Meyer van Wyk – 20 Mei 2015

Ons gaan vanaand saam lees uit Handelinge 4, u kan die Bybels solank daar oopmaak.  Ons is besig met ons reeks oor ‘n Pinkster van praktyk. Ons het reeds hierdie week gehoor van ‘n dieper dors, ‘n dieper asemhaling en dan gisteraand oor ‘n dors vir doen. Vanaand gaan ons so bietjie stilstaan by ‘n dieper gehoorsaamheid, met ‘n spesifieke fokus op ons roeping. Ons is ook die afgelope tyd in die gemeente besig met verhale en só bevat Handelinge 4 ‘n ongelooflike verhaal van roepingsbewustheid en van gehoorsaamheid aan hierdie roeping.

Skriflesing: Handelinge 4:1-22

Petrus en Johannes voor die Joodse Raad 

  1. Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm.  2. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ‘n werklikheid geword het. 3. Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. 4. Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend. 5. Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. 6. Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. 7. Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” 8.Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familie hoofde 9 julle verhoor ons vandag oor ‘n weldaad aan ‘n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. 10. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan — dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. 11. Hy is “die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. 12. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”
  2. Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. 14. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. 15. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek. 16. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat ‘n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. 17. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”
  3. Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie.
  4. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. 20. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” 21. Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. 22. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig. 

Hierdie verhaal was nog altyd vir my ‘n verstommende een.  Die gebeure waarvan ons hier lees is baie besonders, maar om te verstaan hoe besonders dit is, moet ‘n mens eers die konteks mooi verstaan, met ander woorde waar in die verhaal van die kerk ons nou is.  Ons het verlede Donderdag Hemelvaart gevier. Dit is dan waar Jesus opvaar na die hemel en, soos wat ons in Mattheus 28 lees, aan sy dissipels die groot opdrag gee om na al die nasies te gaan en die mense Sy dissipels te maak. Ons lees dan in Handelinge 1 ook van die hemelvaart en dat Jesus by Sy hemelvaart aan Sy dissipels belowe dat Hy die Heilige Gees vir hulle gaan stuur. In Handelinge 2 lees ons van die uitstorting van die Gees en Petrus se toespraak op Pinksterdag waar drie-duisend mense tot bekering gekom het. Handelinge 3 vertel hoe Petrus en Johannes ‘n verlamde man genees. Dit is dan nadat die verlamde man genees is dat ons in vanaand se teksgedeelte lees hoe die Sadduseërs op Petrus en Johannes toesak.

Ons vertaling sê dat hierdie priesters en Sadduseër “onthuts” was. Die Griekse woord hier beteken letterlik dat hulle “baie geïrriteerd” met Petrus en Johannes was. Hoekom? Oor die apostels se prediking. Petrus en Johannes het verkondig dat opstanding uit die dood ‘n werklikheid geword het vanuit Jesus se opstanding. Nou die Sadduseërs was ‘n baie konserwatiewe Joodse party wat hoofsaaklik uit priesters bestaan het en hulle het glad nie van hierdie tipe “liberale” prediking gehou nie, so hulle laat vir Petrus en Johannes gevangene neem. Die apostels moet egter in die tronk slaap omdat dit reeds laat was en sou eers die volgende oggend verhoor word. In vers 4 tref ons ‘n interessante kontras aan: hoewel die Sadduseërs ongelukkig was met die prediking het daar steeds baie mense tot geloof gekom. Ons lees dat die getal gelowiges gegroei het tot omtrent vyf duisend.

Die volgende oggend verskyn Petrus en Johannes voor die Joodse Raad. Die vraag aan die apostels is nou baie interessant: Daar word aan hulle gevra deur watter krag en in wie se naam hulle dit gedoen het. Hulle verwys nie nou na die prediking nie, maar na die genesing van die verlamde man. In vers 8 antwoord Petrus hulle – vol van die Heilige Gees getuig Petrus en  sê vir die Joodse raad vier dinge:

1) Die wonderwerk is ‘n feit: Die man is gesond

2) Dit is gedoen deur die krag van Jesus Christus en in Sy Naam.

3) Dit is dieselfde Jesus wat deur die Joodse Raad gekruisig is, maar Hy het opgestaan uit die dood.

4)  Jesus alleen bring die verlossing

Ons lees verder dat die raad die apostels uitstuur om die saak te bespreek. Hulle kan niks teen die apostels inbring nie, want die man wat verlam was het reg voor hulle gestaan, duidelik gesond! Hulle kan nie die wonder ontken nie en hulle besef dat die inwoners van Jerusalem die wonder gesien het. Hulle wil egter voorkom dat hierdie tipe van goed verder moet gebeur en besluit om die apostels te verbied om in die Naam van Jesus te preek.

Petrus en Johannes se antwoord aan hulle is aangrypend…Hulle staan voor die Joodse raad, die “main manne” van Jerusalem, en sê vir hulle: Julle moet maar self besluit wat reg is…Vir ons om aan julle gehoorsaam te wees, of om aan God gehoorsaam te wees…Maar wat ons aanbetref, is dit onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie…Die Joodse raad wil die apostels se bediening smoor en toesmeer en die apostels se antwoord is bloot: Jammer…maar nee! Ons gaan nie ophou om te getuig nie. Die gevolg is dat die Joodse Raad vir Petrus en Johannes maar moet laat gaan. ‘n Mens lees dan van vers 23 af dat die apostels inderdaad nie opgehou het om Jesus te verkondig nie. Handelinge 4 vertel vir ons van ‘n ongelooflike stuk gehoorsaamheid. Die apostels het die opdrag wat Jesus aan hulle gegee het ter harte geneem en hulle roeping ernstig opgeneem – hulle kon nie stilbly nie.

