Rikus Botha

24 Junie 2018

Teks: Jesaja 40:12-25

Tema: Die onvergelykbare God

 

Vooraf inligting oor die teks:

Ons Skriflesing kom vanoggend uit Jesaja 40:12-25. Voordat ons dit saamlees is dit belangrik om darem net iets oor die agtergrond en ontstaan van die boek te sê sodat ons beter mag verstaan waarom dit wat in die boek staan, daar staan. Jesaja kan in twee hoof dele verdeel word waarvan Jesaja 1-39 die eerste deel is en Jesaja 40-66 die tweede deel is. In die eerste deel vind ons ‘n klomp gedigte wat handel oor die oordeel van die Here, terwyl daar in die tweede deel ‘n sterker fokus is op die troos wat in die Here gevind word. In ‘n tyd van verdeeldheid tussen ryke, verdrukking en groot onsekerheid oor die toekoms, bring Jesaja aan die volk van die Here hoop in die wete dat hulle God groter is as hulle omstandighede. Dit is ‘n boek wat in sy totaliteit die kleinheid van die mens en die grootheid van God uitlig. Wat God se volk en vir ons hier vanoggend, opnuut weer bring tot die besef dat ons afhanklik is van God elke oomblik van ons lewens. Dat Hy voorsien in die goeie en in die slegte/uitdagende tye. En so vind ons dan ook in Jesaja 40:12-25 ‘n teks wat nie net nuwe hoop bring nie, maar ‘n teks wat die onvergelykbaarheid van God uitwys. Kom ons lees dit saam.

 

Teksgedeelte (1983 Vertaling): Jesaja 40:12-25

12Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ‘n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ‘n skaal die berge en die heuwels geweeg? 13Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? 14Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? 15Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal. As Hy die eilande op ‘n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. 16Al die hout op die Libanon is nie genoeg vir vuur op die altaar nie en al die wild nie genoeg vir ‘n offer aan die Here nie. 17Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie. 18Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 19‘n Beeld word deur ‘n ambagsman gegiet en deur ‘n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. 20Wie te arm is vir so ‘n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ‘n bedrewe ambagsman om vir hom ‘n beeld te maak wat nie omval nie! 21Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie ‘n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? 22God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ‘n tentdoek, oop soos ‘n tent vir die mense om onder te woon. 23Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. 24Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. 25Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.

 

Diens van die Woord:

Die Heilige is hier. Die God wat teenwoordig is. Die Onvergelykbare God. Hy is hier omdat Hy nog altyd daar was en vir altyd steeds daar sal wees. Hier, in Jesaja 40:12-25, word ons met die volheid van God gekonfronteer. Vers 12 sê “Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ‘n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ‘n skaal die berge en die heuwels geweeg?” Hy is die God wat alles geskep en afgemeet het sodat dit presies reg sou wees. Hy is die God vir wie niks te groot is nie, en Hy is ook die God vir wie niks te klein is nie.

As mense wat voortdurend met die Here besig is, is dit baie maklik om perspektief te verloor. Om te dink dat ons weet wie God is. En dit is presies wat hier in die eerste deel, vers 12-14, vir ons uitgewys word. Jesaja vra die heeltyd in hierdie verse “wie het”, “wie kan” en “vir wie”. Hy vra dit omdat, soos ons vergeet hoe groot God is, die volk ook begin vergeet het hoe magtig hulle God is. Vergeet het wie Hy is. Dit is so maklik wanneer ons besig is met ons studies, wanneer ons besig is by die werk, wanneer ons besig is met ons kinders, met ons man of ons vrou. Wanneer ons eerder besig raak met ons eie dinge wat ons moet doen of moet klaarkry – om gou voordat ons aan die einde van die dag aan die slaap raak net gou ons Bybels oop te maak en ‘n vers of drie te lees. Of om net gou ‘n gebed te doen en vir die Here dankie te sê vir die dag.

Ons doen dit so maklik. Ons dink aan die Here wanneer ons klaar is met alles anders. Klaar gedink het oor alles anders. En dan, voordat ons dit besef, dink ons dat ons weet wie Hy is. Dat ons Hom kan vasvang in ons gedagtes, oor Hom praat en selfs sê dat ons Christene is wat in alles wat ons doen die Here navolg. Ons vergeet dat die hele skepping wat vir ons so groot is vir God eintlik baie klein is. Dat ons Hom nie kan raad gee of Sy gedagtes kan verander nie. Want sien ons dink ons kan. Ons dink dat God nie verstaan wanneer daardie taxi drywer alweer voor ons inry nie, want dit het nog nooit met Hom gebeur nie. Dat Hy nie verstaan wanneer die mense by Eskom staak nie, want Hy het nog nooit dit beleef nie. Ons dink dat God nie verstaan wanneer ons man of vrou ons so vreeslik kwaad maak wanneer hulle eerder met ons stry as om ons kant van die saak in te sien nie, want Hy het nooit ‘n lewensmaat gehad nie. En ek kan nog baie voorbeelde noem, maar die punt is dat ons dink dat ons God iets kan leer. Dat ons vir Hom raad kan gee oor ons eie lewens, omdat ons Hom eenvoudig net nie goed genoeg ken nie. Omdat ons kies om Hom te dien wanneer ons tyd kry eerder as om Hom heeltyd, met ons hele lewens, te dien.

