Goeie môre, dit is die dag wat die Here gemaak het, en ons is daaroor bly! Die Heer het opgestaan! Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader. En ons verwag dat Hy vinnig weer gaan terugkom en dat ons saam met Hom sal lewe. Verwag Hom, en leef met verwagting.
Pinkstertema: 2020 ‘n jaar van waterskeiding – Japie Marais
Ek hoor soveel stories van hoop in die grendeltyd. Stories van die wonderwerke, van die Here se sorg en seën. Ons wil graag van hierdie stories hoor. Daarom wil ek vra of jy nie ‘n whatsapp wil tik,al is dit nou ‘n bietjie lank en dit na die kerk se nommer stuur. Ons gaan dit verwerk in ‘n bundel met die naam: Hoop in grendeltyd. Elke week gaan ons een van hierdie stories vir die gemeente uitstuur. Ons mag nie stilbly oor die Here se goedheid nie.
Gebed:
Here, U is ‘n wonderlike God. U het die maan en die sterre gemaak. U gee aan planete hulle pad en sorg vir die miere en die voëltjies. U sorg oor vir ons. Want Here Jesus, U het opgevaar na die hemel en U sit aan die regterhand van die Vader vanwaar U regeer. Ons verklaar vanmôre U regering oor ons land, ons verklaar U regeer oor ons gemeente, ons verklaar U regeer oor ons lewe! Daarom Here, is ons nie bang nie, want vanwaar U kyk is die see glad, het U alles onder beheer. Here Jesus dankie dat U ons twyfel en seer, ons vreugdes en verlange, ons val en probeer verstaan, daar waar U sit, omdat U self hier geloop het.
Heilige Gees, ons het opnuut die verwagting wanneer ons die tyd van Pinkster inbeweeg, dat U ons sal vul met die Gees. Dat U ons vol sal maak met die Heilige Gees sodat ons met krag kan leef en met krag U getuies kan wees.
Dankie vir ons saamwees vanmôre. Dankie dat die belydenis van een Here, ons vanmôre een maak in Christus Jesus.

Ons bid vir hulle wat U nodig het. U ken hulle… by die naam. U is by hulle, seën hulle, want U teenwoordigheid is vir ons genoeg.
Seën ons saamwees. Amen
Inleiding:
Een van ons uitdagings om die Bybel reg te verstaan is die konteks of agtergrond waarbinne goed gesê word. Want jy sien, ons leefwêreld vandag is natuurlik totaal anders as in die tyd van byvoorbeeld die Nuwe Testament. Om ons Skriflesing vanmôre te verstaan moet ons iets van die leefwêreld van die gelowiges in Antiogië verstaan. So voor ons lees, kom ons verbeel ons vanmôre ons is inwoners in Antiogië vanwaar die evangelie van Matteus geskryf is.
Ons stad Antiogië, is die 4de grootste stad in die Romeinse ryk. Die stad het uit sy nate gebars sedert Paulus laas hier was. Hulle sê hier bly nou al 150 000 mense. Dit is erg beknop hier, want die mure van die stad kan nie skuif nie, al wat skuif is die mense, al nader aanmekaar en bo op mekaar. Ons huis is baie klein, eintlik net groot genoeg om in te slaap en jou belangrikste goed in te bêre. Privaatheid is feitlik onmoontlik, so ons sit maar bedags in die strate. Die stadsbeplanners verbied nou geboue hoër as 20 meter, maar sommige huise is baie gevaarlik, want die houtkonstruksies kan baie keer nie die gewig van die mense dra nie. Kort-kort hoor jy van ‘n gebou wat iewers ingeval het en mense wat dood is.
So van dooies gepraat, die reëling oor die dooies werk nie lekker in ons stad nie. Die lyke lê soms vir dae in die straat voor dit weggevat word. Sit nog daarby die nagemmers wat party mense sommer by die vensters uitgooi omdat hulle te lui is om dit na die put te dra en jy sal die ewige gemors en ‘n gestink in ons strate verstaan.
