Doen en die GeesPinkstertyd is ‘n wonderlike tyd van die kerklike jaar.

Dit is die tyd wanneer ons weer herinner word aan die feit dat die Here God sy belofte van die uitstorting van die Heilige Gees waar gemaak het.

Die Heilige Gees woon in ons as gelowiges.

Christus is nie weg in die sin dat hy daar bo in die hemel sit nie.

Deur Sy Gees is Hy teenwoordig en ons kan daaroor feesvier.

Hy lei ons dan deur sy Gees met krag in ‘n nuwe lewe.

Pinkstertyd is ook die tyd wanneer ons in ons kerk bymekaarkom om liturgies te luister en te bid.

Daar is dus nie net ‘n verwagting rakende ‘n dieper geestelike lewe en dors na God nie.

Ons doen ‘n paar dinge anders.

Vir die Jode wat uit ballingskap uit teruggekeer het, was daar ook iets wat hulle van tyd tot tyd anders gedoen het.

Hulle het soms gevas en gebid.

Dit was ‘n uiterlike geestelike ritueel wat moes saam gaan met ‘n geestelike verootmoediging en ‘n soeke na God. Ongelukkig was dit net ‘n uiterlike ding, nie een van die hart nie.

Hierdie ritueel was vir die Jode baie belangrik, want sien hulle het uit die ballingskap uit teruggekeer na Jerusalem. Hierdie terugkeer het gepaard gegaan met ‘n groot optimisme dat dit nou lekker en maklik sal wees terug uit die ballingskap uit – in Jerusalem.

Maar hulle word toe ontnugter.

Dit het nie so glad verloop nie en die omstandighede was ook nie so maklik nie:

Daar was droogtes,

daar was armoede,

daar was konflik,

daar was uitbuiting van die swakkeres….

Die land en gemeenskap het toe op Clem Sunter se “low road” beland.

En daarom hou hulle die gebruiklike vasdae.

Want sien:

Daarteenoor gee Jesaja vir hierdie teleurgesteldes die prentjie van die Paradys en ‘n land wat herstel word:

“Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.”

Hoe lyk ‘n tuin met volop water? Grasgroen en met blomme!

Dit is ‘n mooi prentjie vir ‘n gelowige wat leef vanuit God se volheid.

Maar hier kom ‘n tweede beeld by. Dit is nie net die tuin wat groen is nie.

Daar is sprake van ‘n fontein. Maw dit gaan daarom dat jy die bron word van waaruit ander kan leef.

Waar die Heilige Gees in jou werk, daar dra jy nie net die vrugte van die Gees nie, maar daar word jy die kanaal waardeur die Gees sy oorvloed laat vloei na die droë woestyndele van die samelewing.

Nou vir die verrassing van die teks:

Dit is nie maar net ‘n ryke belofte wat die Here voorsien nie.

Dit gaan oor ‘n paradysryke belofte wat verkry sal word as gelowiges op ‘n bepaalde manier optree!!!

 

En wat is daardie optrede wat nodig is?

Vers 6, 7: “Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:

om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry,

om die juk wat op mense druk, af te haal,

om verdruktes vry te maak,

om elke juk te breek?

Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie,

dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie,

dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie,

dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?”

 

Jesaja sê: “Dan …”

Wanneer jy so optree, dan sal jy die rykdom van God se teenwoordigheid by jou ontdek.

En daardie rykdom sal jou ‘n tuin maak met volop water, ‘n fontein waaruit ander kan drink!

 

Jy sal dadelik aanvoel dat dit juis op hierdie punt is waar ons sal sê:

“Here, maar ek kan nie! Ek het nie die insig en die krag daarvoor nie.”

En inderdaad het die kerk in die OT daarmee gesukkel.

Daarom was Pinkster nodig!

Daarom moes God sy Heilige Gees stuur sodat dit kon begin gebeur.

Vers 11: “Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak.”

Dit is eintlik Nuwe Testament-taal. Dit is Pinkstertaal!

Dit is dieselfde taal as waaroor br Japie gisteraand gepraat het: Suurstof se O2: Oopstel en oefen in die praktyk.

Die Woord sê: gaan DOEN die dinge wat ander nodig het.

Gaan doen die dinge wat mense se menswaardigheid kan herstel.

Gaan doen die dinge wat mense uit die “gutters” van die lewe gaan uittrek.

Steek jou hande uit na mense in die traumas en die doodloopstrate van die wêreld.

Die wêreld het ‘n geneigdheid om vir mense soos dryfsand te word: hulle kan hulself nie red nie. As daar nie ‘n reddingsboei na hul uitgegooi word nie, sal hulle in die dryfsand wegsink en versmoor.

 

Pinkster begin daar waar jy iets begin doen aan mense wat vir God so belangrik is dat hy sy Seun vir hulle gegee het.

Waarom sal jy nie met die krag van die Heilige Gees jou hande na hulle uitsteek nie.

Presies WAT jy alles aan en vir mense moet doen, kan ek nie sê nie.

Jy sal die Heilige Gees moet vra om vir jou die mense uit te wys.

Waar is die honger? Die verdrukking? Die moedelosheid? Die dakloosheid? Waar is mense in doodloopstrate?

Ons vertel vir mekaar verhale van die praktyk:

Andre het ‘n verhaal vertel van sy dors waar hy gaan oefen het sonder om genoeg water te drink.

Japie het vertel van sy verhaal waar hy gaan oefen het met sy fiets en met diep asemhaling en baie oefen sy 3 min rekord vir die Langenhovenpark opdraende gebreek het.

My verhaal: op die plaas verlede week word die hamels geskeer. Hulle staan die heel dag in die kraal – sonder water. Nou is hul klaar geskeer en word na ‘n nuwe kamp aangejaag. Ek ry vooruit om te kyk of die water in die krip reg is. Toe ek by die krip kom, vind ek net een groot krip vol slyk en vrot water. Daar was net een regte ding om te doen: skuur met hierdie twee hande die hele krip uit. Lei hom uit en tap hom vol water – nuwe skoon water. Daardie hamels kom dors by die krip aan – soveel so dat hulle op mekaar spring om by die water uit te kom. Maar uiteindelik is daar vir almal oorgenoeg water om hul dors te les!

Die geheim was egter: Steek jou hande uit! Doen die regte ding!

Al was dit ook net vir ‘n klomp hamels om water te kry.

Maar dit het vir hulle by die tuin gebring, nee! …. by die FONTEIN!

God se genade vir ‘n skaap in die Karoo is nie plasse water nie.

Dit is ‘n mens se hande …. wat ‘n krip opsit en water aanlê en die krip skoonmaak.

 

God se genade vir mense in ons “dor streke” is nie wonderwerke uit die hemel nie.

Dit is in die hande van ‘n medemens – iemand wat die nood raaksien en sy hande na hulle uitsteek en hulle uit die dryfsand optrek.

Met die krag van die Heilige Gees!

2 Tim 1:7:

“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”

Amen