“Julle moet werklik sout wees.” (Vs 50)

salt_of_the_earthBaie van die sin wat ‘n mens in die lewe vind, kom vanuit die feit dat jy weet dat jy ‘n verskil in die lewe kan maak.

Dit is wat ons glo.  

Dit is waarvoor ons ook in die gemeente staan as ons sê ons is ‘n Sentrum vir Diens en Heling en Groei.   ‘n Sentrum waar ons glo in verandering.

Maar ek is so bang dat ons moedeloos sou kon raak daarmee.

Ek is bang dat ons dink die negatiewe is net te groot.

Dat die hooploosheid ons sou kon oorweldig en ons sou ophou om goed te doen.

Dat jy sou kon ophou om (itv vs 50) “werklik sout te wees”.

Daarvoor het ek vanoggend vir die gemeente ‘n verhaal en ‘n lering uit Jesus se mond.

Kom ons begin met die verhaal – wat ek hoop as metafoor in jou hart sal vassteek.

 

Dit is die verhaal van Telemachus.

Wie was Telemachus?

Hy was ‘n doodgewone en eenvoudige monnik wat in die Italiaanse platteland in ‘n klooster geleef het – in die 5e eeu.

Eendag raak Telemachus bewus daarvan dat die Here hom roep om Rome toe te gaan.

Waarvoor het hy nie mooi verstaan nie, maar die here se roepstem was vir hom baie duidelik.

So pak hy daar in die kloosters sy besittings – wat alles in een sak inpas en met die sak op die rug vat hy die pad Rome toe.

Toe hy in Rome aankom vind hy ‘n groot opgewondenheid in die stad.

Hy vra uit waaroor dit gaan en hulle vertel vir hom: “Dit is vandag die dag van die jaarlikse gladiator-gevegte in die arena. Die sirkus!!!

Telemachus het by homself gedink: Maar dit kan nie wees nie! Dit kan tog nie wees dat mense 400 jaar na die koms van Christus steeds mekaar doodmaak vir die plesier van die toeskouers.

Maar so vind hy ook sy weg tot in die Colosseum.

Daar sien hy hoe die eerste gladiators teenoor mekaar opstel.

En hulle skree met die vuis in die lug “Hail Ceasar! Ons sterf vir Ceasar!”

En weer besef Telemachus: Dit is net doodeenvoudig nie reg nie!

En Telemachus spring bo-oor die heining en hardloop tot tussen die eerste twee gladiators wat op mekaar afstorm.

Hy stop hulle en skree: “Dit is nie reg nie! Julle kan dit nie doen nie!”

Die monnikkie se optrede het nie die goedkeuring van die bloeddorstige skare weggedra nie. Hulle het hom net daar in die arena met klippe doodgegooi.

Maar toe die storie by die keiser uitkom, het Keiser Honorius die monnik tot ‘n christenmartelaar verklaar en alle verdere gladiatorsgevegte gestop.

Die geskiedenis wil dit hê dat die sirkus van Telemachus die heel laaste gladiatorgevegte in die Romeinse Ryk was.

Een mens met ‘n oortuiging wat die wêreld verander het!

 

Ja. ‘n enkeling, kan ‘n verskil maak.

En waar ons elkeen ‘n klein verskil maak, daar begin skuif ons ‘n kultuur.

En ook SA het vandag nodig dat daar kultuurskuiwe sal kom.

Daaroor praat Jesus met ons as sy dissipels.

Daarvoor inspireer die Heilige Gees ons.

 

Markus-evangelie is die evangelie wat vir ons nie net van Jesus as Seun van God vertel nie, maar wat ook gelowiges toerus en voorberei om Jesus te volg.

Markus leer dat dissipelskap begin waar Jesus mense roep. (Telemachus se verhaal.)

Dissipelskap begin nie waar jy jouself eers goed afrig om ‘n goeie dissipels te wees en dan gaan meld jy aan by Jesus nie.

Nee, Jesus roep en dan, op reis saam met Jesus, leer jy die basiese vaardighede.

Dit is wat dissipelskap tog beteken.

Markus leer egter vir ons ‘n belangrike ding van hierdie dissipelskap.

Dit is dat dissipelskap opoffering en selfverloëning vra.

Dissipelskap vra ‘n bereidheid om selfs vir Jesus te sterf. (Telemachus.)

Daarom lees ons in die evangelie ook ‘n refrein van hoe Jesus by herhaling vir die dissipels vertel dat Hy gaan sterf en dat Hy gaan opstaan. (Nie dat hulle veel daarvan verstaan nie.)

En na elkeen van hierdie “lydensaankondigings” leer Hy hulle meer oor dissipelskap.

 

Dit gebeur ook in Markus 9. In vers 31 kry ons die lydensaankondiging en dan volg (ironies)

die gesprekke van die dissipels oor wie is die belangrikste.

Jesus kry dan ‘n kindjie en laat hom tussen hulle staan en verduidelik:

Dissipelskap gaan nie oor goed soos status en belangrikheid nie, maar oor ‘n daad van liefde soos om hierdie ou kindjie (onder op die status-leer) in jou arms vas te hou.