Ons waterprobleem help natuurlik ook nie. Ons gaan skep water daar waar dit die stad inkom, maar dit is baie keer so vuil en besoedel dat jy dit nie kan drink sonder om dit eers te kook nie. Ons maak maar vuur, maar dit is gevaarlik met die huise so opmekaar. Hier brand gereeld huise af. Net die ryk mense kan ordentlik bad, so ons was maar met die bietjie water wat oorbly.
Om in hierdie stad te bly is nie altyd maklik nie. Ons gemiddelde lewensverwagting is maar so 30 jaar. Want met die vuil en die stink en die baie mense op mekaar is siektes algemeen en aansteeklike siektes ‘n groot probleem! Welkom in Antiogië!
En so vriende, breek daar ‘n epidemie uit in die jaar 165 nC. ‘n Aansteeklike siekte versprei onbeheersd en volgens party geleerdes sterf tot ‘n derde van die bevolking. Want hoe stop jy die corona as jy nie water het nie, as jy op mekaar bly en in vuil, stinkende strate moet leef?
En tog, so leer die geskiedenis ons, was die Christene se hantering van hierdie epidemie een van die hoofredes waarom die Christendom in die eerste paar eeue eksponensieël gegroei het. En die vraag is, hoe het dit gebeur?
Jy sien, daar was breedweg 3 groepe wat verskillend op die epidemie reageer het:
1. Die heidene in die stad
Die eerste groep was die heidene. Hulle was die grootste groep. Hulle het eenvoudig nie antwoorde gehad op dit wat gebeur nie.
• Was die gode kwaad,
• kan die gode die siekte beheer,
• kan die gode ons red en genees?
Hulle priesters het in die tempels gaan wegkruip en die heidene het hulle eie siek mense, hulle eie vrouens en kinders eenvoudig in die strate gelos en weggehardloop! Hulle het die siekes letterlik gelos om alleen dood te gaan, dikwels van honger en dehidrasie.
2. Die filosowe in die stad
Die tweede groep in die stad was die filosowe. Die Grieke het geredeneer en geargumenteer oor die epidemie. Waar kom dit vandaan, wie sou die skuldiges wees, watter natuurkragte span saam. Ure en dae lank net gesit en filosofeer oor die ramp.
3. Die Christene in die stad
Dan was daar die klein, aanvanklik onnoemenswaardige groepie wat hulleself, vir die eerste keer in Antiogië, Christene genoem het. Die meeste van hulle het dit self nie breed gehad nie. Maar dit was die mense wat reageer het… deur te help. Hulle het prakties geraak, planne gemaak, die siekes versorg, kos gegee, water aangedra, skoon gemaak.
Want hulle het geglo, dit is wat Jesus van hulle verwag.
En met hierdie agtergrond maak Matteus 25 baie meer sin. Kom ons lees dit wat Jesus hulle geleer het.
Skriflesing: Matteus 25:31-46
Jy sien liewe kind van die Here Jesus, hulle het 3 dinge by Jesus geleer wat hulle gemobiliseer het:
1. Ons burgers van ‘n ander koninkryk
Hulle het hulleself beskou as vreemdelinge in die wêreld. Hulle het geleef met die besef dat hierdie wêreld nie hulle enigste en laaste tuiste nie. Daarom het hulle gebou aan die koninkryk waar mot en roes nie verniel nie. ‘n Koninkryk wat ver groter en wyer was as hul eie koninkryk, hul huis of stad se mure. Hulle het allereers die koninkryk van God gesoek!
2. Dit was ‘n voorreg om swaar te kry vir Jesus
Vars in hulle gedagtes was die kruisiging van die Here Jesus. Die voorbeeld van die Here Jesus om sy lewe op te offer ter wille van hulle, het die dryfkrag geword waarom die Christene ook opofferings gemaak het, risiko’s geloop, swaar gekry het ter wille van Jesus.
