndruk met mense dat hulle gode van mense gemaak het!  Die farao, waarskynlik een van die grootste mens-gode in Egipte.  Dooie mense is gebalsem en mummies gemaak, in piramides begrawe om die monumente van mense orals te sien rondstaan.  Eintlik as die tempels waarin mense aanbid en vereer is.  En natuurlik was hierdie mens-gode dikwels geëer en tevrede gestel deur allerlei sondige, immorele en verkeerde maniere.

En toe die Here by Moses kom in Eksodus 3, wou Hy sy volk lei uit hierdie woestyn van verwondering oor mense.  En Hy wou hulle lei van ’n mens-verwonderinge tot ’n God-verwondering, ‘n verwondering oor wie Hy is.

En so begin die Almagtige om die verwondering oor mense om te skakel in ’n verwondering oor God.  Moses ontmoet met groot verwondering die Almagtige in ’n brandende bos.  En groot is die verwondering dat God van ‘n bos ‘n preekstoel kan maak vanwaar Hy met Moses praat!  En Moses is verstom, verwonderd, want dis duidelik nie ’n mens wat so praat nie.   En hoe merkwaardig dat die verwondering en teenwoordigheid van God Moses bring op ’n plek waar hy sy skoene uittrek en sy gesig bedek!  En Moses beleef iets van God, ’n eerste stukkie verwondering oor God wat sy tydgenote nog nie beleef het nie.

Moses, jy moet die volk uit hierdie mens-slawerny lei.  En Ek sal hulle in hierdie woestyntog in verwondering laat, nie oor mense nie, maar oor wie Ek is!  Welkom Moses!  Ek is, is My Naam.  En God stel Homself aan die volk bekend met die verwondering-Naam.  Ek is wat Ek is.

Interessant is dat hierdie Naam van die Here eintlik ‘n werkwoord in die onvoltooide tyd is.  Dit kan ook beteken: Ek sal wees wat Ek sal wees.  Of, Ek was wat Ek was, Ek is wat Ek is.  Ja, die God wat geskiedenis gemaak het, is ook die Een wat die toekoms skep.  Die Naam van God sê iets van die misterie van God.  Dit bring verwondering oor wie Hy is, waar Hy vandaan kom, en hoe Hy optree.  In hierdie Naam sê God iets van Homself, maar Hy verberg ook iets van Homself.  Hy openbaar Homself as die Een wat by ons was, is en sal wees, maar tegelykertyd bly daar ‘n stukkie misterie oor God.  Hy is die onbegryplike God, die Een wat nie met ‘n handvatsel vasgegryp, verstaan en rondgedra kan word nie.  Die Een oor wie daar nie lukraak besluite geneem en in maklike belydenisse ingedruk kan word nie.  Ek is .. soos niemand anders nie.  Ek is … nie soos jy nie.  Ek is … nie soos enige mens nie.  Ek is … onvergelykbaar.  En die oomblik as ons begin dink dat Hy ons speelmaatjie is, die oomblik as ons begin dink ons kan aan Hom ‘n handvatsel sit, verbrand ons ons vingers.  Ek is wat Ek is.  Ek is God, die gans andere God.

En vriende, God se pad met sy volk na ’n nuwe begin, begin in Eksodus 3 met ’n verwondering oor wie God is.  Heeltemal anders as Egipte begin die volk hulle meer en meer verwonder oor wie God is.  Hulle verwonder hulle oor die Een wat die natuur kan opdrag gee om paddas en vlieë en donkerte te stuur.  Hulle staan verwonderd oor die Een wat water oop en toe kan maak soos ’n deur.  Hulle is verwonderd dat Hy brood kan laat reën en droeë klippe in fonteine kan verander.  Hulle staan verwonderd oor God wat siekes kan gesond maak en dooies opwek.  Ja, hulle verstaan nie altyd alles van “Ek is” nie, maar hulle weet Hy is God!   En Ek is neem stukke vir stukkie hulle lewe in.  Nee, neem stukkie vir stukkie hulle lewe oor.

Daarom kon die Here ’n rukkie later vir hulle sê in Eksodus 20: “Ek is… die Here jou God, daarom moet jy begin lewe soos Ek is.  Jy sien, om die volk te lei in hulle verwondering oor wie God is, gee die Here vir hulle 10 woorde/gebooie om hulle lewens mee in te rig, om heilig te lewe soos Hy heilig is.  En in die volk se strewe om aan God gehoorsaam te lewe bring dit verdere verwondering nie net by hullself nie, maar ook by die mense rondom hulle wat na hulle heilige lewe kyk.  En so word die kring van mense wyer wat hulle oor God verwonder.

