1 Kon 18                                                                                           Prediker:  Ds Retief Botha

Verlede week het ons   gesien hoe die Here ons help om ’n geloofsgeheue oor God op te bou.

Vir  die profeet Elia gee die Here drie praktiese modules om sy geloof te versterk:

En dit is die dinge wat ons in die afgelope week hier in ons geheue moes onthou sodat ons self vanuit die hoop in hierdie God kon leef.

Maar dit was ook ons opdrag om vir ander te help om weer moed te skep.

Ek wonder of daar ’n situasie of meer was waar jy kon onthou, of nuut kon raaksien dat God regtig die God is van die kraaie, oliekannetjie en die lewe?     En het jy iemand gehelp om weer moed te skep met hierdie geloofslesse?

 

Vandag lees ons verder en sien dat daar ’n baie goeie rede was waarom Elia deur hierdie geloofsmodules versterk moes word.

Picture1Hy het ’n groot, groot taak gehad waar hy waagmoedig en uitdagend tot ’n tweegeveg moes toetree.   Dit was ’n geloofs-geveg (een teen ’n oormag!) daar op Karmelberg.

Die verhaal loop uit op ’n massamoord van die Baälpriesters. Dit stuit ons as moderne lesers bietjie teen die bors, maar in daardie konteks is dit presies wat koningin Isebel pas vantevore probeer doen het om al die profete van die Here dood te maak.  Dit is wat opponerende groepe in hierdie tipe van godsdiensstryd gewoonlik gedoen het.

Die standbeeld op Karmelberg is dan ook veelseggend waar Elia met die swaard in die hand en sy voet op die kop van ’n Baälpriester staan.

 Tema:      Die stryd in my hart … en leidrade na God

Van dag tot dag woed daar ’n baie kwaai stryd in elke mens se lewe.

Dit woed in ons harte.

Dit gaan om die posisie van God in jou hart.

Is jou hart op God gerig of op ander dinge?

Word jou hart deur God beheer of deur ongeloof?

Wat kort in jou hart om jou volledig te maak?

 

Ons leef voortdurend in hierdie spanningsveld:  Geloof vs ongeloof.

… ’n Geloofomhelsing van God of ’n ignorering/wegstoot van God.

 

Dit is amper soos hierdie hokgevegte waar ouens hul kragte teen mekaar toets.

Amper soos twee wilde diere in ’n hok.  En jy wonder watter een gaan wen?

In die hok van jou hart kan geloof of ongeloof die oorwinnaar wees.

 

Dit gebeur die wêreld oor in elke mens se lewe, elke dag.

Soms is dit bewustelik, maar soms besef mens nie eers wat gebeur nie totdat die Here self  vir jou by kruispaaie bring.

Dan besef jy eers hoe ongeloof en afgodery jou hart oorheers het.

 

Die mense het so selfstandig, selfs asemrowend, vir homself geword met al sy uitvindsels.  Daar nie meer plek is vir ’n gegrip soos God nie.

Trouens meeste mense voel ons kom beter reg sonder iets soos ‘n “Big Daddy” wat oor ons skouers loer.

En so is daar deurentyd ’n konfrontasie tussen geloof en ’n selfgenoegsame arrogansie.

Hierdie styd woed in ons harte en dit gaan oor die beheersentrum van ons lewens.

 

1 Konings 18 vertel hiervan:

Trouens die skrywer vertel hoe die konfrontasie op vier vlakke plaasvind:

(Asjera se 400 priesters verdwyn aanstons uit die verhaal.)

En die konfrontasies speel hom af voor ’n hele groot paviljoen vol toeskouers wat in hul harte die konfrontasie tussen geloof en ongeloof ervaar.

Dit is dié mense wat uitgedaag word:

Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het hom nie ‘n woord geantwoord nie.

So word die wêreld vandag uitgedaag.

Die “hink op twee gedagtes” sinspeel waarskynlik op die tradisionele hinkstapdanspassies wat die Baälpriesters uitgevoer het.

Dit is simbool van die onsekerheid van mense wat dit nie reg kry om te kies nie.

Hulle bly draadsitters net soos die Israeliete wat tjoepstil bly toe Elia hulle so uitdaag.

Die mooiste van die teks is egter wat ons alles oor  God leer.

En dit is juis wat ons hier van God leer wat maak dat ons nie besluitloos kan bly hink nie.

 

Die eerste vers leer ons sommer drie dinge van God:

Na ‘n lang tyd, dit was omtrent drie jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie. Ek wil dit weer in die land laat reën.

 

Miskien voel jy dit nie elke dag aan jou lyf nie, maar God is op soek na mense vir wie Hy kan seën.

Dit is die sorgende God van die kraaie, die kruik en kannetjie wat nie leeg raak nie.

 

Daar was ’n tyd van oordeel waar die droogte die mense tot besinning moes roep.

En die droogte maak dan ook dat Agab en die volk baie vinnig gehoorsaam reageer as Elia aanbied om hulle te woord te staan.

God is egter bereid om met hulle voor en oor te begin.

 

Die stilte word verbreek en God se stem word gehoor.

Miskien wil Hy baie meer met jou praat as wat jy bereid is om te luister.

 

Want Hy leef!   Dit is die een saak waarvan ons vandag weer verseker word:

Die Here Jahwe is nie ’n holle afgodiese versindsel nie.

 

Hy staan teenoor die stom Baäl-afgod wat natuurlik nie kan hoor of kan antwoord nie.

Heel humoristies is die spottery met Baäl en sy priesters:

  Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos ‘n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”

Die Here ons God is wakker en lewend teenwoordig.

Jy hoef jou nie stukkend te kerf of al harder te roep om reaksie te kry nie.

