1 Kon 17

SKRIFLESING:  1 Konings 17            (Prediker:  Ds Retief Botha)

Die mooi van ons Bybeltekste is dat jy altyd minstens drie kontekste het om te verreken:  Die oorspronklike gebeure, die konteks waarin die verhaal op skrif gestel word en dan ook jou eie konteks waarin die boodskap sy neerslag moet vind.

En dan sou ons in hierdie geval nog ‘n verdere konteks kon bysit:

Wat het hierdie gebeure voorafgegaan?

1 Kon 16 vertel van koning Agab wat die voorbok was in ongehoorsaamheid en goddeloosheid.

Lees vers 30 en 33:

Hy vat die goue medalje vir goddeloosheid.

En God en sy profeet kan nie daaroor stilbly nie.        Dit roep om oordeel.

Skriflesing:   1 Kon 17  (Let op:   ’n Kraai, ’n Kruik en ‘n Kind)

So, daar in die ballingskap, sit hierdie mense totaal moedeloos.

“Wat het van God geword?” vra hulle verwese.

“Ja, ons het God verlaat, maar is daar dan nie ook genade by Hom nie?”

“Of moet ons miskien aanvaar dat Babilon se gode sterker is as Jahwe?”

Dit sal regtig ’n wonderwerk vra om ons terug te kry in Jerusalem en die land wat oorloop van melk en heuning.

Of moet ons maar vrede maak met die feit dat God nie meer wonderwerke kan doen soos hulle ons vertel het oor die skepping en die eksodus nie?”

Sien, dit is wat mens noem ontnugtering / moedeloosheid / hooploosheid / kleingeloof…

Klink amper soos die moedeloosheid en hooploosheid wat ek van tyd tot tyd tussen ons mense hier in Suid-Afrika hoor.

 

Dit is toe dat een ou gryskop gaan sit en almal rondom hom in Babilon nader roep.

Hy begin vertel vir hulle die verhale uit die koningstyd.

Hy vertel vir hulle van God se profete.

Hy vertel vir hulle van God.

Want dit is ten diepste waaroor hierdie verhale gaan … God wat betrokke bly.

En so help hy hulle om vir hulle ’n geheue op te bou oor hierdie God

–       wat op wonderlike wyses by hulle gelowige voorouers betrokke was.

En hy sê: “Julle moet hierdie verhale nie vergeet nie!  Julle moet nie van God vergeet nie!

En jy Ishmael, wat kan skryf, bring jou pen en papier.  Ek wil julle vertel van 3 ervaringslesse.”

En hy teken hierdie verhale op  – dat dit tot in 2013 vir gelowiges vertel kan word – om hul geloofsgeheue op te bou en vir hulle nuwe hoop kan gee.”

 

1.      Elia…..Sy pa gee vir hom ’n naam wat eintlik meer volledig Elijahu is : “My God is Jahwe”.

Dit raak vir hom gevaarlik as hy die droogte-straf aankondig.

Daarom stuur God hom na die onherbergsaamheid anderkant die Jordaan.

Daar moet hy gaan wegkruip, anders wurg hierdie Agab hom totdat hy die reënwoord spreek.

Maar waar gaan hy kos kry?

 

Vers 4,6:  “Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

Kraaie, van alle voëls, juis hierdie vraatsugtige roofvoël, word die kelner wat vir Elia kos aandra…. Nie net een keer ‘n dag nie, maar sommer twee maal!   En nie net een dis op die spyskaart nie, maar ‘n tweegangmaaltyd: brood en vleis.

Maar toe raak die watertjies in die spruitjie op met die min reën.

En die oordeelswoord van vers 7 word waar:

Die spruit droog op omdat God sy reën terughou.

En toe die ou gryskop vir die Jode in ballingskap hierdie verhaal vertel, toe wonder hulle of hulle nie tog maar weer vir God kan vertrou om vir hulle te sorg nie.

Miskien moes hulle God maar weer begin vertrou vir verandering van hul hopelose situasie.

Miskien was God tog nog in staat om wonderwerke te doen!

Miskien is die land en sy mense tog van God afhanklik, en van niemend anders nie.

 

2.    En vir ‘n tweede maal in die teks lees ons (vers 9):

Toe het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê:

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

 

En Elia sien uit na ’n heerlike gastehuis met gedekte tafel en oorgenoeg kos.

Maar, o aarde, toe hy daar opdaag toe is sy gasvrou besig om houtjies op te tel vir die maak van ’n laaste broodjie met die laaste handjie vol meel wat sy oor het – wat sy en haar seun nog moet deel ook!

Maar hy daag haar uit om die laaste broodjie eerder vir hom te gaan maak.

So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

En Elia weet dit sal gebeur, want hy ken mos die Krit-verhaal.

En hy weet God is die sorgende God wat wonderwerke kan doen.

En uiteindelik waag die vrou dit om huiwerig te gehoorsaam.

