Bertie Haasbroek  [1]

Kyk ek na die hier-en-die-nou van ons daaglikse bestaan onder die mikroskoop is dit maklik om deur die bangmaak-dinge van elke dag oorweldig te word.  En kyk ek deur die teleskoop na die môre’s en oormôres beland ek maklik in die wurggreep van onsekerheid.

Ek voel my eens met die woorde van Kardinaal Consalvi wat skryf dat hy voel soos Noag toe hy uit die ark stap nadat dié weer ‘n lêplek op droë grond na die Vloed gekry het.  Die wêreld wat Noag voor die vloed agtergelaat het, en die wêreld wat Noag na die vloed gevind het, was radikaal anders!

Maar daar is een verskil tussen die skryf van hierdie woorde deur Kardinaal Consalvi en ons wat dit lees … 200 jaar!

Om sy presiese woorde aan te haal: “Toen Noach na de zondvloed de ark verliet, trof hij de wereld zeker niet méér veranderd aan dan iemand uit de 18de eeuw, die het nieuwe tijdperk zou zijn ingeslinderd dat met het jaar 1800 begon.

Consalvi was al in 1815 deur verandering oorweldig, nog lank voor die mens oor vlieg en maanlandings en skottel-televisie gedroom het.

Wat my laat besef: al wat omtrent konstant is, is verandering!  Vra maar vir Noag en Kardinaal Consalvi en jou buurman: die hier-en-die-nou van ons bestaan is altyd dramaties!  Ons smag na vaste grond onder ons voete, maar bevind ons meer as wat ons besef op soek na die voetspore van Petrus toe ook hy op water moes loop.

Inderdaad probeer ons op water loop!  Want daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie die lewe onder die mikroskoop plaas om dit te ontleed, en sin daarvan te probeer maak nie.  Maar wat ek meestal nie besef nie, dis nie my oë wat deur die mikroskoop gluur nie.  Dis die oë van CNN en uitsaaiers wat namens my kyk, en my probeer vertel wat ek sien.  Ek “kyk” deur die mikroskoop van Grootmond-politici, die donker teekan-praatjies by die werk, die genadeloosheid waarmee die lewenskostes ons behandel, die wreedheid van misdaad, en die desperaatheid waarmee korruptes hulle aan dinge vergryp wat hulle nie toekom nie.   “Kyk” en dissekteer ek die hier-en-die-nou van ons daaglikse bestaan onder die mikroskoop is dit maklik om deur die bangmaak-dinge van elke dag oorweldig te word.

 

En kyk ek deur die teleskoop na die môre’s en die oormôres beland ek in die wurggreep van onsekerheid.  Want deur die teleskoop soek ek na die blink sterre binne die groot duisternis, maar die lens beland kort-kort teen die koerslose brokstukke van uitgebrande sterre en wegloop-meteoriete.  Voel ek ek kry nie ‘n pad oopgekyk na môre toe nie.  Die brokstukke wat my uitsig versper raak net meer en meer … aardverwarming, groeiende arrogansie tussen godsdienste, kerklike verwaandheid,  en menslike voortvarendheid.

 

Êrens tussen die mikroskoop en die teleskoop het ons God verloor.

 

Anders gestel: tussen die teleskoop en die mikroskoop het ons die meeste van die minste gesien, maar die minste van die meeste!  Sjoe, dit verdien ‘n verduideliking!  Kom ek stel dit nog ‘n keer anders: ons dink, noudat ons deur die lense van die mikroskoop en die teleskoop gekyk het, dat ons alles gesien het.  Of so dink ons.  Maar al wat ons “gesien” het, is die meeste van die minste!  Want wat buite die lense van die mikroskoop en die teleskoop te vinde is, is oneindig meer as die “tonnelvisie” wat ons kon bekyk.  Die meeste van die heelal lê buite daardie lense!  Daarom my stelling dat ons van die meeste nog die minste gesien het: God!

 

Ek vind Hom in die kalm seë terwyl die wêreld net fokus op die woedende siklone.

Ek “ hoor” Hom op ‘n windstil-dag in die Karoo, terwyl die kamera’s die verhale van oordadige sandstorms die wêreld instuur.

Hy fluister in die vroeg-oggend stiltes van ‘n nuwe dag terwyl die radio reeds verkeersverslae oor woelige paaie en ongelukstonele verslag doen.