Dit is vir my aangrypend die teer handeling van Jesus hier.

Vers 35 en 36

Toe het Hy ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê: “Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My …”

Om ‘n verskil te maak beteken dus: Begin met jou dade van liefde by die geringstes.

Doen goed aan hulle wat juis nie vir jou daarvoor kan betaal nie.

Doen goed aan hulle wat juis die diepste in die nood is.

 

Dan kom vers 41 en wil vir ons vertel watter soort dade is die belangrikste:

Vs 41:

“Elkeen wat vir julle ‘n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry…”

Dit gaan nie altyd oor groot dade nie, maar soms is die klein dade van liefde en sorg die nodigste.   Soos om ‘n bekertjie koue water te gee.

Ons roeping is om bekers koue water uit te deel.

Daar is iets soos “small deeds of random kindness”.

Om die onverwagte te doen. Om vir mense wat dit nie verwag nie, goed te wees.

Die beker koue water is eintlik ‘n gebaar van gasvryheid.

“Jy is welkom!” “Ek steek ‘n vriendelike hand met ‘n bekertjie koue water na jou uit.”

Die wyksleiers wat ons netnou bevestig is die mense wat ook daar in die wyk ‘n bekertjie koue water moet uitdeel. Al is dit net ‘n telefoonoproep waarmee jy vra: “Hoe gaam dit met julle?”   Of “Kom drink na kerk ‘n koppie tee saam met my in die koffieshop.”

 

Kom ek vertel my skande:

Gisteroggend 7:00 tik ek aan hierdie gedagte, maar staan met ‘n beker koffie op en stap na die straathek toe om die koerant te gaan haal. Ek hoor die honde by die bure blaf en loer in die straat af. Dis is ‘n boemelaar … op pad na my adres. Weet julle wat doen ek? Ek koes agter die struik in en draf motorhuis toe. Want ek wil nie gepla wees nie.

In die moterhuis ruk die Here my tot stilstand. “Retief, jy het dan nou net begin preek oor die bekertjie koue water!”

Ek moes baie skaam vir myself terug loop hek toe.

Ek was nie bereid om die stukkie opoffering van dissipelskap te gee nie.

Die bekertjie koue water was instinktiewelik te veel gevra.

Telemachus was bereid om oor die heining te spring. Ek kruip weg agter die heining!

Hierdie dominee en sy gemeente moet leer van opoffering en selfverloëning.

Dit is die voorbeeld wat ons Jesus vir vir ons gestel het.

 

As jy dit doen, dan dan is jy werklik sout wat ‘n verskil maak.

Dan is jy sout wat weer smaak begin gee aan ‘n gemeenskap wat smaakloos en onsmaaklik geraak het.

Ek wil afsluit, maar vers 42 gee vir ons eers ‘n baie belangrike waarskuwing:

Ons optrede as dissipels, ons houding, ons gesindheid kan mense aanstoot gee.

Die liefdelose manier waarop kerkmense optree, gee partykeer soveel aanstoot dat dit mense afskrik.

Dit kan maak dat mense selfs van die geloof en van Jesus afvallig raak.

Daarom is die sout so belangrik!

Die ou “kleintjies” , waarskynlik die swakkeres in die geloof, is vir die Here Jesus baie belangrik.

Ons mag niks doen om hulle af te skrik of aanstoot te gee nie.

Die gevaar van sulke “soutlose” optrede word op ‘n treffende manier uitgebeeld:

Lees vers 42:

Wat is ‘n meulsteen?

Dit is ‘n groot ronde swaar klip met ‘n gat in die middel. Dit is deur ‘n donkie in die rondte gedraai om koring te maal.

Jesus sê dit sou beter wees as die oorsaak van ander se afvalligheid so ‘n nekbandjie kry en dan in die see gegooi word.

God sal onverskillige optredes teenoor die “kleintjies” nie verdra nie.

En self moet jy ook sorg dat daar nie verleidings in jou eie lewe is wat maak dat jy van Jesus afvallig raak nie.

Gooi die struikelblokke uit jou lewe uit.

Kyk mooi wat jou laat struikel en raak daarvan ontslae.

Al is dit ook dinge wat oënskynlik kosbaar is soos jou oog, jou hand of jou voet.

Gooi die struikelblokke weg!

Jou roeping om ‘n verskil te maak is te kosbaar dat enigiets dit moet saboteer.

 

Ek sluit af:

Verse 49 en 50 is baie moeilik verstaanbaar en die oorgelewerde tekslesings is ook problematies:

Waarskynlik staan daar in die beste Griekse weergawe:

“Elkeen sal met vuur gesout word…

en elke offer sal met sout gesout word.”

 

Jesus is besig in ons lewens.

Jesus is besig met loutering en smaakgewing in jou en my lewe.

Hy louter alles uit wat afvalligheid kan veroorsaak.

En Hy sout ons sodat ons al meer smaaklik kan raak.

Hy sout ons sodat ons sout vir die wêreld kan wees.

….. sodat ons ‘n verskil kan maak.

“Julle moet werklik sout wees…!”

Wees ‘n Telemachus vir jou konteks!

Wees ‘n …. Jesus wat jou self gee vir die verskil!

Amen