Ek onthou ’n storie uit my kinderjare oor ’n perd met die naam Samurai.  Ek kan nie lekker presies alles onthou nie, maar die temalied het iewers vasgesteek!  Dit was een van die stories wat ek nie gemis het nie.  Perde het mense nog altyd gefassineer.  Dit is seker een van die mooiste en mees intelligente diere van God se skepping.  Behalwe as vervoer en oorlogsrytuie, bring perde op ’n manier rustigheid en verwondering.  Dit herinner ons aan die skoonheid en mag en die majesteit waarmee God geskep het. 

In Openbaring 6 word die perde losgelaat.  En dit is ’n perd van ’n ander kleur!    Letterlik so!   Eintlik is die perde van Op 6 vreesaanjaend.  ’n Wit perd, rooi perd, swart perd en vaal perd.  Elkeen met ’n ruiter wat die perde stuur om verwoesting te saai.  Jy sien God is besig om die meesterplan vir die einde van die wêreld bekend te maak. 

Want Hy hou die geskiedenis en toekoms van die wêreld in sy hand.  Hy regeer nie net vandag nie, maar regeer oor môre en oormôre.  Hy regeer tot Hy weer kom! 

En die wat en die hoe van tyd, hoe die tyd gaan uitspeel tot en met die finale koms van Jesus is alles opgeskryf in ’n boekrol!  Die boek met die groot geheim van God se plan met ons wêreld.  Die boek met die antwoord op die vraag: Waar gaan die wêreld heen?  Hierdie uitgewerkte toekomsplan is in God se hand!  Dit is soos geklassifiseerde inligting.  Dit is verseël met 7 seëls en konfidensieël staan op die lêer geskryf.  5:1 staan daar: “in die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ’n boekrol gesien wat aan die voor- en agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was.” 

En terwyl Johannes met gespanne verwagting uitsien na die inhoud van die boek, kry hy slegte nuus en begin hy huil, want daar was niemand in die hemel of op die aarde wat hierdie boek kan vat, die seëls afhaal en daaruit voorlees nie.  En dan kom Jesus en Hy vat die boek.  En Hy begin een vir een die seëls oopmaak.  Een vir een ontvou en ontknoop die verhaal van die einde van die wêreld.  Ek hoop jy is gereed om dit vanaand te hoor wat die boek sê gaan gebeur wanneer die einde van die wêreld baie naby is!

6:1 – “Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak…”  En soos die eerste 4 seëls oopgemaak word, word 4 perde oor die aarde losgelaat om te hardloop.  En die geluid van hulle kragtige hoewe word vandag steeds sterker en word vandag oor die hele wêreld gehoor.  Ouens, die 4 perde is alreeds losgelaat!  Ons hoor hulle gallop!  Ons sien die verwoesting wat hulle saai! 

Vers 2: “Ek het gesien: daar was ’n wit perd.  Sy ruiter het ’n pyl en boog gehad…” 

Hierdie wit perd is ’n bietjie verwarrend.  Want ons sing mos ook van die ruiter op die wit perd as verwysing na Jesus wat weer gaan kom, soos ons later in Openbaring lees.  Maar as deel van hierdie span van 4 perde, is die wit perd en sy ruiter nie die Here Jesus nie.  Die wit perd is mense wat hulle voorstel of voorgee om Jesus te wees.  Dit is die valse profete.  Dit is hulle wat die kinders van die Here wil verlei.  Jesus waarsku teen hierdie ruiter in Matteus 24:4,5: “Pasop dat niemand julle mislei nie.  Baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus, en hulle sal baie mense mislei.” 

Ouens, die valse ruiters op die wit perd gallop oor die wêreld met sy duiwelse verleiding.  Die tuin van Eden met Adam en Eva was die eerste rondte.  Dink hoe hierdie perd gallop deur die geskiedenis: Kaïn en Abel, Israel en die goue kalf, Simson en Delila, Dawid en Batseba, Judas wat Jesus verraai.  En saam met sy verleiding bring hy die dood.  Hy ry vandag nog ons lewens binne.  Die geraas van sy hoewe word op die oomblik in ons stad en in ons strate gehoor.  Petrus waarsku teen hom (1 Pet 5:8,9) “Pasop, hy loop rond soos ’n brullende leeu en kyk wie hy kan verslind!”  En jy sien, die Bybel verseker ons dat die ry van valse christusse steeds langer sal word. 

En ons sien dat baie mense agter die wit perd en sy ruiter aanloop.  Want die ruiter op hierdie perd wil hê dat ons die wêreld liewer moet hê as vir Jesus.  Hy maak mense geldgierig, hy verlei deur materialisme, hy verlei deur die sosiale media en internet.  Hy wil verhoudinge en huwelike vernietig deur mans en vroue van mekaar te vervreem, te verlei en ontrou te maak.  Kyk hoe blom satanisme en die okkulte en spiritisme in ons eie dorpie.  Jy sien, daar is honderde maniere hoe die wit perd mense wil verlei.  Hy is losgelaat en sy ruiter soek mense om met sy pyl en boog by te kom. 

Toe gaan die staldeure vir ’n tweede keer oop en ’n tweede perd met ’n ruiter storm die wêreld in.  Hierdie perd is vuurrooi en bring oorlog.  Hy is die rooi perd van moord en geweld.  Vers 4: “Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor.  ’n Groot swaard is aan hom gegee.”  En hierdie perd hardloop voluit in ons land!  Daar gaan amper nie ’n dag verby waarin ons nie die verwoesting en hartseer sien wat hierdie perd aanrig  nie.  Oorlog in huwelike, in gesinne, tussen ouers en kinders.  Oorlog tussen swart en wit.  Oorlog teen onskuldige mense.  Oorlog teen onskuldige renosters.  Die afgelope paar jaar was oorlog in die midde ooste, motorbomme en selfmoord elke dag op die nuus. 

