Kyk die preek gerus op YouTube

Stilte by GodEk raai almal van ons het heimweë na vrede en stilte.

Ons verlang na vrede binne ons, maar ook rondom ons.

Ons verlang na stilte binne ons, maar dikwels ook rondom ons.

En tog het die lewe die geneigdheid om ons toe te gooi met traumas wat net mooi die teenoorgestelde is van hierdie vrede en stilte.

ISIS die Islamitiese Weerstandsbeweging is besig om ‘n bloedspoor van terreur en geweld in Irak en die Midde-Ooste te laat.

Tensy jy al baie afgestomp geraak het, sou die moorde van op die twee Amerikaanse joernaliste (hierdie week en verlede week) jou ook ontstel het.

Vir my het dit nogal intens getraumatiseer.

Ek is dankbaar dat die onthoofdingsbeeldmateriaal nie alles uitgesaai is nie. Die probleem is dat ons ‘n verbeelding het en dat ons ander beeldmateriaal gesien het van hoe honderde mense in rye doodgeskiet word.

 

Miskien het die boodskap oor die onthoofding van Johannes die Doper ‘n soortgelyke trauma-reaksie by Jesus teweeggebring.

Ons lees nie regtig van Jesus se subjektiewe reaksie daarop nie, maar net dat Hy “met ‘n skuit daarvandaan weggegaan het na ‘n stil plek om alleen te wees.” (Mat 14:13)

Dit is wat mense doen as die skok en trauma van ‘n bepaalde insident vir hulle te veel raak. Hulle soek “time-out” om op ‘n manier daarvan sin te probeer maak en hopelik ‘n bietjie vrede in die hart te kry.

Ons moet ook onthou dat Johannes die Doper Jesus se “voorloper” was. In meer opsigte het Johannes voor Jesus uitgeloop. Sy geweldsdood was een so ‘n moment.

Johannes se dood het heengewys na Jesus se komende dood – ook aan die hand van politieke maghebbers.

Dit was ook hierdie Jesus se optrede wat die tonge in die paleis losgemaak het.

Toe word die vraag gevra of Jesus nie ‘n inkarnasie van Johannes die Doper was nie. Jesus sou dus selfs aandadig kon voel vir Johannes se dood.

En nou soek Jesus na ‘n retraitesentrum en stilte om hierdie ontsteltenis en warboel in Sy hart uit te sorteer.

Daarvoor ry Hy en sy dissipels met die skuitjie na die oorkant van die meer van Galilea.

Die pad na die retraite-sentrum raak egter langer as wat Hy verwag het, want daar aan die oorkant stroom die mense na Hom toe vir hulp.

Elkeen het een of ander nood.   En (sê vers14) “Hy het hulle innig jammer gekry…”

En so word Sy retraite ‘n baie vol dag met genesings.

Maar meer nog, en ons ken die ervaring: Die gaste wil nie loop nie en dit raak eettyd.

Hulle het duisende gaste en die yskas is dolleeg.

 

Hierdie twee situasies is nog voorbeelde van ons bekommernisse:

ons gesondheid en ons voorsiening vir elke dag.

En so word ons verder getraumatiseer met ons bekommernisse en angstigheid.

Gelukkig is Jesus midde-in daardie kommer-situasies en Hy bring vir hulle nuwe hoop.

Elkeen kry genoeg om te eet.   En elke sieke word genees.

Maar dan was hierdie bedrywigheid van die dag nog nie ‘n antwoord op Jesus se afsonderingsbehoefte nie.

Al sy bedrywigheid met die bedienings het nog nie vir Hom meer perspektief en vrede gebring nie.

 

So doen Jesus iets vreemds:

Hy stuur sy dissipels met die bootjie terug huistoe.

Hy stuur ook die mense terug na hul woonplekke terwyl hy nog aan baie van hulle aandag gee.

Dan kry Hy uiteindelik tyd vir die retraite.

Hy klim die berg uit. Alleen. En hy gaan bid daar.

 

Die tyd vir stilte en perspektief is nie iets wat vanself kom nie.

Jy moet daarvoor tyd maak. Kreatief.

Daarsonder gaan al die traumas en die impak op jou menswees vir jou te veel raak.