Ek vind Hom in die sang van ‘n kriek vroeg-aand terwyl ‘n joernalis êrens die verhaal probeer ontrafel oor die straat-“junkie” wat deur sy eie dwelmhemel die aardse hel probeer ontsnap.

Ek vind Hom in die vrede van die hawe, waar die onmin van die oop see uitgesluit word.

 

Tussen die teleskoop en die mikroskoop het ons die meeste van die minste gesien, maar die minste van die meeste!

 

Hoe moet Noag en Kardinaal Consalvi, my buurman, en ek, vêr van die vasteland, op onstuimige waters loop sonder om te verdrink?

Begin deur God in te trek, binne die lense van die mikroskoop en die teleskoop.  Want dit sal maak dat verandering ons nie intimideer tot op ‘n vlak waar die sout van die Evangelie verslaan nie.  En die lig nie onder die emmer versteek word, en ons uiteindelik meedoen aan die instandhouding van die duisternis.  Daar is ook goedheid in verandering.  Want verandering, hoe dramaties, ontwrigtend, senutergend ook al, is vreemd genoeg nodig om ons te red van ‘n droom waar ons dink ons gaan ons elke dag êrens te voet op vaste grond bevind.  Ons gaan nie!  Ons is op die oop see van die lewe waar Jesus ons uitdaag om ook van die laaste stukkie “aardse” sekuriteit, ‘n klein dobberende skuit, die onsekerheid van die branders aan te durf.

Verandering is nodig, want dit red ons van verknogtheid aan die skep van ons eie aardse koninkrykies asof ons “aardse adres” die alfa en die omega van ons bestaan is.  Ons kniel voor mensgemaakte gode wat die politiek en die ekonomie en die tegnologie en die godsdiens ons kom opdis, en ons ‘n nuwe paradys beloof wat telkens maar net weer ‘n nuwe pad na ‘n ou bekende woestyn word.

 

Sonder verandering was ons vandag nog in die greep van die Ou Verbond.  Dink vir ‘n oomblik na oor hoe dramaties die oorgang van die Ou- na die Nuwe Verbond was.  Jesus wat die wêreld binnekom, en ‘n nuwe geloofstaal met ons deel.  ‘n Geloofstaal waar ons God met hart en siel en verstand aanbid, nie meer in die tempel, ver genoeg buite die allerheiligste deel, op ‘n streng voorskriftelike manier nie.  Maar God aanbid, omdat ons nie Hom gaan opsoek nie, maar Hy ons kom opsoek het.

Geen verandering in die geskiedenis van die mensdom kon nog meer dramaties gewees het toe Hy in verstommende eenvoud Homself tussen mense – God se mense – kom vind nie.  Maar teen wat nog moes kom was Sy binnekoms eintlik klein, want daar wag toe nog vir Hom ‘n kruis, die dood, en, genadiglik, die Opstanding.

Miskien is verandering vir ons swaar, omdat ons verkeerd deur die mikroskoop en die teleskoop na alles kyk.  Ons dink verandering is ‘n “buite-geveg”.  ‘n Geveg met die wêreld rondom ons.  En so ‘n geveg is ‘n bitter  uitputtende geveg, want dit voel gedurig of jy grond verloor, en of jy heeltyd retireer.

 

Wat is nodig om hierdie veranderinge reg te benader? Ek sal geen veranderinge in my lewe en in die wêreld rondom my kan hanteer as hierdie verandering van Jesus wat aarde toe gekom het, nie in my eie stormagtige hart eers uitgewoed is nie!

Die wêreld sal nie ‘n beter plek word as die status quo vir 100 jaar rondom my gehandhaaf word nie.  Die wêreld sal ‘n beter plek word as die verandering van die Ou- na die Nuwe Verbond nie net 2000 jaar gelede ‘n eenmalige gebeure was nie, maar ‘n gebeure wat voortdurend in ons harte plaasvind.

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  Dit alles is die werk van God (2 Kor 5).

 

Wanneer jou hart en lewe aan God behoort, gaan jy ook veranderinge rondom jou anders hanteer.  Jy gaan besef:

‘n Bedeling waar ek dit waag om die valse veiligheid van die skuit te verlaat, en ons Verlosser wat my roep om op water te loop.

 

Tussen die teleskoop en die mikroskoop het ons die meeste van die minste gesien, maar die minste van die meeste!

 


[1]  Tentmaker-leraar NG Kerk Universitas; Posbus 42139, Heuwelsig 9332, 0834404955, bertie.haasbroek@liberty.co.za