SKRIFLESING: Gen 16 en Gen 21:1-21
Hierdie Woord sluit ten nouste aan by verlede week se verhaal van die blinde man wat vir Jesus raaksien vanuit sy donker blindheid.

Ons gaan twee Skrifgedeeltes lees.
Dit is twee verhale wat handel oor die gesin van verbondsvader Abraham, sy vrou Sara en die Egiptiese slavin, Hagar, wat later ook ’n “vrou” van Abraham word.

Ons ken nou al die verhaal hoe Abraham geroep word om sy wortels op te trek uit Ur van die Chaldeërs.
En hy trek na die land wat die Here nog vir hom sal wys.
Op hierdie reis gee die Here kort-kort vir hom beloftes wat almal op ’n manier insluit dat hy ’n groot nageslag, ‘n verbondsnageslag sal hê.
Ongelukkig raak Abraham en Sara al ouer en die kanse vir ’n baba, menslik gesproke, word drasties skraler.
Teen die tyd dat ons Gen 16 bereik is hulle al ver verby die ouderdom van kinders te kry.

Die kollig skuif in hierdie twee verhale veral na die slavin, Hagar, maar op so ’n wyse dat dit nie sy is wat die hoofkarakter word nie…

Ons lees eers net die eerste verhaal van Gen 16.

Hierdie is ’n pragtige verhaal.
Hierdie is ’n hartseer verhaal.
Dit is ’n verhaal van emosionele hoogspanning en trauma.
Maar dit is ook ’n verhaal van geloof en hoop….
Want die “Engel van die Here”, dws die Here Jahwe self, verskyn hoopgewend op die toneel.

Twee vroue in ’n huis werk nie goed nie.
Dit is egter Sara wat self -uit radeloosheid oor haar kinderloosheid- die idee bring om haar slavin hierby te betrek. Sy word vir Abraham as “vrou gegee”.
Hagar raak swanger. Nou begin die moeilikheid. Nommer Een kyk meerderwaardig op die ander neer en die ander neem wraak deur “Nommer Een” sleg te behandel.
Dit moes meer gewees het as ’n katterige opmerking of twee.
Sara gee vir swanger Hagar soveel gas dat sy dit net nie meer kan uitstaan nie.
Sy word verkleineer en uitgetrap en misbruik.
Tot op die punt dat Hagar drasties optree.
Sy loop weg – in die wildernis in.
Sy sien nie ’n toekoms hier by Sara en Abraham nie.
Dit was nie ’n slim plan nie.
Hoe het sy gedink gaan sy daar oorleef?
Nee, sy het nie gedink nie!

Maar daar sit sy rigtingloos, koersloos, hooploos en getraumatiseer by ’n fontein in die woestyn.
Sy sien niks anders nie as ’n doodloopstraat.

Haar GPS soek na ’n satelliet-sein, maar vang niks op nie.

En dan…… dan verskyn die Engel van die Here (Jahwe self) aan haar.
Hy begin ’n pastorale gesprek met haar.

Vra uit oor waarom sy hier is… Waarvandaan? Waarheen?
Die Here sê vir haar: “Nee! Gaan terug!”

En …. “Jy gaan ’n seun hê.”
Hy gaan ’n “wilde donkie” wees. In ons taal ’n bietjie van ’n rowwe gangster. Ontembaar.
Soos die Arabiere vandag nog is.
Maar jy moet hom Ishmael noem. Dit beteken: “Die Here hoor”. (Ons kom later daarheen terug.)
“Hagar, gaan terug… want jou kind, omdat hy Abraham se kind is, is deel van My groter plan.”

Vir Hager was hierdie nie net ’n padteken terug huis toe nie.
Dit was vir haar ’n kosbare ontmoeting met die lewende Heer!

Dan staan hier iets wat ons mooi moet hoor:

Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê:
“U is ‘n God wat my sien,
hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”

’n Onsterflike reaksie op Hagar se lippe.
’n Reaksie wat op elke van ons se lippe moet pas.

Dit is ’n geloofs-reaksie, ’n aanbiddings-aksie:
Eintlik is hier twee opmerkings: Een is ’n belydenis voor die Here self,
die ander is ’n getuienis teenoor die wêreld.