Ons is mos met vanjaar se Pinkster ook besig met verhale. So, terwyl ek hierdie teks gelees het, het die verhaal van Petrus my opgeval…Ons lees in Handelinge 4 van Petrus en Johannes se optrede en gehoorsaamheid, maar ek kon nie help om te dink aan waar hierdie apostels, maar veral Petrus vandaan kom nie. Ek wil graag ‘n paar episodes in Petrus se verhaal uitlig:

1) Ons hoor die eerste keer van Petrus aan die begin van die evangelies. Hy was ‘n visserman en by die See van Galilea daar waar hy en sy broer Andreas visvang roep Jesus hom as dissipel. Jesus sê vir Petrus – volg My en ek sal jou ‘n visser van mense maak.  Hy los sy net onmiddellik en volg vir Jesus.

2) Ons ken ook die bekende gedeelte waar Jesus in die storm op die water geloop het en Petrus uit die skuit klim om langs Jesus te loop. Petrus glo en loop vir ‘n rukkie op die water, maar toe hy begin twyfel begin hy om te sink.

3) Ons lees dan ook hoe Petrus vir Jesus drie maal verloën.

4) In Handelinge lees ons dan hoe Petrus en die ander apostels ongelooflike dinge doen. Ek het vroeër verwys na Petrus se preek op Pinksterdag waar drie duisend mense tot bekering kom. Hierdie visserman preek jong! Die Sadduseërs merk dit ook op in die teks wat ons vanaand gelees het – ons lees dat hulle verbaas was, omdat hulle geweet het dat hierdie apostels ongeleerde en eenvoudige mense was…Die vraag is dan…Wat het van hierdie visserman ‘n prediker gemaak? Wat het vir Petrus verander van ‘n twyfelaar wat sink as hy op die water wil loop en wat sy Heer drie maal verloën na ‘n man wat in gehoorsaamheid aan sy roeping selfs voor die Joodse Raad sy getuienis laat hoor? Die antwoord, dink ek, lê in Handelinge 1:8. By Jesus se hemelvaart sê Hy hierdie woorde vir Sy dissipels:

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld”

Sien, by Sy hemelvaart gee Jesus aan Sy dissipels hierdie opdrag. Hy gaan nie nou meer fisies by hulle wees op aarde nie, maar hulle moet Sy werk en Sy bediening voortsit. Hy los hulle egter nie alleen nie, want Hy weet dat hulle dit nie alleen sal kan doen nie…Hy stuur Sy Gees en deur die werking van Sy Gees kan die apostels, en ook Petrus, wonderlike dinge doen soos dit waarvan ons vanaand gelees het.

Ds. André het Sondag gepreek oor dieper dors en die feit dat ons moet drink van die lewende water sodat ons ook fonteine vir ander kan word. Die Gees het hierdie apostels dors gemaak – dors om getrou en gehoorsaam te wees aan hulle roeping. Die apostels waarvan ons in Handelinge 4 lees, was nie geestelik gedehidreer nie – hulle was fonteine waardeur die lewende water duisende mense kon bereik.  Die Asem van God, waarvan ons Maandag gehoor het, het die apostels gevul en hulle het geleer om dieper asem te haal. Hulle geloof het oorgegaan in dade. Hulle was nie lyke nie, maar springlewendige liggame wat ook deur hulle dade bedien het.  Met hierdie dieper dors en asemhaling het die apostels juis dit gedoen waaroor Ds. Retief gisteraand gepreek het – hulle het gedoen! En nie eers die Joodse Raad kon hulle keer nie.

Vanaand wil Handelinge 4 ons opnuut kom wys hoe lyk gehoorsaamheid. Hierdie apostels kon deur die werking van die Gees in hulle lewens gehoorsaam wees en gehoorsaam bly aan hulle roeping. Wat elkeen van ons vanaand moet hoor en besef is dat ons ook ‘n roeping het. Ons word geroep om vanuit ons geloof te gaan doen. Ons word egter ook gerus gestel dat ons nie alleen die wêreld hoef in te gaan nie, maar dat die Heilige Gees ook met ons is en ons ook in staat stel tot dieper gehoorsaamheid. Petrus se getuienis voor die Joodse Raad vertel ons ook van die grootste voorbeeld van gehoorsaamheid – Jesus se gehoorsaamheid. Jesus het gehoorsaam gebly aan Sy taak tot die einde toe en deur die oorwinning van Sy opstanding en daardie selfde krag van die Gees wat in ons werk, kan ons getrou bly aan ons taak.

Mag hierdie verhaal elkeen van ons vanaand inspireer tot dieper gehoorsaamheid aan ons eie roeping. Om daar waar ons elke dag beweeg daaraan getrou te wees. My gebed is dat ons elke dag al hoe dorser sal word en al hoe dieper sal begin asemhaal, sodat ons ook ons hande kan vuilmaak en kan doen. Mag ons só ‘n lewe van diepe gehoorsaamheid leef.

Amen.