En as sy haar laaste broodjie weggegee het loop sy met haar seun aan die hand  vinnig na die kruik toe en keer dit weer om om te sien … en jouwaarlik!… daar is nog meel in!

En sy keer die leë olie kannetjie om en … daar is nog ’n hele koppie vol olie in!

 

Dit mag wees dat dit ook anders gewerk het, nl dat daar weldoeners was wat as deel van hul barmhartigheidsdiens gesorg het dat hierdie kannetjie en kruik altyd iets in gehad het!

Selfs al sou dit so werk, was dit in daardie desperate droogtetyd steeds ’n wonderwerk dat ander uit hul droogte-kannetjies en –kruike afgeknyp het vir hierdie weduwee en haar gas.

Wat ons hier ook moet raaksien is dat Sarfat in die heidense gebied van Fenisië geleë is en hierdie weduwee hoogs waarskynlik nie ’n Jood was nie.

Maar God ontferm hom oor hierdie vrou en haar seun.

Dit is ’n verhaal van genade.

God se genade strek wyer as sy verbondsmense.

Sy genade strek wyer as mense wat reg doen en reg glo.

Waarom sou Sy genade te min wees vir mense wat verkeerd gedoen het?

–      Soos die Israeliete wat nou in ballingskap sit?

 

En die ballinge rondom die grysaard hoor die verhaal en besluit om God nog een kans te gee voordat hulle Hom finaal afskryf.

En so stadigaan begin hul hooptenkie se hoopmeter (soos die motor se petrolmeter) optel vanaf die “empty”-E af.

En ook ons, in ons moedeloosheid en siniese kleingeloof oor ons land en sy mense, kan begin onthou van kannetjies en kruike wat nie leeg raak nie.

Want daar is ’n God wat dit kan laat gebeur!

En Hy is die sorgende God van die wonderwerke.

Selfs as jy jouself in die skuld gedompel het by God, kan jy onthou dat hy God is van genade.

Jy hoef nie alles reg te doen en so presies reg te glo nie.

Jy kan maar net waag om bakhand by Hom te kom bedel.

 

3.     Die laaste episode van die verhaal is die een met die grootste wanhoop.

Onverklaarbaar raak haar seuntjie siek en … sterf!

En sy staan daar met die kindjie in haar arms – platgeslaan en ontnugter!

Sien hierdie prentjie in jou geestesoog – dit is die einde van hoop!

 

En sy haal dit sommer uit op die een die naaste aan haar – hierdie man van God!

 

Maar Elia het al twee modules gedoen in die vak Geloofsgeheue-kunde.

Hy neem die kindjie uit haar arms en dra hom op na sy gastekamer.

Hoekom hy oor die kind gaan lê, weet ek nie, maar hy bid ’n smeekgebed tot die God wat hy leer vertrou het:  “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

En hy dra die kind lewendig af na sy moeder toe!

Dit is die eerste opwekkingswonder waarvan ons in die Bybel lees.

Ons weet selfs van Jesus wat uit die dood opgestaan het!

 

En toe die Jode rondom die grysaard in Babilon hierdie verhaal hoor, toe weet hulle dat dit nie Baäl van koning Agab was wat vrugbaarheid gee nie.

Dit is ook nie Marduk van die Babilonieër wat geskep en lewe gegee het nie,

Dit is die Here God wat in beheer is van die skepping, die geskiedenis en van … lewe.

Wat meer is:  Hy is God wat gebede beantwoord.

 

En dit is dan ook die alternatiewe houding wat deurbreek by hierdie weduwee van Sarfat as sy met ‘n nuwe hartsbelydenis kom:

“Nou weet ek dat u ‘n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

 

Ek dink haar getuienis was nie in die eerste plek oor die integriteit van die profeet nie,

maar oor die God van die profeet.

 

Ek wonder wat sou  die inhoud van jou geloofsbelydenis wees as jy dit nou na hierdie teks moes formuleer?

Skielik het jy so baie oor God geleer, dat jy maar ‘n nuwe belydenis van Belhar/Universitas kan gaan skryf!

Hy leef!  Hy is in beheer! Hy sorg! Hy is genadig!  Hy doen wonderwerke! Hy is God van die lewe! Hy antwoord gebede!

 

Kom ons vat dit op ‘n ander manier saam:

Hy is die lewende God wat nuut kom hoop gee in ons moedelose histerie!

amen

                          Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.

 

Seën

God stuur jou om met ‘n nuwe geloofsgeheue te gaan leef.

Dit is nie verniet dat jy vandag na hierdie drie verhale moes hoor nie.

Skep moed en glo opnuut in die sorgende God.

Maar juis dit is ook jou toerusting om vir ander met hierdie geloof te gaan bemoedig.

Help hulle om soos hierdie weduwee-vrou te kan sê:  Nou weet ek ook…!”

Gaan wees ‘n bemoediger vir dié wat moed verloor het.

Die genade, barmhartigheid, liefde en gemeenskap van die drie-enige God sal met jou wees. Amen.