boom1Nebukadnesar was ’n dromer.  Hy het met drome oor sy toekoms gaan slaap en gevolglik drome oor sy toekoms gedroom.  Maar sy drome het hom eerder ontstel as aangemoedig, want dit was nie so maklik om te verstaan nie.  So droom hy aan die begin van Daniël oor ’n groot beeld wat stukkend breek.  Daniël kom by hom uit, nadat hy en sy maatjies vir ’n tyd lank net groente eet en water drink, en met die wysheid wat die Here hom gee kon hy die nuus oordra dat sy droom eintlik ’n nagmerrie is.      

Net ’n rukkie daarna droom hy ’n tweede droom.  En in hoofstuk 4 vertel Nebukadnesar self die storie rondom sy droom as ’n tipe getuienis.  Vers 4: “Ek Nebukadnesar, het rustig in my paleis gewoon, maar toe het ek ’n droom gehad wat my ontstel het, visioene in my slaap, wat deur my kop gemaal en my laat bang word het.”

En hierdie droom gaan oor ’n boom wat in die middel van die aarde staan.  Dit was ’n groot boom, wat baie hoog was, tot by die hemel, met groot wye takke, baie vrugte wat sommer vir die hele wêreld kos kon gee.  Almal het hierdie boom gesien en kon onder hom gaan skuil.  ’n Indrukwekkende boom!  En nadat die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders weer nie die droom kon uitlê nie, kom Daniël by hom aan. So asof Nebukadnesar nie geleer het dat die towenaars nie kan help nie!

En in Nebukadnesar se gesprekke met Daniël kom ’n mens iets agter van wat sy verstaan van God is.  Ons lees hier eintlik Nebukadnesar se geloofsbelydenis.  En as jy mooi tussen die lyne lees kom jy agter dat sy belydenis nie in die eerste plek gaan oor wie God is nie, maar eintlik oor homself en die voordeel wat hy wil kry om sy droom te laat verklaar.  Vers 9: “Beltsasar, hoof van die towenaars, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen geheim vir jou onverklaarbaar is nie.”  Daniël is vir hom die hoofseun van die towenaars!  En Daniël se God is daarom ook maar net die “hoofseun” van al die gode.  Dit gaan nie eintlik oor God nie, maar oor homself en sy droom!

En dan lê Daniel die droom uit.  En hierdie droom is nie veel anders as die vorige droom wat gewaarsku het dat die grote Nebukadnesar gaan val nie.  Vers 22: “…die boom is u, U Majesteit.  U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan die hemel, u mag strek oor die hele aarde.”  Maar die boom gaan afgekap word!  As hy voortgaan met sy hoogmoed en arrogansie, gaan hy soos die diere in die veld raak, en van die dou moet lewe.  Daarom waarsku Daniël hom in vers 27 om te breek met sy ongeregtigheid, om te verander, want hierdie ramp sal oor hom kom sodat hy kan besef wie God is!  Hierdie ramp gaan kom sodat sy begrip en belydenis van God kan verander!  Vers 25: “Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.”

Interessant dat die boom in sy droom nie uitgehaal gaan word nie.  Die Here vee hom nie onmiddellik weg nie.  Inteendeel, daar is nog ’n kans vir Nebukadnesar om te verander.  Daar is geleentheid vir ’n nuwe boom om uit te groei.  Vers 26: “Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word (wanneer?) sodra u erken dat die Hemel regeer.”  Die oomblik as hy erken dat God groter as hy is, dat God regeer, sal daar vir hom nuwe lewe kom!

En dan gaan daar ’n jaar verby waarin daar niks gebeur nie. Die droom het nie waar geword nie!  Tot op ’n dag (v29), na 12 maande  loop ou Nebukadnesar weer op sy paleis se dak.  En hy kyk so oor sy koninkryk, en hy dink: kyk hoe groot is my koninkryk, kyk hoeveel mag en geld en gesag het ek.  En dit alles is tot my eer en roem (vers 30).

En vriende, sy woorde was nog nie eers koud nie, hy het nog nie eers klaar ge-brag nie, toe word die droom waar.  Sy kop los hom daar en dan en hy gaan lewe vir 7 jaar soos ’n bees in die veld saam met die diere.  Hy vreet gras en die dou maak hom saans nat.  En die presiese woorde waarmee Daniël hom meer as ’n jaar terug gewaarsku het, kom ’n tweede keer na hom toe, vers 32: jy moet erken dat die Here die Allerhoogste is en al die mag het.  Jy moet erken dat God groter is as jy!

En vriende ek het die afgelope drie weke oor hierdie storie gewonder.  Weet jy wat is die wortel van hierdie kwaad?  Dit is hoogmoed!  Want jy sien, hoogmoed is om God se plek te vat.  Dit is om te dink die lewe draai net om jou, jou geluk, jou prestasies, jou waarde.  En vriende, hoogmoed is veel  meer as net die windmakers wat baie oor hulself praat.  En jy kan vanmôre nou maklik afskakel en sê: Gelukkig is ek nie ’n windmaker en hoogmoedig nie.  Totdat jy toelaat dat die storie van Nebukadnesar so ’n bietjie op jou kom sit en op jou groei.  Dan kom jy agter dat hoogmoed nie net iets by ander mense is nie, maar dat dit die wortel van kwaad in elkeen van ons se lewens ook is.  Die waarheid vanmôre is vriende: ons hoef nie te vra of daar in ons lewens hoogmoed is nie, ons moet eerder vra: waar is die hoogmoed in ons lewe?  Want iets van Nebukadnesar sluimer ook in een of ander vorm in ons eie lewens elke dag.  En dan is dit soos met Nebukadnesar: hoogmoed kom voor die val!