Maar liewe vriende, dit maak nie saak wie of wat jy is nie. Dit maak nie saak wat jy kan doen of hoeveel grade jy agter jou naam het of nie agter jou naam het nie. Jy kan nooit as Christen dink dat jy die Here kan raad gee nie. Dat jy Hom kan onderrig en kan leer nie. Vers 15 sê vir ons “Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal. As Hy die eilande op ‘n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies.” Die volk waarmee Jesaja in Jesaja 40 praat het gedink dat God nie hulle swaarkry en uitdagings verstaan nie. Dat Hy nie weet hoe dit voel om mens op hierdie aarde te wees nie. En daardeur het hulle gedink dat hulle vir God kan uitdaag. Dat hulle vir Hom iets kan leer van wat dit beteken om onderdruk te word deur ander nasies. Maar vers 15 sê dat selfs die nasies vir die Here soos ‘n druppel aan ‘n emmer is. Dat dit soos ‘n stoffie op ‘n skaal is. Dat dit so klein vir die Here is dat dit geen verskil maak in wie Hy vir Sy volk is nie.

En ons is dieselfde. Ons beleef teenkanting by die werk, by die skool, op kampus, by die huis, in die samelewing. Ons hoor en lees van ander wat onderdruk word a.g.v. hulle geloof… en dan dink ons dat dit so vreeslik erg is. Amper te groot is vir die Here om te hanteer. Maar dan sê vers 17 “Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie.” Vir die Here is hierdie teenkanting soos niks. Vir Hom is dit asof dit nie eers bestaan nie, so hoekom is dit vir ons so groot bekommernis. Hoekom laat ons toe dat ons geloof in God bepaal word deur ‘n samelewing wat niks weet van Sy grootheid nie? Wat ons moontlik uitdaag omdat hulle self nie sekerheid het oor die dinge van hulle eie lewens nie? Ons laat dit toe omdat ons vergeet wie God is. Omdat ons nie meer genoeg tyd saam met die Here spandeer nie.

Ons verkies om eerder self ons probleme te probeer hanteer om eerder iemand anders seer te maak of om selfs op ander te gil en te skree, net om iets van ons frustrasies uit ons sisteme uit te kan kry. Om ons situasies, ons gevoelens net met iets te probeer vergelyk. En deur dit alles vergeet ons so maklik om ons situasies te bring na God toe en by Hom te vergelyk, want ons dink dat Hy nie sal verstaan nie. En dan lees ons vers 18 wat sê “Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?” ons lees dit en ons besef dat ons nie ‘n antwoord het nie. Dat ons iets van beelde of uitbeeldings af weet, maar nie weet waarmee ons God kan vergelyk nie.

Ons vergeet, net soos die volk in Jesaja, wie die God is wat ons aanbid. Ons het so besig geraak met ander dinge in ons lewens dat ons God net laer en laer en laer af op ons prioriteitslys skyf. Tot so ‘n mate dat ons begin vergeet het wie Hy is. Maar gelukkig kom Jesaja in verse 22-24 en herinner die volk en so ook ons elkeen wat hier vandag sit wie hierdie God is vir wie ons aanroep. Oor wie ons lees in die Woord. Aan wie ons lofliedere sing en gawes bring. Vers 22 sê “God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ‘n tentdoek, oop soos ‘n tent vir die mense om onder te woon.” God is die groot regeerder en teenoor Hom is ons soos sprinkane. Ons is soos insekte wat broos is en sonder die Here se beskerming niks in hierdie lewe sal kan doen nie. Wat net rondspring van een plek tot die volgende sonder ‘n doel. Maar God is die een wat standvastigheid bring. Wat die erkenning moet kry vir dit wat Hy wel in ons lewens doen, maar ons so maklik miskyk. Ons kies om eerder in die slegte, negatiewe dinge van hierdie lewe vas te kyk voordat ons dit raaksien wat God vir ons doen.

Maar vers 23 sê dat die Here die mense tot niks maak en die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Hy doen dit sodat daar opnuut weer besef kan word dat Hy die Een is wat voorsien. Dat Hy die Een is wat aan die mens die vermoë en die krag gee om te doen wat volgens Sy wil is, en nie volgens hulle eie wil nie. Dat Hy die Een is wat heers oor die heersers van hierdie wêreld en daarom hulle tot niks maak wanneer hulle hulleself bo Hom probeer plaas en uitleef. Vers 24 sê “Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels.”