“U is ‘n God wat my sien”

“Toe ek gedink het ek is verlore en in ’n verdwaalde doodloopstraat, het U aan my verskyn.
U het my gesien! Ek is deel van U agenda!
Dankie Here dat U my nie daar gelos het nie.
U is die Heer wat sien en omgee.
Skielik sien ek ook die fontein hier waar ek op die wal van die fontein sit as deel van U sorg.
U weet van my ….en U verskyn om aan my lewe nuwe rigting te gee …
– volgens U goddelike plan!
Dankie, Here, ek aanbid U!”

Kom ons maak dit baie persoonlik:
Was jy al by die wanhoopspunt waar jy nie meer raad of hoop gehad het nie?
Jy wil net wegloop, wegraak, verdwyn …!

En het jy toe in daardie omstandighede die Here se Engel/Homself ontmoet?
….dat jy net verbaas besef: Die Here sien my!
En Hy doen meer as net sien!
Hy sorg ook!

Kyk vanoggend baie mooi:
Jy moet Hom vanoggend raaksien.
Jy kan nie aangaan op jou wanhoopspad in die woestyn sonder die Here nie.
Die Heilige Gees is besig om nou jou oë op te maak dat jy Hom kan sien wat vir jou sien.
Moenie daaraan twyfel nie!

Maar Hagar se reaksie behels meer as ’n belydenis.

Dit is ook ‘n getuienis:

“…hier het ek Hom gesien wat my gesien het.”
As jy die Here sien, dan raak jou hart vol en dan begin jou mond daarvan oorloop.
En ek en jy, 4000 jaar later, word deur hierdie getuienis geïnspireer en ons begin dit na-sê.

Daar is baie mense hier buite wat nie weet dat die Here hulle raaksien nie.
Ons is maar net die profete wat vir hulle daarop moet wys:
“Die Here is die Here met oë! Wat jou raaksien! Wat omgee!
Ons moet vir hulle vertel: “Ons het ook al wanhopig en fed-up in die woestyn gesit.
Maar daar het ons iets kosbaars raaksgesien: Die Een wat ons sien!
Kyk ’n bietjie mooi of jy Hom nie miskien kan raaksien nie!!!!

En toe mense later Hagar se verhaal hoor, toe sê hulle vir mekaar:
“Ons mag nooit van hierdie verhaal vergeet nie!
Kom ons noem die fontein: La-gai-Roi-fontein”.
Dit beteken: Fontein “van Hom wat lewe en my sien!”

Kom ons (vandag hier!) noem hierdie eredienste La-gai-Roi-eredienste.
Kom ons noem ons stiltetye: La-gai-Roi-stiltetye.
Kom ons noem ons lewens: La-gai-Roi-lewens voor die Here.

Nou die tweede verhaal, met dieselfde rolspelers – en dit eindig ook by ’n waterfontein.
Isak, die beloftekind is toe wel met ’n wonderwerk gebore – op 90 jarige ouderdom van ouma Sara!

Die boodskap is bykans dieselfde:

Gen 21:8-21

Abraham en Sara se ongeloofs-lag van vroeër het oorgegaan in ‘n vreugde lag van almal wat saam met hulle bly was.

Maar by ’n feesgeleentheid is dit die klein “wilde donkie” wat spottend lag oor “ouma” wat kinders het.
En net daar besluit Sara dat Ishmael nie saam met Isak mag erf nie.
Sy eis van Abraham om ma en kind weg te jaag.

My hart breek as ek hierdie prentjie sien:
Abraham roep die oggend vir Hagar:
“Hagar, hier is vir jou ’n broodjie … en ’n sak water … en ek tel vir Ishmael ook op jou rug.”

“Nou waarheen gaan ons, vader Abraham?”
“Weg!”
“In watter rigting moet ons loop?”
“Daar! Woestyn se kant toe…!”
“Maar waarvan gaan ons lewe?”
“Daar is julle brood en water mos!”
“Bye, bye!”
“Ta-ta.!”

