IMG_5052André Oosthuizen  andrej@webafrica.org.za

 

“There are no hopeless situations… only people who think hopelessly.”

Nou in Jeremia 29 kry ons vir Israel in ‘n gat waar hulle nie gedink het hulle ooit sal wees nie.  Hulle was in ballingskap.  Vreemdelinge in ‘n vreemde plek onder ’n vreemde regering.  En daar in Babel moes hulle eenvoudig kop bo water hou en oorleef.  Daarmee saam was die vooruitsig vir ’n beter toekoms, die vooruitsig vir verandering 70 jaar ver wanneer hulle na Jerusalem sal terugkeer.  En dit het hulle vrae laat vra oor nou.  Wat maak ons intussen?   Hulle was nie meer lus om te werk nie, nie lus om te trou nie, nie lus vir kinderstemmetjies om hulle nie, nie lus om te lewe nie.  Vasgevang in hulle omstandighede het hulle gewonder of God nog by hulle is, of Hy omgee en of Hy van hulle vergeet het.  In ’n gat!

Jy ken waarskynlik die gevoel.  Die gat waar jy oorweldig voel deur bekommernis of hartseer of moedeloosheid of plain moegheid.  Nie meer lus vir werk nie, nie lus vir opstaan nie, moeg en moedeloos.  “There are no hopeless situations… only people who think hopelessly.”

 

En dan koerier Jeremia vir hulle ’n briefie.  En hierdie brief gee perspektief op die gat, perspektief op waar hulle is.  En ek wil hierdie brief van Jeremia vanmôre opsom in 2 woorde.  En dit is 2 werkwoorde, 2 dinge wat ons moet hoor sodat ons nuwe hoop en nuwe perspektief kan kry, en dit is: onthou en bou!

 

  1. Onthou!

 

Ek lees dat Martin Luther ’n baie sensitiewe persoonlikheid gehad het.  Gevolglik het hy van tyd tot tyd baie negatief en selfs depressief geraak.  En lyk my dit kon vir ’n rukkie aanhou.  So, op ’n keer toe dit weer gelyk het of hy nie uit hierdie gat kon kom nie, het sy vrou hoogs gefrustreerd een oggend na die ontbyttafel toe gekom met ’n swart band om haar arm, soos dit destyds die gewoonte was om te doen wanneer iemand gesterf het.  “Wie is dood, het Luther gevra? “Wel,” was haar antwoord, “soos jy die afgelope tyd optree, is ek seker jou God moet dood wees.”  Dit het gewerk!

 

En weet julle vriende, dit het my laat dink!  Weet jy, net so lewe ons baie keer met swart roubandjies asof God dood is!  Ons praat baie keer asof ons God dood is!  Ons gesigte wys baie keer dat God dood is!  Ons moraal getuig baie keer daarvan dat ons God dood is!  En juis daarom begin die briefie met woorde in vers 4: “So sê Ek, die Here, die Almagtige, die God van Israel…”  Hallo Israel, hier is Ek!  Julle praat en dink en lyk asof Ek dood is, maar Ek is nie dood nie!  Ek het nie van jou vergeet nie!   Ek lewe!  Daarom word Ek nie oorweldig deur omstandighede nie! Ek word nie beheer of voorgeskryf deur weervoorspellings of ekonomiese nuus of politieke retoriek nie. Ek is God!  Ek is die Almagtige!  En onthou, jy behoort aan My!  Jou lewe is in My hand!  Jou toekoms is in My hand. Julle land is in God se hand!  Dit is nie Zuma se land nie, dis God se land!  Hier is Hy Koning en Hy regeer!  Daarom kan julle opstaan uit die gat van hooploosheid omdat God koning is!  En omdat julle Koning lewe!  Onthou!

 

  1. Bou

 

Wat is die maklikste manier om mense in ’n gat van hooploosheid te kry?  Jy drink saam tee!  En dan gesels julle lekker oor alles wat sleg is, en alles wat agteruitgaan en waar ons kinders werk gaan kry en hoe moeilik is dit om hier te bly.  En baie vinnig verstik almal aan hul scons en wonder of die son nog buite skyn.  En as jy jou koppie neergesit het, staan jy lekker negatief op en gaan huistoe en niks het verander nie!

 

En die interessante van Jeremia is, nadat die Here hulle gewys het wie Hy is, gee Hy vir hulle ’n opdrag, iets om te doen.  En hierdie opdrag is om in ‘n onwaarskynlike tyd in die geskiedenis te begin bou.  Juis toe dit lyk of alles verlore is, of die ekonomie en die politiek teen hulle gedraai het, toe kom die opdrag: dit is tyd om te bou!  Vers 5: “Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring.”  Met ander woorde, hou op om te sit en tob oor julle omstandighede!  Hou op kla en wonder wanneer dit beter sal gaan.  Hou op om julleself jammer te kry en verder in ’n gat in te praat.  Sien God raak en begin bou!