3. Praat alleen verander niks of niemand
Die derde beginsel wat hulle by Jesus geleer het, was dat geloof nie net praat en preek is nie. Want praat en preek alleen verander niks nie. Geloof sonder dade, ‘n belydenis sonder ‘n reaksie is dood. Jy red die wêreld deur dade van barmhartigheid.
So het Christene onverskrokke die liefde van die Here Jesus eenvoudig begin leef. Brood en sop, skoon water en gewasde klere het nie net lewens gered, dit het siele gered vir Jesus! En dag vir dag het meer mense volgelinge van die genadige en liefdevolle God van die Christene geword. Want hulle het gesien hoe Jesus se kinders in ‘n stukkende wêreld leef.
So vriende, is die geskiedenis besig om hom te herhaal in 2020. En ons sien steeds die 3 reaksies:
1. Ons kry die hulle wat net geïrriteerd is oor die verlies aan geld, die ongerief van inperking en wat ongëerg verby die siekes en die hongeres loop.
2. Ons hoor die filosowe wat bly praat en redeneer en wonder waarheen alles oppad is.
3. En dan sien ek die Christene, ten minste in ons eie omgewing, wat in hierdie tyd bou aan die koninkryk van God, wat opoffer en omgee twv die geloofwaardigheid van die evangelie van ons Here Jesus.
Ek sien Christene wat reageer en ek dank die Here vir hul opoffering en gehoorsaamheid.
• Ek sien hoe Christene hulle beursies oopmaak, hul kaste leeg maak en hulle harte gee vir hulle wat siek is en swaarkry.
• Ek sien hoe ons omgee ‘n verskil maak, nie net in die lewens van hulle wat ontvang nie, maar ook in die harte van dié wat gee. Ek sien dit is beter om te gee as te ontvang!
• En ek sien hoe God glimlag oor sy kinders, glimlag oor elke pot sop of blikkie kos, of geld wat inbetaal word, glimlag elke keer as hulle met ‘n klein daad van barmhartigheid Hom dien.
En so is ons ook in hierdie epidemie deel van God se liefdesbeweging in en deur hierdie wêreld.
Slot:
Jesus sê in Matteus 25, die laaste toets vir gelowiges voor Hy weer kom, gaan ‘n barmhartigheidstoets wees. En die toets van barmhartigheid, sê Jesus, gaan die skape van die bokke skei. Party gaan net vir hullself omgee, net aan hulle eie koninkrykies bou, bly redeneer en filosofeer. Die Koning sal dan vir die bokke sê: Gaan weg julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, want Ek was honger en julle het My niks gegee om te eet nie.
Vir die ander wie se geloof tot dade van barmhartigheid oorgegaan het sal die Koning sê: Julle is My skape, neem die hemel in besit, want Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet.
Die toets van barmhartigheid sal in die laaste dae die skape van die bokke skei. Ons skryf nou toets in barmhartigheid. Laat ons Jesus vir die wêreld wys. En onthou, in sover jy dit aan een van die geringstes doen, doen jy dit aan Jesus. Amen
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U U lewe vir ons opgeoffer het. Dankie dat ons wat in U glo kinders van God kan wees op grond van ons geloof in die opgestane Heer. Dankie vir die krag van U Gees wat ons elke dag lei, deur die swaarkry en selfs die epidemie wat ons ook nou getref het.
Here, maar ons sien U laat alles ten goede meewerk vir die wat U liefhet. Ons sien hierdie is ‘n tyd van groei vir U kerk. ‘n Tyd waarin ons voorbeeld helder en duidelik kan skyn. Maar dan Here het U skape nodig wat liefhet en versorg. Wat omgee en dien. Wat U koninkryk soek, bo ons eie.
Ons hoor dat hierdie ‘n tyd van skeiding is. Tussen hulle wat liefhet en hulle wat wegstap. Dankie dat ons deel van U liefdesbeweging in hierdie wêreld vandag kan wees. Amen