Dieper asemhaling
Inleiding
Dieper asemhaling. Dit is vanaand se tema. Anders gestel sou ons kon praat oor die belangrikheid van suurstof vir die menslike liggaam. in Jakobus 1:26 sê Jakobus : “‘n Liggaam wat nie asemhaal nie is dood.” As die Bybel praat van asemhaling verwys hulle na suurstof.
Ons almal weet natuurlik hoe belangrik suurstof is vir die bestaan van die menslike lewe en die liggaam. Om dit beter te verstaan gaan ek net ‘n leke verduideliking vir u gee. Elke keer as ons asemhaal gaan die suurstof wat ons inasem in ons longe in. Van daar gaan dit na allerhande kamers toe wat in die bloed opgeneem word en hierdie bloed word dan deur die hart na die verskillende dele van ons liggaam gepomp waar dit gebruik word vir energie en herstel van selle en metabolisme en uithaal van alle gifstowwe. Soos die bloed dan nou al die suurstof aan die liggaam lewer neem dit dan nou weer al die gifstowwe op en word dit dan nou weer weggevoer om uit die liggaam gewerp word. Dis hoekom ons as ons asemhaal neem ons suurstof op en as ons asem uitblaas blaas ons koolstofdioksied uit. En ons liggaam het baie suurstof nodig om te lewe. Elke dag word die 5 liter bloed wat ons in ons liggaam het baie kere deur die 95000 km aarnetwerk in ons liggaan gepomp. Ons liggaam het dus hierdie suurstof nodig vir lewe, energie metabolisme en herstel van selle. Daarsonder gaan ons binne enkele minute dood.
En dit is hoekom die Bybel van die Ou Testament af die beeld van die Gees van God of die asem van God of in die Nuwe Testament van die Gees van Christus as beeld gebruik vir die essensie van alle lewe. Sonder dit kan niemand bestaan nie. In Genesis 2:7 word van die Ruah Jahwe gepraat. Die Gees van God. In die Nuwe Testament word van die Pneumatos Gees van Christus gepraat. In wese is dit dieselfde naamlik die derde Persoon van die Drie-Eenheid. Net soos wat ons aardse bestaan nie sonder Jesus kan bestaan nie net so kan ons geestelike lewe nie sonder die Heilige Gees bestaan nie. En om hierdie beginsel te verstaan, gaan ek nou vir u aan die hand van die chemiese formule van suurstof Wat O2 is verduidelik hoe die Gees in ons geestelike lewe werk.
- Ontvang van die Heilige Gees
Die eerste O staan vir ontvang van die Heilige Gees. Die Heilige Gees is ‘n gawe van God. Daaroor is die Bybel baie duidelik. Dit is nie iets wat ons kan verdien nie. In Openbaring 3:20 sê Jesus Christus vir die gemeente van Laodisea : “Kyk Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom feesmaal hou en hy saam met my.” Die oomblik as Jesus inkom dan neem Hy ons harte oor. Hy bly in ons harte. Maar dit is nie al nie.
Omdat Jesus in ons harte woon, maak Hy dit ook vir die Gees nodig om opgeneem te kan word. As ons nie ‘n hart gehad het nie kon ons nie suurstof inneem nie. Net so is dit onmoontlik om die Gees te hê as ons nie vir Christus het nie. Luister na die volgende tekste :
- Romeine 8:9 : “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie“
- Romeine 8:10 : “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde“
- Romeine 8:11 : “Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” Die oomblik as Jesus ons hart oorneem dan asem ons die Gees van God in. En daardie asem is orals. God gee dit vir ons. Ons hoef dit net in geloof aan te neem. Luister hoe mooi sê Paulus dit in Galasiërs 3:14: ” So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het”. God gee vir elkeen wat in Jesus glo die Heilige Gees. Al wat ons moet doen, is om Hom in geloof te ontvang. Ons moet dit glo.In Efesiërs 5:18 sê Paulus : “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul“.
- Hoe meer ons in Jesus glo, hoe meer asem ons die Gees in.
- Hoe meer ons die sondige mens aflê hoe meer asem ons die Gees in.
- Hoe meer plek ons vir God in ons lewe maak, hoe meer asem ons die Gees in.
Die eerste O in O2 staan dus vir die ontvang van die Heilige Gees. En dit gaan alles gepaard met die oopmaak van ons harte vir Jesus en vir die werk van die Heilige Gees. God gee Hom vir ons. Ons moet dit net in geloof aanvaar.
- Oefening van ons harte
Die tweede O in O2 staan vir oefening van ons harte. Dit is moontlik dat ek die Gees kan hê maar dat ek geestelik baie siek kan wees. Ek kan aan geestelike asma lei. En dit is waar die imperatief inkom. Dit is nou die opdrag van die Here. Hy het nou vir ons die Gees gegee, maar ons moet nou al hoe meer en meer van die Gees inkry. Hy moet al hoe meer en meer ons lewe beheers. En net soos met die liggaam kry ek net meer van die suurstof in as ek die hart oefen.