Ek bid dat die Heilige Gees die na-Prediker sal wees wat hierdie boodskap verder in jou lewe gaan vasbind.  Maar ek wil tog ’n paar voorbeelde van hoogmoed noem waaroor jy ’n bietjie verder sou kon gaan dink. (Sien dit in Nebukadnesar se lewe)(Op werbwerf!)

  1. 1.      Hoogmoed is om op ander neer te sien.  Wanneer jy so baie van jouself dink, begin jy dink jy is beter as iemand anders.  Dink ’n bietjie: hoe dink jy oor mense?  Wie is vir jou belangrik genoeg om jou tyd en jou aandag te kry?  En wie is die mense wat jou tyd en aandag nie werd is nie?  Maw, jy is hoër of belangriker as ander. 
  2. 2.      Hoogmoedige mense dink net aan hulleself.  Hoogmoed maak mense selfsugtig.  Jy is net begaan en bekommerd oor jou eie lewe, oor jou eie welstand en jou eie geluk.  Met die gevolg dat jy nie eintlik omgee wat van ander word nie, want dit gaan maar oor jouself.  En daarom sukkel hoogmoedige mense om te dien.  Hulle sukkel om iewers betrokke te raak, want hulle wil eerder gedien word as om te dien. 

Kom ons trek die kringetjie nouer na ons verhoudinge en ons huwelike.

  1. Hoogmoed maak jou geïrriteerd met ander se foute en tekortkominge.  Want jy sien, die ironie is: in jou eie oë is jy dikwels die enigste een wat nooit of ten minste minder foute maak!  Daarom sien hoogmoedige mense maklik ander se foute en tekortkominge raak.  Hulle kan maklik in gesprekke ander se foute analiseer en selfs beskinder, want ander se foute is dikwels groter as hulle eie.
  2. Hoogmoed is om moeilik om verskoning te vra.  Hoogmoed is om te dink jy is altyd reg en om nie bereid te wees om na ander saak te luister nie.
  3. Hoogmoed is om in jouself te roem.  Ag, dit is tog een van die sigbare maniere hoe jy hoogmoed kan raaksien en raakluister.  Sommer in die manier hoe ons praat oor dit wat ons het, dit wat ons bereik het en in die proses daardeur onsself op die troon sit en die Here iewers agter die gordyn.  Solank ons net raakgesien en geprys kan word.

Ag, die lysie sou jy verder kon gaan aanvul as jy met jouself en voor God eerlik sou wees.

Een van die vrugte van die Gees se boom is nederigheid.  Na 7 jaar het Nebukadnesar sy verstand terug gekry.  En dan kom hierdie merkwaardige belydenis uit sy mond.  Onthou jy die belydenis aan die begin van sy droom?  Dat Daniël se God eintlik net die hoofseun van die ander gode is.  Luister nou na sy belydenis: “Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer.  Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen.  Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde.  Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘wat doen U?’ nie.”

En dan sluit die Skrif oor Nebukadnesar af.  Ons lees nie verder in Daniël oor hom nie, want hy word in hoofstuk 5 opgevolg deur Belsasar.  Die laaste belydenis van die eens hoogmoedige Nebukadnesar, vind ons in sy laaste woorde in vers 37: “Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel.  Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig.  Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.”

Merkwaardig!  En dit het 7 jaar se ingryping gekos om hom iets van nederigheid te laat verstaan!  Jy sien, partykeer kos dit ’n siekbed, of teleurstelling of worsteling of swaarkry of verlies om weer oor nederigheid en hoogmoed te dink.

Vir kinders van die Here is nederigheid ’n vreeslike belangrike ding om gereeld te oordink.  Dit raak ons verhouding met God, ons verhouding met mekaar en ons diensbaarheid in sy kerk en koninkryk.  En in wese vriende, gaan ons lewe oor God en oor ons belydenis van wie ons God is.  Nederigheid maak God groot en hoogmoed maak God klein.

Slot: Daar is wonderlike voorbeelde van nederige mense in die Bybel.  Dink aan Abraham wat vir Lot die keuse van ’n land gee in Genesis 13.  Van Moses word daar in Numeri 12:3 gesê dat daar niemand meer nederig as hy op aarde is nie.  Johannes die doper sê so mooi in Lukas 3:16 dat hy nie waardig is om Jesus se skoene los te maak nie.  Die tollenaar slaan op sy bors in Lukas 18:13 om ’n sondaar genadig te wees.  Maar die grootste voorbeeld kom van Jesus.  Hy het Homself verneder om ’n slaaf te word.  Hy het ’n voorskoot aangetrek en begin dien.  In nederigheid het Hy nie by armes en siekes en behoeftiges verbygeloop het nie.  Jesus se nederigheid het Hom aan ’n kruis laat hang sodat sy Vader in die hemel verheerlik kan word en sondaar mense soos ons ’n nuwe lewe kan hê.

Dank die Here vir Jesus!  Dank die Here vir die genadetyd wat ons het om te groei as bome wat vrugte dra in sy koninkrykstuin!  Vrugte wat aan Hom die eer gee!  Nederigheid maak God groot en hoogmoed maak God klein.  Amen.

Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za