Die heersers van nasies op hierdie aarde. Die leiers van partye in ons land en oor die wêreld heen. Hulle is net so goed soos niks voor die Here, want niks en niemand kan met God vergelyk nie. Niemand kan die Here se plek inneem, vir die Here onderrig, vir Hom kom probeer raad gee nie, want Hy is die een wat ons deur en deur ken. Wat ons elkeen raaksien binne ons kleinheid en binne Sy grootheid. Wat ons omstandighede ken en verstaan waardeur ons gaan. Die Here is soveel groter as die dinge wat ons op hierdie aarde beleef. Soveel groter as ons gedagtes. En steeds kom Hy en roep ons op om Sy kinders te wees. Om te besef dat die Here steeds met ons is en saam met ons die pad loop, ten spyte van uitdagings wat oor ons pad kom. Ten spyte van mense wat ons in hierdie lewe onderdruk en minder probeer maak as wat ons vir God is.

Iemand het eens so mooi gesê “God is great not just because nothing is too big for Him. God is great because nothing is too small for Him, either.” En dit is presies die God wat ons ontmoet in Jesaja 40:12-25. Hy wat onvergelykbaar is met enige iets en enige iemand anders bring vir ons hoop om te volhard in tye van swaarkry. Daar waar ons vergeet om te dink aan wat Jesus aan die kruis vir ons kom doen het wanneer ons met die dood gekonfronteer word. Waar ons vergeet van Sy genade vir ons wanneer die mense by ons werk geen genade aan bewys oor deadlines wat gehaal moet word nie. Waar ons vergeet van God se liefde daar waar ons vinnig wil moedeloos en kwaad raak omdat dinge nie verloop soos wat ons gehoop het nie.

In al hierdie omstandighede waarin ons dink God verstaan nie… Waarin ons vergeet wie God is, moet ons weet dat daar niks is wat met God kan vergelyk nie. En omdat God met niks vergelyk kan word nie, kan Hy met alles in ons lewens vergelyk. Kan Hy met dit vergelyk wat ons hartseer en gelukkig maak. Hy is die onvergelykbare omdat Hy oor alle kennis beskik. Omdat Hy deur die Woord alles tot stand laat kom het en deur die Heilige Gees alles onderhou en lei tot die doen van Sy wil. Deur die Heilige Gees word ons deel gemaak van wie God is en ons moet ons Gees bly voed met Sy Woord en met die doen van Sy Woord, sodat ons altyd mag onthou hoe groot en hoe onvergelykbaar ons God is. Dat Sy Gees ons toelaat om met Hom te vergelyk in tye van nood, onsekerheid en onderdrukking.

En vir my is die beste van alles dat die boodskap van Jesaja 40:12-25 eintlik ditself weerspreek op ‘n manier. Want wanneer hierdie gedeelte in vers 25 afgesluit word sê dit “Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.” En ons weet dat niks met God vergelyk kan word nie. Dat daar net een God en een Here van die skepping is. En dan besef ons dat die woorde van Jesaja 40:12-25, wat gebruik word om God se volk nuwe moed en nuwe krag te gee. Binne omstandighede van teëspoed en wanhoop. Dat dit nie selfs eers kan vergelyk met wie God is nie. Dat die grootheid, magtigheid en majesteit van God selfs onvergelykbaar met ons grootste gedagtes en vergelykings is. Dat ons net in verwondering voor die God kan staan wat ons aanbid, met die wete dat ons niks sonder Hom is nie. Dat ons slegs in staat is omdat Hy die een is wat ons in staat stel.

Al wat ons moet doen is om die Here te vertrou met ons omstandighede. Om seker te wees van Sy voorsienigheid en grootheid, nie net in ons lewens nie, maar ook deur ons lewens. Mag dit vir ons elkeen waar wees in die tyd wat voorlê. Mag ons weet en altyd onthou dat die God wat ons aanbid die God is waarmee daar niks vergelyk kan word nie. Dat Hy nie net deel vorm van ons lewens nie, maar dat Hy die lewe self is en daarom kan ons nie anders as om Hom te eer vir wie Hy is nie. Om Hom te dank vir wie Hy ons kom maak het nie. Hy is die Een wat net die beste van ons verdien – meer tyd, meer gebed, meer erkenning – en omdat Hy die Magtige is wat ons kom deel maak van wie Hy is, kan ons ook as mense leef wat net die beste vir mekaar wil hê. Wat wil getuig van die onvergelykbaarheid van God omdat ons dit in ons eie lewens en omstandighede beleef. Omdat ons weet dat Hy altyd met ons omstandighede, swaarkry, onderdrukking en alles anders kan vergelyk, want Hy is groter as dit alles.

(Vers 25) – “Met wie kan julle my vergelyk, wie is soos ek?’ vra die Heilige” God is die onvergelykbare wat in Sy grootheid ons steeds kom deel maak van Sy heerlikheid. Die Een wat met alles van ons lewens kan vergelyk. Amen.