En hoe oefen ek die hart? 1 Timotheus 4:7 staan daar : “Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe“. Hierdie oefening van die hart is die doen van goeie werke en dit is waar Jakobus se hele argument oor geloof en werke inkom. Sy argument is dat ons met geloof die Gees ontvang maar as ons niks daarmee maak nie dan beteken dit dat ons dit nie ontvang het nie. Dis hoekom hy in vers 14 sê : “As iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie. Kan so ‘n geloof ‘n mens red? “ En dan noem hy die voorbeelde van Abraham en Ragab. Abraham het geglo dat God alles ten goede gaan laat meewerk daarom was hy bereid om sy seun te offer. En God het dit ten goede laat meewerk. Net so ook met Ragab. Sy het geglo dat die manne wat Josua gestuur het van God gekom het daarom het sy hulle weggesteek. En God het haar geseën.
Deur goeie werke te doen, het hulle bewys dat hulle die Gees van God het. Deur goeie werke te doen het hulle hulle geestelike hart geoefen en het hulle fikser geword. En dit is hoe ons ons geestelike harte oefen. Deur die goeie te doen. Dit is nie net ‘n bewys dat ons met die Gees vervul is nie, maar maak ons ook geestelik fikser. Elke keer wat ek :
- liefde betoon;
- vriendelik is;
- goedhartig is;
- bly is;
- getrou is;
- nederig is;
- selfbeheersing betoon;
- getuig en nog meer oefen ek my geestelike hart.
En hoe meer ek die goeie werke doen, hoe meer verdwyn die slegte uit my lewe. Dinge soos onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, vyandskap, haat, naywer, rusies, woede, verdeeldheid, afguns, dronkenskap en dergelike dinge.
U sien met die geestelike lewe werk dit net soos met die liggaam. Ons het dit baie keer verkeerd om gesien. Ons het vir baie jare vir mense geleer dat heiligmaking beteken om die slegte te los en dan die goeie te doen. Maar eintlik werk dit presies anders om. Deur die goeie te doen, verdwyn die slegte uit jou lewe. Hoe meer jy oefen, hoe vinniger klop jou hart en hoe vinniger jou hart klop hoe vinniger pomp die bloed deur jou are. En hoe vinniger die bloed deur jou are pomp hoe meer suurstof kom by al die dele van jou liggaam uit. En dan die tweede fantastiese deel. Hoe meer die suurstof by jou liggaam uitkom hoe meer tel die bloed die afvalstowwe en die slegte dige in jou liggaam op en werp hulle uit. So eenvoudig soos dit. Deur die goeie te doen, verdryf jy die slegte. Deur die goeie te doen oefen jy jou hartspiere en kan jy meer goeie dinge doen.
En dit is waarvoor die tweede O in O2 staan. Oefen jou geestelike hart deur goeie dade te doen. Dan sal die Gees jou al hoe meer vervul.
Slot
Dieper asemhaling. Dis deels waaroor pinkster gaan. Om voller te word van die Heilige Gees. Meer suurstof. Want soos Jakobus sê ‘n liggaam wat nie asem kry nie is ‘n lyk. En hierdie O2 staan :
- aan die een kant vir die ontvang van die Heilige Gees deur Christus en aan die ander kant vir die oefening van die hart om geestelik fikser te wees;
- In Teologiese taal staan die ontvang vir die indikatief. Dit wat ek kry en die oefening vir die imperatief, dit wat ek moet doen.
- Of in meer algemene taal kan ons praat van inspirasie en persperasie.
Ek wil afsluit met ‘n praktiese toepassing en voorbeeld. As jy fietsry is daar onder meer twee baie belangrike dinge wat jy moet doen. Jy moet intervalle oefen. Met ander woorde jy moet byvoorbeeld twee dae in die week net 40 minute ry waar jy 4 stukke van 1 minuut voluit insluit. Die res is rustig. So maak jy jou hart fikser om teen ‘n hoër tempo te werk. Die ander ding is dat as jy gewoonweg oefen, moet jy voordat jy ‘n bult begin ry die entjie voor dit versnel. Hulle praat van jy moet die bult aanval. Die rede is nie noodwendig om meer momentum vir die bult te kry nie, maar jou hart vinniger te laat klop want as jy die bult uitry het jou spiere meer suurstof nodig en dan is jou hart klaar in ‘n vinniger ritme om in daardie behoefte te voldoen.
En dieselfde is waar in ons geestelike lewe. Ons kry die suurstof maar ons moet geestelik ons harte uitoefen sodat ons die geestelike bulte makliker kan uitklim.
Dieper asemhaal.
Amen.