Bertie Haasbroek

Jy kan dit nie in ‘n kluis, of agter slot en grendel bêre nie. Chubb kan dit nie vir jou beveilig nie. Die bank
kan dit nie vir jou leen nie. MasterCard kan dit nie koop nie. Pick ’n Pay het dit nie op die rakke nie.
Edgars stal dit nie uit nie. PhotoFirst kan dit nie ontwikkel nie. Dulux kan dit nie toeverf nie. Die
paneelklopper kan dit nie herstel nie. Coke kan dit nie bottel nie. Unilever kan dit nie vervaardig nie. ‘n
Kok kan dit nie voorberei nie. Google kan dit nie vind nie. NASA en SKA kan dit nie sien nie. Lego kan dit
nie bou nie. Xerox kan dit nie vermenigvuldig nie. Nike kan dit nie wen nie. FedEx kan dit nie aflewer
nie. Die apteker kan dit nie vir jou as ‘n stroop aanmaak nie. Die dokter het nie ‘n diagnose-kode (ICD-
10) daarvoor nie. Die skool kan dit nie vir jou leer nie. Die parlement kan dit nie inperk nie …
Dis skaars, maar tog orals te kry.
Dis duur, maar altyd bekostigbaar.
Dit beweeg nie. Tog beweeg dit alles.
Geloof. Hoop. Liefde. Verlossing.
Dit sypel soos lig deur die krake. Beweeg so grasieus soos ‘n kat. Dit het die brul van ‘n leeu. Sing soos
‘n nagtegaal. Dit maak my warm soos ‘n wolkombers. Dit koel my af soos die wind my van die Karoo se
Desember-hitte laat-middag kom stroop. Dit klee my wanneer die wêreld my naak los. Verras my soos ‘n
brander op die strand. Oorval my soos sonstrale en stilte na ‘n donderstorm. Dis vars, soos die reuk van
grond na die reën. Gee perspektief, soos ‘n ruitveër op ‘n nat pad in Oktober. Dit oorwin die winter met
lentebloeisels. Dis ligter as ‘n veer. En swaar genoeg om my te anker. Dit troos, soos die
smaaksmeersels van sjokolade op my tong. Dit betower soos tienerliefde. Dit gee krag en maak die
onmoontlike moontlik.
Geloof. Hoop. Liefde. Verlossing.
2
Wanneer ek dit verloor, word ek ‘n standbeeld in ‘n wasmuseum. Verstar in ‘n tyd lank vergete.
Standbeelde droom nie, beweeg nie. Maak geen verskil nie, en het niks om by te dra nie.
Sonder Geloof, Hoop, Liefde en Verlossing eindig ek in ‘n donker grot van pessimisme. Spoel ek uit op
‘n eiland, gestroop van uitsig of hoop of uitkoms. Alleen. Waar net my eie stem op my gil.
Hierdie donkerte spoel oor na elke fasset van ons lewe … ek dra ‘n donkerte in oor hoe ek oor myself
dink, hoe ek my familie hanteer, hoe ek my mond oor alles en almal uitspoel. En hoe ek oorkook oor
die land. Ek begrawe my talente, en dink dit gee sekuriteit. Ek verloor perspektief.
Hoe gaan dit in Suid Afrika? Dalk slegter as wat jy dink. Maar eintlik veel beter as wat jy vermoed.
Hoe gaan dit in die wêreld? Dalk slegter as wat jy dink. Maar eintlik veel beter as wat jy vermoed.
Ons kort PERSPEKTIEF (balans). Hier is ‘n paar interessanthede oor ons land in vergelyking met die res
van die wêreld wat dalk onbekend is:
1. Op die wêreld se demokrasieë-indeks (2016) wat uit 167 lande bestaan, beklee SA die 39ste plek.
128 lande het nie die vryhede wat ons as vanselfsprekend aanvaar.
2. Die “2017 Economic Freedom of the World”-verslag het SA as een van die top 87 lande wat
ekonomiese vryheid betref. 59 lande val in die tweede kategorie van “gedeeltelike ekonomiese
vryheid” en 49 lande in kategorie 3 waar geen ekonomiese vryheid bestaan nie. 108 lande in die
wêreld het nie die ekonomiese vryheid wat ons hier geniet nie!
3. Hoe maklik dit is om in SA sake te doen? 74ste, uit 190 lande (2017-verslag).
4. Wêreld Ekonomiese Forum se Globale Kompeterende Indeks (2016-17): 47ste, uit 138 lande.
5. Sa se skuld-verhouding tot die BNP (Bruto Nasionale Produk) is 48% Die Wêreldbank beveel ‘n
maksimum ratio van 60% aan. Hoe gaan dit in die wêreld se groot ekonomieë? Verenigde
Koninkryk: 90%; VSA 100% en Japan 200%!