 

Droom en beplan en bou aan jou huis.  Bou aan jou huwelik, bou aan jou kinders, bou aan jou gesin, bou by jou werk.  Maak die lewe vir jou mooi, lê vir julle tuine aan sodat julle die goeie van die lewe kan raaksien en dit geniet.  Geniet die opbrengs van jou oes, geniet die vrug van jou harde werk elke maand.  Geniet in oorvloed die goeie van die lewe wat jy elke dag van God kry, soos Prediker sê.  Doen elke dag wat jou hand vind om te doen, dien die Here, werk vir die Here.  Jy sien vriende, ons word geroep om te bou, om tuine in Afrika aan te lê, om kinders vir die Here groot te maak, want so sal ons sout en lig wees vir die wêreld!

 

Ek en jy is hier gesit, in hierdie tyd van die geskiedenis om God se belange te bevorder in ons land en in ons stad en in hierdie gemeente waar Hy jou gesit het.  En die Here roep ons om te bou.  Dit is waaroor ons vergaderings en beplanning die volgende paar maande in ons gemeente gaan wees.  Ons moet ons gemeente bou sodat God se belange bevorder kan word!  Ons moet ’n sentrum bou vir aanbidding waar mense saam die Here weekliks kan raaksien.  Ons moet ’n sentrum bou vir heling, waar mense in moedeloosheid gehelp kan word.  Ons moet ’n sentrum bou vir groei waar ons kan bou aan mekaar se geestelike lewe.  Ons moet ’n sentrum bou vir diens, waar ons meer en meer ons hande uit ons moue steek.

 

En die brief word vanmôre by jou afgelewer.  Die Here vra jou om te help bou.  Begin by jou eie huis, bou daar.  Moenie so vasgevang raak in moedeloosheid en ‘n gekla dat jy hierdie stukkie belangrike bouwerk in jou huis afskeep nie.  Maar jy moet asb ook saam kom bou in ons gemeente.  Kom werk saam, bid saam, gee jou offer sodat God se belange ook in en deur hierdie geloofsentrum bevorder kan word.  En ons sal krag ontvang wanneer die Gees van God oor ons kom om sy getuies te wees in Bloemfontein, die Vrystaat, Suid-Afrika tot die uithoeke van die aarde!

 

Slot:

 

Kyk weer na die prentjie.  Dit het alles met ’n verwagting te doen!  Die outjie aan die linkerkant het geen verwagting om uit die gat te kom nie, daarom sal hy daar bly sit en heel waarskynlik daar doodgaan.  Die ander ou het ’n verwagting om uit te kom en hy doen iets omdat hy gedryf word deur hierdie verwagting.

 

Die Here kom skep vanmôre ’n verwagting.  Die verwagting dat Hy met jou lewe ’n plan het.  Hy het ook ’n plan met ons gemeente.  “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”  (vers 11).  Jy sien, God se plan met ons gaan nie hier net oor die voorspoed nie.  Dit sê ook nie dat dit altyd net goed sal gaan nie.  Wat ookal God beplan vir ons, saam met Hom kan daar nie ’n hooplose situasie wees nie!  Daarom mag ons nie hooploos dink, hooploos beplan, hooploos lewe of hooploos praat nie.

 

Mag ons God onthou en dan, met verwagting begin bou!

Gebed:

 

Here U het ’n bouplan vir ons lewe.  Dit is ’n bouplan waarin U vir ons ’n toekoms gee.  En vanmôre kom skep U opnuut ‘n verwagting van ’n mooi toekoms saam met U.  Hier sit vanmôre mense wat nodig het om U te sien.  Mense wat moet onthou dat U God is.  Wil U dan ook in daardie lewens en in elke hart U teenwoordigheid kom bevestig.  Maar Here, dan roep U ons om nie net te kla nie.  U roep ons om te bou.  En soos Nehemia van ouds moet ons bou aan ons eie huis.  Help ons dan Here, om nie so deur die lewe ingesluk te word dat ons afskeep bouwerk sal doen in ons huwelike, met ons kinders en in ons gesinne nie.  Help ons bou by die werk.  Want dit is nie altyd vir almal ewe lekker of maklik om daar te bou nie.  Help ons bou aan hierdie geloofsentrum in Universitas.  Here gee vir ons die planne, gee vir ons die mense, gee asb vir ons die fondse sodat ons kan bou en U belange hier bevorder.  Dankie vir ’n vewagting, dankie dat daar in ons lewe nooit ’n hooplose situasie kan wees nie, want U is Koning.  Amen.