 

Die volgende perikoop vertel vir ons van nog traumas – tipies van ons tyd….

Die dissipels is op die see. Die wind is van voor. Die golwe “teister” hulle.

Dié woord laat ons dink aan iets meer as bloot moeilike weersomstandighede.

Dit wys in die rigting van allerlei angswekkende gebeure waardeur ons bedreig word of wat ons vrees.

Onder hulle die water.   Bokant hulle die nag.

En die volgende oomblik kom ‘n spookfiguur ook nog op die water aangeloop.

“Van angs het hulle hard begin skreeu.” (:26)

Groot mans wat vir spoke bang is!

Daar is baie sulke benouende omstandighede wat ons angstig laat.

Party van die omstandighede is werklike bedreigings.

Ander van die omstandighede is denkbeeldig.

En ons weet dat 90% van ons vrese nooit bewaarheid word nie.

En tog neem dit nie ons angs weg nie.

 

Dit is waar ons God in ons angstye nodig het.

Dit is ook wat daar gebeur. Jesus kom na hulle aangestap en spreek ‘n trooswoord:

“Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

Dit herinner aan die bekendstelling by Moses se brandende bos: “Ek is!”

“Ek is hier! Ek is Verbondsgod. Ek sal saam met julle trek!”

So tree Jesus hul angs binne.

Selfs die voortvarende Petrus ontdek daar is ‘n reddende hand wat hom optrek as hy die onmoontlike regkry en die volgende oomblik ook nie regkry nie.

Jy is voortdurend bewus van jou eie kleingeloof.

En dit gaan kort-kort met insinking gepaard.

Jy word kort-kort getraumatiseer deur jou ongeloof en voete van klei.

En jy besef ook maar weer van nuuts af jy het Iemend nodig om na jou te kom in jou histerie en om jou op te tel.

 

Ek sluit af met die kosbare slottoneel:

“Hulle (Jesus en Petrus) het toe in die skuit geklim en die wind het gaan lê.”

Skielik, na die dag se slegte tyding, al die vrae, die uitputtende bediening, die omgee en medelye, die magtelose gevoel van nie die noodsaaklike lewensmiddele te hê nie en die histerie… kom daar stilte.

Al wat hoorbaar is, is die sagte klots van die golfies teen die kant van die boot.

Die histerie op die boot maak plek vir meditatiewe stilte en vrede.

Daar kom ‘n vrede en stilte wat die trauma oordonder.

Eintlik ervaar hulle die teenwoordigheid en stilte wat Jesus ook daar op die berg gevind het.

 

Miskien is die grootste appél vanuit hierdie hoofstuk nie net die wonder van Jesus se omgee en Sy krag en Sy teenwoordigheid nie, maar die appél van sy voorbeeld om God se presensie te ontdek.

Stilte is een van ons verlore geestelike dissiplines.

Dit maak ons geestelik arm as ons nie stilte ken nie.

Dit maak dat ons Sy presensie mis kyk.

Dit maak dat ons in die storms en traumas perspektief verloor.

Dit maak dat ons begin wanhoop.

 

Maar God se presensie-teenwoordigheid is nie net in die stilte nie. Dit is juis ook in die storms. Dit vertel Mat 14 ons.

Daaraan moet ons nooit twyfel nie. Sy hand is altyd daar – uitgesteek na ons wat al halfpad gesink het.

Dit help egter as ons soms, soos Jesus, uit die rumoer van die storm kan ontvlug.

Dit is daar in die stilte op die berg, of in die stilte op die boot wat ons God se

teenwoordigheid weer duideliker kan ervaar.

Vir my die afgelope week was daar een groot trauma van ons kinderlose kinders wat hul in- vitro-swangerskap verloor het. En dit was eers daar op die sagte stoel onder die boom dat ek weer die duifie kon hoor koer. En dit is waar God sy hand bemoedigend en troosvol na my bewende handjie uitgesteek het om nuwe perspektief en hoop te gee.

Soek vir jou ‘n bootjie waar die golwe saggies kan klots.

Soek vir jou ‘n stoel waar jy die duifies kan hoor koer.

Maar moenie vergeet dat Jesus ook teenwoordig is in die storms van trauma-rukwinde nie.

Amen

 

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.