6. In terme van regulering van aandelemarkte is SA derde!
7. Die JSE se markkapitalisasie is die 18de grootste in die wêreld.
8. Ons is eerste in die wêreld met die produksie van platinum, 2de met palladium, 5de met goud,
7de met steenkool, en 12de met wolproduksie.
9. In terme van die beskerming wat beide partye in kredietooreenkomste betref, is SA 2de uit 183
lande.
10. Op die Goudreserwe Indeks het ons die 26ste grootste goudreserwes uit 192 lande.
11. Op die lys van grootste uitvoerders is ons 37ste uit 192 lande.
3
12. OEPS … Suid-Afrikaners skuld plaaslike munisiplaiteite, verkeersowerhede en SARS R180 miljard
(agterstallig).
13. Beleggersbeskerming: 14de uit 140 lande.
14. SA was in 2016 gasheer aan meer as 9 miljoen toeriste.
15. SA is gasheer van drie van die wêreld se grootstes: Die Kaapstadse fietstoer (Cape Argus Cycle
Race), oopwater-swem (Midmar) en ultra-maraton (Comrades).
16. 9 van SA se 23 universiteite is in die Top 4% van die 20,000 geregistreerde universiteite. Die
ander 11 universiteite is almal onder die top 8%. Drie van ons universiteite tel onder die top 500:
Kaapstad, Stellenbosch en WITS.
17. Van die Suid-Afrikaners wat ge-emigreer het, het 395,000 die afgelope 5 jaar teruggekeer.
18. OEPS … Die Happy Planet Index vergelyk 151 lande met mekaar. Ons beklee die 142ste plek.
Duidelik weet ons hoe om brompotte te wees.
19. Persvryheid. Uit 178 lande beklee ons posisie nr 38. Ons het meer persvryheid as Frankryk,
Italië, Spanje, Portugal en al die ander BRICS-lande!
20. Ons is 19de in terme van prisoniers tot populasie-verhouding. Raai wie wen hierdie een? Die
VSA!
21. SA het 56 miljoen aktiewe selfone. In terme van selfoondekking is ons onder die top 5 lande in
die wêreld.
22. SA het die 40ste laagste totale belastingkoers uit 189 lande.
23. Uit 220 lande het ons die 35ste grootste ekonomie in die wêreld.
24. Korrupsie: uit 176 lande is ons die 64ste mins-korrupte land in die wêreld. 112 lande (!) is meer
korrup as SA! Italië is 60ste, China 79ste, Rusland 131ste, Zimbabwe 156ste. Die VSA? 18de. Die
mees korrupste lande in die wêreld? Somalië, Noord-Korea en Sirië.
25. Ons is die 43ste beste reisbestemming.
26. Uit 173 lande word ons as die 29ste mooiste land in die wêreld beoordeel.
27. Beste wyn: 12de uit 37 lande;
28. Beste bier: 29ste uit 45 lande;
29. Beste staproetes: 33 uit 62 lande;
30. Beste wittebroodsbestemming: 31ste uit 52 lande;
31. Beste kos: 79 uit 167 lande;
32. Beste branderplanry: 5de uit 41 lande;
33. Beste weer: 16 uit 67 lande;
34. Wildbesigtigingstoere: 5de uit 22 lande
35. Bergklim: 30ste uit 57 lande;
36. Beste vir somervakansies: 27ste uit 54 lande;
37. Mooiste vlag: 14de uit 262 vlae.
4
· 39ste met demokrasie? Ja, maar wat van die 128 lande waar dit slegter gaan?
· 63 lande bestuur korrupsie beter as ons! Maar wat van die 112 lande waar korrupsie ‘n nog
groter probleem is?
· Persvryheid. Net 38ste? Ja, maar 140 lande se persvryheid het meer inperkinge as by ons.
· Ten spyte van die feit dat dit in Suid Afrika veel beter as die meeste lande in die wêreld gaan, is
ons amper die ergste brompotte van almal!
Teks: Efesiërs 3: 14 – 21
14. Daarom kniel ek in gebed voor die Vader
15. aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke
het.
16. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om
innerlik sterk te word,
17. dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en
gegrondves sal wees.
18. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en
diep die liefde van Christus strek.
19. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul
word met die volheid van God.
20. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid
of dink,
21. aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die
geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Ons omgewing het ons verswelg – en dit het die swakte van ons innerlike krag ontmasker…
· Ek bid (uit die tronk uit) … aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,
· dat Christus in julle harte sal woon … in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
· in staat wees om te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
· mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God!
Geloof. Hoop. Liefde. Verlossing…