En dan, later die dag is die water op!
Klein Ishmael is besig om van dors te sterf!
Hy skree vir water, maar die velsak is al lankal dolleeg.
Ma sit hom uiteindelik onder ’n skaduweebos neer!
Dan loop sy weg, want sy kan nie die geluid van droë dors-snikke uitstaan nie.
Sy sal van haar kop af raak!

Sy gaan sit op ’n klip buite hoorafstand. Sy wieg heen en weer. Sy vou haar arms rondom haarself.
En dan breek die tranedam…

Sien jy hierdie prentjie?
Ek ontstel my so daaroor dat ek die nommer van die Menseregte Kommissie begin soek.
Of Kindersorg se aanmeldingsentrum.
Of die Polisie se noodnommer!

Dit is die vreeslikste traumatisering … wanhoop … ook vir ons wat die prentjie bykans eerstehands raaksien en die snikke van weerskante af hoor … klein Ishmael se gehuil … Hagar se snikke!

Is daar niemand wat hoor nie?
Is daar niemand wat hierdie trauma kan stop nie?

Dan kom vers 17…
God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.
Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ‘n groot nasie laat word.” Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ‘n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee.

Die Here wat haar by La-gai-Roi gesien het, het nou vir haar by die skaduweebos gehoor.
Die Here het ook die kind gehoor.

Waarom sou ons kon verwag dat die Here die huil van Ishmael moes hoor?
Want die Here het hom sy naam gegee: Ishmael: “Die Here hoor!”

1. Dit is die eerste wonder: Die Here hoor die huil van dors.
Die Here hoor die huil van ’n moeder wat wanhopig en magteloos wag op die ergste om te gebeur.
Die Here hoor! Omdat Hy vir mense omgee.

Ons moet weet dat die Here nie net sien nie, maar ook hoor.
Moenie so wanhopig huil oor Suid-Afrika nie.
– Oor jou kinders en die toekoms nie.
– Oor die toekoms van ons aarde met aardverwarming en oorbevolking nie.


2. Die tweede wonder is dat die “Engel van die Here” weer ’n keer verskyn.
Sigbaar, by mense – as Immanuel. Dit is niks anders as God wat in Jesus Christus aan ons kom verskyn het om hoop en ’n toekoms te bring nie.

3. Die derde wonder is dat die Here Hagar se oë oopmaak om te kan sien.
En wat sien sy?
Sy sien die Here se voorsiening wat maar nog die heeltyd daar binne reikafstand was:
’n Put met water.
Deur al haar trane en wanhoop kon sy nie helder sien nie.
Die Here maak egter haar oë oop en sy sien … die Here se sorg!
Dit is wat die Heilige Gees elke dag in ons lewens wil doen:
Om ons oë oop te maak om die Here en Sy voorsiening te kan raaksien!

Ek sluit af:
Al vergeet jy alles vandag waaroor ek preek: Onthou: Die Here sien en die Here hoor!

Daar is geen trauma en geen wanhoop wat by die Here verbygaan nie.

Saam met ’n Hagar moet ons leer sê:

“Ek het die Here gesien wat my gesien het.”
“Ek het die Here gehoor wat my gehoor het.”

“Ek sien die Here wat my sien.”
“Ek hoor die Here wat my hoor.”

Gaan leef met hierdie getuienis. Gaan leefe vanuit hierdie getuienis!

Amen
En as jy die Here nog nie duidelik genoeg sien nie,
dan roep Hy jou nader na Sy genademiddele:
Kom kyk na die doopvont waar Hy steeds sê: “Ek sal vir jou ’n God wees.
En hy roep jou na die nagmaaltafel waar Hy sê:  “Ek het dit vir jou gedoen…”

En die nagmaalwyn proe nie vandag soos soet muskadel nie.
Dit proe doelbewus soos die droë sterwende dors toe Jesus aan die kruis gesê het: “Ek het dors!”
Dit proe na Hagar se trauma-doodloopstraat by La-gai-Roi.
Dit proe na die dors van ma en kind voordat die Here vir hulle die uitkoms laat sien het.
Gebruik die tekens om in die geloof versterk te word om die Here te sien en te hoor!