Vriende, in ’n woestyn van afgode, in ’n tyd van verwondering oor mense, in ’n wêreld met ‘n behepdheid oor wie die mens is, roep die Here sy kinders uit die woestyn van mens-verwondering na ’n groter verwondering oor God.  Johannes die doper roep ook in die woestyn van Iemand wie se skoene hy nie werd is om los te maak nie.  Dit is dieselfde Johannes wat later sou sê “Hy moet meer word en ek minder.”  (Joh.3:30)

Die Here wou sy volk leer, God meer en julle minder!  In die Nuwe Testament kom Jesus en Hy leer, God meer en julle minder!  My koninkryk eerste, julle eie koninkrykies laaste!  Wie groot wil wees, sal klein gemaak word!  Wie eerste wil wees, sal laaste wees!

In jou eie lewe, is God groot of is God klein?  Jy en God kan nie albei groot wees nie!  Is God groot en jy klein, of is jy groot en God klein?  Wie of wat neem die grootste plek in jou lewe?  Jy of God?  Vandag vat ons eie behoeftes baie plek vat en God min.  Ek is dikwels my grootste god.  My eie gerief, my eie geluk, my eie gemak, my eie bevrediging, my eie behoeftes, my eie voorkeur, my eie geld, my eie tyd, my eie vreugde, my eie gemak.  Is dit nie maar wat die grootste plek vat in ons lewens nie?  En ons verwonder ons oor ander se geluk en vreugde en bevredigings.  Dit is wat facebook aan die gang hou!  Met ons vingertjies verwonder ons ons elke dag oor mense!

En waar is God?  … Hy roep in die woestyn sy kinders om hulle eerder te verwonder oor wie Hy is!

En die uittog uit Egipte was veel meer as ’n trek na ’n ander land.  Dit was ’n trek weg van myself, na ’n lewe saam met God.  ’n Lewe in groeiende verwondering oor God.

Slot:

Die vraag is nie, wie is ek nie, maar wie is God.  Die vraag is nie, hoe kan ek my lewe inrig nie, maar hoe wil God hê moet ek my lewe inrig.  Die vraag is nie, wat wil ek hê nie, maar wat wil God hê.  Die vraag is nie, wat is vir my of vir die meerderheid reg nie, maar wat is vir God reg.  Die vraag is nie, gaan dit vir my gerieflik wees nie, maar gaan ek gehoorsaam God volg selfs al is dit ongerieflik en ongemaklik?  Jy sien, wanneer jy trek weg van jouself, is die vertrekpunt God, nie die mens nie.  En vriende, die grootste verandering in ons lewens is die vertrekpunt van waar ons lewe, van waar ons redeneer en vanwaar ons ons lewens inrig.  Begin jy by jouself, by jou eie behoeftes en eindig dan by God?  Of begin jy by God en eindig dan by jouself.  Die een bring verwondering oor mense, die ander verwondering oor God.  En daar is ‘n helse verskil!

As jy by God begin, begin jy by die waarheid en eindig jy by jouself as sondaar, klein, nietig, onheilig.  As jy by jouself begin eindig God dikwels klein en sonder inspraak.

Mag God meer in my lewe word en ek minder.  Mag die kerk van die Here Jesus vir wie Hy lief is en sy lewe voor gegee het, hom liefs besig hou met God-sake, nie net mens sake nie. Ook die vertrekpunt vir die kerk van die Here Jesus en ons gemeente behoort nie in die eerste plek ’n soeke te wees na wie die mens is, wat die mens soek of hoe die mens gelukkig en tevrede gehou kan word nie.  Die vertrekpunt is ‘n verwondering oor wie is God.  Wannneer jy by “Ek is” begin, verwonder jy jou meer en meer oor God en verander dit die mens, die kerk meer en meer na die beeld van God.

Daarom wil ek bid dat die Here die “my” in my min sal maak, sodat die “U” in my baie kan word.  Ek bid dat die Here my meer soos Hy sal maak en minders soos myself.  Ek bid dat ek en jy, die kerk van die Here Jesus meer sal begin leef met ’n verwondering oor wie God is.  Amen