Dans 2016Party mense se voete staan sommer so reg vir dans. Dit is so half in hulle gene.

Wanneer die ritme van die musiek begin, dan begin dit so deursyfer na die voete toe.

Ander mense sukkel so bietjie meer daarmee.

Dit kom nie van nature nie.

Ek is een van hulle.

Dit is vir ons aangeleerde gedrag.

Dit is eers as jy daar by die troue by die lekker dans-deel van die program kom, dat jy begin wens dat jy ook so heerlik kan dans.

En as jou vrou, soos myne, jou dan aanpor, dat jy dit skuifelend op die dansbaan waag.

Maar mettertyd dan kry jy tog ’n paar steps reg sonder om te veel skade aan jou dansmaat se fisiologie aan te rig.

En jy begin dit saam geniet.

Dans is vanjaar (in hierdie feesjaar) ons geestelike metafoor in die gemeente.

Verlede jaar was dit Jes 58 se tuin met volop water.

Vanjaar die dansmetafoor.

Nou, daar is baie verskillende soorte van dans. En ons gaan by meer van hulle stilstaan.

Daar is die wals en die ballet. Daar is die close dans en die twist. Die rieldans en Griekse dans van Zorba …… en nog baie meer.

In almal van hulle is daar die element van die ander dans-maat wat in die oog gehou moet word.

Die dansmaat waarmee ons nou aan die begin van die jaar afskop is God self.

Ja, God word spreekwoordelik ons geloofs-dansmaat.

Want sien, ons dans nie net voor God nie, maar ook met God.

En die teks van Ps 123 nooi ons in om ons hemelse Dansmaat mooi in die oog te kry.

Miskien kom jou geloofsdans nie so maklik nie.

Miskien is die omstandighede van 2016 ook nie juis bevorderlik daarvoor nie.

Maar dan het ons juis die geestelike dansvloer nodig.

(Kom ek verduidelik…)

Dit is juis by die feesdans waar ons weer moed kry.

Hier op die dansvloer waar ons gelowige dansmaats rondom ons opmerk – ook by die erediens.

En ons sing ons geloofsliedere.

En ons lees ons geloofsverhale in die Woord van die Here.

En ons getuig teenoor mekaar oor die impak van ons hemelse Dansmaat op ons lewe.

En ons ontdek dat die musiek daarvoor is juis die geloof wat ons bely.

 

Die melodie van die Ps 123 is egter so bietjie in die minieur-toon.

Dit is nie vreeslik vrolik.

Want die omstandighede waaronder die digter sing/bid is nie alte rooskleurig nie.

Die aard daarvan weet ons nie.

Maar dit is ’n klaaglied van ’n enkeling

… wat oorloop in ’n klaaglied van die groter gemeenskap.

 

En nou begin die psalm dadelik om ons te help met ’n baie aktuele saak… ook vir ons dag.

Hy nooi ons uit om God self in die oog te kry.

Natuurlik moet ons met ons voete vierkant in en op hierdie wêreld leef.

Dit is ons blyplek.

Dit is waar ons ons roeping moet uitleef.

Maar ons kan ons nie net blind staar teen die politiek, die wisselkoers en die droogte-ramp nie.

Dit is ’n werklikheid, maar dit is nie die enigste werklikheid nie.

Die Psalm leer ons om OP te kyk.

‘n Pelgrimslied. Ek sien na U op, U wat uit die hemel heers. (:1)

Pelgrims op reis deur 2016 moet leer om op te kyk en God raak te sien.

God is nie ’n gewone dansmaat nie.

Hy sit op die troon. Hy heers.

Dit mag miskien nie altyd vir ons so lyk en so voel nie, maar dit moet jy weet:

Daar is steeds Iemand op die troon in die hemel.

En Hy word nie sommer onkant gevang nie.

Hy het ’n plan.

Hy heers! Hy bestuur. Hy het ’n stategie. Hy het ’n einddoel waarheen Hy op pad is.

En jy is deel van Sy plan….. Sy meesterplan.

Later word hierdie God op die troon genoem “die Here, ons God”.

En dan word die Jahwe-naam vir Hom gebruik.

Hy is die God wat getrou is in Sy verbondsbeloftes.

En Hy verbind Hom aan mensies soos ons.

Hy regeer nie net nie. Hy het nie net die mag daartoe nie.

Hy is ook getrou aan ons en Hy tree met ons in ’n verhouding.

 

Terug na die dans-metafoor:

Miskien is die thatcha of die balletpassie nie vir jou ’n maklike dans nie.

Miskien moet jy dit nog bietjie inoefen.

Miskien is die NOU nie vir jou ’n maklike plek om te wees nie, maar dalk mag dit gebeur dat jy ’n nuwe dans begin bemeester.

Jy kan nie net die maklike two-step bly dans nie.

Die omstandighede daag jou uit tot iets groters en mooiers ….. nuwe vaardighede/nuwe geloof. Ook die “nogtans”-geloof van Habakuk.