Jesus sê in Matteus 24:6: “Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor.  Pas op, moenie verskrik word nie.  Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie.”  Jy sien, oorlog was nog altyd daar.  Maar die intensiteit daarvan neem toe!  Ons leef in die eeu waarin die mens met die druk van ’n knoppie homself met ’n atoombom of twee kan vernietig.  Nog nooit tevore het die mens die vermoë soos vandag gehad om die menslike geslag totaal uit te roei nie.  Hierdie rooi perd is besig om volspoed te begin hardloop!

Baie sorgvuldig breek die Lam die 3de seël oop.  “Ek het gesien, daar was ’n swart perd.  Sy ruiter het ’n skaal in sy hand gehad.”  Na die verleiding kom oorlog, en na die oorlog kom hongersnood.  Die swart perd en sy ruiter gallop met ’n helse dreuning oor die wêreld en laat mense letterlik vergaan van die honger.  Jy sien, die skaal in sy hand is betekenisvol.  Party het baie en ander het min of selfs niks.  Met ander woorde, wat doen hierdie perd en sy ruiter?  Hy gallop oor die wêreld en maak die gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, al hoe groter!  Die rykes word al hoe ryker en die armes al hoe armer!  ’n Ander naam vir die swart perd is inflasie!  Vers 6 sê dit net in ander woorde: “Net een skeppie koring vir ’n dagloon en net drie skeppies gars vir ’n dagloon.”  Een skeppie koring kan nie meer vir jou sorg soos dit verlede jaar gesorg het nie.  Jy betaal nou meer vir minder!  En terwyl die armes sukkel om te oorleef van ’n skeppie koring of mieliemeel verlustig die rykes hulle in die olyfolie en die wyn (vers 6).  Dit is die werk van die swart perd! 

Toe word die 4de seël oopgemaak wat God se boekrol in plek gehou het.  “Ek het gesien: daar was ’n vaal perd.  Sy ruiter se naam was Die Dood en die dodelryk het agter hom aan gegaan.  Aan hulle is mag oor ’n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.” 

Daagliks gaan daar tussen 250 000 en 300 000 mense in die wêreld dood.  In SA gaan 23 000 mense elke dag dood!  46-48 mense word elke dag in ons land vermoor!  5479 mense gaan elke dag aan vigs in SA dood.  Elke 3 sekondes gaan daar ’n kind jonger as 5 in Afrika aan vigs dood.  Elke 3 sekondes!  Dat die swart perd en sy ruiter losgelaat is om oor ons landjie te gallop met pes en honger en geweld, is nie te betwyfel nie. 

Maar hoe verstaan ons al hierdie dinge?  Hoe verstaan ons dat God die perde uitjaag?  Hoekom keer Hy hulle nie?  Jy sien, in dit alles moet ons sien hoe vrot het die skepping en die mens geword en hoe nodig het die mens ’n nuwe begin, ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde.  En hierdie dinge moet gebeur, dit moet kom sodat God alles nuut kan maak wanneer Hy die pyn en die hartseer en die honger en die geweld en die dood finaal van ons kom wegneem. 

Maar weet julle wat is die grootste troos in hierdie gedeelte?   Julle sal onthou dat ons verlede week saam met Johannes ’n kykie in die hemel gekry het op die troon van God vanwaar Hy regeer.  Die troos is, al lyk dit nie altyd vir ons so nie, God is ten volle in beheer!  Hierdie perde kan nie hardloop vir so lank hulle wil, waar en hoe hulle wil nie.  Hulle hardloop met beperkte mag, soos perde in ’n kamp, met ’n stang in die bek, net vir ’n kort rukkie.  En wanneer die finale oordeel plaasvind sal God self die perde inroep wat die verwoesting saai en hulle vernietig.  Want Jesus het reeds die finale oorwinning behaal!  Al hierdie goed wat ons ervaar het God bekend gemaak om ons te waarsku en ons voor te berei, 2000 jaar terug al toe Johannes op die eilandjie gesit het.  Toe het Hy al gesê: Moet julle nie ontstel nie, want hierdie dinge gaan kom.  En as julle dit sien, moet julle weet, wees gereed My koms is naby! 

Slot:

Openbaring wil troos en nie bangmaak nie.  In Op 3:10 sê Jesus: “..Ek sal julle vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom…”  Kinders van die Here, wanneer julle die verwoesting sien wat die perde aanrig, onthou die einde is naby.  Onthou, God is in beheer en dit alles moet kom voordat Hy kom.  Onthou, julle word beskerm deur die bloed van Jesus wat reeds die oorwinning behaal het!  Wat ons moet doen terwyl die perde gallop, is om naby die Here Jesus te bly en naby die Here Jesus te lewe!  Want by Hom en onder sy bloed is ons veilig.  Hy is die rots by wie ons skuiling vind.   

Mag ek vanaand vir jou ’n persoonlike vraag vra?  As jy al hierdie tekens rondom jou sien, tekens dat die einde baie, baie naby is, is jy gereed dat Jesus maar kan kom?  Lewe dan elke dag so naby Jesus dat vandag miskien die laaste dag kan wees!  Amen