Die “stukkend kerf” en die “hard uitroep” het klaar aan die kruis op Golgota plaasgevind.  En juis dit is miskien die grootste bewys van sy omgeehart wat oor mense wil laat “reën”.

Christus Jesus is eintlik die Here se duidelikste antwoord op ons noodroep en ons radeloosheid.

 

Daarmee bedoel ek nie net die vuur van Karmel waarmee Hy antwoord nie.

Ons leer ken Hom as die God van die vuur soos ons dit later in die Christusverhale lees:

Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

Die opgestane Jesus is die een wat met Sy teenwoordigheid en Woord mense se harte warm laat klop.

 

Maar Hy het ook op Pinksterdag met vuur geantwoord en mense kry die vrymoedigheid  en oortuigingskrag om getuies van Hom te wees.

Nie Baäl nie, maar God is die God van vuur en vrugbaarheid.

 

Dit bring my by die laaste punt:

Ons kry hier amper iets van ’n hofgebeure waar God se bestaan bewys moet word .

Die absurde van die gebeure is dat God die onus kry om sy eie bestaan te bewys.

Dit was natuurlik nie vir Hom te moeilik nie.

Inderdaad was dit maar een van die kleiner ou wonderwerkies wat Hy al in hierdie wêreld moes doen.

 

Maar deur die eeue het die kerk en gelowiges gedink dit is hul taak om te bewys dat God bestaan.

En daaroor is daar selfs baie teologiese werke geskryf.

 

Die punt is dat ons nooit vir God sal kan bewys nie.

Want dit is ’n geloofsaak.

Vanuit die geloof, ja, is daar vir ons baie logiese bewyse wat ons siening van God en sy bestaan ondersteun.

So is daar vir ons die skepping,  die onderhouding daarvan, die uitspansel, baie gebeure in die wêreldgeskiedenis, die verhaal van Karmel, die getuienis van gelowiges ….  alles wat ons as “bewyse” van God se bestaan sou kon aanvoer.

Maar dit sal nie altyd vir ongelowiges as bewyse dien nie, veral nie in ons post-moderne era nie.

Maar dit neem nie weg dat ons met ons lewens dieselfde rol kan speel as God se vuur op Karmelberg nie.

Ons mag net nooit dink dat om logies, redelik en filosofies ander mense kan oortuig nie.

Dit is dan ook die aksent van Elia se roerende gebed waarin Hy vra dat God dan nou tog sal reageer:

Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

 

Hoor jy hierdie taal:

Dit is God wat geloof gee.  Dit is God wat harte tot hom bekeer.

Dit is nie oor oorredingskrag of mooi getuienisse nie.

En tog…!  Tog word ons nie uitgesluit nie.

Ons word geroep om “rekenskap te gee van die geloof wat in ons leef”.  (1 Pet 3:15)

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.

Die “antwoord gee” of “verduideliking gee” in hierdie teks is om die waarheid van die geloof te verdedig.  Letterlik staan daar in Grieks apologia.   In Afrikaans ken ons ook die uitdrukking “om apologeties te wees” –  Om te verdedig, soms in die sin gebruik ook van “verskonend” te wees.  Maar ons hoef nooit verskoning vir God te vra nie.

      Ons gee antwoorde en leidrade.  Ons verdedig die waarheid oor God.

Dit is ten diepste wat Elia gedoen het.

Kom ons stel dit so:  Ons taak is om vir die wêreld leidrade te gee soos in ’n speursaak.

Want sien, die leidrade gaan mense lei na ’n ontdekking.

Die ontdekking wat die Israeliete op Karmel gemaak het, staan in vers 39:

Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep:

“Die Here is God! Die Here is God!”

Ons moet soveel liefde, sorg en leidrade uitstrooi dat mense so nuuskierig raak oor hierdie God en sy wonderlike betrokkenheid by ons, dat hulle hulself sal oopstel vir God.

En dit is God self wat dan hul harte tot Hom sal bekeer.

Dit beteken dat ons in ons leefstyl nie kan bekostig om misleidende leidrade vir mense te gee nie.

Kom ek gee ’n praktiese voorbeeld:

Jacques en Alta vertel dat in hul besigheid in die eiendomsmark het hulle al bang geword vir mense wat sê “ons is Christene”,  juis omdat dit dikwels die “Christene” is wat die lelikste besigheidsmense is en die etiket van Christenskap bloot net misbruik in die besigheidswêreld.

Die Koninkryk kan nie hierdie opportunisme bekostig nie.  Dit is misleidende leidrade.

Die wêreld wag nuuskierig vir eerlike en opregte tekens van God se liefde wat hulle by ons moet kry.   En die kerk het nie juis ’n goeie “track-record” in SA en selfs in die wêreld nie.  Ons sal moet begin om ’n betroubare beeld op te bou…!

 

Sluit,

Die wêreld lees nie in koerante van God nie.

Die wêreld lees nie in die Bybel van God nie.

  Die wêreld lees jou en my lewens. Dit is al wat hulle kan lees!

        En ons lewens kan maak dat mense sku raak vir die Christendom,

                                                  of

           ons lewens dien as hoopgewende leidrade oor die vraag/vrae: 

                                  Wie is regtig God?

                                  Waar kry ek ’n genadige en liefdevolle sorgende God wat wil reën gee?         

 Nou het die Here jou geloof versterk, juis om hierdie leidraad te gaan wees waar die   geloofstryd woed in mense se harte.

 

Amen

 

Gebed:  Here, gee vir ons ’n apologia vir die wêreld.

En gee dat mense dit nie net in ons woorde sal hoor nie, maar ook in ons dade sal sien.

Maak van ons draers van hoop.  Amen