 

En dan kom die mooie van die Psalm: Die metafoor van die slaaf.

Soos die oë van ‘n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm

Wat is dit wat hy nodig gehad het uit die hand van die eienaar?

Laat ons onsself so bietjie verplaas na die situasie van ’n slaaf.

Geen dienskontrak.

Geen salaris.

Geen wetlike beskerming.

Geen yskas met eie kos.

Geen pensioenfonds.

Alles wat hy nodig gehad het, het hy uit die hand van die eienaar ontvang.

Die eienaar se hand was die kanaal van voorsiening vir al sy lewensbehoeftes.

Daar is meer moontlike situasies wat hier ter sprake kon wees, maar die volgende drie mag betekenisvol wees:

  1. Die slaaf het lewensmiddele uit sy baas se hand nodig.   Kos, klere.

Dit is die mees voor die handliggende.

Dit is soos ons vandag in SA na die wolke en vir ander behoeftes kyk.

En ons kyk op na Sy hand en vra:

“Here, maak asb U hande wyd oop. Ons weet ons verdien niks nie.

Wees ons tog net genadig.”

 

  1. (Heel interessant.) As die slaaf gestraf word vir ’n oortreding, dan was dit lyfstraf.

Daardie sweep sal aanhou klap totdat die eienaar sy hand oplig en wys: STOP!

Dit laat ons weer wonder oor ons eie situasie.

Is baie van ons nood nie straf uit God se hand nie?

Is dit nie die Here se manier om ons weer op ons knieë na Hom terug te trek nie?

Is dit nie Sy skoktaktiek omdat ons so ver van die Here af weggedwaal het en ons so min aan Hom en sy wil steur nie.

God het dit met Israel gedoen. Hy het dit meer male gedoen. Hy het dit gedoen op kras maniere. Met vyande, met droogtes, met die ballingskap. Waarom sou Hy dit nie met ons kon doen nie?

Miskien is daar nog ’n paar knieë wat voor God moet buig.

Miskien moet my eie knieë nog bietjie laer voor God buig.

Dit wanneer ons opkyk na die Here en vra:

“Here, lig tog U hand op en stop die smeltkroes.

Ons is moeg! Ons goddeloosheid het ons seergemaak. Dit het ander mense seergemaak. Ons kom na U toe en vra vir genade. Ons vra vir genadereën.

Ons vra vir genade-seën. Ons vra vir ’n fontein in ons woestyn.”

 

3. Daar is ’n derde moontlikheid hoe ons die “kyk na die hand van die eienaar” moet verstaan.

Die slaaf staan volledig in diens van die eienaar.

Met die klein gebaar van die hand het die slaaf presies geweet wat om te doen.

Die “kom”, en die “gaan’ en die “bring” het die woorde nodig gehad nie.

Dit was bloot handgebare. En daarop het hierdie slaaf gehoorsaam gereageer.

Net so is die kerk van Jesus ook in diens van sy hemelse Heer.

Die vraag is: “Hoe sensitief is ons vir die wil van die Here?”

Staan ons nog gereed om Sy wil uit te voer?

Is daar by jou nog ’n begeerte om deel van die plan van die Here te wees?

Kyk jy nog fyn na God se handbewegings?

Luister jy nog fyn na Sy stem?

Of het jy afgestomp geraak met alleen maar ’n sensitiwiteit vir jou eie behoeftes?

Dit is wanneer ons mooi moet kyk, mooi met luister en liefdevol moet gehoorsaam.

“Here, maak my opmerklik vir elke handbeweging, elke hartklop van U.

Ons weet ons sal nie hoor en sien as U nie deur U Heilige Gees vir ons opmerksaam maak nie.

Here, wees ons genadig!”

 

Ek wil afsluit.

Dieselfde vraag wat verlede Sondag (oggend en aand) hier gevra is, word weer gevra:

Wat verwag jy van die Here?

Verwag jy maar net iets soortgelyks as verlede jaar en dan sal jy tevrede wees?

Leef jy as swartgallige pessimis? Onrealistiese optimis?   Of leef jy as HOOPtimis?

 

Vanoggend vra die Here:

Verwag jy iets uit die hand van die Here?

Bid dan saam hierdie gebed:

“Here, ons, U kinders, se oë is op U hand gerig – totdat U ons genadig is.”

Ons gaan nie ophou opkyk nie!

Ons gaan nie ophou verwag nie!

Ons gaan nie ophou soebat nie!

Al vat dit ook tyd ….!

Ons gaan bly kyk en glo.

Ons gaan bly soebat en verwag!

EN BLY DANS!!

Amen

Gebed

“Ons het net een begeerte, Here: Om op te kyk en duidelik te sien!

Om U op die troon raak te sien.

Om te weet: U is Jahwe, getrou in U verbond met ons.

En dit is vir ons genoeg musiek om te begin dans!

………om aan te hou dans!

 

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.